Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
“In the end we’ll all become stories.” – Margaret Atwood
Waarom kyk of lees ons stories? Dit is vir baie van ons ’n gunstelingtydverdryf in vakansietye of verloftye of in die aande voordat ons gaan slaap; en baie van ons onthou hoe ons ouers of ons oumas en oupas vir ons stories vertel het. Ons geniet verskillende soorte stories, en ons weet van kleintyd af – byna intuïtief, sonder dat enigiemand ons ooit uitdruklik daarvan hoef te oortuig – dat, hoewel ons voorkeurstories mag verskil, stories ontsettend belangrik is. Sonder stories is die lewe onverstaanbaar en ondraaglik.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Jacqueline de Lange oor haar Kolkata in Pretoria
Ek onthou my ouma se stories oor die avonture van Knibbel en Wolstert, twee konyne wat gereeld in die boer se groentetuin amok gemaak het. Ek onthou die stories wat my pa oor die drie musketiers vertel het, van goeie en slegte karakters, van verlies en verraad, van hoop en verligting, van die hoogspanning van ’n boeiende verhaal. Stories het my gehelp (en help my steeds) om na die dag se dramas te kan slaap.
Ons vertel en lees ook vir ons baba elke aand stories voor. Tog wonder ek soms, as ek vir hom lees uit Ongevalle in die dierehospitaal of Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het, waarom ons so verknog is aan stories. Waarom sou ons hoegenaamd stories wou vertel?
LUISTER OOK: ‘Dit maak dat ek glo vandag’ – Coenie Burger vertel sy eie geloofstorie en van sy nuwe boek
In sy boek The storytelling animal (2012), argumenteer die Amerikaanse letterkundige Jonathan Gottschall dat stories ons menslik maak. Ons is, as ’n spesie, verslaaf aan stories – maar terselfdertyd verstaan ons nie juis waarom ons so smag na stories nie. Trouens, daar is niks so sentraal aan die menslike toestand waarvan ons so min weet nie, meen Gottschall. Ons breine forseer ’n narratiewe struktuur af op die chaos van ons lewe.
Maar stories vorm ook ons selfbegrip, ons oortuigings, ons keuses, en ons optrede; sowel as ons kulture, tale, en geskiedenis. Stories deurdrenk en versadig ons lewe. Van die vroegste tye af is die vertel van stories die beste manier wat ons ken om sin te maak van ons lewe, ons verhoudings, en ons wêreld. Sonder stories is ons verlore, want ons is homo fictus, “storied beings”, die storievertellende mens. Stories is nie (net) wat ons doen nie, dit is wie ons is.
LEES OOK: Labirinte – ’n uitnodiging om al wandelend te bid
In haar By the renewing of your minds (1999) tref die Amerikaanse teoloog Ellen Charry egter ’n onderskeid tussen fiksie en stories. Alle fiksie is stories, maar alle stories is nie noodwendig fiksie nie. Fiksie, soos geloof, trek die leser binne ’n groter wêreld in. Maar hoewel die leser van fiksie tyd in die geselskap van wonderlike en voorbeeldige karakters deurbring, verdwyn hierdie nuwe vriende die oomblik wat ’n boek toegemaak word. Die potensiaal van ’n boek om ’n leser uit isolasie uit te lig, is beperk tot die bladsye van ’n boek (of die beelde op ’n skerm). Ons kan daardie wêreld herbesoek, deur ’n film weer en weer te kyk of ’n boek oor en oor te lees, maar die stories is nooit anders en nooit meer as wat dit met die eerste lees of kyk was nie.
Ideaalgesproke sou die geselskap wat ons in ’n boek ontdek, oorgedra word na ons alledaagse, gewone lewe, meen Charry. Die mees kragtige stories tot ons beskikking is immers stories wat uitmond in ’n gemeenskap wat die storie voortsit. Fiksie het nie die vermoë om dit te doen nie, al wil ons hoe graag in die wêrelde leef wat ons gunstelingverhale skep.
LEES OOK: Namibië: ’n Besoek aan dié ‘pioniers’ van teologiese opleiding
In Humanity in God (1983) beskryf die Duitse teoloog Jürgen Moltmann en sy vrou, die feministiese teoloog Elizabeth Moltmann-Wendel, die evangelie as die groot liefdestorie van die Vader, Seun en Heilige Gees waarby ons almal betrek word. Die storie van God wat mens word in Jesus Christus – wat gebore is, gekruisig word, sterf en opstaan, en opvaar na die hemel – is nie net die sentrale storie van die Christelike geloof nie; dit is ook ’n storie wat die vermoë het om gemeenskappe te vorm waarin die storie(s) voortgesit word.
Die evangelieverhaal mond immers uit in die kerk. Dit wil sê: die einde van die storie is nog nie bereik nie. Dit is ’n storie met donker oomblikke, ligtepunte en (hopelik) selfs humor, want dit bly ’n eg menslike storie: ’n storie van stories. Dit is ’n storie waarvan ons – saam met gelowiges oor die eeue heen – medevertellers is.
LEES OOK: ’n God sonder ’n hart is ’n afgod’ | In gesprek met Daniël J Louw
Ons troos is dat ons stories – en alles wat dit bevat: tragedie, trauma, florering, lewe – opgevang word in ’n groter storie, ’n goeie storie, ’n storie van genade en liefde. Ons word almal aan die einde stories, aldus Margaret Atwood. Stories is ’n geskenk wat ons ontvang, maar dit is ook ’n geskenk wat ons aan mekaar (kan) gee.
Geseënd is diegene wat weet hoe afhanklik hulle is van stories.
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is leraar by die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.