In die rytjie kinders by die kersmaker, het ’n meisie, seker tien jaar oud, sy vraag op ’n wyse beantwoord wat hom bybly, skryf Jan Lubbe.
Die afgelope paar weke het ons in die sentrale binneland beleef hoe “U stuur na koue winter weer lente met sy bloei, die winde en die reën en sonskyn wat laat groei” (Lied 461). Dit word warmer hier, ligter, groener, lewendiger, moediger. Ook in ons (my) kerklike lewe: Daar was die afgelope maand kwartaalvergaderings van ons Vrystaatse moderamen en ’n zoom-vergadering van die ASM se dagbestuur; ’n gesprek met die Solidariteitsbeweging; in Bloemfontein ’n konferensie oor die VGKSA se dertig jaar ná 1994; koffie met twee broers uit Koinonia in Kroonstad – halfpad ontmoet – en die Reformed Family Forum se byeenkoms vir moderators en algemene sekretarisse van kerke uit Suider-Afrika, tot so ver as uit Nigerië. Een van hierdie “dogters” van die NG Kerk, die Reformed Church in Zambia, het nou in Augustus al haar 125ste bestaansjaar herdenk!
By die hospitaalbed
Inspirerende ontmoetings. Tuis, in ons familiekring, het Pa/Oupa Hendrik Smith op 90 wonderbaarlik ’n hartaanval oorleef, ons almal een ná die ander om sy hospitaalbed nadergestaan en gesê wat op die hart is en gesê móés word. En in my hoenderhok het sewe kuikens uitgebroei en met soveel selfversekerdheid begin skrop en pik en waterdrink met hulle koppies agteroor, dit verbaas jou weer van vooraf. Lewe – en ’n familie, ook in kerklike sin – is ’n gawe van God.
Dáárom tref haar woorde my toe, dié Vrydagmiddag by ons gemeente Berg-en-Dal se vrolike kermis; ons 68ste verjaarsdagviering “op berge en in dale, oral voor God se aangesig” (22 September 1956). My een kollega het weer die padwedloop gereël en die ander die speletjies hanteer; al die ander kermistafels goed georganiseer, soveel helpende hande. Ek kon vir ’n slag weer net één ding doen, die hele middag: kerse maak saam met die kinders. Van kleutertjies wie se handjies ek moet vashou en help om die kerspit versigtig in die warm kerswas te doop tot skertsende matrieks met hulle selfoon in die linkerhand, kers in die regterhand … en ons wat ons dan verwonder hoe die kers geleidelik – keer ná keer in die was gedoop, afkoel, met groot geduld en vasbyt en weer agter in die ry gaan staan – “groei” totdat omtrent ’n driekwartier later, die kind trots met ’n veelkleurige selfgemaakte kers daar wegstap. Die kers nog louwarm, selfs sag. “Soos klei in die hand van die pottebakker …”, kom Jeremia 18 by my op. God neem tyd, God is geduldig. En toe vorder sý tot voor in die ry.
‘Gemeenskap van die veiliges’?
Ek het haar naam gevra en watter skool, want hier by ons in die gesinsdiens of kategese het ek haar nog nie gesien nie. Sy het saam met ’n maatjie kermis toe gekom, vertel sy. Op my volgende vraag antwoord sy gewoon: “Ons het nie ’n kerk nie, Oom.” Ek sluk my verbasing en aannames ineen en sy gaan val weer agter in die ry in en later sê sy sy wil haar kers in al die kleure van die reënboog doop en so gesels ons tussendeur. Bly is sy en haar maatjie daar weg, hulle sal weer kom, sê sy. God ken hulle name, kyk ek hulle agterna. God wat ons voorgeboorte al ken, en ons hart.
Maar waarom het sy en haar huismense nie ’n kerk nie? bly ek die naweek deur wonder. Is hulle nuwe intrekkers hier naby? Is haar pa Engels en haar ma Afrikaans of het hulle uit twee kerke soos AGS of Katoliek gekom en toe …? Is haar pa en ma (nog) saam? Of maak ek nou alweer aannames? Is die vraag dalk eerder wás hulle by ’n kerk? Wat het toe daar gebeur: die dominee? Iemand wat iets veroordelend gesê of verskrikliks gedoen het? Al die koerantberigte oor die kerk, jy weet? Is dit dalk gewoon ’n besluit wat hulle gemaak het, ’n vrye keuse in hierdie land en eeu? Al die groot statistieke speel deur my gedagtes – gewetenswroeginge, apartheidskuld, kerkverlating, sekularisering in die Weste, post-Christendom … Móét ’n mens ’n kerk hê?
Wat Dietrich Bonhoeffer oor die communio sanctorum geskryf het, kom by my op. Soos wat Jesus die gestalte – die inkarnasie – van God in ons aardse werklikheid was, só is die kerk die gestalte van Christus tussen mense! Dít is te groot, te heilig, wil ’n mens byna sê: Gemeenskap van heiliges? Iemand het gevra: Ja, maar is ons ook “gemeenskap van die veiliges”? ’n Ruimte waar ’n kind ’n kind kan wees en ’n bejaarde nie vergete en eensaam, en almal iewers tussenin? Waar ’n mens ontdek ek behoort, bó alles aan, nee, ín die familie van God. Die Gees van God het my iewers gevind, Christus het gesien ek is “vermoeid en belas”, my hierheen gelei, my hier tot rus laat kom, waar geloof en hoop en liefde leef en groei, my bewusgemaak van genade en ’n naaste, my stuur.
My bede is dat jy en jou huis so ’n kerk sal vind, my kind.
- Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.