Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johannes Froneman van Kleinmond skryf:
Die ontslape oudpresident Jimmy Carter is in ’n roerende huldigingsdiens in die National Catheral in Washington gehuldig as ’n man van karakter en geloof. Dit is bygewoon deur verskeie oudpresidente, die huidige Amerikaanse president en die aangewese president.
Verskeie leiers en ou vriende het vertel hoe Carter van ’n nederige jeug uitgestyg het tot suksesvolle boer, duikbootoffisier, kernwapenkundige, goewerneur van Georgia en later die 39ste president van die Verenigde State van Amerika.
Een saak het almal beklemtoon: Hier was ’n nederige mens met karakter en geloof. As lewenslange Baptis het hy sy Christelike geloof veral met dade uitgeleef. En as dit nodig was, het hy gepreek, Sondagskoolklasse aangebied en boeke geskryf waarin hy sy geloof geleef het.
’n Absoluut merkwaardige man wat sy honderd jaar op aarde gevul het met toegewyde diens aan sy naaste. Van hom word gesê hy was die mees suksesvolle, invloedryke gewese president ooit. Oor sy jaarlikse bou van huise vir armes, sy toewyding aan menseregte, sy soeke na vrede … daarvan is veel gemaak. Hy het selfs die Nobelprys ná sy presidentskap ontvang.
Maar hy was ook ’n suksesvolle president, al het sy termyn maar vier jaar geduur. Die kiesers het die sonnige Ronald Reagan bo hom verkies. Carter het die ondenkbare gedoen: om te doen wat hy glo reg is, al sou dit hom stemme kos.
Hy was geen vriend van die destydse apartheidsregering nie. En “ons”, wit Suid-Afrikaners, het weens ons koerante se propaganda Carter en sy luitenante laag geskat. Die land was in ’n grensoorlog gewikkel en het nie die steun van die Carter-bewind gekry waarop die regering gedink het die land geregtig was nie.
Opvallend noem Giliomee, Mbenga en Nasson hom net één keer in hulle Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika van bykans 700 bladsye. Elders skryf Giliomee dat daar ’n “kil” verhouding tussen die Carter-bewind en die Botha-regering bestaan het. Geen wonder Carter was nie ’n gunsteling in die Afrikaanse pers of by die SAUK nie.
In die proses het ons hierdie uitsonderlike man nie leer ken nie. Ons het veral sy geloof-in-aksie misgeloop (behalwe as jy ’n nuustydskrif soos Time gelees het).
Hy het verskeie boeke geskryf en was dalk die mees openlike Christen van alle presidente (en oudpresidente) die afgelope eeu. Daar is soveel om van hom te waardeer en oor dankbaar te wees. Dit is nie te laat om kennis te neem van James Earl Carter nie.