Lea gaan skool toe deur Zuléka Smit en Johann Strauss
Uitgewer: LAPA, 2024
Resensent: Rethie van Niekerk
In 2022 is Ben skool toe. Nou is dit sussie Lea se beurt om grootskool toe te gaan. Na ’n week voel sy egter nie meer so vrolik nie, want Lea sukkel om maats te maak. Mamma herinner haar dat sy kosbaar is en aan God behoort.
Met pragtige illustrasies deur Johann Strauss vertel Zuléka Smit ’n verhaal, baie dieselfde as Ben s’n, wat enige nuwe leerder se verbeelding sal aangryp. Jong lesers sal herinner word dat hulle kosbaar is en moed ingepraat word vir grootskool-uitdagings.
Lea gaan skool toe is deel van ’n reeks, in Afrikaans en Engels beskikbaar. In die ander boeke lees ons van boelies en toetse.
’n Pragtige boek vir almal wat by ’n nuwe skool instap.
Beskikbaar by LAPA.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.