Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Ek gaan speel solank die Here my die krag en genade gee.” So vertel Bettie Louw wat al vir 62 jaar aaneen voltyds orrelis is van die NG gemeente Nuwerus op die klein dorpie met dieselfde naam.
Geslagte Nuwerus-inwoners ken vir Bettie Louw. Of sy het vir hulle pa of ma of broer of suster skool gegee of het orrel (wat hierdie klavierjuffrou haarself geleer doen het) op iemand se troue of begrafnis gespeel. Foto: Anna-Maré Mostert

Stories van kerkmense | Sy wil na ses dekades aanhou orrel speel ‘solank die Here haar die krag gee,’ sê Bettie Louw (85) van Nuwerus

Sy het vir haar dogter gesê as hulle haar nou in die ouetehuis sit, kan hulle maar begrafnis hou. Sy wat Bettie Louw is kan nie in die kerkbanke gaan sit terwyl sy weet sy kan nog orrel speel nie.

Ondersteun Kerkbode. Klik HIER 

“Ek gaan speel solank die Here my die krag en genade gee.” So vertel hierdie dinamiese oud-onderwyseres wat al vir 62 jaar aaneen voltyds orrelis is van die enigste NG gemeente op die klein dorpie Nuwerus, geleë in wat bekend is as die Hardeveld – ’n droë wêreld so op die grens van Namakwaland en so vier ure se ry vanaf Kaapstad.

Op 85 is dit steeds sy, wat Sondae die gemeente begelei in sang terwyl sy die klawers streel met enigiets uit die Halleluja tot die Liedboek. Dalk is dit ’n rekord of iets?

Dalk is dit ’n rekord of iets? Geslagte Nuwerus-inwoners ken haar. Of sy het vir hulle pa of ma of broer of suster skool gegee of het orrel (wat hierdie klavierjuffrou haarself geleer doen het) of klavier gespeel op iemand se troue of begrafnis.

“Tannie Bettie is ietwat van ’n legende op hulle dorp,” sê Anna-Maré Mostert, skriba/kassier en die een wat Kerkbode van hierdie toegewyde orrelis van hulle laat weet het. Dit was nadat sy gelees het die skrywer Dana Snyman vra in een van sy Kerkbode-rubrieke laasjaar of daar ’n orrelis is wat al langer by een gemeente speel as tannie Hester se 53 jaar by die NG Gemeente Stella in Noordwes.

Lees meer:Dana Snyman | ‘Jy is meer ’n mens as ’n orrelis wanneer jy op ’n begrafnis speel’

Vir Bettie het haar pad met Nuwerus-gemeente se orrel, vroeer ’n ander orrel maar sedert die 1980’s ’n elektriese Conn 716-orrel, begin in 1963. Sy was op daardie stadium ook die skriba en kassier. Sy vertel sy het die pos aanvaar omdat sy as jong ma van twee nie volgens destyds se reëls vir onderwysers mag aangehou het met klasgee nie. Mettertyd het ander mense die ander kerkposte oorgeneem, maar sy het orrelis gebly.

Bettie en haar man Eritz Louw op hulle troudag in 1960. Sy het die orrel gespeel op sy gedenkdiens in 2017 want daar was niemand anders wat dit kon doen nie. Foto: Verskaf

Op 85 is dit steeds sy, wat Sondae die gemeente begelei in sang terwyl sy die klawers streel met enigiets uit die Halleluja tot die Liedboek. Solank dit nie trek nie. Of swaarmoedig is nie. Soos Bettie in haar op-en-wakker stem verduidelik, “ek glo ’n diens kan stemmig wees maar jy sit nie met ’n lang gesig nie. Ons kan vrolik wees”.

Lees ook: Stories oor kerkmense | Eers Ouma toe kleinkind – totaal van 91 jaar agter die orrel

Anneli van Rooyen se lied, Seënbede, is een van haar gunstelinge. Hulle gemeente se sanggroepie, wat ook onder haar leiding staan, sing dit graag.

Bettie Louw in die gemeente se feesblad wat in 1996 uitgegee is om 75 bestaansjare te vier. Foto: Verskaf

Sy speel ook graag die troumars, maar sy sê daar was lanklaas ’n troue op die dorpie wat nog nie heeltemal van die jarelange droogte ontslae is nie. 

Selfs op haar eie man, Eritz, se roudiens in 2017 was dit sy wat gespeel het. Daar was niemand anders wat dit kon doen nie. Ook nie ’n diagnose met borskanker, net drie maande na haar man se dood, en daarna 20 rondtes met chemoterapie en bestraling wat haar hare laat uitval het, kon haar stuit nie.

Agt jaar later, vertel sy, is sy dankbaar haar gesondheid is goed en die kanker weg. Selfs al is daar soms bittermin mense by ’n diens, bly dit haar vreugde om musiek te maak.

“Om te speel is vir my heerlik,” sê dié gebore Swartlander.

Sy bly heel gelukkig op haar eie met Liefie, haar Jack Russell, naby die kerk. Foto: Anna-Maré Mostert

Sy bly heel gelukkig op haar eie met Liefie, haar Jack Russell, naby die kerk. In haar tuin vol vetplante is ook vyf koejawelbome en drie vyebome. Hier hou sy haar besig met naaldwerkprojekte soos sweetpakke maak vir van die omliggende skole, bak van boerbeskuit, inlê van vrugte en konfytkook.

“Die hande mag nie stilwees nie,” sê dié raakvatter baie beslis.

Dit verbaas dus glad nie om in ’n vroeëre koerantberig (toe sy 50 jaar agter die orrel was) te lees haar lewensmotto is “Indien jy dit moet doen, dan kan jy!”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top