Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Teoloog sy predikantsbevoegdheid kwyt


Dr Peter Nagel, ’n teologie-dosent aan Universiteit Stellenbosch (US), is deur ’n tugliggaam in die NG Kerk se Sinode van Wes-Kaapland van sy legitimasie-status ontneem.

Dr Peter Nagel. Foto: Kerkbode-argief

Nagel het die predikantegedragskode oortree, het ds Peet Bester gesê oor die saak wat spruit uit ’n klag wat verlede jaar deur ’n familielid van Nagel by die Ring van Stellenbosch gelê is.

“Ons het sy legitimasie ontneem; as hy dominee was het hy sy werk verloor,” aldus Bester, die voorsitter van die Kuratorium in NG Kerk Wes-Kaapland. Bester het ook op die ringstugliggaam gedien.

Die kuratorium dien as koppelvlak tussen kerk en universiteit. Bester het daarop gewys dat Nagel ’n universiteit-werknemer is, en nie aan ’n gemeente gekoppel is nie.

News24 en Netwerk24 het vandeesweek berig oor die bevinding wat teen Nagel (49) gemaak is asook oor ’n klag wat by die polisie gelê is.

“Die universiteit bevestig via die Fakulteit Teologie dat hy onlangs ingelig is oor die uitkoms van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se dissiplinêre proses oor die optrede van dr Peter Nagel wat sy status as predikant in die NGK beïnvloed het,” het die US op 10 Februarie luidens ’n verklaring gesê.

“Dit is egter nie vroeër onder die universiteit se aandag gebring dat kriminele aanklagte teen dr Nagel ingedien is nie. Dr Nagel is voorlopig deur die universiteit geskors en die universiteit sal nou die pad vorentoe verder oorweeg in ooreenstemming met sy Dissiplinêre Kode en Gedragskode vir Personeellede en sal ingevolge die wet en die feite van hierdie saak die toepaslike stappe doen,” luidens die verklaring.

Nagel se predikantsbevoegdheid is in 2023 tydelik opgeskort ná ’n leerklag.

Nagel het by navraag gesê hy het geen kommentaar nie.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.