Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jacques de Villiers, beter bekend as Joshua na die Reën. Foto: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Jacques de Villiers oor Joshua na die Reën en die ‘vuur wat die slegte wegbrand’


“In graad drie het my ma my eerste kitaarles geboek en toe later vir my ’n keyboard gekoop. In die hoërskool het ek ’n band begin. Dit was uit en uit ’n Worship-band met die naam Sovereign, en ons het gesuck!” lag Jacques de Villiers, beter bekend as Joshua na die Reën, toe hy vertel van sy skooljare op Alberton.

‘Everything is spiritual’

Hy, sy vrou Danél en hulle drie kinders woon op ’n plaas tussen Johannesburg en Parys – waar hy grootgeword het.

Baie het verander van daardie eerste orkes op skool. Joshua na die Reën is vandag ’n gevestigde naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf met gemiddeld 13 optredes per maand. Sy liedjie, “Wêreld binne my”, is al meer as 3 miljoen keer op YouTube gespeel.

Ek het Jacques en sy orkes die eerste keer lewendig gesien by ’n jeugweek op Nylstroom. Al sing hy vandag meestal by sekulêre plekke, is dit steeds vir hom lekker om deur kerke uitgenooi te word. Die meeste van sy musiek het sterk geestelike ondertone. Die tradisionele godsdiensgrense beïndruk hom al minder. Everything is spiritual.

Eerste tree in die musiekbedryf

Ons gesels oor die pad wat hy gestap het tot hier.

Na skool doen hy ’n jaarkursus by die Rhema Bybelskool in Creative Ministry.

“Daai jaar het ’n vrou vir my gesê sy het gehoor TUT het oudisies vir ’n Jazz-kursus. Ek het oorspronklik nie eens mooi geweet wat Jazz is nie! Maar ek het toe ingekom en vir vier jaar Jazz geswot. Later het Tukkies my aangestel as ’n deeltydse musiekdosent by hulle.”

Charl du Plessis was die hoof van die musiekdepartement by UP en dit is hy wat vir Jacques voorgestel het aan Jak de Priester wat ’n klavierspeler nodig gehad het.

“Dit was my eerste tree in die musiekbedryf,” sê hy, “en daarna het ek ook vir ’n klomp ander kunstenaars klavier gespeel. En juis in daai tyd ek saam met my ouers ’n show gaan kyk, toe ons uitstap sê my pa hy dink dis nou tyd dat ek my eie musiek begin opneem.”

Die volgende week word Jacques een oggend wakker met die koor van ’n liedjie in sy kop. Hy het opgestaan en daaraan begin werk. Kort daarna is dit opgeneem. “Lig op die horison” was die lied se naam.

“Ek besef vandag as ek nie daai liedjie geskryf het nie, sou my loopbaan nie gewees het waar dit vandag is nie. Dit is eintlik maar die liedjie wat my bekend gemaak het. En toe het ek net aangehou. Elke gig gedoen wat ek kon kry. Elke geleentheid aangegryp om te kan doen wat ek vandag doen.”

Baie dinge in sy lewe het – soos daai eerste liedjie – so half misterieus mét hom gebeur. Soos die storie oor die naam, Joshua na die Reën.

Die naam, Joshua na die Reën

Toe hy klein was het meer as een grootmens vir hom gesê hy moet die storie van Josua gaan lees. Dit sal baie vir hom beteken later in sy lewe, het hulle gesê. In sy tweede jaar op universiteit tel hy ’n naamplaatjie op kampus op met die woorde: “Life: like living Joshua”.

“Ek glo God praat met ons deur sulke tekens, in Engels noem hulle dit omens,” sê hy. “So, toe ek moet besluit wat ek my musiek gaan noem, onthou ek dit, en toe besef ek musiek is altyd iets wat mure afbreek tussen mense. En dit is ’n universele taal. En die ‘na die Reën’ … almal wat my ken, weet my favourite ding in die lewe is reën!”

In ’n ander onderhoud verduidelik hy dat reën vir party mense ’n simbool is van swaar tye, vir ander van nuwe lewe. Maar “na die reën” kan jy altyd terugkyk en die wonder sien. Iets wat keer op keer in sy musiek na vore kom is die kontras van iets wat breek en iets nuuts wat groei.

Ons gesels oor sy gemiddelde dag en die rare voorreg om ’n lewe uit musiek te maak.

Mense met die grootste invloed

“Musiek is wat ek voltyds doen,” sê hy “as ek nie op toer, of besig is met optredes is nie, dan skryf ek of doen admin. Maar die lekker ding is dat die meeste van al hierdie dinge – behalwe natuurlik die optredes – by die huis gebeur, en dit bring ’n lekker gesinsdinamika, omdat Danél ook van die huis af werk, en ons ons kinders homeschool.”

Familie is duidelik vir Jacques belangrik. Keer op keer sê hy iets daaroor.

Ons gesels oor die mense wat die grootste invloed op sy lewe gehad het.

“My ma het vir ons gesin kom wys dat ons God op ’n ander manier kan soek. My pa het my geleer dat ons God oral in die natuur om ons kan sien. My broers het my kom leer dat ons anders kan dink oor God, verby die dogma en mensgemaakte reëls. En in die tyd waarin ek myself nou bevind het my vrou Danél en my kinders die grootste invloed op my.”

Wat sien jy raak wat mooi is in Suid-Afrika en wat inspireer jou? vra ek.

Geloof, natuur en eenvoud

“Die natuur inspireer my geweldig. My kinders inspireer my. Wanneer ek mense sien wat opstaan vir mense wat swaarkry dan inspireer dit my. Wanneer ek sien my gesin, my familie en my vriende is gelukkig dan inspireer dit my.”

Meditasie, asemhalingdissiplines en stilte speel ’n al groter rol in sy lewe en musiek. Iets waarvan hy toenemend bewus word is die verband tussen ons fisiese lyf en geestelike ontdekkings.

Hy beplan om hierdie jaar ’n nuwe alternatiewe band met die naam “SEUNS VAN VLUG” die lig te laat sien. Watch this space! Sy droom vir die toekoms is om ’n eenvoudige lewe te leef, uit die aarde uit, saam met die mense vir wie hy lief is, terwyl hy ’n verskil maak.

Hy sê hy kom al meer agter hy is nie ’n tipiese tradisionele Christen nie, al het hy steeds waardering vir die tradisionele kerk.

Oor Jesus sê Jacques de Villiers: “Ek glo in Jesus, Hy is die Woord waarmee ek God leer ken het. Wanneer ek aan Hom dink dan dam my oë op, want hy is die beskrywing van wat ons as mense veronderstel is om te wees, die kompas, wat ’n legende, die vuur wat die slegte in my kom wegbrand.”

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugontwikkelinge en die NG Gemeente Villieria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Jaco Strydom gesels met Jacques de Villiers oor Joshua na die Reën en die ‘vuur wat die slegte wegbrand’”

  1. Inspirerende verhaal. ‘n Vars stem in Afrikaanse musiek. Ontdaan van die clichés en stereotipiese ritmes waarmee ons gewoonlik gekonfronteer word.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.