Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Ds Jannie Engelbrecht (BA, BTh), 11 Augustus 1964 – 11 Januarie 2025


Johannes Stephanus Engelbrecht is  op 11 Augustus 1964 gebore in Pretoria. Sy vader was ds PJB (Pieter) Engelbrecht, destyds predikant van die NG Gemeente Luipaardsvlei in Krugersdorp. Sy moeder was Mariana Marais, ʼn onderwyseres wat in Stellenbosch opgroei. Ds Pieter Engelbrecht is ʼn boorling van Smithfield, waar hy en sy broer ds Johan Engelbrecht, geroep is om predikante te word onder die geseënde bediening van ds Piet de Witt van Smithfield. 

Ds Pieter is later leraar van Radiokansel, waar dr Gerdrie ʼn tyd lank saam met hom gewerk het. Jannie se voorsate aan vaderskant was almal boere in die distrik Smithfield, terwyl oupa Hansie Engelbrecht ook ʼn kontantwinkel op Smithfield bedryf het en ouma  ʼn boetiek op die dorp. Sy oupa aan moederskant was Jannie Marais wat by Bosbou in Stellenbosch het.

Jannie begin in 1971 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Kemptonpark-Suid tot sy vader in 1973 ʼn beroep aanvaar na die NG Gemeente Kerkenberg op Harrismith. In 1978 word hy leerling aan die Hoërskool Harrismith en moet weer van skool verander toe sy vader in 1979 leraar word van die NG Gemeente Hospitaalpark in Bloemfontein. Jannie is toe leerling aan die Hoërskool Sand du Plessis, waar hy in 1982 matrikuleer. Jannie voel geroepe om predikant te word en begin in 1983 met sy studie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy die BA (Admissie) graad verwerf. Hy dien op die Jool- en huiskomitee van sy koshuis. Hy  het ook uitgeblink in tennis.

In 1986 loop Jannie se pad na die Eikestad, waar hy studeer aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Hy verwerf die BTh- graad  en is ook leier op die Kampus en dien in 1987-1988 op die studenteraad van die Universiteit. Jannie trou op 16 Desember 1989 met Liezel van der Westhuizen. Uit ʼn gelukkige huwelik van 35 jaar is twee kinders gebore:  Janu het musiek studeer en gee musiek aan by Westerford High School.  Anita het rekeningkunde studeer en is ’n rekeningkundige by Santam.

Jannie doen 1990 sy diensplig as kapelaan, terwyl Liezel onderwys gegee  het aan  “The Settlers High School” in Bellville. In 1991 help hy as proponent in die NG Gemeente Vredelust in Bellville en op 6 Oktober 1996 word hy bevestig as leraar in die NG Gemeente Boston in Bellville. Toe die gemeente in 2004 saamsmelt met Vredelust, word hy leraar en help ook vanaf 2007 in die NG Gemeente Zwaanswyk se aandbediening by die “New Life Ministries”. In die laat winter van 2014 tree hy uit die amptelike bediening waarna hy en ʼn vriend ʼn houtwerkbesigheid begin. Hierna help het hy oral uit met prediking en gemeentekampe en help ook ses jaar lank uit met die aandbediening in die NG Gemeente Tamboerskloof in die hart van Kaapstad. 

Op 1 Februarie 2018 keer hy terug na die vaste bediening as leraar van die NG Gemeente Ottery, ʼn gemeente waar hy weer sy voete in die Kerk vind. Daar is groot waardering vir sy werk in Koninkryksdiens. Die Here loop ʼn besondere pad met ds Jannie en gesin, ʼn  pad waarin hulle die hand en vinger van God intens beleef. Twintig jaar  lank het hy moedig en met geloofsmoed geworstel met verskeie soort kankers, maar Jannie was moedig en het met oorgawe geleef en die stryd met geloofsoorgawe gestry. 

Hy word beroep na die NG Gemeente Riebeek-Wes waar hy op 11 April 2021 sy intreepreek lewer en waar die Here hom vergun om sy laaste kragte in die gemeentebediening te gee. Jannie was baie lief vir gesinsbediening en pastoraat. Hy het verskeie gesinsuitreike na Zambië, ook evangeliesasieuitreike gelei na Mosambiek.

Sarena Mostert, raakvatter in die kerkkantoor op Riebeek-Wes skryf: “Ons het ds Jannie leerken as ‘n opgewekte persoon, wat altyd geglimlag het en lief was vir avontuur. Sy siekte het hom erg geraak, maar hy was altyd positief en het nooit moed verloor nie. Nadat sy mild weens kanker vroeg in 2024 verwyder is, het hy baie terugslae beleef. Op 3 Junie 2024 is hy in Kuilsrivier Netcare opgeneem is vir ’n stamseloorplanting, maar was nie geslaagd nie en sy gesondheid het baie vinnig agteruit gegaan.   

Ds Jannie was so positief en het altyd gesê dat hy nog baie graag in die Vallei die Woord wil bedien. Hy was ’n dinamiese prediker en tydens sy bediening het die gemeente weer kalmte begin ervaar, want voorheen het hulle deur ’n baie slegte tydperk gegaan. Hy het daarin geslaag om die gemeentelede weer bymekaar te bring. Die mense in die Vallei was lief vir hom en dis jammer dat sy bediening so gou tot ’n einde gekom het”. 

Sy vrou Emily skryf: “Jannie was die laaste tyd weens die non-Hodgkins en Hodgkins limfoom baie siek en swak. Hy was baie dapper en het niks hom laat onderkry nie.  Hy het bly voortveg en altyd gesê mense moet tog nie sê hy het sy stryd teen kanker verloor nie, want geen mens wat teen kanker veg, verloor die stryd nie.  Jy wen die Lewe. Hy het sy wedloop met vlieënde vaandels voltooi en leef verder in die teenwoordigheid van God”.  Hy sterf op 11 Januarie 2025 en ʼn gedenkdiens word op 18 Januarie 2025 in die NG Kerk Riebeek-Wes gehou.  – Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top