Willem Daniël Stadler is op 17 Mei 1947 gebore op Morgenster, een van die bekendste sendingstasies van die NG Kerk in die destydse Suid-Rhodesië. Sy vader Koos Stadler, was toe aangestel as inspekteur van sendingskole en sy moeder Riegie Smit, ’n boorling van Groblershoop wat hy in 1944 tydens ’n kerkbasaar te Opwag by Groblershoop ontmoet en met wie hy trou. Koos gee onderwys op Blaauputs, Koes, Boegoeberg en Opwag. In 1945 vertrek hulle as onderwyspaar na Masjonaland, waar hulle eers op Alheit en toe in Tsetitsa bly en sy besoekwerk aan skole met ’n fiets doen. Die gesin keer in 1949 terug na die Republiek, toe Koos ernstig siek word met malaria en hy gaan gee onderwys op Weglopersheuwel by Velddrif en op Elim.
Die egpaar keer terug na Opwag by Groblershoop waar hulle van 1951 tot 1963 woon en hy ook skoolhoof word. Hier ontvang hy op 43-jarige leeftyd na 20 jaar in die onderwys, die roeping om Stellenbosch toe te gaan om predikant te word. Koos en Regina met ses kinders trek in 1963 met ses kinders na die Eikestad en hy word in 1969 as vyftigerjarige as proponent gelegitimeer. Hy bedien verskeie gemeentes en sterf in 2004. Twee van sy seuns, ds Koos en ds Willie word albei predikante van die NG Kerk.
In 1953 begin Willie met sy skoolopleiding te Opwag by Groblershoop, waar die gesin goeie tye beleef. In 1958 verskuif Koos met ses maande langverlof na Otavi in Suidwes-Afrika. Willie is in ’n Duitse skool en tydens die moeilike aanpassing maak die jong seun ’n belofte aan die Here dat as hy daardie jaar suksesvol is gaan hy eendag voltyds vir die Here gaan werk. So begin Willie se sendingpad met die Here reeds as skoolseun.
Willie is ook leerling aan die Hoërskool Groblershoop, waar daar ’n skerp draai op sy pad kom toe die gesin Stellenbosch toe verhuis en hy matrikuleer aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch. Willie werk hierna ’n jaar lank in die goudmyne by Venterpos in die Witwatersrand, waar hy dubbelskofte ondergronds werk om sy ouers finansieel te help in die Eikestad. Einde 1968 pak hy al sy besittings op sy Vespa en ry Stellenbosch toe om predikant te word. Hy behaal die BA- en BTh-grade en studeer tot aan die einde van 1974 aan die Fakulteit Teologie om as proponent gelegitimeer te word. Hy en sy vader Koos het drie jaar lank saam op Stellenbosch studeer. Hy trou op 1 Januarie 1974 met die liefde van sy lewe, Marlene Carstens. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Jaco, Wimpie, Johan en Marieke.
Prop WD Stadler voel geroepe om sendeling te word en word op 2 Februarie 1975 met handoplegging in ’n swart gemeente by Cala in die Transkei ontvang en bevestig. Dit was ’n baie groot gemeente met 21 buiteposte, terwyl die sendeling ook moes toesig hou oor die sendingboerdery, opleidingskollege vir onderwysers en TB-hospitaal. In 1977 aanvaar hy ’n beroep na die NGKA-gemeente Lusikisiki naby Port St Johns. Hier bedien ds Willie die mense wat op die Magwa-teeplantasie werk. Op 31 Oktober 1981 word hy leraar van die NGKA Canzibe in die Transkei. Hier was 13 buiteposte en ds Willie het met hulp van ’n paar gemeentes kerke gebou vir die buiteposte. In hierdie gemeente sou ds Willie en Marlene Stadler byna drie dekades lank werk.
Aan die einde van 2009 het hy emeritaat aanvaar en hulle het op Jeffreysbaai gaan woon. In 2023 is asbestose by Willie gediagnoseer en hy is op 5 Desember 2024 oorlede. ’n Herinneringsdiens word op 14 Desember 2024 vir hom op Jeffreysbaai gehou na ’n vol lewe van Jesus se genade.
Sy vrou Marlene skryf: “Willie se diepe verlange dat mense Jesus as Verlosser moet aanneem was sy grootste hartsbegeerte. Dit was sy hoogste prioriteit in die bediening. Willie se nederige afhanklikheid van die Here was ’n besieling vir soveel mense en sy familie. Hy was bekend onder die Xhosamense as die “tata wat help”. By sy diens het Xhosa, bruin en wit mense saam getuig oor sy liefde vir Jesus en vir die mense om hom.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM