Met ’n groeiende gehoor van oor die 300 lede op hulle WhatsAppgroep genaamd Gewyde Kerkmusiek is orreliste Rudi Conradie en sy suster, Anelda Blomerus, besig om op ’n innoverende manier kerkmusiekliefhebbers te bedien.
Rudi was jare lank ’n orrelis by verskeie kerke en bly tans in Durbanville. Sy jonger suster Anelda is orrelis van die NG Kerk op Sutherland in die Noord-Kaap.
Hierdie broer en suster deel twee passies: gewyde kerkliedere en orrelspel.

Begin vanjaar het hulle ’n WhatsApp-groep genaamd Sacred Church Music/Gewyde Kerkmusiek, bekendgestel. Op hierdie oop groep deel hulle op Sondagoggende ’n video-opname van ’n orrelis wat iewers in die land ’n bekende kerklied speel.
So gewild is die groep dat dit tot net meer as 300 lede teen middel Maart gegroei het. Dit is ook nie net orreliste of NG lidmate wat aansluit nie. Anelda noem daar is geleerdes, boere, huisvroue onder hulle lede wat reg oor die land, selfs oor die landsgrense, versprei is.
Hulle hoop is as meer mense van die groep hoor sal hulle ook meer orreliste kan werf wat kans sien om video’s te deel waar hulle ’n kerklied speel.
Lees ook: ’n Leeftyd agter die klawers: 72 jaar van orrelklanke vir tannie Dolly
Orrelgroep begin as ’n idee vir Advent
Agter die ontstaan van die groep sit ook ’n interessante storie, blyk dit. Rudi vertel hy het sy suster laasjaar Oktober gevra om saam met hom ’n virtuele musiekvideo (sien onder) te maak. Hy vertel dit is waar hulle die idee gekry het vir ’n Adventprojek. Hulle het 24 video’s binne ses weke opgeneem sodat hulle vanaf 1 Desember tot op Oukersdag elke dag ’n Kerslied met die lidmate van Anelda se gemeente op Sutherland kon deel. Vir die verspreiding het hulle die gemeente se Facebookblad ingespan en ook ’n WhatsApp-groep begin.
So gewild was hierdie inisiatief dat hulle teen einde Desember besluit het hulle kan dit nie stop nie. Toe gee hulle hierdie WhatsApp-groep ’n nuwe naam en stel dit oop vir enigeen wat lief is vir orrels en kerkmusiek. Rudi sê dit gaan vir hulle oor die ervaring en die musiek. Soveel mense het intussen vir hom laat weet hoe nodig so ’n groep is. Een vrou het vir hom vertel om na hierdie kerkliedere te luister gee haar hoop op oggende wat sy moedeloos met die lewe voel.
“Musiek maak gesond,” sluit hy af.
Hoe sluit ek aan?
Enigeen is welkom. Kontak vir Rudi Conradie op WhatsApp by 083 631 4920 of Anelda Blomerus op 084 270 0242.
