“Nee, nee, ek is nie ’n ‘celebrity’ nie, ek is vir seker nie daai woord nie,” sê tannie Dolly Pienaar skaam toe ek ’n grappie maak oor haar 55 jaar as orrelis by Voetspore-gemeente. Want sien, hierdie onderhoud is nie soos enige ander onderhoud nie. Daar is kameras en Huisgenoot en fotograwe en ’n verhoog met banke. Dit het nogal gevoel of ons met ’n diva gesels, vertel Hendrien van Vliet.
Maar tannie Dolly is alles behalwe ’n diva. Sy praat met oorgawe wanneer sy gesels oor haar tyd as orrelis, maar nooit asof sy die enigste goeie orrelis is nie (want ’n mens kry van hulle). Carla Coetzee, Huisgenoot se joernalis, vra hoe moeilik dit is om die orrel te speel. Tannie Dolly vertel met groot erns hoe moeilik dit is. Jou hande doen drie verskillende goed, jou oë moet voor en agter kan kyk en jou voete doen twee goed. “My twee sussies speel ook, maar nie so goed soos ek nie,” grap sy. Ek leef myself in haar woorde in. Sy verduidelik dit net só goed. Ons is almal baie beïndruk oor hoe goed sy haar instrument ken. En sy behoort dit goed te ken, sy speel dit al amper haar hele lewe lank.
LEES OOK: Diep spore van diensbaarheid: Oom Piet Pieterse reflekteer oor 70 jaar in die amp van diaken
Dolly Pienaar, nou 85, het grootgeword op Frankfort in die Vrystaat. “Cheetah-wêreld, weet jy! En trots daarop.” Sy het orrellesse geneem van kleintyd af, en op ’n dag toe sy 13 jaar oud was, het die predikant, “wat baie kwaai was,” lag sy, na die huis toe gekom en haar pa gevra of sy vir ses maande kan aflos by die gemeente, want die gemeente se orrelis was swanger. En van toe af speel sy vir gemeentes van verskeie denominasies, begrafnisse, troues, sangdienste, kore en nog meer. Vir die laaste 55 jaar speel sy by Voetspore-gemeenskapskerk in Lyttleton Manor, aan die oostekant van Centurion. Dit lyk ook nie of daar enige keer is aan tannie Dolly nie, sy is veels te lief vir haar werk en haar orrel. Toe sy moet dink oor haar gunsteling-liedere, was dit amper onmoontlik, want elkeen het ’n spesiale plekkie in haar hart.
Maar sy vertel oor toe sy eendag vir ’n troue moet speel: ’n Besoekende predikant doen die diens, en daar is ’n groot rooi knop op die preekstoel wat ’n sein stuur na die orrel as sy moet begin speel, óf moet ophou. Maar, daar was ook ’n groot rooi knop by die sydeur vir die koster, om te wys dat die bruid gereed is om in te kom. Natuurlik gebeur die ondenkbare, en die predikant druk die knoppie! En sy begin die troumars speel, met oorgawe, tot die koster kom sê het dit was nog nie tyd nie. Sy het besluit om maar aan te hou speel. Dit was die eerste en enigste keer wat sy die troumars van begin tot einde gespeel het.
LEES OOK: Podsending | Polarisasie, Trump en openbare getuienis
Ek vra haar so ’n bietjie uit oor die veranderinge wat sy sien gebeur het in die gemeente in die baie jare wat sy al betrokke is, en sy vertel opgewonde vir my hoe die kerkgebou nog al die jare dieselfde lyk, behalwe vir die liturgiese ruimte. Die diaken- en ouderlingbanke is al uitgehaal om plek te maak vir die klavier en ander instrumente. Maar sy geniet dit nou om so saam met die jongklomp musiek te maak. Sy geniet om die Flam-liedjies op die klavier saam te speel, en sy spog met haar dominee wat so mooi voorsang kan doen. Ek sê nogal vir haar dit is iets om op trots te wees, want dit kan so maklik gebeur dat daar kwaai gevoelens kom met nuwe bedieningstyle.
Sy het ons bederf met ’n unieke verwerking van Bach se “Joy of Man’s Desiring” op die klavier, en natuurlik soos dit maar gaan, wou die orrel se geswelde kleppe nie saamwerk na ’n hele week se Centurionreën nie. Ek kon sien hoe graag sy ons wou wys wat haar orrel kan doen, maar ek sal weer gaan kuier en gaan hoor. Haar staaltjies en haar groot liefde vir kerkmusiek en die orrel het my laat terugdink aan my eie kinderdae. My pa is ook nog al die jare orrelis, en ons het langs hom gesit op die galery tot heel aan die einde van die erediens, tot hy klaar gespeel het. Dit is ’n fees om lekker te kan saamsing met iemand wat die orrel so goed kan speel, en ek dink vir Voetspore-gemeente gaan dit vir so lank as wat tannie Dolly gespaar word, ’n fees bly.
Ds Hendrien van Vliet is predikant van die NG Gemeente Kempton-Hoogland.
Baie dankie Hendrien vir jou mooi en besondere artikel oor Tannie Dolly. Sy het dit baie waardeer en ons ook.