Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Malan Meyer van Kaapstad skryf:
Cobus Olivier se brief op 17 Maart raak aan ’n baie belangrike kwessie in die Christen se lewe.
Ek sal vir Cobus aanmoedig om nie by die die Belydenis van Nicea te stop nie, maar om al ons belydenisskrifte te bestudeer.
In die Heidelbergse Kategismus leer ons die Bybelse waarheid dat jy nie in die lokval moet val waar jy nie onderskei tussen die WET en die EVANGELIE nie:
“Vraag 4: Wat eis die WET van God van ons? Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste GEBOD. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee GEBOOIE is die hele WET en die profete saamgevat.
Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom? Antwoord: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.”
Klink nie na goeie nuus (maw evangelie) nie, nè? Daarom het ons die EVANGELIE nodig dit is die GOEIE NUUS dat ons ’n Middelaar het wat op dieselfde tyd God en Mens is wat die WET volkome in ons plek nagekom het en ook ten volle die straf vir wetteloosheid vir ons gedra het.
“Vraag 18: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God en ware regverdige mens is? Antwoord: Ons Here Jesus Christus, wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het.
Vraag 19: Waaruit weet jy dit? Antwoord: Uit die heilige EVANGELIE, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het. Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld. Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul.”
En dan nog: “Vraag 22: Wat moet ’n Christen glo? Antwoord: Alles wat in die EVANGELIE aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.”
Vraag 23 vra dan wat die artikels is en dan die antwoord met die Apostoliese Geloofsbelydenis.
Cobus is in ’n sekere sin reg dat liefde die kern van die evangelie is, maar ek sal nog verder gaan en sê dat Jesus (sy persoon, lewe, dood, opstanding, hemelvaart en koningskap) die kern van die evangelie is.
“Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes” (1 Joh 4:9-10).
My reaksie dan hierop is om uit dankbaarheid goeie werke te doen, maw die wet na te volg (sien deel 3 van die Kategismus). Die wet word ook opgesom deur die 10 gebooie, wat my leer hoe om God en my naaste lief te hê.
Daarom word die belydenis in die erediens opgesê om ons te herinner wat die goeie nuus is, maar die 10 gebooie word ook daarna voorgelees om ons te herinner hoe ons in dankbaarheid kan leef.