Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Eenrigting welwillende weg?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Leon M Foot van Welkom skryf:

Die afgelope paar jaar het dit duidelik geword dat daar twee groepe in die kerk is wat die Bybel verskillend vertolk of interpreteer. Elkeen lees die Bybel deur sy eie bril. Moenie val vir die idee dat die een groep op die Bybel staan en die ander die Bybel verwerp nie. So eenvoudig is dit nie.

Die dolerendes verskil tans van die res van die kerk oor veral selfdegeslagverbintenisse (SGV). En dit is nie ’n nuwe kwessie nie; dit kom al jare lank. Vanuit hulle geledere is daar gevra die kerk moet ’n “welwillende weg” met hulle stap. En die kerk het. Reeds in die Algemene Sinode-besluit van 2019 word ruimte gelaat vir diegene wat verskil van die res van die kerk om dit met gewetensvryheid te kan doen. Die kerk het by verskeie geleenthede gesprek oor die saak gevoer. In die Vrystaat is streeksbyeenkomste gehou oor die saak, verskeie kerkrade is ontmoet, daar is selfs twee keer duur buitengewone sinodesittings gehou om die gemeentes te toets. ’n Teologies-kategoriale ring is ook geskep waarby hulle kan inskakel. En dan word steeds beweer dat die kerk nie welwillend optree nie!

Die probleem is dat sommige die welwillende weg net sien as ’n instemming met hulle standpunt. As die kerk enigiets anders sê, word hulle kamstig nie gehoor nie. Die kerk hoor jou – jy oortuig die kerk net nie! Die welwillende weg beteken nie die kerk moet afsien van hulle standpunt ter wille van die dolerendes nie. Die welwillende weg beteken daar word ruimte gelaat vir mekaar se verskille. Baie van die dolerende gemeentes kom nie meer hulle ooreengekome finansiële verantwoordelikheid na nie, maar gebruik steeds die sinode se dienste: Hulle mediese en pensioenfondsbydraes word steeds bestuur, en hulle beroep steeds leraars wie se opleiding deur ander gemeentes betaal word. Hoeveel meer welwillendheid wil hulle hê?

Dit is tyd vir die welwillende weg om tweerigting verkeer te dra. Die kerk het vir jare uit haar pad gegaan vir die dolerendes. Dit is nou tyd dat dit ook van die ander kant moet kom!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief | Eenrigting welwillende weg?”

  1. Dawie de Wet

    Dankie, Dr Foot, vir die uiteensetting van u verstaan van die probleem in die kerk. U siening van die probleem is myns insiens foutief: .Die probleem is: die twee groepe in die kerk verstaan die Bybel op twee totaal verskillende maniere. Jy kan nie tegelyk op die N1 noord én suid ry nie.
    Die “dolerendes” beskou die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God, volgens Art 1. van die Kerkorde wat lui:
    “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid ……”
    Die beherende groep in die kerk, waarvan u deel is, blyk te glo dat die Bybel ‘n boek is wat vir mense in ‘n bepaalde tyd geskryf is, en uiteindelik is dit vandag se leser en sy/haar konteks wat subjektief bepaal hoe dit verstaan en toegepas moet word.
    Die Bybel as onfeilbare Woord van God is dus, soos KO Art. 1, vir die “dolerendes” ononderhandelbaar. Die SGV besluite is, onder andere, net een voorbeeld van ‘n sinodebesluit wat nie die toets van die Bybel en die Belydenis deurstaan nie.
    Persoonlik het ek jare se ervaring van Evangeliebediening van gelowiges uit verskeie kulture en taalgroepe. Ek het beleef hoe mense uit ander godsdienste in Jesus as verlosser glo – die meeste van hulle na sigbare wonderwerke. Daarna moet ‘n pad met elkeen geloop word om hulle te help om as Christene te lewe. (Mat 28:20). In die proses leer hulle in die plek van hulle ou wêreldvisie ‘n Bybelse wêreldvisie aan. Ongelukkig dui alles vir my daarop dat die AS tans besig met ‘n sistematiese afbreekproses van ons lidmate se Bybelse wêreldvisie. Moet dit vervang word met ‘n sekulêre wêreldvisie en ons die kerk word wat Paulus in 2 Tim 3:5 beskryf? Of wat anders?

Comments are closed.

Scroll to Top