Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Waaroor gaan dit in die kerk?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dawie de Wet van NG Kerk Willowmore skryf:

Die brief van dr Leon Foot (31.03) verwys. Hy wys tereg daarop dat ons in die kerk tans met twee denkrigtings van Bybelinterpertasie te doen het.

Kom ons omskryf dit net ’n bietjie. Die groep wat hy die ”dolerendes” noem, beskou die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God, volgens Art 1 van die Kerkorde wat lui:

“Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid …”

Die Bybel as heilige en onfeilbare Woord van God, soos die Kerkorde en Belydenisskrifte leer, is vir hierdie groep ononderhandelbaar.

Die beherende groep in die kerk glo klaarblyklik dat die Bybel ’n boek is wat vir mense in ’n bepaalde tyd geskryf is, en in nuwe kontekste nuut verstaan moet word. Dit is dus uiteindelik vandag se leser en sy/haar konteks van sosiale geregtigheid wat subjektief bepaal hoe die Bybel verstaan en toegepas moet word.

Net soos dit onmoontlik is om gelyktydig Kaapstad en Beitbrug toe op die N1 te kan ry, kan jy nie dié twee denkrigtings bymekaar kry nie. Ons kan wel probeer om mekaar te verstaan.

Moet ons nie eerder vra “wat is kerk” nie? Het die Here nie vir die dissipels voor sy Hemelvaart opdrag gegee om sy getuies te wees tot aan die uithoeke van die wêreld nie? Het die kerk op Pinksterdag nie juis ontstaan toe hulle in Jerusalem begin het om van Jesus te getuig nie? Beteken “missionale betrokkenheid by die wêreld” dat die boodskap wat verkondig word nog steeds die Goeie Nuus is van Jesus wat aan die kruis vir ons sondes betaal het en ons oproep tot ’n nuwe lewe?

Persoonlik het ek dekades se ervaring van evangeliebediening aan gelowiges uit verskeie kulture en taalgroepe. Ek het beleef hoe mense uit ander godsdienste tot geloof in Jesus as Verlosser kom – talle ná sigbare wonderwerke. Daarna moes ’n pad met elkeen geloop word om hulle te help om as Christene te lewe (Matt 28:20). In die plek van hulle ou wêreldbeskouing leer hulle dan ’n Bybelse wêreldbeskouing aan. Dit is gegrond daarop dat God die Skepper is en ook alle mense goed en na sy beeld geskep het, maar dat die sonde God se beeld in die mens verdof het. Daarom het God mens geword in Jesus en het Hy self vir ons sondes aan die kruis betaal. Dit waarborg ook vir ons die ewige lewe – ons toekoms by Hom.

Ongelukkig dui die rigting van die AS vir my daarop dat juis hierdie elemente van ons lidmate se Bybelse wêreldbeskouing (skepping, sondeval, herskepping, ewige lewe) ondergrawe word. Moet dit vervang word met sekulêre universalisme? Is ons nie besig om die kerk te word wat Paulus in 2 Timoteus 3:5 beskryf het nie? Wat is die alternatief?

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top