Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die naam Leo herinner aan Leo die Grote – ’n herder-pous van vrede en waarheid. Dit is ’n subtiele aanduiding van die soort leierskap wat Leo XIV moontlik wil beliggaam: standvastig in geloof, met ’n hart wat oop is vir versoening, geregtigheid en die leiding van die Gees, meen die skrywer van dié brief. Foto: @VaticanMedia via vaticannews.va

Brief: Mag die NG Kerk hande vat – met Rome, met Jerusalem, met almal wat die vrede van Christus soek

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Ds Riaan de Villiers van Kaapstad skryf: Met die verkiesing van Pous Leo XIV het die wêreld vir ’n oomblik weer asem gehaal. Die nuwe pous, Robert Prevost, het op 8 Mei van die balkon van Heilige Petrus verskyn onder luide toejuiging van ’n skare so ver as die oog kon sien – en hy het met ’n stem van sagtheid en vasberadenheid gesê: “Vrede vir julle almal! Dít is die eerste groet van die Opgestane Christus, die Herder wat sy lewe gee vir sy skape.”

Sy eerste toespraak was ’n uitnodiging – nie tot triomf nie, maar tot liefdevolle diens. Hy het God se onvoorwaardelike liefde vir àlle mense beklemtoon, en homself beskryf as ’n seun van Augustinus – die biskop van Hippo, ’n figuur diep verweef met die Kerk in Afrika se geskiedenis. Daarmee het hy ’n gevoel van verbondenheid met ons vasteland en sy mense uitgespreek.

Suid-Afrika se eie Kardinaal Stephen Brislin – oorspronklik van Welkom en onlangs aangestel as Aartsbiskop van Johannesburg – was deel van die konklaaf wat hom verkies het. Dit is vir ons land betekenisvol. Brislin het reeds twee jaar gelede in Kerkbode vertel van sy hoop dat NG teoloë en Katolieke mekaar sal ontmoet in gesprek, veral rondom die nagmaal as plek van versoening en gemeenskap. Hierdie oomblik vra dalk van ons om daardie gesprek weer met geloof en onderskeiding te nader.

Die naam Leo herinner aan Leo die Grote – ’n herder-pous van vrede en waarheid.

Dit is ’n subtiele aanduiding van die soort leierskap wat Leo XIV moontlik wil beliggaam: standvastig in geloof, met ’n hart wat oop is vir versoening, geregtigheid en die leiding van die Gees.

En terwyl Trump en Vance onlangs met groot oë verstar in die kerk gesit het terwyl Biskop Budde die evangelie van liefde en geregtigheid verkondig het, gaan hulle mooi moet trap rondom hulle landgenoot in die Vatikaan.

 Nadat die wêreld se oë nou vir ’n wyle op die wit rook van Rome gerig was – op soek na ’n teken van hoop – moet ons nou weer kyk na die donker rook van bomme oor Gaza. En hoor hoe die Palestynse Kerk, gewortel in die grond van Jesus se geboorteplek, steeds skreeu ten hemele. ’n Kerk wat uitroep vir geregtigheid en vrede.

Mag die NG Kerk hande vat – met Rome, met Jerusalem, met almal wat die vrede van Christus soek – en saam getuig van die Goeie Herder: die Herder wat nie verdeel en wonde verdiep nie, maar wat wonde genees, en nie net ons wonde verbind nie – maar ook óns, as mense, aan mekaar verbind.

 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top