Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Fluit-fluit: Is die storie van die NGK verder uit?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof JW (Hoffie) Hofmeyr van Pretoria skryf: In 2011 publiseer ’n bekende voormalige kerkleier ’n boek Fluit-fluit, die storie van die kerk is uit. Nou,14 jaar later, is die vraag opnuut of die storie van die NG Kerk nou minder of meer “uit is”.

As fyn lojaal-kritiese waarnemer is my mening dat die storie van die NG Kerk nou meer uit is as in 2011. Dit is pynlik om saam met groot getalle predikante, ampsdraers en lidmate te stel dat die NG Kerk nou ’n haas finaal gekaapte kerk is en wel onder andere deur die onkritiese benadering tot die post-modernisme, selfdegeslagkwessies en ongebalanseerde kritiese rasteorie-aksente, wat breed in die NG Kerk deurgesuur het.

LEES OOK | Narsisme: ‘Laat staan eers die ander se diagnose en versterk jou eie grense en vermoë om probleemgedrag uit te ken’ – kenner

In baie opsigte en op baie plekke het die diepgang in kerklike werk en verkondiging dikwels vervlak tot maatskaplike instellinge, al is die versorging van mense natuurlik uiters belangrik. Die kerk kan egter nie net kos en aalmoese uitdeel nie. Te midde van oorheersing en bedenklike kerkregtelike boelie-tegnieke deur sinodes, jaag ons mekaar ook nog in liberalistiese en fundamentalistiese hoeke in.

By die feit dat daar in die verlede en tans ook nog op baie plekke groot erns gemaak word met kerkwees, het die NG Kerk jammer genoeg soms ook fokus verloor. Ek wil graag vier kort maar positiewe en opreg-bedoelende opmerkinge oor die NG Kerk in 2025 maak:

  1. Die NG Kerk is myns insiens ongelukkig wel vasgevang in ’n spinneweb van grootliks modetendense. Te midde van al die sneeubalagtige gebeure in die NG Kerk is daar eintlik net een oplossingspad en dit is ’n hartgrondige belydenis en wel by monde van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) om te konstateer dat ons as breë NG Kerk maar ook as NG lidmate mekaar veral in die laaste jare langs die pad verloor het. Ek en ’n ander baie gebalanseerde Woordbedienaar was gedurende die afgelope ses maande op ’n taamlike diep maar ook nie-amptelike vlak betrokke by ’n versoeningsgesprek met twee van die huidige kerkleiers. Daar was ’n mate van groei na mekaar maar uiteindelik meen hierdie twee persone dat die NG Kerk genoeg gesê het as hy in die laaste jare ’n Roepingsverklaring en ’n Hervormingsdaggetuienis laat hoor het. Myns insiens kan slegs ’n eenmalige en duidelike landswye Toewydingsbelydenis nou aan mekaar maar ook aan God die pad oopbreek na ’n versoende en gefokusde NG Kerk.
  2. Ons sal die geskiedenis en tendense in die wêreldwye maar ook in ons eie kerk fyn moet onderskei en lees. In Engeland en Nederland is daar volgens huidige betroubare bronne ’n “Quiet Revival” onder baie jongmense wat na vaste ankers soek. Die tendens van terug na God en sy Woord moet dalk ook by ons weerklink.
  3. Teologiese opleiding vorentoe bly van die allergrootste belang. Ek het ongelukkig nie baie hoop vir sommige van die huidige opleidings nie. Nuwe oplossings sal gesoek moet word om Woordbedienaars op te lei. Plaaslike gemeentes en predikante sal dringend sleutellidmate moet identifiseer om opgelei te word by bepaalde gebalanseerde instellings.
  4. Mag God ons vorentoe duidelik lei en genadig wees!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top