Narsisme bokspring behoorlik in ons tydsgees.
Die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se Diagnostic and Statistical Manual (DSM) beskryf narsisme as ’n geestessteuring, maar die term “narsis” is so ingeburger in die populêre woordeskat, kollektiewe verbeelding en populêr-sielkundige verwysingsraamwerk dat die gesprek daarrondom lank nie meer beperk is tot formele klassifikasiestelsels en die sielkundespreekkamer nie.
Van DSM tot populêre gebruik
Onderwerpkenners soos Melody Pick meen egter dit is dikwels meer behulpsaam om die klem weg van ’n diagnose vir ’n bepaalde probleem-individu in jou lewe te verskuif na ’n soeke om self gesonde grense in verhoudings daar te stel.
In ’n wydlopende onderhoud met Pick, ’n sielkundige van Kaapstad, wou Kerkbode weet:
Wat presies is narsisme en watter impak het dit op die mense in die sfeer van iemand wat daardie gedrag openbaar?
Le Roux Schoeman, ’n joernalis en die redakteur van Kerkbode, het op 19 Mei met Pick gesels en ondermeer gevra:
- Watter invloed het narsisme op die mense in die narsis se sfeer?
- Wat veroorsaak narsisme?
- Watter uitwerking het narsisme op kinders in die verhouding?
Die gesprek het ook gaan draai by die feit dat narsiste se personas (letterlik en figuurlik) dikwels inderdaad aantreklik is – hoewel die DSM-kriteria hulle afstootklik laat klink. Hoe werk dit?
’n Ingewikkelde tema wat Pick in die onderhoud aanroer, gaan oor die manier waarop geloofsorganisasies ons weerloosheid teen stoornisse soos narsisme moontlik kan verswak (“Wees die minste, draai die ander wang”).
Die onderhoud bereik van die leidrade wat Pick en ander terapeute en sielkundiges ons kan bied: Hoe rig ’n mens gesonde sielkundige grense op? En wat sê ’n mens vir iemand wat ná jare in ‘n verhouding met ‘n narsis moed verloor het?
Opsomming:
Narsiste se skade
In verhoudings rem narsiste hul lewensmaat sielkundig af deur volgehoue grootheidswaan, gebrek aan empatie en ’n diepgesetelde selfgerigtheid.
Onbeperkte sukses
In die werkplek hou die impak van narsisme ewenseens menslike hulpbronbestuurders besig danksy die verdelende krag – intense bewondering en / of inhiberende vrees – van die uitblinkerbaas op dié se snelle vaart na onberperkte sukses en sy / haar onsensitiewe toeëiening.
Pleasers en uitbuiting en swak grense
Ook in plekke van aanbidding speel hierdie dinamika tussen mense uit, waar waardes soos “draai die ander wang” deur manipuleerders uitgebuit kan word en / of blind vir konteks toegepas kan word deur sagmoedige pleasers wat problematiese patrone uit eie hul kinderjare Zombie-agtig herhaal tot hulle uitbrand of ontplof en dikwels self nie weet hoekom nie.
Hoekom berig Kerkbode hieroor?
Buiten vir bogenoemde prominensie en aktualiteit, tel ’n berigreeks wat Kerkbode in 2019 oor dié onderwerp publiseer het, jaar ná jaar onder die mees gelese artikels op ons webwerf: https://kerkbode.christians.co.za/2019/10/22/help-my-man-is-n-narsis/

