Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Uitslag van ondersoek teen moderator bekend: Lubbe onskuldig

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

‘n Tugliggaam het ds Jan Lubbe onskuldig bevind op ’n klag wat verband hou met opmerkings wat hy verlede jaar tydens ’n RSG-onderhoud gemaak het. 

Die ondersoekproses is, volgens die voorskrifte van die Kerkorde, vertroulik hanteer.

In ’n ongewone stap is die uitslag van dié klag van leerdwaling wat teen die moderator van die Algemene Sinode ingedien is, bekendgemaak. 

“Deursigtigheid in hierdie saak “(sal) help om verdere gerugte en volgehoue gissings te voorkom,” luidens ‘n verklaring. 

Lees die verklaring hieronder. – Red.

 


 

Verklaring: NG Kerk moderator onskuldig op klag van leerdwaling

Ds Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, is onskuldig bevind op ’n klag van leerdwaling.

Die NG Kerk maak nie gewoonlik die uitslag van tugondersoeke in die openbaar bekend nie. In die geval van die klag van leerdwaling wat teen ds Jan Lubbe (moderator van die Algemene Sinode) ingebring is, mediadekking en talle kommentare op verskillende sosiale platforms, blyk dit egter in openbare belang te wees om die uitslag van die ondersoek bekend te maak. Deursigtigheid in hierdie saak help om verdere gerugte en volgehoue gissings te voorkom.

Die Ring van Bloemfontein-Noord het op 18 Maart 2025 ’n onafhanklike liggaam aangewys om ’n tugondersoek te doen na aanleiding van ’n klag van prof Johan Janse van Rensburg teen ds Jan Lubbe. Die klag het in verband gestaan met opmerkings wat ds Lubbe gemaak het tydens ’n radio-onderhoud op RSG op 23 Julie 2024. Die saak is aanvanklik ondersoek, maar die bevinding is op grond van prosedurele besware nietig verklaar en is van voor af begin.

Intussen het die kerkraad van NG Gemeente Berg-en-Dal, waar ds Lubbe die leraar is, vandeesweek ’n skrywe gerig aan die kantoor van die algemene sinode waarin hulle die uitslag van die nuutste ondersoek bekendmaak. Die tugliggaam het ds Jan Lubbe onskuldig bevind aan leerdwaling.

Die ondersoekproses is volgens die voorskrifte van die Kerkorde vertroulik hanteer. Beide prof Van Rensburg en ds Lubbe is tydens gesprekke vir ’n voorafondersoek aangehoor. Die gesprekke het in Bloemfontein plaasgevind. Hierna het die geslote formele ondersoek in Pretoria plaasgevind. By hierdie geleentheid is die klaer en die aangeklaagde en hulle getuies aangehoor. Die tugliggaam het die getuienis oorweeg en bykomend ook deskundige getuienis ingewin. Hierna het die tugliggaam ’n bevinding gemaak, in ’n omvattende verslag gedokumenteer en met alle betrokke partye gekommunikeer.

Die kerkraad van Berg-en-Dal doen in hulle skrywe ’n beroep op lidmate en leraars om “altyd dié Weg te volg wat vir ons in die Skrif rakende die negende gebod oor ‘valse getuienis’ uiteengesit is”. Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 43) beskryf hierdie weg. In die toepaslike kerkordelike bepalinge hieroor word daar na Matteus 18 verwys. Wanneer daar “onderlinge meningsverskille oor teologiese sake mag ontstaan, behoort medegelowiges (lidmate sowel as leraars) hulle van enige vorm van verdagmaking te weerhou”.

Openbare verantwoording versterk die legitimiteit van kerklike prosesse deur te bewys dat alle gelegitimeerdes (wat leiers insluit) volgens dieselfde standaarde beoordeel word en dat tugprosedures deeglik en met die nodige erns uitgevoer word.

Deur die bevinding van hierdie ondersoek bekend te maak, hoop die kerk om ’n balans in respek vir beide die integriteit van interne prosesse én die belang van openbare verantwoordbaarheid te beklemtoon. Uiteindelik is dit ook die getuienis van die kerk en die eer van God wat hierdeur geraak word. Daarom het die tugliggaam ook hulle dank uitgespreek vir die integriteit waarmee al die betrokke partye hulleself aan die proses onderwerp het.

Navrae kan gerig word aan Denise Louw, NG Gemeente Berg-en-Dal, Tel: 051 436 2750/073 180 3193, E-pos: kantoor@bergendalkerk.co.za

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top