Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Eksklusiewe gebruik van enige taal – Afrikaans, Engels of Xhosa – kan uitsluiting veroorsaak’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Jean Oosthuizen van Die Strand skryf: Ek skryf in reaksie op die artikel “Is NG Kerk ondanks die insigte van missionale teologie steeds besig om wit belange te beskerm?” deur Le Roux Schoeman, gepubliseer op 9 Julie 2025, wat dr Johannes Mouton se navorsing bespreek. Hoewel die artikel belangrike vrae oor die NG Kerk se transformasieproses na 1994 stel, maak dit Afrikaans ten onregte die sondebok vir rassisme, terwyl die dieperliggende oorsake – sistemiese witheid, ekonomiese bevoorregting en kulturele nostalgie – nie voldoende aangespreek word nie.

Mouton etiketteer Afrikaans as ’n “groot moeilikheidmaker en uitsluiter” en assosieer dit met witheid, wat impliseer dat die taal se beskerming slegs wit belange dien. Hierdie siening ignoreer dat die meerderheid Afrikaanssprekers in Suid-Afrika nie wit is nie. Ongeveer 60% van Afrikaanssprekers kom uit die bruin gemeenskap, met variëteite soos Kaaps wat ’n lewendige uitdrukking van nie-wit identiteit is. Deur Afrikaans as ’n “wit taal” te etiketteer, marginaliseer Mouton onbedoeld hierdie gemeenskappe, wat graag in hulle moedertaal wil aanbid. Dit is ’n klap in die gesig vir bruin Afrikaanssprekers en misken Afrikaans se diverse oorsprong, gewortel in kontakte tussen Maleis, Khoi, Nederlands en ander tale. Dit is ook ’n klap in die gesig van wit Afrikaanse lidmate wat lief is vir hulle taal.

Mouton se voorstel dat ‘n hele erediens in Engels gehou moet word indien een persoon nie Afrikaans verstaan nie, is ironies genoeg self diskriminerend. Hy skryf: “Ek voel as daar een mens in die erediens is wat nie Afrikaans verstaan nie, moet ons by daardie persoon aanpas, nie andersom nie.” Hierdie benadering diskrimineer teen Afrikaanssprekende lidmate en ignoreer die kompleksiteit van Suid-Afrika se taallandskap, waar inheemse tale soos Xhosa en Zulu ook erkenning verdien. Die oplossing lê nie in die verwerping van Afrikaans nie, maar in meertaligheid en die insluiting van diverse Afrikaanse variëteite, soos Kaaps, om die taal inklusief te maak.

Die navorsing se fokus op Afrikaans as ’n uitsluiter lei aandag af van die dieper oorsake van rassisme. Mouton noem die NG Kerk se finansiële bates uit die apartheidstyd (wat van R111,9 miljoen tot R121,7 miljoen gestyg het), maar bied geen konkrete voorstelle vir restitusie nie. Die voortdurende skeiding van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) is ’n institusionele oorblyfsel van apartheid, maar geen duidelike plan vir hereniging word voorgestel nie. Kulturele nostalgie vir die “goeie ou dae” en wit lidmate se vrees vir identiteitsverlies word aangeraak, maar nie diep genoeg ontleed om die psigologiese dinamika te verstaan wat transformasie teenwerk nie.

Taal is ‘n simptoom van hierdie breër kwessies, nie die kernprobleem nie. Die eksklusiewe gebruik van enige taal – Afrikaans, Engels, of Xhosa – kan uitsluiting veroorsaak.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top