Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Regter Raymond Zondo (heel regs), voormalige hoofregter, was die hoofspreker van die geleentheid. Die feit dat regter Zondo met vyf lyfwagte moet rondbeweeg, het iets vertel van die impak wat korrupsie het op die individue wat daarteen veg, skryf Christo Benadé. Foto: South African Council of Churches

Korrupsie: Kerk moet help waardes kweek + Zondo se vyf voorstelle

Die hart van die etiese hervorming van die land lê in gesonde gesinne, wat waardes kweek by kinders, hoor Christo Benadé by die hoëprofielkonferensie wat op 23-24 Julie by die FNB City-gebou in Johannesburg oor die kerk se rol in die bestryding van korrupsie gehou is.

 

Die nuuskonferensie vroeër vandeesmaand van luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi oor korrupsie in die polisie en regering het ’n mens met gemengde gevoelens gelaat. Aan die een kant was dit baie ontstellend, maar aan die ander kant het ons al vuisvoos geraak oor al die onthullings oor korrupsie. Dit wil tog voorkom asof die inwoners van Suid-Afrika ’n versadigingspunt bereik het en aksie vereis. Die konferensie, wat lank tevore deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) gereël is, kan net gesien word as ’n Goddelike beskikking.

LEES OOK: Kerkleiers bekyk korrupsieplaag: ‘NG Kerk kan nie op kantlyn staan in dié gesprek’

Die NG Kerk was verder verteenwoordig deur die moderator van die laaste Algemene Sinode, ds Jan Lubbe en die algemene sekretaris dr Nioma Venter. Die sprekers het ’n benouende prentjie van die invloed en skaal van korrupsie in die land geskets.

Die kerk se selfondersoek

Biskop Sithembele Sipuka het as president van die SARK in sy inleidende opmerkings die kerk opgeroep om in die gesprek oor korrupsie eers die balk in ons eie oog raak te sien. Ons kan nie ’n profetiese stem oor korrupsie hê as ons nie eers erken dat korrupsie ook in kerke en denominasies voorkom nie. Die sondige natuur van die mens is geneig tot selfsugtigheid en gierigheid. Baie van die mense wat hulle skuldig maak aan korrupsie sit iewers op ’n Sondag op ’n kerk se banke. Ons as kerke moet ons opnuut toewy aan ’n kultuur en praktyke van deursigtigheid en etiese bestuur van gemeentes en denominasies. Die kerk het ’n roeping om te sorg vir die minstes in die samelewing en te werk vir geregtigheid in ons land. As kerke verstaan ons dat die stryd teen korrupsie in die eerste plek ’n stryd tussen die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis is.

Gesonde gesinne

Die sprekers was goed geposisioneer om ’n akkurate prentjie van die voorkoms en invloed van korrupsie op ons land te skets. Prof Somadoda Fikeni, kommissaris van die Openbaredienstekommissie, wys daarop dat ons ’n goeie grondwet het en dat die kerk die leiers van die land moet oproep om te regeer volgens die grondwet. Hy meen daar is ’n dringendheid dat korrupsie aangespreek word. Ons is op ’n brandende skip wat tot die land se ondergang gaan lei. Hy meen dat die hart van die etiese hervorming van die land lê in gesonde gesinne, wat waardes kweek by kinders.

Regter Raymond Zondo se boodskap

Regter Raymond Zondo, voormalige hoofregter, was die hoofspreker van die geleentheid. Die feit dat regter Zondo met vyf lyfwagte moet rondbeweeg, het iets vertel van die impak wat korrupsie het op die individue wat daarteen veg. Hy meen die konferensie kom op ’n kritiese tyd in die stryd teen korrupsie in ons land. Dit is drie jaar nadat hy die laaste hoofstuk van die Zondo-kommissieverslag aan die president oorhandig het. Die vrae wat ons aan onsself moet vra, is wat het sedertdien gebeur, wat moes gebeur het en hoekom het dit nie gebeur nie?

Met die 1994-verkiesing was die droom dat die tyd verby is dat mense honger gaan slaap, siekes nie die nodige hulp by hospitale en klinieke kry nie, en dat daar nie aan die basiese behoeftes van mense voorsien word nie en dat hulle in veiligheid kan leef.

Ongelukkig is die werklikheid dat mense steeds honger is, baie siekes nie die behandeling kry wat hulle nodig het nie, en baie sonder menswaardigheid leef. Hy meen die rede waarom hierdie droom nie gerealiseer het nie, is as gevolg van die korrupsie wat endemies is in die regering, staatsdiens en samelewing. Sy opinie is dat die meeste korrupsie plaasvind in die tenderprosesse vir staatskontrakte. Die regering bly steeds die grootste verskaffer van tenders in die land en ten spyte van goeie wetgewing, bly daar steeds groot gapings vir korrupsie in die tenderprosesse.

Uit die Zondo-kommissie se ondersoeke het dit duidelik geword dat daar gevalle is waar kontrakte dubbeld toegeken word en ook vir onnodige werk. Etiese werknemers in die staatsdiens word geteiken en geïntimideer totdat hulle bedank sodat korrupte persone aangestel kan word, wat onder beheer van die misdaadnetwerke is.

Die gewelddadige aard van korrupsie

Biskop Malusi Mpumlwana, vorige voorsitter van die SARK, sê in sy voordrag dat korrupsie weerstandig en gewelddadig is. Hy vertel van die doodsdreigemente wat hy kry weens sy publieke werk teen korrupsie.

Regter Zondo meen die kerk speel ’n belangrike rol in die stryd teen korrupsie, maar kan dit nie alleen doen nie. Die kerk moet deel wees van ’n kollektiewe poging om korrupsie te bestry. Kerke moet hulle posisie gebruik om die regering tot verantwoording te roep in die stryd teen korrupsie. Hy meen daar is ’n paar stappe wat geneem kan word in die stryd teen korrupsie, en kerke en gelowiges kan druk plaas op die regering om dit te doen:

  • Eerstens moet daar ’n aparte instelling opgerig word wat die tenderprosesse oudit.
  • Tweedens hou die huidige kiessisteem nie die lede van die parlement verantwoordelik vir die wyse waarop hulle regeer nie. Die huidige sisteem gee ook te veel mag aan die leier van die meerderheidsparty. Dit is tans baie moeilik om byvoorbeeld van ’n president (leier van die meerderheidsparty) ontslae te raak deur ’n mosie van wantroue, want die partyleier beheer die stem van die individuele lede.
  • Derdens het die sluiting van die Skerpioene die geveg teen korrupsie ’n knou toegedien. Die kerk moes meer geprotesteer het toe die Skerpioene gesluit is. Daar is byvoorbeeld nog nie klagtes gelê teen die mense wat in 2017 geïmpliseer is in korrupsie by Prasa nie. Kerke kan vra dat ’n liggaam soos die Skerpioene weer op die been gebring word.
  • Vierdens is die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n belangrike rolspeler in die geveg teen korrupsie. Daar is egter frustrasie by gewone mense dat daar nie genoeg hoëprofielsake deur die NVG vervolg word nie. Die NVG moet al die hulpmiddele kry wat hulle nodig het om hulle werk te doen.
  • Vyfdens is die howe die belangrikste rolspeler in die stryd teen korrupsie. Regter Zondo is vol vertroue dat die meeste lede van die regbank hulle werk met integriteit doen. Daar is egter ’n tekort aan middele en personeel in die regbank. Die onafhanklikheid van die regbank moet bewaar word en die kerke moet toesien dat dit gebeur.

Die rol van fluitjieblasers

Ten slotte is geen stryd teen korrupsie moontlik as fluitjieblasers nie na vore kom nie. Tans is die situasie dat fluitjieblasers hulle werk verloor, gedreig word en selfs vermoor word. In die stryd teen korrupsie moet hulle teen alle koste beskerm word en ook vergoed word vir enige verliese wat hulle ervaar. Regter Zondo verwys na wetgewing wat reeds bestaan dat getuies vergoed kan word. Mnr Ben Theron het in sy lesing gewys op die nood om fluitjieblasers emosioneel, geestelik, finansieel en met regshulp te ondersteun. The Whistleblower House is so ’n organisasie wat fluitjieblasers adviseer voordat hulle met die proses begin.

Regter Zondo meen ook dat mense wat skuldig is aan korrupsie ongeskik moet wees vir enige aanstelling in die staatsdiens en regering. Die kerk moet braaf genoeg wees om hulle profetiese stem te gebruik en om sulke situasies uit te wys en druk op die regering te plaas om sulke persone af te dank.

Ander belangrike stemme

Ander sprekers by die geleentheid was die ouditeur-generaal (OG), me Tsakani Maluleke. Sy meen die grondwet van SA bied vir die land ’n groot geskenk daarin dat elke staatsinstelling elke jaar deur die OG geoudit word. Die werklikheid is dat baie van die staatsinstellings nie ’n skoon oudit kry nie, maar die feit dat dit gedoen word en dat die verslae tot beskikking van die publiek is, help in die bekamping van korrupsie. Sy argumenteer interessant genoeg dat sy nie oortuig is dat die rede vir swak bestuur in die openbare sektor ’n tekort aan kennis en vaardighede is nie, maar ’n gebrek aan wil. Amptenare weet wat gedoen moet word, maar daar is ’n korporatiewe kultuur waar nie gestreef word na uitnemendheid nie.

Prof Fikeni het hierdie sentiment beaam. Hy stel dit sterker: dat daar in baie gevalle nie opgetree word om eenvoudig die voor die hand liggende regte ding te doen nie. Die staat verloor ook jaarliks baie geld omdat daar nie gehaltebestuur is van kontrakteurs nie. Iets so eenvoudig soos om toe te sien dat die werk waarvoor betaal is, gedoen is en reg gedoen is, gebeur nie. Penalisasieklousules vir laat en onvoldoende werk in kontrakte van kontrakteurs word eenvoudig uitgehaal.

Adv Kholeka Gcaleka is die openbare beskermer wat die mandaat het om alle werk van die regering en staatsdepartemente te ondersoek waar daar klagtes is dat hulle inbreuk maak op die regte van die inwoners of dat korrupsie voorkom. Sy beskou dit as een van die groot uitdagings tans dat politici en amptenare korrupsie pleeg en dan moet die staat die regskoste betaal vir jarelange regsprosesse. Verder word die korrupte amptenare op betaalde verlof gesit vir tot agt jaar voordat hulle afgedank word. Sulke amptenare wat wel skuldig bevind word, word net herontplooi na ander departemente of provinsies, waar hulle voortgaan met korrupsie. Die kantoor van die OB is tans besig met voorstelle wat sal voorkom dat iemand wat skuldig is aan korrupsie weer in die openbare sektor mag werk.

Die kerk se reaksie

Hierdie is maar enkele gedagtes uit die lesings tydens die konferensie. Die lidkerke van die SARK het daarna diep nagedink oor die kerk se reaksie op die kanker van korrupsie wat deur ons land versprei. Die kerk se reaksie moet in die eerste plek ’n teologiese reaksie wees, want korrupsie tas die beeld van God en die welwese van God se skepsels en skepping aan. Prof Henco van der Westhuizen van die Universiteit van die Vrystaat (UV) is besig met ’n verslag wat die kerk se reaksie op korrupsie sal anker.

As gelowiges word ons geroep deur Miga 6:

“Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Om die Here te dien, dit is wysheid. Die Here roep die stad; luister, leier en julle almal wat aanhou roof.”

Ons moet ons profetiese stem laat hoor om soos Miga die onreg uit te wys. As gereformeerdes begin ons egter altyd eers by onsself. Is daar dalk ’n balk in ons eie oog? Tree ons regverdig en eerlik op? Is ons deursigtig en eerlik met ons persoonlike finansies en dié van ons gemeentes? Op ’n baie praktiese vlak moet gemeentes en sinodes seker maak dat hulle goeie interne kontrolesisteme toepas. Ons is aanspreeklik teenoor mekaar om ons geouditeerde state by die sinodes in te dien sodat ons vertroue in ons hele sisteem kan versterk. As lidmate kan ons vra of ons gemeente se state geoudit is en ingedien is by die onderskeie sinodes. So hou ons mekaar verantwoordelik vir etiese finansiële bestuur.

Verder, wat leer ons aan ons kinders oor eerlikheid en integriteit? Hoor hulle by ons: “Moenie die maatjie by die skool se pen vat nie, Pappa sal een van die werk af bring”?

Praktiese programme

Die SARK werk aan ’n aantal programme wat gemeentes kan help om korrupsie in Suid-Afrika teen te werk. Een daarvan is lesse oor eerlikheid vir kategesemateriaal. ’n Ander is goeie kommunikasie oor gevalle waar korrupsie plaasvind en maniere waarop gemeentes kan reageer of protesteer. Een van die doeltreffendste maniere om korrupsie te bekamp is die ondersteuning van fluitjieblasers; kerke kan fluitjieblasers geestelik en emosioneel ondersteun en verwys na hulpbronne wat hulle kan raad gee. Die leierskap van die SARK sal hulle toegang tot die regering gebruik om etiese bestuur aan te moedig, en plaaslike gemeentes kan hulle plaaslike raadslede verantwoordelik hou vir goeie bestuur.

Hoop vir die toekoms

Die grootste bron van hoop tydens die konferensie was die sterk oortuiging by al die kerkleiers dat korrupsie in alle dele van die samelewing gestop moet word. Korrupsie roof juis die minstes in die samelewing van menswaardigheid en skaad God se beeld. Die feit dat die NG Kerk saam met ons broers en susters uit ander kerke praat oor hierdie saak, maak die impak daarvan soveel groter. Kyk uit vir die programme en materiaal wat van die SARK se kant gaan kom oor hoe gemeentes by hierdie stryd kan inskakel.

Dr Christo Benadé is voorsitter van die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top