Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
‘n Voormalige leraar van die NG Kerk sowel as die gemeente waar hy in diens staan, het hulle tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend nadat hy sy predikantsbevoegdheid deur ‘n kerklike tugproses verloor het. Dié dringende hofaansoek om sy verlies van bevoegdheid ter syde te stel, is teen die ring, Sinode Wes-Kaap en die Algemene Sinode gebring. Op Dinsdag, 5 Augustus het die regter in die guns van die NG Kerk beslis en die aansoek met koste vir die applikante, van die hand gewys.
Die NG Kerk is daarop ingestel om kerklike sake op ‘n kerklike wyse en met kerklike middele te hanteer. Hierin is die ooreengekome Kerkorde die amptelike rigsnoer, en dit is opnuut deur die uitspraak van die regter bevestig. Die NG Kerk streef daarna om uit die burgerlike hof te bly, maar is soms genoodsaak om haarself te verdedig ter wille van die waarheid en integriteit van haar bediening, en die waardes van regverdigheid en liefde teenoor almal in ons kerkverband. Daarom sal die kerk ook met begrip en geduld na weë bly soek om onderlinge verskille op ‘n vreedsame en kerkordelike wyse op te los, met die bede dat God ons deur sy Woord en Gees op die regte pad sal lei. – Verklaring uitgereik deur Charl Stander, Aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland namens die respondente.
LEES OOK: Regstegniese implikasies van hofuitspraak (opvolg)
