Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Dit het onder ons aandag gekom dat daar tans verskillende interpretasies van die hofbevel in die saak tussen ‘n voormalige gelegitimeerde en die NG Kerk op verskeie platforms die rondte doen.
Ten einde enige verwarrende interpretasie van die verklaring van 5 Augustus 2025 wat in Kerkbode gepubliseer is te voorkom, word die verklaring met die volgende regstegniese implikasie van die hofuitspraak uitgebrei.
LEES OOK: Regter stel voormalige leraar se aansoek ter syde
’n Voormalige predikant het in Desember 2024 sy bevoegdheid verloor na afloop van ’n kerklik tugproses en daaropvolgende appèlprosesse. In Julie 2025 is dié besluit op hersiening geneem na die Hoër Hof. Daar is ook ’n dringende aansoek gebring waarin die hof versoek is om die kerk se besluit (verlies van bevoegdheid) op te skort tot na afhandeling van die hersieningsaansoek. Dit sou beteken dat hy toegelaat sou word om voort te gaan met sy bediening in die gemeente, al is hy nie meer ‘n predikant van die NG Kerk nie. Hierdie dringende aansoek is met koste van die rol verwyder omdat die Hof bevind het dat daar nie genoegsame dringendheid bewys is nie. – Verklaring uitgereik deur Charl Stander, aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland, namens die respondente.
