Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerhard Mahne van Kaapstad skryf: Op 15 Augustus skop die ANC geïnisieerde nasionale konferensie in Pretoria af. Verskeie besware vanuit die volk het teen hierdie konferensie en komende dialoog na vore gekom, soos dat dit ’n enorme klomp geld gaan kos, dat ons die probleme in die land reeds ken, dat ons nie meer oor uitdagings wil praat nie omdat die tyd vir meer doen en minder praat lankal reeds aangebreek het.
En dan is daar die beswaar van etlike stigtings oor pres Cyril Ramaphosa se oorhaastigheid. Dit is die rede waarom die Steve Biko-, Albert Luthuli-, Thabo Mbeki-, Oliver en Adelaide Tambo-, FW de Klerk- en Aartsbiskop Desmond en Leah Tutu-stigting aan die eerste sitting van die konferensie onttrek het. John Steenhuisen van die DA beweer selfs dat die komende konferensie ’n onwettige inisiatief sonder enige geloofwaardigheid is. Die Vryheidsfront Plus het ook as politieke party onttrek sowel as Solidariteit en AfriForum terwyl die DRSA-organisasie veral sy misnoeë ten opsigte van die 700 miljoen Rand wat die oefening uiteindelik gaan kos, uitspreek. Een van die belangrikste besware teen die konferensie is egter dat die hele proses vanuit Luthulihuis gedryf word, met ’n ANC wie se politieke en ekonomiese beleid in beton gegiet is.
Ramaphosa en sy ontwerpspan dryf die proses van bo af, en presies só gebeur dit ook in die NG Kerk se leierskap met hulle ontwerpspanne vir sinodale vergaderings. In NG sinodes is dit al vir ’n geruime tyd nie meer kerkrade en ringe wat van onder af agendas bepaal nie, maar ontwerpspanne wat dit van bo af doen. Dit is die moderatuur met sy sinodale ontwerpspanne wat bepaal wie almal sprekers van buite gaan wees, wat tafelindelings vir sinodegangers doen, wat bepaal wat tafeltemas asook die vrae wat in tafelgesprekke hanteer moet word gaan wees en wat vooraf tafelleiers aanstel. Jy kan nie kies waar jy wil sit nie, maar word geplaas ooreenkomstig ’n vooraf beplanning. Elkeen by ’n tafel kry geleentheid om saam te praat, maar slegs tafelinsette wat by die voorafbepaalde tema aansluit, word opgevolg. Leraars wat dan nie met hierdie van bo af manipulasie gediend is nie, en uiteindelik ook uitgesproke is teen Skrifvreemde sinodebesluite, word “dwars dominees” genoem. En lidmate wat sinodebesluite kritiseer, word as onkundig bestempel, omdat hulle die Bybel kwansuis al die jare verkeerd sou verstaan het.
Ten spyte van kritiek teen die nasionale konferensie wat op 15 Augustus begin, gaan die ANC net eenvoudig voort. Uiteindelik gaan ’n groep of ’n kerk wat van bo af dinge op die omgewing afdwing, ten gronde.

Goeiedag almal,
Baie dankie Gerhard Mahne. Jy verwoord in jou brief “Nee vir prosesse van bo af” presies my eie en talle ander lidmate se gevoel as ons oor hierdie dinge praat met mekaar.
Wat betref die gedurige gepraat en geskryf oor “Versoening” en “Geregtigheid” : Natuurlik is dit belangrik. Ongelukkig kry ek die indruk dat die persepsie bestaan dat die verskillende Volkere en Gemeenskappe in hierdie land in onmin en vyandskap teenoor mekaar leef.
Ek weet nie van in die groot stede nie maar op die platteland waar ek woon en oral waar ek kom ervaar ek werklike hartlike onderlinge goeie verhoudinge, samewerking en helpmekaar met respek vir en erkenning van mekaar se verskillende ryke Taal en Kultuur verskeidenheid.
Mooi voorbeeld is die opbouende rol en funksionering van organisasies soos Solidariteit, Afri Forum en Kaapse Forum wat op talle terreine, plekke en onder alle gemeenskappe werksaam is en besig is om “Te Bou” met behoud van hul Afrikaanse Taal en Kultuur.
Wat geregtigheid betref: Wanneer gaan daar ook vanuit Kerkkringe by name die NG Kerk werk gemaak word tov. die groot onreg die afgelope paar dekades waar Afrikaans as Taal, ontstaan in hierdie land en gewortel in Afrika bodem, oral ondermyn en uitgewerk word. Afrikaans as hoogs ontwikkelde Akademiese Taal met Vakterme in alle dissiplines is eenvoudig vir alle praktiese doeleindes uitgewerk by al die voorheen Afrikaanse Universiteite, Staatsdepartemente en baie Sakeondernemings. Engels word eenvoudig in ons kele afgedruk.
Watter kans het ander tale in ons land om te ontwikkel!!!
Dankie vir puik Privaat Opvoedkundige instellings soos “Akademia, Soltek, Bo-Karoo Opleiding” wat met rasse skrede groei sonder enige Staatshulp. Hulle behoort baie meer erkenning te kry, ook vanaf Kerklike kant.
Werkloosheid en Armoede is werklik kommerwekkende probleem. Dit sal egter net verbeter as die huidige bewind met hul vasklou aan die mislukte ideologies gedrewe “Nasionale Demokratiese Revolusie tot hul sinne kom en begin luister na en saamwerk met welmenende Persone en Organisasies. Gaan Die Kerk nou ook begin om hard en duidelik hieroor te praat?
Dankie vir die geleentheid om te deel die klippies in die skoen wat pla.
Fanie Kemp. Uniondale