Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerklike ondersoeke: Teorie, praktyk en persepsie 

Kerklike ondersoeke het te make met verantwoordbaarheid. Maar slaag dit telkens in hierdie strewe? Slaag dit ooit volkome in hierdie strewe?

 

Ds Attie Nel is ’n internasionaal geregistreerde mediator en was van 2016 tot Oktober 2023 lid van die Algemene Taakspan Regte. Hy het in November 2024 geëmeriteer nadat hy in twee gemeentes, Rustenburg-Bergsig en Waverley, Pretoria gedien het. Kerkbode (KB) wou by hom weet …

KB: Kan jy kortliks die prosedures en kriteria uiteensit wat die NG Kerk gebruik om te onderskei tussen legitieme teologiese meningsverskille en leerstellige dwaling wat tugstappe regverdig? Word hierdie kriteria in jou ervaring konsekwent toegepas?

Attie Nel (AN): Wanneer ’n klag teen ’n gelegitimeerde aan die ring bekend gemaak word, volg die ring dieselfde prosedures in alle ondersoeke (vgl Reglement 13). Die eerste stap is die aanwys van ’n ringstugliggaam (volgens Reglement 13.1.2-3) wat bestaan uit ten minste drie persone deur die ring, en twee persone deur die Sinodale Taakspan Regte (soos bepaal in Reglement 13.1.5).

Die aard van die klag word in hierdie fase nog nie beoordeel of versprei nie (vgl Reglement 13.1.4). Gewoonlik word die sinode se kerkregkundige in ’n raadgewende rol betrek (Reglement 13.1.6) om te verseker dat die prosedure reg verloop.

Die tugliggaam mag teologiese kundiges in ’n raadgewende hoedanigheid koöpteer (Reglement 13.1.8-9), veral in sake waar die aard van die klag leerstellige inhoud het. Hulle het nie stemreg nie, maar verskaf deurlopende begeleiding en insig.

Hierdie kundiges help die tugliggaam veral met:

  1. Die onderskeid tussen ’n meningsverskil en tugwaardige dwaalleer. Die Kerkorde Artikel 60 stel duidelik dat daar ruimte is vir mediasie en versoening as eerste opsie. Ongelukkig word hierdie artikel en bepalings in die reglement oor die hoof gesien. Tog ontstaan die vraag of hierdie nie die meer Bybelse en kerklike weg is om met verskille en geskille te werk nie.
  2. As dit egter wel ’n saak van dwaalleer is, tree die tugproses in werking ingevolge Reglement 13.2-3.

KB: Hoe verseker die kerk dat alle tugprosesse, ongeag die publieke profiel van die betrokke dominee, volgens dieselfde standaarde en prosedures hanteer word?

AN: Die tugliggaam vergader in die teenwoordigheid van beide partye (sien Reglement 13.2.6). Alhoewel dit ’n geslote vergadering is, is die partye by die ondersoek betrokke, en kan hulle onmiddellik wys op enige onregmatige toepassing van prosedure. Hierdie bepaling beteken egter nie dat die tugliggaam nie sonder die partye mag vergader nie. So sou die vergadering sonder die partye se teenwoordigheid kon besluit om die saak eerder vir mediasie te verwys.

Die Sinodale Taakspan Regte het nie net ’n benoemende rol nie (Reglement 13.1.5), maar ook die verantwoordelikheid om te waak oor die regmatigheid van die proses. Dit dien as ’n primêre meganisme vir gelyke behandeling van alle gelegitimeerdes.

 

KB: Wanneer uitsprake of preke ondersoek word, hoe weeg die kerk die volle konteks, bedoeling en teologiese tradisie op teenoor geïsoleerde stellings? Speel hermeneutiese beginsels ’n rol in besluite, met ander woorde gaan die ondersoek dieper as wat gesê is?

AN: Soos reeds genoem, geskied tugondersoeke met die partye teenwoordig (Reglement 13.2.6), en konteks, bedoeling en teologiese tradisie word ondersoek deur middel van vrae, voorleggings en verduidelikings. Hierdie vrae kan deur die partye aan mekaar gevra word, maar enige persoon betrokke by die tugliggaam kan ook vrae vra vir meer duidelikheid.

Reglement 13.1.9 maak voorsiening vir die inskakeling van spesialis-teoloë om die tugliggaam by te staan. Hermeneutiek en resente teologiese ontwikkeling mag as deel van die verdediging na vore kom – dit strook ook met die algemene beginsel van Kerkorde Artikel 59, wat versoek dat geregtigheid, waarheid en liefde die tugproses rig.

 

KB: Hoe hanteer die kerk die onderskeid tussen ’n dominee se persoonlike teologiese sienings (wat binne die spektrum van gereformeerde denke kan val) en uitsprake wat as amptelike kerklike leer beskou word? Onderskei die wyse van verhoor tussen teologiese dosente en gemeente-dominees? Is daar ’n hoër of laer las op die een of die ander?

AN: Die Kerkorde Artikel 32-34 beskryf dat leerbesluite op kerklike vlak deur vergaderings geneem word en nie deur individue nie. Geen predikant, dosent of ampsdraer mag dus selfstandig amptelike leer verwoord buite die raamwerke van die belydenis en sinodale besluite nie.

Die kerk staan binne ’n gereformeerde tradisie waarin amptelike uitsprake altyd die produk van gemeenskaplike onderskeiding is. Kerkorde Artikel 2 herinner ons dat Christus die Hoof van die kerk is, en dat alle gesag in sy diens staan – en op geen manier in enige persone gesetel kan wees nie.

 

KB: Watter hersiening- en appèlprosesse bestaan daar om te verseker dat tugbesluite regverdig is, en hoe word die reputasie en bediening van dominees beskerm wanneer aanklagte ongegrond blyk te wees?

AN: Die reg tot appèl is duidelik uiteengesit in Reglement 16. ’n Ringsbesluit kan geneem word na:

  • die Streeksinode,
  • dan na die Algemene Sinodale Taakspan Regte (Reglement 16.1.4),
  • en uiteindelik tot by die Algemene Sinode in sitting (Kerkorde Artikel 50.3).

Hoewel daar duidelike meganismes vir appèl bestaan, is daar tans geen formele bepaling in die Kerkorde wat regstelling van reputasies of herstelling van bediening reël na ongegronde klagtes nie. Die geestelike en pastorale verantwoordelikheid hiervoor rus dus tans by plaaslike en sinodale liggame – ’n ruimte waar herbesinning nodig is.

 

KB: Gee ’n kort oorsig van hoe jou betrokkenheid by die ATR jou siening oor hierdie onderwerp gevorm het oor die jare.

AN: Ek was van 2016 tot Oktober 2023 lid van die ATR. ’n Groot gedeelte van die tyd was ek ook die ondervoorsitter van die ATR. My tyd by die ATR was ’n baie leersame tyd. Predikante word as aktuarius verkies nadat hulle gewoonlik op die Sinodale Taakspan Regte gedien het. Die werklikheid is egter dat niks jou kan voorberei vir jou rol as aktuarius nie. Die byeenkomste van die ATR was vir my die plek waar ek toegerus is om in die sinode my rol te vervul as aktuarius.

’n Groep aktuari is ’n groep individue wat hulleself in hulle sinodes moet kan handhaaf en dus ook by die ATR hulleself gehandhaaf het. Daar word dikwels ernstig met mekaar verskil, maar aan die einde van die dag sal ons rondom ’n braaivleisvuur saam kuier en gemene grond ontdek.


* Wat is die doel van ‘kerklike opsig en tug’?

*Dié inligting hieronder is op versoek van Kerkbode deur die kantoor van die Algemene Sinode verskaf. – Red.

Die doel en voorskrifte word duidelik uiteengesit in Artikel 59 (Kerkorde, 2023)

  1. Doel van kerklike opsig en tug

Artikel 59 omskryf die doel van kerklike opsig as volg:

  1. tot eer van God;
  2. tot heil van die Kerk;
  3. tot behoud van die sondaar.

 

2. Voorskrifte van kerklike opsig en tug

Kerklike opsig en tug word uitgeoefen volgens die voorskrifte van

  1. die Woord van God;
  2. die belydenisskrifte;
  3. die Kerkorde en ander bepalings van die kerk;
  4. die diensooreenkoms.

Verder bepaal artikel 60: “die kerklike opsig en tug dra ’n geestelike karakter en pas by die kerk as ’n geloofs- en liefdesgemeenskap. Opsig en tug word dus op ’n kerklike wyse en met geestelike middele uitgeoefen. Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal-kerkregtelik van aard en moet uit ’n Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word.”

3. Waar ontstaan klagtes?

Klagtes wat ondersoek word, kan op een (of meer) van die volgende wyses onder die aandag van die kerkraad/ring kom:

  1. Nadelige gerug wat versprei word deur bv sosiale media, skinderstories, ens.
  2. Skriftelike klag/bewering wat deur ’n (enige) persoon indien word waarin die beweerde oortreding, tyd en plek aangedui word.
  3. Amptelike verslag wat deur ’n kerklike vergadering saamgestel is wat dui op tugwaardige sondes van ’n persoon.
  4. Aanmelding deur ’n persoon self wat oordeel dat hy/sy tugwaardig opgetree het bv waar daar ’n egskeiding ter sprake is.

 

4. Kerklike tugliggame

Kerklike tugliggame word deur ’n bevoegde kerkvergadering (kerkraad of ring) aangewys.

a. Kerkraad se tugliggaam ondersoek klagtes teen lidmate en word saamgestel met ’n minimum van drie lede:

  1. minstens twee ouderlinge van die gemeente soos deur die kerkraad aangewys.
  2. minstens een predikant/ouderling van ’n ander ringsgemeente soos deur die ringskommissie aangewys.
  3. Verkieslik moet een vrou deur aanwysing of koöptering, op die tugliggaam dien.

b. Ringstugliggaam ondersoek klagtes teen lidmate en word saamgestel met ’n minimum van vyf lede:

  1. waarvan drie lede deur die ring of sy gevolmagtigde aangewys word.
  2. en minstens twee lede deur die sinodale regskommissie of kerkordekommissie/taakspan of sy gevolmagtigde (aktuarius) aangewys word.
  3. Verkieslik moet een vrou deur aanwysing of koöptering, op die tugliggaam dien.

 

5. Opleiding en begeleiding

Opleiding en begeleiding van lede van tugliggame geskied gewoonlik deur die betrokke sinode se aktuarius en/of regskommissie of kerkorde taakspan.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top