Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Wouter van Velden van Bloemfontein skryf: Die skrywes rondom die NG Kerk se bydra aan die Midde-Ooste en die gesprekke op sosiale media verwys.
Ek vind die volgende kommerwekkend as ek deur die gesprekke lees:
- “Charity begins at home”
Hierdie uitspraak, of iets wat daarmee verband hou, is dikwels op sosiale media geuiter. Somtyds het dit gelyk asof daar eerder gevoel word “charity is only for home”. Hoewel ons inderdaad geroep word om in ons onmiddellike omgewing ’n verskil te maak, is daar volgens my verstaan geen aanduiding dat ons nood in ons omgewing moet uitwis voordat ons verder kan uitreik nie. Daar kan gelyklopende inisiatiewe wees.
Dit was vir my juis opvallend toe ek deur Korintiërs blaai en lees hoe Paulus reëlings deurgee rondom die kollekte vir Jerusalem (hoofstuk 16), maar vroeër lees ons dat daar nog armes in die gemeente was (12:22). Dit lyk dus asof die hulpverlening ‘n “en-en” was, en nie gewag het tot alle nood in Korinte uitgewis was nie.
Indien die NGK geen hulpverlening in SA gebied het nie, sou die finansiêle bydrae van die sinode inderdaad onaanvaarbaar gewees het. Maar die NGK bly steeds een van die grootste maatskaplike hulpverleners in die land, betrokke deur groot strukture en direk deur gemeentes (vergelyk CHARITY IN SOUTH AFRICA: Where is the Church? – The Third Way, 2023-syfers). Daarom is dit myns insiens nie onvanpas van die dagbestuur om buite ons grense ’n bydrae te maak nie.
Wat my verder bekommer is dat ek die indruk gekry het dat party mense hierdie “home” ook baie eng definieer het: nie Suid-Afrika nie, maar alleenlik wit Suid-Afrikaners. Dit is so ‘n wanbegrip van kerkwees, om te dink dat ‘n kerk net een bevolkingsgroep moet bevoordeel.
- Mense neem nie kennis van die feite nie.
Dit was duidelik dat baie mense met ‘n “knee-jerk” reaksie reageer het, en dan net op die opskrif van die berigte. Dit het tot gevolg dat mense ongegronde (en onnodig kwetsende) stellings oor die dagbestuur en die besluite maak.
Twee voorbeelde in hierdie verband is hoe deelnemers nie kennis geneem het van hoe geld en ander ondersteuning in die onlangse verlede aan ander wêrelddele geskenk is nie, en hoe die fondse aan die MECC gaan en nie ander bedenklike organisasies nie.
Dit is alreeds teleurstellend as lidmate nie die moeite doen om die kommunikasie te lees voor hulle reageer nie, maar wat my besonder ontstel is hoe leraars stellings gemaak het en vrae gevra het wat aangedui het dat hulle nie die kommunikasie gelees het nie.
Natuurlik is die dagbestuur nie bo kritiek nie en daar moet gesprek wees oor aangeleenthede soos die. Daar is ook goeie punte geopper waaroor verder nagedink moet word, maar dan moet die gesprek gegrond wees op die feite en vloei vanuit ‘n posisie waar iemand probeer verstaan en nie net impulsief reageer nie.
Wat my betref is ek dankbaar vir die dagbestuur se besluit en ek bid dat hierdie fondse ’n klein bydrae sal maak in die lewe van ’n noodlydende.
