Net meer as ’n jaar gelede was dit die Ierse rockgroep U2 wat deur ’n teologiese bril bekyk, bepeins en beleef is tydens die Surrender VBO (Voortgesette Bedieningsopleiding) konferensie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS) op Wellington. Reeds tóé het van die kursusgangers gepleit vir soortgelyke Dylan- en Cohen-geleenthede in die toekoms. Op 7 en 8 Augustus is dié droom bewaarheid met die eerste Afrikaanse teologiese konferensie oor die musiek van Leonard Cohen. Sy kunstenaarskap is uit verskeie hoeke verken, maar ook ervaar en geniet. Francois Mulder was daar.
Die hoofspreker en kunstenaar op dié reis deur Cohen se ouevre was die bekende prediker, digter en sanger Koos van der Merwe van Edengemeente op George. Sy liefde en passie vir Cohen het gelei tot sy unieke omdigting en vertolking in 2013 van 13 Cohen-liedere op ’n album getiteld “Leonard Cohen in Afri-Kaans.”
Die geleentheid is juis genoem na een van Cohen se bekendste lirieke in Afrikaans omgedig tot “Daar’s ’n kraak in elke ding … So kom die lig daarin.”

In aansluiting by hierdie treffende liriek is ’n besondere rangskikking van ’n gekraakte kleipot met ’n kers daarin geplaas voor die verhoog. Die parallel met 2 Korintiërs 4:7 se “kleipotte wat maklik breek” en Cohen as lewenslange soeke na die ewige Lig is so visueel beliggaam. Foto’s van Cohen tydens konserte asook lirieke en album-omslae teen verskeie panele het die konferensiesaal verander in ’n kweekhuis waarin spontane kreatiwiteit kon blom.
Soos met die U2-konferensie was die vertrekpunt ’n waardering vir die feit dat God se stem in ooreenstemming met die Woord as spesiale openbaring, óók as algemene openbaring na ons toe kan kom in die vorm van die kunste. Paulus se aanhalings van digters en filosowe – Epimenides (Titus 1:12), Aratus (Handelinge 17:28) en Menander (1 Korintiërs 15:33) – wys sy fyn luister na die kultuuruitinge van sy tyd. Met dieselfde gesindheid van Paulus het ons fyn gelees en geluister na die belydenisse, bekentenisse en begeertes in psalm-formaat deur Leonard Norman Cohen (1934-2016).

Deel jou Cohen-storie
Tydens die konferensie se eerste sessie het elkeen teenwoordig ’n beurt gekry om die storie van hulle gunsteling Cohen-lied te deel waarna geluister is na die lied oor die klanksisteem. Soveel unieke stories is gedeel – soms met trane soos toe Anje Zeeman vertel het van haar oorlede pa se liefde vir Cohen se swaar musiek waaraan hulle as kinders “hard moes kou”, maar wat vandag maak dat sy hierdie konferensie bywoon om haar pa te onthou en te vier. Paul Barnard het glimlaggend vertel hoe ’n middernagtelike straatwerkuitreik in Pretoria tydens sy universiteitsdae gelei het tot ’n gebed vir ’n ongelowige soeker waarin hy – geïnspireer deur die drenkelingbeeld in Cohen se “Bird on the Wire” – gebid het dat sy sal verdrink en sal uitroep na God. Kort daarna het sy hom kom vertel dat sy tot bekering gekom het op ’n strand nadat sy byna verdrink het en uitgeroep het na die Here om hulp. Vir Marinus Theron is die verband tussen Psalm 37, die uiterste gebrokenheid van ons wêreld en Cohen se uitroep “Ring the bells that still can ring / Forget your perfect offering” in die lied Anthem ’n oproep tot aksie om die goeie te doen en só die kwaad te oorwin soos wat Paulus in Romeine 12:21 leer. Ek het vertel van my eerste hoor van Cohen se “Almost like the Blues” op RSG in 2014 waarna ’n luisteraar ingebel het en gekla het oor die godslasterlike lirieke. Wat die luisteraar ontstel het was die liriek: “There is no God in Heaven / And there is no Hell below / So says the great professor / Of all there is to know.” Ongelukkig het die luisteraar nie ver genoeg geluister nie, want die volgende reëls kontrasteer met die professor se standpunt: “But I’ve had the invitation / That a sinner can’t refuse / And it’s almost like salvation / It’s almost like the blues.”

Polssny-musiek?
Robert Vosloo, professor in sistematiese teologie by Stellenbosch, het virtueel deelgeneem aan die konferensie vanuit Berlyn. Hy het vertel oor sy eie reis met Cohen se musiek wat begin het in die laat 1980s toe sommige waarnemers dit as polssny-musiek gebrandmerk het. Hy het dit egter as die teenoorgestelde beleef toe hy destyds saam met vriende vir drie weke getoer het deur die destydse Transkei en op kasset die “Best of Leonard Cohen” saam met Dylan se “Greatest Hits” stukkend geluister het. Terugskouend besef hy dat Cohen die klankbaan van sy universiteitsdae was. ’n Ander hoogtepunt was juis in Berlyn in 2013 toe hy ’n Cohen-konsert bygewoon het. Dit het ’n blywende indruk op hom gemaak toe Cohen op sy knieë sy gebed “If it be Your will” gesing het. In die verdere gesprek met Marnus Havenga het Vosloo onder andere temas soos Cohen se Joodse tradisie en wortels, asook gebrokenheid, donkerte en dans in sy musiek uitgelig.

Besonders is Vosloo se uitwysing van die jukstaposisie in verskeie Cohen-liedere tussen die bedreigings in ’n apokaliptiese wêreld aan die een kant (sien liedere soos “The future” en “By the rivers dark”) en sy oproep in menige liedere om te dans. Sy 2013 Berlyn-konsert het juis begin met “Dance me to the end of love” en geëindig met “Take this waltz” as ’n omvouing van die middeldeel van die konsert se gebrokenheid, donkerte en soeke na Lig. Vosloo omarm hierdie boodskap van Cohen én die Bybelboek Prediker om te dans en te lééf ten spyte van ’n donker wêreld. Heel gepas is drie jaar na Cohen se dood ’n laaste album uitgereik getiteld “Thanks for the dance.” Cohen het in pyn voor sy dood die stemopnames gedoen en sy seun Adam gelos met detailinstruksies vir die musikale voltooiing daarvan.
Om Cohen te eksegetiseer
Met drie sessies as spreker en ’n 90-minute konsert die Donderdagaand wat ook deur nie-konferensiegangers bygewoon is, was Koos van der Merwe die sentrale trekpleister van die Cohen-program. Van der Merwe se invalshoek was om ons in te nooi om anders te kyk – en veral anders te luister – na die musiek van Leonard Cohen. Hy herinner ons egter dadelik daaraan dat ons nooit met volle sekerheid kan oordeel oor die bedoeling van ’n lied of kunswerk nie. Daarom dat ons altyd in nederigheid eerder moet vra: “Wat beteken die lied vir my?” Hy beklemtoon verder dat sy doel nie was om met sy eie kennis oor Cohen te pronk nie, maar om eerlik te deel hoe sekere van Cohen se skeppinge met sy eie binneste resoneer. “En natuurlik,” het hy laggend bygevoeg, “hoe kies ’n mens tussen soveel meesterstukke?”

Wys my die plek
Sy eerste waagstuk om Cohen se werk in Afrikaans te laat praat, het gekom met die lied “Show me the place” van die 2012-album Old ideas. Die lied, vol Christelike beelde, het hom dadelik aangegryp.
Elke jaar vir Paasfees skryf Van der Merwe vir sy gemeente ’n produksie met poësie, nuwe musiek en ’n vars invalshoek. Toe hy “Show me the place” hoor, het hy gewonder of hy dit as temalied vir Paasnaweek sou kon omdig in Afrikaans. Daardie besluit het ’n reis begin wat hy self “onbeplan” noem.
In die proses het die poëtiese, geestelike, estetiese én emosionele elemente van die lied hom diep geraak. Ná Paasfees het hy vir maande lank, meestal in die nag, een na die ander Cohen-lied in Afrikaans omgedig – net vir sy eie vreugde.
Hy onthou die dag toe hy die oproep van Cohen se agent ontvang het: “Dream no more, Mister Cohen approves.” Die omdigtings was goedgekeur vir opname.
Vir Van der Merwe bly “Show me the place” ’n venster op Cohen se innerlike soeke – ’n roep na die Redder wat hy self as veertienjarige ontmoet het. “In die lied is daar geen bravade of superspiritualiteit nie,” sê hy. “Dit is ’n armoede van gees, ’n eerlike donkerte wat, ironies genoeg, vir my soos lig skyn.”
Hy haal aan:
“Show me the place, where you want your slave to go / Show me the place, I’ve forgotten, I don’t know / Show me the place where my head is bent and low …”
“Soos verlore seuns is ons almal,” verduidelik hy. “Maar dié wat soos slawe aanmeld, word soos seuns, erfgename en vriende ontvang.”
Hy gaan voort met die volgende reëls:
“Show me the place, help me roll away the stone / Show me the place, I can’t move this thing alone.”
Hierdie strofe laat hom wonder: “Praat Cohen van mý Meester?”
“Show me the place where the word became a man / Show me the place where the suffering began …”
Hy waag in sy oordeel: “Cohen kan niks anders hier bedoel as die vleesgeworde Logos nie” (Johannes 1:14). “Die oorsprong van die pyn, vir my ’n Golgota-lied.”
Vir Van der Merwe lê hier een van Cohen se grootste verrassings: “Cohen, natuurlik in die openbaar ’n Jood, ook ’n Boeddhis, maar tog – géén godsdienstige taal figureer meer in sy werk as die taal wat hunker en roep na die Messias van die Nuwe Testament, die Woord wat vlees geword het, nie.” Hy verklaar dat daar baie meer Nuwe-Testamentiese spiritualiteit en Christelike metafore in Cohen se werk as enige ander spiritualiteit voorkom. Só word Cohen vir hom ’n aantrekking na die Messias wat hy soek.
Op ’n latere vraag uit die gehoor oor moontlike eksperimentering soos Cohen met ander godsdienste en spiritualiteite, spreek Van der Merwe hom sterk uit teen ’n New Age-tipe sameflansing van spiritualiteite wat wil beweer dat alle paaie na dieselfde eindpunt lei. Hy vind verlossing en vervulling in die Woord wat alleenlik vlees geword het in Christus Jesus. Dan verklaar hy: “Stemme van mense met gawes en stories verryk my altyd as gelowige en prediker, maar dit beteken nie ek stem met alles saam oor hoe hulle leef en hoe hulle oor God dink of praat nie. Die feit dat ek ’n kunstenaar bewonder, dat iemand my inspireer met hulle kuns of musiek, beteken nie dat ek daarom my ortodoksie sal prysgee nie.” Hy vind daarom aanklank by GK Chesterton se observasie en implisiete uitdaging rakende die totale omarming en uitleef van die Christelike geloof: “The Christian ideal has not been tried and found wanting. It has been found difficult; and left untried.” Ons vervulling in Christus mag egter nooit oorgaan in ’n selfvoldane arrogansie teenoor die soekers in die wêreld wat steeds nie die Woord gevind het nie. Hy noem die “brose eerlikheid” van Cohen se werk in dié verband ’n groot geskenk, veral vir mense wat sukkel om deur die versperrings van daardie Christelike arrogansie te kyk en ’n eerlike blik te kry op die sagmoedige, nederige Meester waarin Christene glo.
Vir Van der Merwe is daar nie ’n enkele Cohen-lied wat hom nie op een of ander manier verower het nie. “Maar in sy laaste vier albums,” sê Van der Merwe, “voel dit vir my of die geestelike membraan dunner is, die deur se skreef groter, die venster effens verder oopstaan.”
Kettings, verbond, donkerte en lig
Op 24 September 2014 – sowat twee jaar voor Cohen se dood – verskyn die album “Popular problems”. “Dit is asof hy hier,” meen Van der Merwe, “nie meer kripties is oor Christus nie … byna openlik praat van dieselfde soektog, maar ook van ’n naderkom … byna ’n aankoms … by die Een na wie hy in “Show me the place” gesoek het – “the Word became a man …’”
In “Born in chains” vertel Cohen: “You showed me / Where you had been wounded / In every atom / Broken is the Name.” En dan weereens soos tevore besing hy die Woord met “Word of Words / And Measure of all Measures / Blessed is the Name / Written on my heart / In burning letters.” Van der Merwe beleef dat Cohen hier skryf van ’n geheime reis waaroor hy nie meer kan stilbly en in kodetaal wil praat nie as hy sing: “Lord, I can no longer / Keep this secret.” Hy herinner aan een van Cohen se konserte in Helsinki waar hy na Jesus verwys as “our Lord and Saviour.”
Op 21 Oktober 2016 verskyn Leonard Cohen se laaste album in sy leeftyd, “You want it darker”. Net 17 dae later, op 7 November, sterf hy. Tog skyn daar in hierdie laaste werk ’n lig wat Van der Merwe diep raak.
Op dié album is die lied “Treaty”, nog ’n rou en eerlike soektog na die Een. Die spreker sê hy het gesien hoe die Een na wie hy verlang, water in wyn verander het, en hy het dié wyn gesmaak – maar tog word dit soms weer water. Hy sit daagliks by die tafel van God, maar erken met spyt dat hy so lank van God net ’n “ghost” gemaak het:
“I’m so sorry for the ghost I made you be / Only one of us was real – and that was me.”
Vir Van der Merwe is dit ’n lied van hunkering na die vaste sekerheid van ’n verbond. Dit verwoord ’n diep besef van menslike broosheid – dat ons keer op keer weergebore moet word om uiteindelik bevry te word van die slang in ons natuur, en om ’n jubeljaar te kan sing wat nie op selfsug gebou is nie, maar op ware vryheid.
Die titelsnit “You want it darker” is vir Van der Merwe “die mees Christosentriese lied wat Cohen ooit geskryf het.”
Die openingswoorde tref hom soos ’n credo van oorgawe:
“If you are the dealer, I’m out of the game.”
Van der Merwe verduidelik: “Die metafoor is die lewe as ’n kaartspel. As jy probeer speel met jou eie vaardigheid, jou ego, jou bluf – hoe sal jy ooit die Een wat die kaarte deel, kan troef?”
Hier volg een oorgawe na die ander:
“If you are the healer, it means I’m broken and lame” – ’n erkenning van gebrokenheid en die behoefte aan genade.
“If thine is the glory, then mine must be the shame” – die belydenis dat daar niks is om te bring nie, behalwe skande en stukkendheid.
Dan gebruik Cohen die taal van aanbidding, uit die Joodse Kaddish (hoofsaaklik bekend as rougebed waarin God se Naam geprys word.)
“Magnified, sanctified, be Thy Holy Name …”
en plaas dit onmiddellik langs:
“… Vilified, crucified, in the human frame.”
“Hier,” sê Van der Merwe, “word die paradoks van die kruis oopgevou. Die hoogste liturgiese lof en die diepste menslike verwerping staan reg langs mekaar.” Die “menslike gestalte” waarin God gekom het, is verwerp en gekruisig.
Die refrein begin met die Hebreeuse woord “Hineni” wat vertaal kan word as “Hier is ek” – Abraham se antwoord toe God hom vra om sy seun Isak te offer. “Hineni, hineni / I’m ready, my Lord” is vir Van der Merwe ’n instap in die Bybelse verhaal. Dit is om jou plek te erken binne ’n gebroke, kruisigende mensheid – en tog gereed te wees om te staan voor die Een wat jy self deur jou sondes na die kruis gedryf het.
In die tweede helfte van die lied word die toneel by Golgota duidelik:
“They’re lining up the prisoners, and the guards are taking aim …” – ’n beeld van Christus, gekruisig tussen misdadigers, terwyl soldate die toneel beheer.
Dan draai die fokus na binne:
“I struggled with some demons, they were middle class and tame.”
Van der Merwe verduidelik: “Hier word die ‘kosmiese kwaad’ van Golgota geplaas langs die ‘makgemaakte’ sondes van ons alledaagse lewe – trots, selfsug, gierigheid. Dit is asof Cohen sê: moenie dink jou ‘onskuldige’ sondes is van ’n ander aard as die sonde wat Christus gekruisig het nie. Hulle is van dieselfde wortel.”
Die reël “I didn’t know I had permission to murder and to maim” word vir hom die klimaks – ’n verstommende openbaring van eie medepligtigheid. “Die toestemming kom nie van God nie,” sê hy, “maar lê ingebou in ons gevalle natuur. En skielik besef die verteller: ek is nie net ’n toeskouer by Golgota nie – my eie hart het die hamer en die spykers vasgehou.”
Met dié besef, word “You Want It Darker” vir Van der Merwe nie net ’n afskeid van Cohen nie, maar ’n laaste, skerp en eerlike belydenis wat die luisteraar dwing om self te vra: watter aandeel het ék in die duisternis wat die Lig probeer doodmaak?

Die lig sal kom
In antwoord op die soeke van Cohen, tree Van der Merwe musikaal in gesprek met hom deur sy eie lied “Die lig sal kom”. Hy beklemtoon dat ons verkondigers van die Goeie Nuus is – ook vir die somber skadu’s in Cohen se skeppinge.
“Soms kom die skadu’s van orals soos stemme wat fluister / om die lig van jou hart te verdof, te verdoof, te verduister / soms is dit gisters wat skielik weer opdaag om jou te laat bewe oor môre / gisters met trane en vrae, verwyte en skade / gisters met skaamte en skande, mislukking, bravade / gisters wat kom en wil hê dat jy hier in die donker sal vergeet van genade / Weet jy nie jy’s nooit alleen in die donker nie / hoor jy nie daar is altyd ’n stem in die nag / hou aan, want môre sal die son weer kom / hou aan, ja, môre sal die lig weer kom.”
Van gebreekte halleluja na die houtkruis
Vrydagoggend se kapel olv Hansie Breedt (inwonend Huis Louise) het aangrypend geeïndig toe Cohen se gekraakte en gebreekte “Hallelujah” in Afrikaans weerklink het ná die lees van Psalm 107 asook Joseph Martin se liriek “Wounded Alleluias”. Broos, sonder klankversterking, is die lied met stem en kitaar deur Van der Merwe aangebied as ’n uitnodiging om ons eie Hallelujas te prewel: “Voor die Heer van sang sal ek gaan staan / Met niks op hierdie tong, net Halleluja / ’n koue en gebreekte Halleluja.”
Die laaste sessie van die konferensie is ingerig as ’n getuienisgeleentheid waartydens almal hulle ervaringe van die 24 uur lange besigwees met Cohen, die Woord en die Gees kon deel. Verskeie kere is na Cohen verwys as moderne psalmis wat soos die Bybelboek Prediker woorde gee vir ons eie gebrokenheid en smagtinge. Hy is beleef as ’n toonbeeld van Dawid van ouds – musikant, rou-eerlik, gebroke, passievol én hoopvol. Die digters en psalmiste help ons inderdaad om ons pyn, drome, vrese en hoop deur hulle kuns te verwoord.
Die konferensie is kragtig afgesluit toe Van der Merwe in antwoord op Cohen se verskeie verwysings na Jesus Christus as die gekruisigde Woord, sy bekende lied “Houtkruis” sing as rigtingwyser vir ons elkeen se verdere lewensreis:
“Daar was ’n houtkruis / ja, ’n Redder aan ’n houtkruis vasgeslaan / Ja, daar was ’n houtkruis / en daarom sal ek sing.”
Ds Francois Mulder is ’n leraar by Blancogemeente – op George.

Wat ‘n wonderlike beskrywing van ‘n besondere geleentheid. Dankie Francois!
Francois Mulder, jy het nou werklik ons langs memory lane gevat. Hierdie artikel is werklik so ‘n Interessante weergawe. My man Dietmar Frey ‘n Duitser wat in 1973 Leonard Cohen se liefdere geluister het en ‘n magdom gesprekke daaroor gehad het met ander, onder andere die lied Suzanne. Die kuns om so te skep met n lied is werklik begaafd. Dankie Ds Francois
Insiggewend Ryk en diep
Dankie Francois
Sjoe wat ñ wonderlike omskrywing van ñ siel wat uitroep! Die metafore wat so beskrywend uitgebeeld word, kan met meeste Christene resoneer want hoeveel soortgelyke denke het almal van ons in die donker beleef nie? En toe ontvang ons die LIG.
Dankie Francois vir verfrissende artikel oor Cohen. Ek het jare al sagte plek vir hom. Vir my was hy Ou Swarthoed omdat ek dit as tipies joods beleef het. Komende van Oudtshoorn waar jode geliefde skoolmaats en bure was toe die dorp Klein Jerusalem was. Heneni is steeds my gunsteling!!
Dankie vir warm en fyn-sensitiewe artikel wat jou prikkel, maar ook laat stilstaan, laat oorweeg, en bring tot nadenke
Wat ‘n mooi samevatting wat al die goeie herinneringe van hierdie konferensie se bywoning weer by my herroep. Ek het nie Cohen goed geken voor toe nie. Dis slegs my belangstelling in musiek en teologie wat my na hierdie konferensie gebring het. So ek het maar stil tussen al die predikante en teoloë gesit en luister. Tog het ek ervaar dat daar my taal gepraat word alhoewel ek self nog nie daardie taal altyd goed verstaan nie. Ek is opnuut geïnspireer om te skryf, te dig, en musiek te maak wat dieper by mens gaan lê. Ek het weer besef dat ons woorde saak maak, en gewig dra. Dankie aan Koos vd Merwe, en almal daar se saam-praat, vir ‘n lekker verkenning van Leonard Cohen se musiek. En dankie Francois Mulder vir die goeie samevatting van hierdie verrigtinge!
Francois, met die artikel wys jy vir ons dat Leonard Cohen met reg beskryf kan word as ‘n “moderne psalmis” waar baie geloofsvrae aangespreek word. Hy bied ‘n soort brug tussen geloof en kultuur en gee aan jongmense wat nie met tradisionele kerkmusiek grootgeword het nie, dit geleentheid om meer te leer uit Cohen se wyse oor hoe om met God, liefde, angs en vergifnis te worstel.
Wat ‘n uitstekende artikel! Wonderlike vermoë van die skrywer om oor dae heen fyn te luister en dan al die drade hoogs interessant vir die leser bymekaar te trek. ‘n Warm nostalgie het my onwillekeurig aan die hart gegryp. Ek was alreeds ‘n Cohen-liedjieluisteraar toe Koos sy weergawe vrystel. Ek het die Afrikaanse lirieke voos geluister. Maande lank. Onder ‘n mikroskoop sal daar uitgetrapte spore op my Koos-CD lê. Ek wou uit respek vir Leonard Cohen dit nie hard verklaar nie, maar Koos het dit reggekry om op ‘n meer ingrypende wyse met my hart as Cohen te gesels. Miskien het Afrikaans kultuurgewys alreeds voetspore in my DNA gelê en Koos kon die sleutels in al die regte slotte draai. Of dalk was dit die buitengewone kombinasie van ritme en diepbepeinsde woorde wat ongehinderd die diepste hoeke van my sielskamers binnemasjeer het. Ek wonder stilweg: Is die kunste en geestelike hoegenaamd skeibaar? Beide skep uit dieselfde handpalm van God.
Baie dankie vir julle terugvoer, Alwyn, Magriet, Renier, Callie, oom Willie, Wilhelm, Jan, Andrew en Christo. In die woorde van Cohen: “Thanks for the dance…
We’re joined in the spirit…”