Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

As ons as dissipels van Christus funksioneer, sal ons weer die klanke hoor van Handelinge 5:13: “… die volk (het) hoë agting vir hulle gehad”.

Brief | Oor hulp in Gasa: ‘Die Bybel leer dat ons goed moet doen aan almal, maar eers aan die huisgenote van die geloof’ 

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Anoniem van Pretoria skryf: Ek skryf hierdie brief uit hartseer en liefde vir die liggaam van Christus. Onlangs het die NG Kerk R250 000 geskenk aan die sogenaamde slagoffers in Gasa. Dit klink edel, maar dit wek ernstige vrae: waarom kies die kerk om geld te stuur na ’n gebied waar Christene onderdruk word, terwyl miljoene van ons eie broers en susters wêreldwyd in nood is en dikwels geen hulp of aandag kry nie?

LEES OOK: Vinnige feite | Die NG Kerk en plaaslike asook internasionale nood

As Christene kan ons nie onverskillig wees teenoor lyding nie. Jesus leer ons in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan om selfs dié buite ons eie kring te help. Maar die Skrif moet reg hanteer word. Matteus 25:31-46 word dikwels gebruik as regverdiging: “Alles wat julle aan die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle aan My gedoen.” Maar Jesus praat hier van sy dissipels, sy eie volgelinge – nie van algemene humanitêre projekte nie. Om hierdie teks te gebruik om donasies aan strukture wat Christene vervolg te regverdig, is ’n verdraaiing.
Dieselfde geld Matteus 5:8-9: “Geseënd is die wat rein van hart is… geseënd is die vredemakers…” Dit beteken nie vrede teen elke prys nie, maar vrede wat gebou is op waarheid. En 1 Korintiërs 6 waarsku ons juis teen medepligtigheid aan onreg en afgodsisteme. As ons geld stuur na strukture wat Christene onderdruk, raak ons deel van die probleem. Paulus se voorbeeld wys die regte pad: hy het kollekte ingesamel vir die gelowiges in Jerusalem (1 Korintiërs 16; 2 Korintiërs 8–9). Hy het nie gesê die geld is vir die Romeine of heidense tempels nie – dit was spesifiek vir die heiliges. Die Bybel leer dat ons goed moet doen aan almal, maar eers aan die huisgenote van die geloof (Galasiërs 6:10).

LEES OOK: NG Kerk gee uit medelye humanitêre hulp in Midde-Ooste

Intussen is die nood onder Christene wêreldwyd groter as ooit. Volgens Open Doors se World Watch List leef sowat 310 miljoen gelowiges onder uiterste vervolging. In die afgelope jaar is meer as 4 400 Christene doodgemaak – meer as agt per dag. In Nigerië word gemeentes weekliks afgeslag. In Sirië is kerke gebombardeer en die bevolking van gelowiges het van 1,5 miljoen tot minder as 500 000 gekrimp. Van die 20 lande waar vervolging die ergste is, word 14 direk deur Islamitiese ideologie gedryf. Hamas in Gasa is deel van daardie patroon. Dit maak die NG Kerk se besluit om juis daar geld te stuur des te meer ironies en verwarrend. Want Hamas beheer alles wat in Gasa gebeur, al skenk jy aan sogenaamde eerlike organisasies, Hamas kaap daardie fondse en hulpbronne.
Die probleem is nie dat mense gehelp word nie, maar die selektiewe wyse waarop dit gedoen word. Waarom hoor ons nie van noodfondse vir Nigerië, Sirië of Pakistan nie? Waarom is daar nie R250 000 vir die weduwees van Maiduguri of die slagoffers van die Damaskus-bomaanval nie? Wanneer die kerk se hulp net na sekere konflikgebiede gaan lyk dit eerder soos politieke partydigheid as evangeliese deernis.
Ek vra die NG Kerk om sy prioriteite te herevalueer. Laat ons barmhartigheid regverdig en gebalanseerd wees.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top