Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Kerk
Pogings om van die akte van legitimasie ’n soort lisensie of kompetensiesertifikaat te maak om in ’n gemeente as predikant te kan praktiseer, is reeds by die Algemene Sinode 2015 amptelik in die kiem gesmoor, skryf Johann Ernst.

Opinie: Dié ‘lisensie’-uitsprake weerspreek Algemene Sinode 2015-besluit

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Daar is die afgelope tyd in die openbare media en die burgerlike hof uitsprake deur leidinggewende predikante gemaak oor ’n “lisensie” waaroor predikante moet beskik om te kan praktiseer. 

Op 6 Julie 2025 sê ds Hannes du Plessis, skriba van die moderamen van die Sinode Vrystaat op Netwerk24 dat die bevoegdheid van ’n predikant by die Algemene Sinode berus. As ’n leraar sy bevoegdheid in ’n dissiplinêre proses verloor, kan hy nie wettig en kerkordelik by ’n gemeente in diens bly nie. Dit is soos ’n dokter of prokureur wat bly praktiseer nadat sy of haar lisensie deur ’n nasionale professionele raad weggeneem is.

In ’n beantwoordende eedsverklaring namens die respondente sê ds Charl Stander in sy hoedanigheid as aktuarius van die Sinode van die NG Kerk (Sinode Wes-Kaapland) en voorsitter van die Sinodale Kerkorde Kommissie in die hangende Coetzee-saak: “[Coetzee] was merely ‘licenced’ to act as a minister of the Dutch Reformed Church by the Church. The disciplinary and appeal processes dealt with the competency  or ‘licence’ of [Coetzee] to perform ministerial functions on behalf of, or with the blessing of the Dutch Reformed Church. Delegitimation is the withdrawal of an individual’s authority or licence to act as a minister of the Dutch Reformed Church.”

LEES OOK | Kerklike ondersoeke: Teorie, praktyk en persepsie 

Op 10 Augustus 2025 skryf prof Nelus Niemandt, ’n vorige aktuarius van die Algemene Sinode, in Rapport oor gevalle waar leraars hulle bevoegdheid om ’n NG predikant te wees, die laaste tyd verloor het: “Dit is soos ’n dokter of prokureur wat van die rol geskrap is. So ’n persoon mag eenvoudig nie meer praktiseer nie. Hulle moet weet dat hulle nie meer ‘gelisensieer’ is nie.”

Pogings om van die akte van legitimasie ’n soort lisensie of kompetensiesertifikaat te maak om in ’n gemeente as predikant te kan praktiseer, is reeds by die Algemene Sinode 2015 amptelik in die kiem gesmoor. ’n Beskrywingspunt van die Sinode Noord-Kaapland oor die betaling van registrasiegeld aan die Algemene Bevoegdheidsraad het na ’n vooraf ontmoeting tussen verteenwoordigers van dié sinode en die Algemene Sinode ’n ooreenkoms tot gevolg gehad. Die Algemene Sinode het daarop die beginsels in die ooreenkoms vervat, aanvaar en die Algemene Taakspan Regte (ATR) versoek om aan die hand van hierdie beginsels die bevoegdheidsreglement te wysig vir voorlegging aan die volgende Algemene Sinode. Nodeloos om te sê dat dit nooit gedoen is nie. Tog staan die besluit steeds. By dieselfde vergadering is ook aan die ATR opdrag gegee dat ’n indringende studie gedoen word oor die definiëring van die NG Kerk as kerk na eie aard (sui generis). Ook hierdie opdrag is nie uitgevoer nie. Gevolglik word daar steeds deur die ATR voortgegaan om in kerksake te verwys na die verenigings-, kontrakte- en arbeidsreg, terwyl dit nie so kan wees nie.

By Algemene Sinode 2015 is die kerkregtelike beginsel aanvaar dat bevoegdheid om beroep te word (legitimasie) en ampsbevoegdheid wat deur bevestiging in die amp van bedienaar van die Woord verkry word, twee onderskeibare sake is. Eersgenoemde is die gevolg van ’n handeling (legitimasie) verrig deur die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde en laasgenoemde is die gevolg van ’n handeling (bevestiging in die amp) verrig deur die kerkraad van ’n gemeente. Terwyl ’n gelegitimeerde van die kerk dus met volle ampsbevoegdheid in die amp van bedienaar van die Woord in diens van die gemeente staan en terwyl ampsbevoegdheid hom/haar nie op een of ander wyse of om die een of ander rede ontneem is nie, het die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde nie jurisdiksie oor die behoud van ampsbevoegdheid nie, enersyds omrede die Algemene Sinode nie ampsbevoegdheid verleen nie en andersyds omrede die Algemene Sinode slegs die bevoegdheid om beroep te word, reël. Terwyl ’n bedienaar van die Woord oor ampsbevoegdheid beskik, is hy/sy beroepbaar en word hierdie beroepbaarheid (legitimasie) behou vir solank hy/sy in die amp van bedienaar van die Woord en met volle ampsbevoegdheid diens aan die gemeente verleen.

In die Addendum tot die Agenda vir die Algemene Sinode 2023 het die ATR, sonder vooraf studie en sonder die nodige drie maande kennis van revisie, Artikel 64 van die Kerkorde gaan verander om van “verlies” van legitimasie ’n tugmaatreël te maak waarna die kerkraad verplig is om uitvoering te gee aan die diensbeëindiging van die “gelegitimeerde”. Die tugmaatreël wat nou verval het, was ontslag uit diens van die gemeente met kennisgewing dat die predikant se legitimasie (beroepbaarheid) beëindig word. Kerkrade wat die diensverhouding van predikante hanteer moes dus tot onlangs instem en meewerk om hulle predikant uit die amp te onthef en dat hy of sy nie meer beroepbaar is nie. Die wysiging wat nou van bo af (nasionale liggaam) en van buite op gemeentes afgedwing word, het die gevolg dat kerkrade nie hulle predikant uit diens wil stel nie omrede hulle nie geken is in die tug- of dissiplinêre proses of optrede teen die predikant nie en dit vir die kerkverband handig geword om net van elders die predikant se “lisensie” in te trek.

Die ATR en Algemene Sinode het ongelukkig in hulle haastige aandrang om op hierdie manier vinnig, berekend, oor ’n afstand en van buite van lastige, kritiese, weerstandige predikante ontslae te raak – dit blyk toenemend die motief daaragter te wees – vergeet dat dit kerkordelik nie so kan gaan nie. Artikel 7 van die Kerkorde verleen nie aan ’n tugliggaam die reg om ’n predikant se reg om beroep te word (legitimasIe) te beëindig nie. Slegs die kerkraad kan ingevolge Artikel 12 die predikant se diens beëindig. Artikel 31.8 en 62.2 van die Kerkorde verskans die reg van die kerkraad om self ook opsig oor die predikant uit te oefen, wat insluit dat die kerkraad geken moet word en deur sy afvaardiging by die ringsvergadering deel moet hê aan die besluit om tot tug- en/of dissiplinêre optrede teen hulle predikant oor te gaan. Dit het ’n onding geword dat die kerkverband, meermale vanaf sinodale kant, deur die aanwys van ’n sogenaamde “onafhanklike” tugliggaam buite ringsverband, selfs oor sinodale grense heen, jag op predikante maak met net een doel voor oë: om hulle sogenaamde lisensie om te praktiseer weg te neem. In hierdie tugliggame dien gewoonlik ook nie ouderlinge wie se roeping en opdrag dit is om toesig te hou oor die leer en lewe van predikante nie, maar eerder regskundiges en gelykgesindes.

Die kerkraad en gemeente kry net van die ringskommissie kennis dat iemand, wie se naam nie noodwendig genoem word nie, ’n klag teen die predikant ingedien het, dat die predikant in die amp daaroor gestuit is, dat die gemeente intussen self moet sien kom klaar, dat die predikant die gemeente se probleem is en as daar van hom ontslae geraak word, sal die gemeente in vrede kan voortgaan om te doen wat die kerkverband vereis. Al is dit net enkele individue in die gemeente wat van die predikant en die kerkraad verskil, tel die wil en wens van die oorgrote getal lidmate, die predikant se goeie diens in die gemeente en sy getrouheid aan die Woord en belydenis niks nie. Op ’n dag hoor hulle net die predikant het sy lisensie verloor en daarmee is alles nou afgehandel, totdat die ware feite en gebeure agter die skerms na vore kom.

Die aanwys van ringskommissies tydens sinodale vergaderinge vir ’n termyn van tot vier jaar, die bevoegdheid aan hulle gegee om buite die gemeentes aksies teen gemeentepredikante te onderneem en dan tugliggame namens die ring aan te wys (’n gedelegeerde kan nie verder delegeer nie), is eweneens onkerkordelik en ongerymd. Dit beteken dat die gesag van kerkvergaderinge ondermyn word en die besluitneming in die hande van ’n selektiewe groep gelaat word wat tot magsmisbruik aanleiding gee. Die huidige sentralisering van mag en die sinodekrasie wat in kerkverband strydig met die gereformeerde kerkreg gehandhaaf word, sal vinnig nekomgedraai moet word, voordat dit tot nog groter skade en skande vir die kerkverband strek.

Beskik ’n predikant in diens van ’n gemeente oor ’n lisensie om as predikant te praktiseer? Die antwoord is nee! Die predikant ontvang na ordening ’n akte van bevestiging en verlaat die gemeente met ’n akte van demissie. Hierdie aktes kanselleer in effek die akte van legitimasie, wat kerkregtelik eintlik net met die oog op ’n eerste beroep as predikant benodig word. Predikante is nie dokters of prokureurs nie. Dié vergelyking is absurd en ontoepaslik. Predikante se inwendige roeping word uitwendig bevestig deur ordening in ’n gemeente. Daartoe word proponente gelegitimeer en slegs tot by bevestiging kan streng gesproke na hulle as gelegitimeerdes van die NG kerkverband verwys word.


Dr Johann Ernst is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top