Daantjie Badenhorst het Aspergersindroom, ’n vorm van outisme. Hy vertel sy storie want dit is vir hom belangrik dat mense beter ingelig word hieroor hoor Annabelle Lombard by die bekende Daantjie Dinamiet, kampioen van TV-reekse soos Noot vir Noot en Flinkdink.
Dié broer van Johan Badenhorst van Voetspore-faam is al vir 17 jaar lidmaat by die Skuilkrans NG Gemeente in Pretoria. Hier ken hulle hom as vriendelike Daantjie, pa van twee en eggenoot vir 23 jaar van Yolanda.
Luister gerus na hulle gesprek via die skakel :
Sy pa het sy outisme vroeg raakgesien
Daantjie is die jongste van vier kinders. Hy vertel hy het as kleuter gesukkel om oogkontak te maak. Praat het ook baie laat gebeur, maar toe hy uiteindelik begin, was dit in volsinne. Babataal het hy nooit gepraat nie.
Sy pa het sy outisme vroeg raakgesien. “Ek was gelukkig genoeg om ’n pa te hê wat sy lewe lank in die opvoedkunde was en hy het dit (outisme) dadelik raakgesien. Toe ek grootgeword het was daar nog geen begrip daarvoor nie,” voeg hy by.
Van kleinsaf het hy ’n intense belangstelling in karre gehad. Hy vertel hoe verbaas sy pa was toe hy op vyf ’n Mazda RX2 kon uitken aan sy unieke ronde agterligte. Daar is ook byna niks wat jy hom oor motorsportgeskiedenis kan vertel nie.
Daantjie sê hy het homself leer lees nog voor hy skool toe is. Hy het ook vroeg agtergekom dat hy nuwe tale maklik aanleer. Onvanpaste taalgebruik en woorde in die verkeerde konteks is iets wat hy gelukkig ontgroei het, maar sekere klanke, smake en teksture hou hy steeds nie van nie. Hy kan glad nie die bars van ballone hanteer nie of die lawaai wat blaarblasers maak nie.


Nog ’n simptoom wat hy ook oorkom het is sy afkeer in fisiese kontak.
Hy kon na ’n hoofstroomskool gaan, maar het min vriende gehad. Hy meen dit is omdat baie mense outisme nie verstaan het nie. “Ek het ook nie meegedoen aan baie van die goed wat my maats gedoen het nie. Ek het maar my eie ding gedoen,” voeg hy by.
Akademies het hy swaar getrek en hy kon ook nie aan mededingende sport deelneem nie. Maar hy het tog sy nis kon vind as rasieleier, koorsanger en op die redaksie van die skoolkoerant. Hy het later joernalistiek gaan studeer en werk nou as vryskut joernalis. Hy is juis tans besig met skryfwerk oor nuwe motors wat in Suid-Afrika vrygestel is.

‘My vrou is my behoud’
Daantjie vertel dat hy al op skool die idee van verhoudings laat vaar het omdat hy nie kon glo ’n vrou sal van hom kan hou nie. Toe stel ’n gemeenskaplike vriendin vir hom en Yolanda aan mekaar voor. Hy vertel “sy was die eerste mens wat my aanvaar het net soos ek is”. Hy het toe al gewerk en was maar skaam, maar sê dis Yolanda is toe die een wat hom oortuig het om liefde ’n kans te gee.
Hulle families was eers teen die verlowing gekant maar die paar het toe tog in 2002 getrou. Daantjie vertel hy was op hulle troudag amper meer opgewonde oor die 1967-Wolsley wat hulle kon leen as troukar.
Twee kinders en 23 jaar later is hulle steeds gelukkig saam. Daantjie sê hy is Yolanda vandag ewig dankbaar dat sy wel in hulle huwelik geglo het. Hy is vas oortuig dat hy dood, of op straat sou gesit het, as dit nie vir haar was nie. Sy is sy behoud en veilige hawe.

Geloof en kerk ‘wonderwerk my geloof het staande gebly’
Kerk en geloof was van jongsaf vir hom baie belangrik. “Ek het nie altyd verstaan wat die predikant gesê het nie. Daar’s sekere liedere waarvan die woorde ook nie vir my lekker sin gemaak het op ‘n jong ouderdom nie. In Kwazulu-Natal waar ek grootgeword het, het ons predikante baie goed geken. Ons was ’n baie hegte gemeenskap en predikante het nog jare lank vriende van ons gebly. Christelike beginsels was nog altyd vir hom ononderhandelbaar,” sê hy.
By Skuilkransgemeente is hy Sondae op sy pos as bas in die kantory wat gemeentesang lei. Hy mis ook selde ’n gemeentekuier of -kursus en dit is sy inisiatief dat ’n klassieke motoruitstalling by die gemeente se jaarlikse Lentefees plaasvind.
“Die ondersteuning wat ek al die jare in die gemeente ontvang het was vir my ongelooflik. Kerke het ’n groot rol om te speel in bewusmaking en ondersteuning.” – Daantjie Badenhorst
Daantjie noem ook trots dat hy elke amptelike sangbundel besit wat die NG Kerk ooit gebruik het. Hy het ongelukkig ook seerkry en verwerping in die kerk ervaar. Soveel so dat hy sê dit is eintlik ‘n wonderwerk dat sy geloof staande gebly het.
Hy vertel van ’n jeugleraar by ’n vorige gemeente met wie hy nie goed oor die weg gekom het nie en wat Daantjie toe aangeraai het om ’n sielkundige te gaan sien. Daar was ook kere dat hy by kerkdinge gevoel het hy word uitgesluit en misverstaan. Daantjie is deesdae betrokke by ’n mental wellness-groep in sy gemeente. Hy vertel hy doen dit omdat hy glo dit is belangrik om meer kennis op te doen om ander se uitdagings beter te verstaan en hoe om hulle te kan ondersteun.
Hy glo kerke kan ‘n groot rol te speel om mense meer bewus te maak van neurovariasies soos outisme. Kerke kan ruimtes wees waar mense wat nie maklik inpas nie veilig en aanvaar voel. Vir hom is die ondersteuning wat hy al die jare by sy huidige gemeente ontvang ongelooflik en hy wil graag sien dat meer kerke veilige ruimtes bied waar mense hulleself kan wees. Sy raad is selfs al weet mens nie hoe om iemand te help nie, kan jy omgee wys deur net iemand se naam te vra, of probeer help.
- Annabelle Lombard is verbonde aan Skuilkrans NG Gemeente in Pretoria en vryskutmedewerker vir Kerkbode.
- Berig aangepas na publikasie.

