Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Theron van Kraaifontein skryf: Ds DPM Huet, predikant uit die 19de eeu, skryf in sy boek Ééne kudde en één Herder (1860) dat die “rede vir die afskeiding in Suid-Afrika nie, soos in Holland, daarin bestaan dat daar ’n lewende behoefte is aan die suiwerheid van die evangelie nie, maar eerder uit die teenoorgestelde beginsel. Een van hulle vernaamste karaktertrekke is die bittere vyandigheid teen die inbring van die heidene (in die kerk).” Die heidene op daardie stadium was bruin en swart mense.
Die ortodokse of konserwatiewe soeke na die suiwerheid van Woord en Belydenis, was maar ’n rookskerm om rassevooroordeel en die verset teen gelykstelling te verdoesel. Oor gelykstelling skryf Huet dat “hierdie vreeslik geheimsinnige woord waaroor daar soveel gepraat word in sekere dele van die land en wat die ware oorsaak is van soveel vyandigheid teen die Kaapse Sinode, die ware oorsaak is van die emigrasie van soveel mense uit die Kaapkolonie.” Hy sê dat daar wel moontlikheid van onderskeid in die maatskaplike lewe kan wees “… maar in die godsdienstige, in die kerklike hou hierdie onderskeid op. Daar stel God alle sondaars gelyk. Wie hierdeur teen die bors gestuit word of dit anders wil hê … mag reken hy is ’n Christen, maar moet van die Christendom nog die eerste beginsels leer”.
Nou kan ’n mens nogal treffende parallelle sien in die huidige kerklike situasie. Die aandrang op die oppergesag van die Woord en Belydenis is besonder prysenswaardig. Die onoortuigende is egter dat dit tans in die kerk handel oor die paar verse in die Bybel oor ’n onderafdeling van ’n onderafdeling van seksuele etiek, naamlik die gay-kwessie.
Dié wat klem plaas op die gesag van die Woord en Belydenis sal sekerlik ons gelykheid in sonde voor God moet sien in Romeine 3:10-12: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, (11) daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. (12) Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” So ook uit die Dordtse Leerreëls wat in hoofstuk 3 sê: “Alle mense word daarom in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde.” Dit is net so waar vir die “ortodokse heteroseksuele” as vir die “liberaliste en gays”.
Jesus sê wel in Johannes 8: “Gaan dan heen en moenie meer sondig nie”. Toegegee, maar as die Woord en Belydenis werklik die deurslag sou gee, sou die ortodokses ook nie meer mag voortleef in die sonde van aparte raskerke waar menslike vooroordeel die deurslag gee en nie die Woord van God nie. Eers wanneer alle rassevooroordeel uit die kerk is en die NG Kerk een is met die VGK sal mense nie meer die deurslag gee nie, maar die Woord. Wat dus oor die gay-kwessie voorgehou word as ortodokse en konserwatiewe behoud van die Woord en Belydenis is eintlik, gesien uit die perspektief van die eenheid van die kerk in die Woord, ook maar net liberale humanisme.
