Pray daily, act boldly: 52 weeks of praying deur Nico Koopman
Uitgewer: CLF, 2025
Resensent: Rethie van Niekerk
In 2015 woel die studenteprotes op Suid-Afrikaanse kampusse. In dié tyd begin prof Nico Koopman gebede skryf, bid en deel. Dit is nou al tien jaar dat hy elke dag twee gebede deel, vertel hy in Pray daily, act boldly se inleiding: ’n Afrikaanse gebed wat op ’n spesifieke tema vir die week fokus, asook ’n Engelse gebed op grond van ’n spesifieke Skrifgedeelte vir die week.
Pray daily, act boldly is ’n versameling van hierdie Engelse gebede. Een vir elke dag van die jaar.

Bloot die inleiding van hierdie boek maak dit reeds die lees werd. Koopman praat onder andere oor die visie op ’n nuwe samelewing wat oopgaan wanneer ons bid; hoe gebed dinge wat dié visie verloën, kritiseer; die troos van gebed, asook die karaktervorming daarvan. Koopman help sy leser om gebed as hoop en protes te sien – en te leef.
Die versameling gebede wissel in lengte van kort-kort, tot effens langer, maar nooit rammelend nie. Soms is dit inderdaad troostend soos wat die skrywer in die inleiding sê. Dikwels wil ’n mens egter ’n bietjie stilstaan by die kort gebed, effens herkou, nadink oor presies wát jy nou bid, hoe die wêreld lyk wat dit in gedagte het, watter tipe Christen jy is wanneer jy dit bid.
Koopman se gebede is prakties. Eerlik. Dapper. Gebede gaan oor die persoonlike en die openbare, individuele en institusionele, plaaslike en globale lewe. Die manier waarop Koopman bid oor verskillende vorme van diskriminasie, munisipale dienste, parlemente, administrasie, huwelike en seksualiteit (om net enkele sake te noem), begelei sy leser in ’n verstaan nie net van gebed nie, maar van geloof. Die koninkryk van God raak elke aspek van openbare en privaat lewe. Lesers (of dan saam-bidders) word ingetrek in ’n innige, eerlike manier van wees voor en intree by God.
Hierdie een gaan binne reikafstand van my hand bly. Om saam te bid, voor te bid, liturgies te bid en wéér te bid. Dit gee vir ons woorde om te bid in ons huidige konteks, met ons land se spesifieke uitdagings. Ek sien uit na die bundel Afrikaanse gebede.
Beskikbaar by CLF.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
