Ars moriendi: want jy kan die lavatory en die cemetery nie dodge nie deur Clifford Heys
Uitgewer: CLF, 2025
Resensent: Rethie van Niekerk
Ars moriendi. Die kuns om dood te gaan. Dit is waaroor Clifford Heys nadink in hierdie boek met dieselfde titel.
Heys is wyd belese, het diep gedink, maar het veral intens met mense se dood saamgeleef. In Ars moriendi weef hy anekdotes uit sy eie lewe, klassieke stories, verhale uit die geskiedenis, teorie en teologie saam. Hy betrek ons by sy eerlike soeke na die sterwenskuns. Hier en daar gee hy praktiese raad, soos oor ’n lewende testament of ’n bedagsaamheidslêer.

Sake soos twyfel, na-doodse ervarings, opstandingsliggaam, die hemel, die hel, oudword en meer word eerlik in die oë gekyk. Heys slaag daarin om hierdie moeilike onderwerp te bedink sonder om makaber of depressief te raak. Dit is nie ’n ligte lees nie, maar is tog bemoedigend. Die deernis en kreatiwiteit waarmee die sterwenspad saam met mense gestap word, begelei die leser om ook haar eie sterflikheid vierkantig in die oë te kyk. ’n Mens word soms tot trane geroer, veral wanneer Heys byvoorbeeld worstel met die dood van kinders. Die rou eerlikheid is inderdaad ongemaklik – en juis daarom broodnodig en verrykend.
Ars moriendi bring ’n dieper innigheid met die sterwenskuns. Waarskynlik sal dit vir die meeste lesers nie sonder kontroversie wees nie. Tog: met hierdie skrywe bied Heys ’n unieke, nodige, kosbare uitnodiging om saam te dink oor sterflikheid.
KOOP NOU: Beskikbaar by CLF.
Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.
