Siegie van der Walt het ’n ondeunde glimlag en lewenslus straal uit haar hele wese. Dit is lekker om by haar en haar man Fanie te kuier en sy gesels spontaan – selfs oor donker tye. Sy het vanjaar ’n tweede “oorlog” deurstaan. In ons podsending het sy vertel hoe sy die Tweede Wêreldoorlog (2de WO) oorleef het en vanjaar moes sy teen borskanker baklei.
Op 86 is Siegie een van my meelewendste Facebook-vriendinne. Sy verwelkom die tegnologie wat afstand tussen ons en haar kleindogter in Korea laat krimp. Ek leer by haar oor aanpasbaarheid en veerkragtigheid. Die praktiese, rustige manier hoe gelowiges deur krisisse gaan, is so ’n sterk getuienis en inspireer my mateloos.
Dit is moeilik om jou voor te stel hoe sy as sesjarige moes vlug saam met haar ma en ousus vir die Russiese magte in 1945. Sy is gebore in Breslau wat tot die einde van die 2de WO deel was van Duitsland. Vandag is dit bekend as Wroclau in Silesië, Pole. “Ek is in 1939 gebore en was ses maande oud toe die oorlog begin het,” vertel Siegie. “My Hollandse ma het met ’n Duitser getrou in 1930. My pa was, wat hulle in Duits noem, ’n Feinmechaniker. Hy was ’n hoogs bekwame presisietegnikus, maar is uiteindelik opgeroep om te gaan veg en moes sy eie besigheid opgee.”
Siegie was te jonk om veel van die oorlog te verstaan en onthou, maar sy onthou van die bomme wat geval het. “As die sirene afgegaan het, moes jy in die kelder ingaan. Die huise is almal met kelders gebou vir die winter – waar kos gestoor is. Maar dit was nie lekker nie, want sommige mense het histeries geword.”
Dit was toe ook winter en toegesneeu soos toe Rusland Oekraïne ingeval het. Sy kan steeds glad nie na oorlogstonele in die media kyk as hulle wys hoe vroue en kinders vlug in die koue, sonder kos of slaapplek nie. Miskien vergeet ’n mens se lyf nooit heeltemal nie.

Toe die vroue aangesê is om te vlug, het haar ma na haar ouers in Den Haag gemik. Dit was chaos met ongereelde treine en swak kommunikasie. Hulle beland uiteindelik in Maastricht en bly vir ’n rukkie in ’n vlugtelingkamp en ook vir ’n paar maande in ’n klooster sonder beddegoed, waar hulle op die vloer moes slaap.
“Later is ons weer by Aachen met die trein oor die grens na Duitsland toe na Schleswig-Holstein waar ons in een kamer gebly het by boere. My ma het naaldwerk gedoen by vroue wat masjiene gehad het en dan het sy kos gekry.”
Op die vraag of sy haarself ooit bejammer het, antwoord sy: “Ek was nog nooit jammer vir myself nie, maar ek was baie jammer vir my ma.” Sy was ’n klein, kort vroutjie wat by tye vir kos moes gaan bedel, want ek het net een keer gaan bedel en daarna geweier. Ek wou nooit weer gaan bedel nie!”
Die gesin herenig uiteindelik weer na groot ontberings. Haar ousus se lewe is onherroeplik ontspoor deur alles wat met haar gebeur het. Na die oorlog was dit moeilik om hulle lewe te herbou en almal het basies heel onder begin. Haar pa het die geloofsprong geneem om ’n betrekking by Yskor te aanvaar en sy gesin per skip na Suid-Afrika te laat kom. Haar suster bly in Hamburg agter en Siegie het haar nooit weer gesien nie.
Sy kyk egter nie terug nie en vertel haar storie met groot dankbaarheid vir al die geleenthede wat sy in Suid-Afrika gekry het. Sy pas dadelik aan in ’n Afrikaanse skool. Sy onthou vandag steeds hoe ’n onderwyser vir haar gesê het hoeveel hy Duitsers haat. Sy presteer egter puik en kry die kans om universiteit toe te gaan – ongewoon vir daardie jare. Sy word die enigste vrou in haar Biochemie-klas, verwerf ’n doktorsgraad en lewer uiteindelik ’n baie waardevolle bydrae by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) van Suid-Afrika.

Op Tukkies ontmoet sy haar man Fanie – ook ’n wetenskaplike. Vanjaar kon hulle hulle 56ste troudag herdenk en terugkyk op ’n baie mooi lewe saam. Hulle bly steeds in Navorsdorp – soos die area rondom die WNNR in Brummeria bekendstaan. Sy en Fanie is ook steeds geliefde lede van die oudste kleingroep in die gemeente! Die meeste van die groep bly steeds daar in hulle eie huise.
Siegie vertel hoe sy as jong vrou saam met die vroue van Skuilkrans NG Gemeente pannekoek gebak het op Pilditch-stadion om fondse in te samel vir die bou van die kerk meer as 50 jaar gelede. Verder het sy ook haar verlamde vriendin bygestaan deur haar Voortrekker-kommando op staptogte te vergesel. Sy glo in gemeenskap en die krag van ’n geloofsgemeenskap.
In Maart vanjaar moes Siegie ’n dubbele mastektomie deurstaan. In die eerste paar dae het sy net getuig hoe vriendelik en behulpsaam die hospitaalpersoneel was en hoe mooi Fanie na haar kyk. Vyf maande later sê sy net: “Ag nee wat, ek voel nou goed en is gesond. Daar is goed wat ek nie meer kan doen nie, maar dit het meer te doen met die ses knie-operasies wat ek gehad het.” Steeds is sy geen slagoffer met behoefte aan simpatie nie.
Siegie vertel haar lewensverhaal sonder verwyt en kyk na die lewe deur ’n bril van humor en dankbaarheid wat spruit uit ’n intieme verhouding met die Here. Haar toewyding en geloof is ook oorgedra aan hulle enigste dogter en dit is maklik om te sien waarom sy so ’n geliefde ouma vir haar twee kleinkinders is. “Ja, ek pas haar mooi op”, sê Fanie, “sy is die enigste vrou wat ek ooit sal hê!”
Annabelle Lombard is deel van die bedieningspan van die NG Gemeente Skuilkrans in Pretoria.
