Meer as 100 vrae gerig aan Francesca Albanese het Sondagmiddag digitaal ingestroom toe die Groote Kerk in Kaapstad gasheer gespeel het vir ’n intergodsdienstige interaksie met dié regskenner wat as die Verenigde Nasies se spesiale rapporteur oor die menseregte-situasie in die Palestynse gebiede dien en ’n hoë internasionale asook plaaslike profiel op grond van haar steun aan die mense van Gasa ontwikkel het.

Albanese het Sondagmiddag kort na 15.00 ter inleiding van ’n gesprek oor verskeie brandpunte gesê dit is ’n verligting om in Suid-Afrika te wees, tussen mense aan wie ’n mens nie apartheid hoef te verduidelik nie. Sy het die verband tussen apartheid en alle “settler regimes” getrek, waaronder Israel volgens haar tel.
Haar boodskap was dat die beginsels van die BDS-beweging (Boycott, Divestment, Sanctions) “van bo tot onder en links tot regs” op die “apartheid-staat van Israel” toegepas moet word. “We need to make sure that this is the last genocide in human history,” het Albanese gesê.


‘Genoeg is genoeg’
In ’n welkomswoord het een van die gemeente se leraars, ds Riaan de Villiers, gesê: “This (church) has been a place, sometimes of exclusion and sometimes of embrace. Today this is a place of embrace. We want to come together in solidarity and say that genoeg is genoeg – enough is enough – this needs to end, the genocide, we must work together for justice and freedom for the Palestinian people.”
Die kerk was volgepak vir die geleentheid wat net oor die twee ure geduur het. Vanaf die orrel met sy bykans 6 000 pype tot ’n tydelike persgalery vlak voor die Anton Anreith-kansel met sy twee houtsneeleeus. Meer as 1 500 mense het kom luister en Gift of the Givers moes help met die logistieke reëlings om die groot aantal pers en besoekers in toom te hou.

Kapsie teen handel
Dr Allan Boesak het in ’n woord ná die besoeker gepleit dat die Suid-Afrikaanse regering moet ophou om steenkool aan Israel te verkoop en moet optree teen burgers wat vir die Israeli-weermag gaan diens doen. “Those who leave the shores to go fight with the IDF, we have the laws to prosecute them.” Boesak het Suid-Afrika se steenkooluitvoer na Israel bestempel as “fueling genocide”.
Albanese voer aan dat die wyse waarop Israel homself móét verdedig, is deur seker te maak hulle onderwerp hulle aan internasionale reg. Sy het dit in vier punte uitgelê: Onttrek die besetting, onttrek die troepe, hef (setlaar) kolonies op en hou op om Palestynse hulpbronne uit te buit.
Sy het verduidelik dat Israel wel die reg gehad het om te reageer op die aanval wat uitgevoer is op Israeliburgers op 7 Oktober (2023). “I mean, (Hamas) targeted civilians and acts have been brutal, like it or not, this is a fact and every attack against a civilian is a crime, unless the civilian is taking part in the military acts, like the settlers, who roam around kiling Palestinian civilians,” het sy in een van haar reaksies tydens die vraag-en-antwoord-sessie gesê.

Vele stel vrae
Via ’n interaktiewe slimfoonplatform is lede in die gehoor uitgenooi om vrae aan die besoeker in te stuur en verskillende gespreksleiers het van die vrae aan haar gerig. Van die vrae was bondig, soos: “Is there anything we can do to stop and protect what is left of the West Bank?”
Ander meer ingewikkeld, soos: “Do you see a future for the UN, given its continued inability to hold Western powers like Israel and the USA to account? What would a UN look like if it truly recognized the need for Global South voices to be considered equally?”
Van die vrae het gereageer op die meer aktuele kwessies sedert die begin van Albanese se aankoms in Suid-Afrika. “What is your response to the National Jewish Advocacy Centre in the US trying to serve you a subpoena yesterday on the accusation that you are using your platform to smear Israel?”

Albanese het op wydlopende wyse verskeie onderwerpe aangeroer maar weens tydbeperking en die gespreksformaat nie by naastenby al die vrae uitgekom nie.
Digters kry stem
In die gehoor was aktiviste en kerklui van regoor die ekumeniese spektrum met ’n groot gros uit die Moslem-geloofsgemeenskap wat met banierslagspreuke soos “Stop the genocide” die kerkgebou op die hoek van Parlement- en Spinstraat se binneste tydelik omvorm het.


Digters soos Siphokazi Jonas, Thandi Gamedze en ook erfeniskundiges soos Bonita Bennett het spreekbeurte gekry, maar die fokus van die program was die regskenner se perspektief op die konflik wat woed tussen Israel en Hamas, met die invalshoek van die “collapse of the international legal order, examining the complicity of global powers, the paralysis of international institutions, and the critical role of civil society in defending justice and human rights,” luidens ’n verklaring wat vooraf versprei is.

Naas die Groote Kerk was die mede-organiseerders van Sondag se byeenkoms die Nelson Mandela Stigting en die Palestine Solidarity Campaign (PSC). De Villiers het gesê: “We gather as an interfaith community united by a shared longing for justice and human dignitiy.”

Gesien vanuit die oogpunt van die Here se groot opdrag aan sy dissipels, en dus aan die kerk van alle eeue, (Matt. 28:19,20) is dit wel nodig om deeglik kennis te neem van die Groote Kerk se pogings om uit te reik na nie-Christene.
Ongelukkig is dit duidelik uit die berig hierbo dat hierdie “uitreik” nie die Evangelie van Jesus Christus as basis gehad het nie. Dit het gepoog om woede teen Israel op te wek oor die vergrype in Gaza. Ek veroordeel ook die vergrype. Dit is skereiend dat juis Israel nie kan insien dat hulle in stryd met die opdragte van die God van hulle vaders optree nie.
Maar hoe tree die Kerkleiers van die Groote Kerk op? Herinner dit nie aan die geestelike leiers in Joh 8:1-11 nie? Word die massas nie opgerui om een wat in sonde betrap is, te stenig nie?
Was daar enige eggo van Jesus se woorde in hierdie situase: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste ‘n klip na haar gooi.”?
Die klippe het op Israel en hulle ondersteuners gereën. Maar is daar ‘n woord gerep dat Jesus gekom en sy liggaam gegee het om die muur van skeiding tussen Jood en nie-Jood af te breek (Ef 2:12-16)?
Was hierdie byeenkoms in die Here se oë iets om op te roem?
Hello Dawie,
Was jy daar Sondag? Dit klink nie so nie.
Ek was, en dit was ’n besonderse ervaring van brugbou in ons land – interaksie met mense wat regtig “walk the talk” as Jesus se hande en voete. Ek wil eintlik nie weer woorde vuilmaak aan nóg ’n polarisering nie, maar die berig waarna jy verwys is só eensydig dat ek eenvoudig nie stil kon bly nie.
Ek verskil dus sterk met jou punte hieronder.
Hierdie “uitreik” hét die Evangelie van Jesus Christus as basis gehad – en hoe!
My geloof en verhouding met Jesus is my kosbaarste besitting. Die inklusiwiteit, passie vir geregtigheid en opregte agape-liefde van die mense daar (ja, ook die Joodse en Moslem-deelnemers) het alles weerspieël van die Jesus wat ek ken en wil volg. Ek glo nie Hy sou vandag in die tempel sit en oordeel nie, maar eerder alles doen om rassehaat, onreg, geweld en magsug te beveg – presies soos die aktiviste in die kerk Sondag.
Ek het lanklaas soveel kompassie en selfopoffering gesien.
Dít is vir my die kern van die Evangelie: dat almal welkom is; dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself; dat mense jou ken aan jou dade, nie jou woorde nie.
Jy sê dit het gepoog om woede teen Israel op te wek oor Gaza.
Regtig, Dawie? Enigeen wat nuus kyk en in menseregte glo, het nie meer nodig om woede “opgewek” te kry teen wat daar gebeur nie. Die enigste fokus nou is om die bloedbad te probeer stop – dis al wat saak maak, en dis dringend. Terwyl ons hier praat, word daar volksmoord gepleeg (volgens Israeli humanitêre groepe) – en Goddank probeer iemand dit stop.
Die feit dat ’n Joodse rabbi saam met ’n Christen en Moslem geestelike gebid het vir liefde en geregtigheid, en dat talle Jode in die gehoor was, wys juis op die goddelike liefde wat ons verbind het – waar politiek, ras en nasionaliteit geen plek gehad het nie.
Dan haal jy Johannes 11 aan: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste ’n klip gooi.” Verstaan jy die konteks?
Ons praat nie van ’n individu wat geoordeel word nie – ons praat van ’n sekulêre staat. Hoe kan jy suggereer dat Jesus sou leer ons mag nie ’n regering of weermag veroordeel wat duisende onskuldige mense uithonger en uitroei nie?
En ironies genoeg, jou laaste aanhaling uit Efesiërs 2:12–16 – oor hoe Jesus gekom het om die muur van skeiding tussen Jood en nie-Jood af te breek – was presies die boodskap van die dag.
Ek weet nie van watter Jesus jy praat nie, Dawie.
My Jesus was daar – woedend oor die gruwelike onreg teen sy kinders, maar ook trots op almal wat in liefde en eerbied saamgestaan het om brûe te bou en vir geregtigheid en liefde te veg.
Goeie môre. Karmen,
Jammer, ek was nie daar nie en ek reageer op indrukke van ander. Maar jou skrywe bewys dat my indrukke nie nie verkeerd was nie.
Jy is reg, ons praat nie van dieselfde Jesus nie. Jy beleef jou godsdiens en jou Jesus binne die CRT raamwerk van die Woke ideologie. Baie kortliks: daardie ideologie fokus op sosiale ongeregtighede en werk met stereotipes, soos in: Israel word verdoem as onderdrukkers, die Palestyne is die arme slagoffers. En jou Jesus is altyd aan die kant van die onderdruktes.
Ek loop al ‘n lang paadjie saam met my Here Jesus: So 15 jaar nadat Hy beheer oor my lewe oorgeneem het, het ek 49 jaar gelede by legitimasie ‘n eed afgelê dat ek met my hele hart Hom as enigste verlosser glo, dat ek die Bybel as onfeilbare die Woord van God beskou, dat ek die belydenis van ons kerk as die ware en volkome leer van ons saligheid aanvaar en dat ek belowe om vir die res van my lewe die Evangelieboodskap met volharding te verkondig en alles in die stryd sal werp om enige leer wat hiermee in stryd is, uit die kerk te weer.
Die Evangelieboodskap is kortliks dat God uit liefde sy Seun na die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom as verlosser glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe het (Joh. 3:16).Hy het aan sy kerk die opdrag gegee om van alle nasies sy dissipels te maak (Mat 28:19) want sy liefdesboodskap moet aan die hele wêreld verkondig word.
Ek kan getuig hoe die Here Jesus ons bediening gebruik het om mense van ander gelowe na Hom te lei, hulle deur sy Gees uit hulle sondebande te verlos en van hulle dissipels te maak. Ons het beleef hoe die Here ongelooflike wonderwerke doen het om Homself aan mense te openbaar. Ons het dikwels mense uit ander gelowe na ons eredienste genooi, maar altyd die suiwer evangelie dat Jesus verkondig. Dìt laat mense tot geloof in Jesus kom en dit is wat mense red (Rom 10:10-15).
Ons NG Kerk se belydenis leer jy sal salig lewe en sterwe as jy besef hoe groot jou sonde en ellende is, hoe jy in Jesus daarvan verlos kan word en hoe jy dan vir jou verlossing dankbaar moet wees. Deur om te sien na jou naaste in nood, bewys jou dankbaarheid. Die Woke sosiale godsdiens verkondig hierdie naastediens as die eintlike godsdiens. Sondebesef en verlossing uit sonde word nooit geleer nie.
Dìt is geensins die kragtige Evangeliewoord nie. Daarom beskou ek die byeenkoms Sondag as ‘n teleurstelling. My Jesus se antwoord daarop kan jy in Matt. 22:29 gaan lees.
My ontgoggeling met die NG Kerk groei by die dag. Ek is dankbaar oor die gemeente waarvan ek deel was. As dit nie vir my gemeente was nie, was ek reeds kerkloos. Ek soek na God se leiding/rigting oor hierdie saak. Maar ek en my kerk is definitief nie belyn nie. En ek kondoneer beslis nie wat Israel doen nie. Maar Hamas en die Palestyne het gevra vir hierdie oorlog deur hul terreur en gruweldade.
Weereens staan die NGK skuldig.
Wêreldse politiek in die kerk, letterlik in die kerk.
Met vewysing na die apartheid geskiedenis en die NGK se rol daarin, leer elemente in die kerk nooit? Hou politiek, of vandag se weergawe ‘social justice activism’ uit die kerk uit. Predikante se werk is om die evangelie te verkondig, punt. Pesoonlike ‘social justice’ aspirasie en ambisie van sulke “predikante” kan buite kerkverband uitgeleef word.
Dit is in my oë ‘n gruwel dat ‘n Imam die kerk se preekstoel mag bestyg. Hoe durf julle. Hoe durf die sinode dit toelaat. Die kerk, ook die Groote Kerk, is God se kerk, nie julle wêreldse markplein nie. Ek daag die sinode en mense met die nodige gesag om hierdie euwel uit te roei.
STEM 100% SAAM