Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Hieroor was die intergeloofsgeleentheid by Groote Kerk vir my traumaties’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Bernhard Ficker van Somerset-Wes skryf: Dankie aan Kerkbode vir ’n waardevolle berig oor die Groote Kerk wat gasheer speel vir al die Moslems en Francesca Albanese. Besondere dank vir die foto wat die banier “Stop the genocide” wys. Ek het dieselfde banier afgeneem. My vrees was egter dat geeneen sou glo dat my foto van die banier in die NG Groote Kerk sou kon wees nie en sou sê dit is met behulp van kunsmatige intelligensie opgekook! Maar nou het Kerkbode die daadwerklikheid daarvan bevestig.

LEES OOK: Kaapse gemeente poog om solidariteit te toon deur gasheer te speel vir Francesca Albanese in brandpuntgesprek oor Israel en Gasa

Die Groote Kerk het nie net gepoog om gasheer te speel soos die berig meld nie, maar was die setel vir omvattende opstook van anti-Semitisme. Die slagspreuk “from the river to the sea” is deur sprekers uitbasuin as motivering vir die eliminering van Israel, sonder enige erkenning dat meer as ’n kwart Israeli’s nie-Jode is nie. Ds Riaan de Villiers, geklee in swart met ’n “Support Palestine”-stola en Engelse priesterlike “dog collar”, het met groot genoegdoening hierdie anti-Joodse haatveldtog gekoördineer.

LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van egtheid

Daar was plakkate van verskeie godsdienstige aktiviste en kerkleiers, van ds Beyers Naudé tot die Pous. Eerste keer dat ek ’n groot plakkaat van die pous in enige NG Kerk sien. ’n Moslem Imam het sy anti-Joodse betoog gelewer vanaf die verhewe preekstoel wat slegs vir Gereformeerdes gereserveer word. Gift of the Givers se “marshals” het orals rondgestaan, dr Allan Boesak, die veteraan-aktivis, was weereens op sy stukke met sy beroep op almal “to get angry” sodat almal met geregverdigde haatgevulde woede die Israeli’s kon reghelp. Toe die “show” verby was, staan een Moslem-vrou bo op die galery, bo die banier, en skree aanhoudend slagspreuke ten einde te help verseker dat almal die Groote Kerk verlaat met harte gevul met anti-Israel-haat.

Die bywoning van hierdie gebeurtenis in die Groote Kerk was vir my erg traumaties. Nooit, ooit, sou ek kon dink dat so iets in enige Afrikaanse kerk kon plaasvind, veral nie in ’n NG Kerk nie! Halfpad deur hierdie haatgevulde anti-Joodse “show” het die letters van die woord GENOCIDE op die banier een vir een begin afval, iets wat besonders ongewoon was. Dit het my laat wonder of God nie miskien die Heilige Gees gestuur het om die letters af te trek ten einde sy geweldige ontevredenheid te toon met hoe die kerk ontheilig word deur politieke slagspreuke en godsdienstige aktiviste nie? Wat sou Jesus doen as Hy nog op aarde was? het ek gewonder. Die sweep opneem en almal uit hierdie voormalige Godshuis uitjaag en sê julle het my huis van gebed in ’n nes van politieke aktivisme en haat verander?

Voorheen was die nabygeleë St George-katedraal die hoofsentrum van politieke aktivisme, maar nou het die Groote Kerk hulle onttroon. Toe ek uitstap, verby al die anti-Joodse plakkate wat teen die kerk se heining vasgemaak is, stop ek by Andrew Murray se standbeeld en wonder hoe lank gaan hy in sy graf omdraai?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top