“Ek is ’n brugbouer. As sokker die bruggie moet wees dan is ek in.”
Cecile Murray-Louw (NG Kerk Durbanville) het min geweet van sokker, maar het vinnig met Don-Marco Jonaan (VGK Kraaifontein) die waarde van sokker vir eenheidsbediening beleef. Saam reël hulle ’n sokkerdag waar jongmense van Durbanville en Kraaifontein kan sokker speel, boeries geniet en mekaar aanhits.

Meer as net speel
Die “toegangsfooi” vir die sportdag was toiletwareskenkings aan Durbanville-kinderhuis. Die jongmense van Durbanville en Kraaifontein verseker dat die skenkingskrat oorloop. Party daag op sonder ’n kosblik vir die geleentheid, maar met ’n sepie in die hand om te skenk. Dit is tóé dat Cecile werklik besef dat hierdie sportdag meer as net ’n sokkerwedstryd is: “Dit het my geruk.” Predikante van die gemeentes wat aan die dag deelgeneem het, het Cecile en Don-Marco bedank vir die geleentheid om ook te kan gee.

LEES OOK: Diensleraars self aan die woord: ‘Kerk wat uitreik, is ’n kerk wat leef’
Die dag het ’n informele aanslag en sokker dien as ’n gelykmaker. “Soccer levels the playing field,” sê Cecile. Die tienerseuns van Hoërskool Durbanville het op ’n Saterdag gehelp met fluitjieblaas en goed aandra. Jongmense het mekaar aangemoedig. Durbanville se seunshokkiespan en netbalspan weet min van sokker af, maar verower die entoesiasme-trofee.
Cecile vertel hoe ander NG gemeentes in die ring ook spanne ingeskryf het. Dit is toe dat sy besef: “Hier is regtig iets.” Die inisiatief was ’n groot sukses: “Ons moes die inskrywings toemaak. Daar was baie meer belangstelling as wat ons verwag het. Meer as 16 spanne het ingeskryf.” Cecile verduidelik: “Dit het mense se hart geprikkel.”
Hoekom sokker vir eenheidsbediening? Dit is die grootste sport in die wêreld. Baie jongmense speel dit. “En dit is redelik maklik om te speel in die sin dat jy slegs ’n oop stuk grond, ’n bal, ’n volwassene of afrigter en spelers nodig het,” verduidelik Cecile.

Die uitdagings in die gemeenskap
Een van die groot kwessies wat die sokkerbediening wil bekamp is bendegeweld en vaderloosheid. Die mentorskap verseker dat jongmense ’n volwassene het wat hulle kan vertrou en gereeld sien. Hierdie volwassene verwag slegs van die jongmense om op te daag. Daarom word daar klem gelê op die bedieningsaard van die projek. Cecile gebruik die metafoor van ’n karretjie wat op soek is na brandstof en die sokkerbediening is die vulstasie waar jongmense hulle karretjies met die regte brandstof kan vul. Die bediening spreek die jongmense se behoefte aan geborgenheid (belonging) aan.
Die toekoms
Die plan is om ’n volhoubare impak te bewerkstellig. Sodoende is die toekoms van sokkerbediening nie enkele sportdae nie, maar eerder mentorskapopleiding. Die opleiding is regtig vir almal en ’n mens hoef geen ervaring in sokker te hê om die opleiding by te woon nie. Mans en vrouens is welkom. Sokker dien as ’n aanknopingspunt, maar dissipelskap is die fokus. Die opleiding beantwoord die vraag: Hoe kan ’n mens deur middel van sokker ’n mentor wees en dissipels maak?
Ben Marais en Ambassadors Football bied om 1 November van 8:00-13:00 by VGK Durbanville in Morningstar die laaste sessie van die eerste sokkermentorskapopleiding aan. Die gemeentes binne die Ringe van Durbanville en Kraaifontein word genooi om binne die areas waar hulle werksaam is groot sosiale uitdagings te identifiseer en dan iemand te nomineer uit daardie areas om ’n sokkerklub te begin en aan die opleiding deel te neem.
Die fokus van die opleiding is om sokkervaardigheidsklinieke te demonstreer en te wys hoe sokkerklubs en mentorskap ’n verskil kan maak in kwesbare gemeenskappe. Na aanloop van die opleiding word die deelnemers deel van die Ambassadors-gemeenskap en hulle word dan ondersteun. Ambassodors Football stap ’n pad met hulle afrigters en mentors.
ʼn Oproep vir skenkings
Wat Cecile veral opgewonde maak oor die projek is dat dit iets is wat ’n mens kan dóén. Sy hoor dikwels dat mense sê: “Ek kan niks doen nie.” Hierdie mense nooi sy uit om betrokke te raak. Hierdie projek het nie baie nodig nie, mense wat bereidwillig is om mentors te wees, ’n oop veld en ’n bietjie toerusting. Elke klub ontvang ’n starter kit met kegels, balle en bibs. Verder word die mentors opgelei om die sokkerklub te omskep in ’n lewensvaardighede-mentorskapprogram. Sou dit op jou hart lê om geld te skenk sou hierdie skenkings die opleiding sowel as die sokker “kit” borg en hierdie inisiatief volhoubaar maak.
Indien jy belangstel om ‘n skenking te maak, kontak die Ds. Barnard Steyn van die Hoop en Versoenings Trust by barnard@kaapkerk.co.za.
Hierdie artikel vorm deel van ’n storie-vennootskap met Die Hoop en Versoening Trust en Diaconia. Die Hoop en Versoening Trust wil in die eerste plek ’n verskil maak in sosiale uitdagings soos vroeëkinderontwikkeling (veral in plattelandse gebiede) en die verligting van armoede. Inisiatiewe soos opvoedkundige programme, gemeenskapsontwikkeling, kapasiteitsbou, vaardigheidsontwikkeling en ’n verskeidenheid van opleidingsgeleenthede is wyses waarop die hoofdoel bereik word. Die trust lewer intensioneel bydraes tot dialoog in ’n samelewing met ’n behoefte aan eenheid, versoening en geregtigheid. Diaconia is die gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Kerk Wes-Kaap en die VG Kerk Kaapland en neem verantwoordelikheid vir Die Hoop en Versoening Trust.
