Ná heelwat woorde oor diensleraars (Deel 1 van hierdie reeks kyk na als van leerplanne tot die grys areas in die kerkreg) gesels ons met ’n paar diensleraars. Die skrywers van hierdie artikel was deelnemers aan die jaarlikse Slypskool vir Skrywers, wat Kerkbode vroeg in September in samewerking met die Taakspan Navorsing in Gauteng aangebied het. Vanjaar se tema was: Diensleraars en die impak wat hierdie nuwe baan van teologiese opleiding op gemeentes en die NG Kerk in geheel het. Ons publiseer hiermee die tweede aflewering van die skryfwerk deur deelnemers van regoor die land.
Riaan de Villiers skryf: Die jongste statistiek en persoonlike verhale dui daarop dat diensleraars nuwe lewe bring – binne gemeentes, in gemeenskappe, en veral in die ekumeniese ruimte waar samewerking dringend nodig is.
Karlie Liebenberg berig: Volgens die diensleraaropname van 2025 wat deur die Algemene Taakspan Navorsing gedoen is, is daar 52% diensleraars wat ander beroepe beoefen.
Annamari de la Harpe skryf: ’n Subtiele uitdaging ontstaan wanneer ervare leraars ongemaklik voel met die idee van diensleraars wat toenemend verantwoordelikhede oorneem
Hendrien van Vliet vra: Is daar ’n finansiële element betrokke by die wrywing tussen predikante en diensleraars?
Erick Zulch skryf: Steeds vaag oor wat diensleraars doen? Die Algemene Kuratorium se uiteensetting van teologiese opleiding in dié verband, Geroep, gevorm, gestuur (2022), asook nuwe data ingesamel deur die ATN, kan jou help.
Diensleraars self aan die woord: ‘Kerk wat uitreik, is ’n kerk wat leef’
Van Benoni en Boksburg tot Durbanville … Riaan de Villiers gaan luister na ’n aantal diensleraars se stories.

“My droom is dat diensleraars in die NG Kerk die pioniers sal wees van groter samewerking en verandering. Nie net binne ons eie kerk nie, maar oor denominasies en selfs geloofstradisies heen …”
Só sê ds Cecile Murray-Louw, van Durbanville-Moedergemeente en een van die ongeveer 100 diensleraars wat sedert 2020 gelegitimeer is in die NG Kerk.
Vyf jaar nadat die NG Kerk ’n nuwe pad oopgemaak het vir lidmate met ander loopbane om hulleself vir die bediening toe te rus, begin die kerk om die vrugte hiervan te beleef.
Mense met ’n sterk roepingsbewustheid, vorige werksondervinding, kwalifikasies en gawes word die geleentheid gebied om aan te meld vir teologiese opleiding, beroeping en bevestiging as diensleraars in die NG Kerk. Die jongste statistiek en persoonlike verhale dui daarop dat diensleraars nuwe lewe bring – binne gemeentes, in gemeenskappe, en veral in die ekumeniese ruimte waar samewerking dringend nodig is.
Die nuutste peiling onder diensleraars deur die Algemene Sinode se Taakspan vir Navorsing gee vir ons ’n aanduiding van die impak van hierdie bediening binne die NG Kerk, maar ook hoe die rimpeleffek hiervan wyer gevoel word.
Die statistiek vertel iets van hierdie benadering – meer as die helfte van diensleraars bedien ook buite hulle gemeentegrense, terwyl meer as twee derdes van diensleraars aangedui het dat hulle goeie verhoudings met kerkleiers buite hulle eie gemeente het en sterk bande met ander denominasies bou.
Die boodskap is duidelik: Diensleraars verander nie net hoe die NG Kerk werk en bedien nie, maar ook hoe dit beleef en ervaar word van buite.

Ds Vanessa Bouwer, wat in Januarie 2023 diensleraar in Differentia-gemeente (die ou NG Kerk Boksburg-Oos) geword het kom uit ’n AGS-agtergrond waar sy ook as pastoor gedien het. Sy vertel dat hulle gemeente doelbewus gekies het om nie net ’n kerk vir hulleself te wees nie, maar ’n tuiste vir die gemeenskap: “Ons kerkgebou is in ’n omgewing wat nie altyd die mooiste is nie, maar ons word nie afgeskrik nie. Ons nooi omtrent almal in. As jy by ons gemeente aankom, beleef jy ’n oase.”
Vanessa vertel van praktiese projekte soos Hope in Christ, waar meer as 80% van die kinders wat in die gemeenskap woon bedien word. Daar is ook Blessed Threads wat tweedehandse klere verkoop en mense bemagtig om ’n inkomste te verdien, en uitreike na omliggende skole waar gepoog word onderwysers tydens pouses te ondersteun met gebed en bemoediging.
“Ek hou daarvan om hande te vat met ander gemeentes in die area,” sê Vanessa. “Die feit dat ons mekaar se projekte ondersteun, wys dat ons almal saam dieselfde roeping leef.”
Sy glo ’n groot uitdaging is ook hoe ander leraars hulle verstaan: “Dominees moet nie diensleraars as ’n bedreiging sien nie. Hulle is ’n geskenk – mense wat langs jou wil staan en sê: Ek wil leer, ek wil help, ek wil bou.”

Cecile sê sy sien gereeld hoe diensleraars ander gawes en vaardighede na die NG Kerk bring. “Daar is mense wat dalk nooit voltydse dominees sou wees nie, maar wat as diensleraars ongelooflik waardevol is. Hulle bring ander ervarings en bronne, en dit verbreed die kerk se vermoë om mense te dien.”
Hierdie ingesteldheid sluit presies aan by die peiling se bevindings dat meer as driekwart van diensleraars reeds hulle gemeentes tot aksie inspireer en oor grense lei.
Ds Waldo Niemandt, diensleraar by NG Kerk Jubilaté in Benoni sien die diensleraarsbeweging as ’n bevestiging van die NG Kerk se diepste roeping: “Diensleraars wys dat die kerk nie net ’n instandhoudingsprojek is nie. ’n Kerk wat uitreik, is ’n kerk wat leef. Hulle beliggaam die waarheid dat die kerk ’n gestuurde gemeenskap is.”
Waldo getuig dat die diversiteit in teologiese opleiding vir hom verskriklik baie beteken. “My reis het begin by Aucklandpark Teologiese Seminarium, vandaar is ek na Hebron Teologiese Skool en hierna het ek my BTh by SATS (South African Theological Seminary) voltooi. Van daar het my pad my teruggeneem na die NG Kerk en meer spesifiek na Stellenbosch waar ek my PGDip in Teologie voltooi het, Hugenote Kollege waar ek die Bedienaar met preekbevoegdheidkursus gevolg het en tans staan ek aan die einde van die MTh in Bedieningspraktyk by Stellenbosch.
“Ek is werklik dankbaar vir die geleentheid om vanuit ’n ander baan as voltydse studies toegang te kry tot bediening in die NG Kerk en so my roeping uit te leef,” voeg hy by.
Nuwe hoop vir kleiner gemeentes
Die statistieke op papier en die getuienis van Cecile, Vanessa en Waldo en verskeie ander diensleraars pas in ’n groter prentjie van vernuwing. Diensleraars bring nuwe hoop, visie en ook geleenthede vir kleiner gemeentes wat andersins sou moes sluit; vars energie in sosiale en gemeenskapsprojekte; groter diversiteit in opleiding en in agtergrond en die vorming van sterker bande en venootskappe met ander denominasies en kerkleiers.
Vanessa stel dit so: “Ek het iets by die NG Kerk kom beleef, van ’n openness, nie net om uit te reik nie, maar om te leer, om vrae te vra oor wat mense nodig het en hoe ons mense beter kan hoor en daar wees vir mense.”
Vyf jaar ná die eerste bevestigings van diensleraars in gemeentes is dit duidelik dat die diensleraarsroete die NG Kerk weer in beweging bring en teen die agtergrond van ’n geskiedenis van isolasie, en dekades se tradisie, die kerk help om weer sy roeping as missionale en ekumeniese kerk te herontdek.
Cecile, Vanessa en Waldo is opgewonde oor die toenemende impak van diensleraars in die NG Kerk en breër samelewing en sien uit na wat die volgende dekade mag oplewer.
“Ons leef in ’n land wat op soveel ernstige vlakke diep sosiale transformasie nodig het. As diensleraars saamstaan en God se werk doen vanuit ons beroepservaring en praktiese leeflesse, kan ons die kerk se stem relevant hou waar dinge daagliks plaasvind en ’n konkrete verskil maak,” glo Cecile. Verder hoop sy dat “ons oor tien jaar bekend sal wees as ’n generasie wat brugbouers was om mense bymekaar te bring, en wat gehelp het om God se koninkryk op gewone maniere sigbaar te maak in die gemeenskap. Dan sal die ware vrug van transformasie praat, sodat ons kerk relevant bly met ’n al hoe meer prakties-kritiese stem teen onreg, uitbuiting en skeiding.”
Ds Riaan de Villiers is leraar by Groote Kerk in Kaapstad.

Diensleraars vertel oor hulle ander (of vorige) beroepe
Diensleraars se ervaring uit beroepsvelde soos die onderwys, sakewêreld en landbou verryk die kerk, skryf Karlie Liebenberg.
Die Algemene Sinode het in 2019 met sy uitbreiding van teologiese opleiding nuwe bane ontwikkel om sodoende anders oor kerklike opleiding te begin dink. Hierdie missionale beweging kan ’n bepalende verandering in die NG Kerk teweegbring.
Die beweegrede verwys na bedieningsbehoeftes met spesifieke vaardighede wat noodsaaklik is vir die bediening. Diensleraars is gelegitimeerde leraars met ’n spesifieke opdrag en wat ’n vereiste kerklike opleiding voltooi. Voorbeelde waarin diensleraars kan spesialiseer is prediking, gemeenskapsontwikkeling, jeug- en familiebediening. Hierdie is ’n kursus wat binne drie jaar voltooi kan word.
Wat sê die data?
Volgens die diensleraaropname van 2025 wat deur die Algemene Taakspan Navorsing (ATN) gedoen is, is daar 52% diensleraars wat ander beroepe beoefen. Hulle is dus deeltyds betrokke by die kerk en het ander beroepe soos onderwysers, rekenmeesters, ingenieurs, besigheidseienaars en selfs polisiebeamptes. Hulle kan ’n invloedryke bydrae tot ’n gemeente lewer wat die kerk op ’n positiewe manier beïnvloed. Hierdie tweede loopbaan stel hulle in staat om ’n waardevolle rol in gemeentes te vervul wat die kerk terselfdertyd op ’n vars manier voed.
Verskillende vaardighede
Ulrich Barnard het in 2017 met sy teologiese studies aan die Universiteit Stellenbosch begin en later sy studies by Hugenote Kollege in Wellington voortgesit. Hy is passievol oor sport en is vir die afgelope vier jaar die afrigter vir die ondertwintigspan van die Helderberg Rugbyklub. Benewens sy bediening werk Ulrich voltyds as ’n praktykbestuurder, wat leierskapsvaardighede in die bediening na vore bring. Hierdie kombinasie van vaardighede stel hom in staat om effektief te bedien en gemeenskapsprojekte te lei wat die evangelie in aksie bring.
Hierdie voorbeeld toon hoe die kombinasie van professionele vaardighede en geestelike roeping nie net die individue self verryk nie, maar ook ’n beduidende impak het op die gemeenskap wat gedien word.

Van melkplaas tot kansel
Carel van der Merwe, wat 30 jaar in die landbou betrokke was (onder meer as plaasbestuurder op ’n melkplaas), maak dit duidelik dat die NG Kerk besig is om ’n Bybelse beginsel toe te pas. Die vissermanne in die Bybelse tyd het ook in voltydse beroepe gestaan. Hierdie vissermanne was betrokke by familiebesighede, maar was gehoorsaam wanneer Jesus hulle geroep en genooi het om dissipels te word. Sonder hierdie vissermanne sou die Evangelies nooit bestaan het nie. Hy is ’n diensleraar wat die melkboerdery vir die kansel verruil het en is tans ’n diensleraar by Worcester-Moedergemeente.
Diensleraars bring dus nie net hulle geloof en roeping nie, maar ook die kundigheid en gawes van hulle tweede beroep na die tafel. Hulle praktiese ervaring uit die wêreld van onderwys, besigheid, ingenieurswese of landbou verryk die kerk met vaardighede wat andersins sou ontbreek. Só word die gemeente nie net bedien met prediking en pastorale sorg nie, maar ook met bestuursvernuf, strategiese denke, kreatiewe oplossings en ’n dieper begrip van die uitdagings wat lidmate daagliks ervaar.
Lewende teken
Hierdie kombinasie van roeping én beroep veroorsaak dat diensleraars ’n unieke vermoë besit om die evangelie konkreet en relevant aan mense oor te dra. Hulle bied nuwe perspektiewe, vars energie en innoverende praktyke wat hoop in gemeentes wakker maak en die kerk se toekoms help vorm. Diensleraars is daarom meer as net ’n oplossing vir ’n tekort aan voltydse leraars – hulle is ’n lewende teken van hoe God se roeping mense juis in hulle gewone werks- en leefwêrelde gebruik om sy kerk op te bou en te onderhou.
Ds Karlie Liebenberg is predikant by Bredasdorp-gemeente (’n saamgevoegde gemeente van die NG Kerk Bredasdorp en die VG Kerk Bredasdorp).
Vele in die bediening soek mentors en kultuur van begeleiding
Nuwe navorsing toon diensleraars in die NG Kerk soek gereelde en betekenisvolle ontmoetings met mentors. Annamari de la Harpe doen verslag.
Wat as 8 uit elke 10 diensleraars sê mentorskap is die belangrikste ondersteuning wat hulle nodig het?
“Dit skep ’n gemeenskap wat saam dink, waar ’n mens veilig jou vrese kan deel en saam opgewonde kan wees oor die toekoms, om uiteindelik effektief te bedien waar hulle geroep word,” sê dr Marnus Havenga in ’n onderhoud met Kerbode. Havenga is Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir Teologiese Opleiding, verbonde aan die Seminarium by Universiteit Stellenbosch.
Hierdie woorde weerklink kragtig in die bevindinge van ’n onlangse navorsingstudie deur die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode, wat die kritieke rol van mentorskap in diensleraars se bediening beklemtoon.

Die syfers spreek
Die nuutste navorsing onder 116 gelegitimeerde diensleraars in die NG Kerk – waarvan meer as twee derdes dit voltooi het – onthul ’n oorweldigende tendens: 80% van respondente beskou mentorskap as krities belangrik vir ondersteuning in die eerste vyf jaar na legitimasie. Dit oortref betekenisvol enige ander vorm van ondersteuning, insluitende verdere opleiding (59%) of ondersteuning ten opsigte van kerkordelike aspekte (56%). Die bediening kan ’n baie eensame reis wees en hierdie statistiek lig die feit uit dat die eerste vyf jaar ’n vormingsfase is waar ondersteuning die verskil maak tussen alleen worstel en gesonde groei.
Tans neem ’n drie-kwart van diensleraars deel aan mentorverhoudings en van diegene wat mentors het, beskou ongeveer 9 uit 10 dit as sinvol of baie sinvol. Die positiewe ervarings van die meerderheid bevestig dat mentorskap ’n werklik sinvolle en lewensvatbare vorm van ondersteuning bied. Terwyl die oorgrote meerderheid mentorskap hoog ag, verkies ’n kleiner groep ander vorme van ondersteuning. Dit wys dat mentorskap nie die enigste antwoord is nie, maar wel die mees sentrale.
Hierdie statistieke vertel egter net die helfte van die verhaal. Terwyl die syfers duidelik wys dat diensleraars mentorskap as onontbeerlik beskou, roep dit die vraag op: Wat maak dat mentorskap ’n lewenslyn word eerder as bloot nog ’n vorm van ondersteuning?
Die antwoord lê in die veelkantige aard daarvan wat mentorskap so onontbeerlik maak. Dit vra van ons om nie net na die data te kyk nie, maar na hoe dit werklik gestalte kry in die daaglikse lewe van diensleraars.

Meer as net raad
Waar die syfers die omvang van die behoefte aantoon, vertel die persoonlike verhale van die diepte daarvan. Diensleraars beskryf mentorskap as veel meer as net professionele ontwikkeling. Hulle smag na vertrouensverhoudings – plekke waar hulle eerlik kan wees oor hulle worsteling en onsekerhede sonder vrees vir oordeel. Hulle soek ’n veilige ruimte waar hulle uitdagings verstaan word en waar iemand werklik luister.
Diensleraars beklemtoon herhaaldelik hulle behoefte aan praktiese begeleiding en blootstelling. Hulle wil nie net teoretiese kennis hê nie; hulle wil weet hoe om moeilike situasies te hanteer, hoe om in uitdagende gemeentekontekste aan te pas en te navigeer, en hoe om hulle eie beperkinge te verstaan en te aanvaar. “Dit is ’n proses van saam onderskei,” sê Havenga. “Deur gesprek en begeleiding begin wysheid na vore kom.”
Die seminarium raak die oorbrugging van akademie en praktyk alreeds tot ’n mate aan deur te verseker dat elke student wat vir formele opleiding aanmeld, reeds tydens sy/haar studies ’n mentor het. Hierdie benadering help om die oorgang van teoretiese studie na praktiese bediening meer naatloos te maak.

Maar miskien die belangrikste is die soeke na dissipelskap. Havenga meld: “Van die vroegste tye af, as ons dink en kyk na bediening, is dit nie goed as dit in isolasie geskied nie. Die Bybelse verhale het ’n klomp voorbeelde van mentorskap wat geskied, maar ook daarna in die geskiedenis sien ons dit keer op keer hoe persone saam met ander stap.”
Die data toon ook dat nuwe diensleraars sterk die behoefte voel om nie alleen te staan in die vroeë vormingsjare van hulle bediening nie. Hulle soek gereelde, betekenisvolle ontmoetings met mentors wat nie net hulle professionele ontwikkeling nie, maar ook hulle persoonlike geloofsreis kan begelei en ondersteun.
Gapings wat gevul moet word
Daarbenewens beklemtoon die navorsing ook betekenisvolle uitdagings. Sommige diensleraars bevind hulleself geografies geïsoleerd, veral in plattelandse gemeenskappe waar mentors skaars is. Ander ervaar dat potensiële mentors te besig is met hulle eie bediening om betekenisvolle begeleiding te kan bied.
’n Meer subtiele uitdaging ontstaan wanneer ervare leraars ongemaklik voel met die idee van diensleraars wat toenemend verantwoordelikhede oorneem. Hierdie dinamiek kan mentorverhoudings kompliseer en nuwe diensleraars laat voel asof hulle hulle plek moet verdien eerder as dat hulle verwelkom word as vennote in die bediening.
Havenga erken ook die leemte ten opsigte van hulpbronne en toerusting vir mentors. Dit gaan oor meer as net die oordrag van kennis; dit handel oor die skep van ruimtes waar mentors en mentees saam kan soek na wysheid deur betekenisvolle onderskeiding. Ons verwys te dikwels na mentorskap as ’n natuurlike vaardigheid, maar effektiewe begeleiding vereis spesifieke vaardighede waarvoor dringende opleiding nodig is. Daarbenewens moet die kerk mentors met vrymoedigheid intrek in prosesse waar wedersydse leer en groei kan plaasvind.
Wat staan die kerk te doen?
Ons vra nie meer óf diensleraars mentorskap nodig het nie. Die vraag is eerder: hoe gee ons dit gestalte? Die navorsingsbevindings nooi die kerk uit om ’n kultuur van begeleiding te skep.
Vir gemeentes beteken dit dat mentorskap nie ’n bykomstigheid is nie, maar ’n kernverantwoordelikheid. Vir ervare leraars beteken dit dat hulle die begeleiding van die volgende generasie (nie alleenlik diensleraars nie) as deel van hulle roeping moet sien, nie as ’n las wat hulle moet dra nie. En vir die kerk as institusie beteken dit dat ons die sisteme, hulpbronne en strukture moet skep wat betekenisvolle mentorverhoudings moontlik maak en volhoubaar hou.
Ds Annamari de la Harpe is leraar by NG Kerk Greyton.
Wat lê in ’n woord? Die spanning tussen predikante en diensleraars
Die verskillende ampte in die NG Kerk bied nuwe bedieningsmoontlikhede, maar ook wrywing tussen die dominees, berig Hendrien van Vliet.
Diensleraars. ’n Woord wat in heelwat gesprekke en verslae al vorendag gekom het. Die diensleraaropleiding, die beroepingsproses, en die kerkordelike riglyne. Heelwat gemeentes maak al gebruik van diensleraars, waarvan die eerste groep in 2020 gelegitimeer is. Maar die gebruik van diensleraars is nie noodwendig vir gemeentes ’n geleentheid om nóg ’n predikant te beroep nie. Vir baie gemeentes is dit die enigste manier om ’n dominee te bekostig, en dit kom nie sonder opposisie en wrywing nie. In die groter NG kerkverband is daar ’n verwelkomende openheid vir diensleraars, juis omdat dit soveel nuwe moontlikhede oopmaak vir beide lidmate wat geroepe voel, en gemeentes wat wil beroep. Maar daar is nog steeds ’n tipe agterdog, veral onder predikante, wat hierdie baan van opleiding “die kortpad” noem.


“Ons het die ‘tag’ donkies op ons geneem kort voor ons legitimasie, na aanleiding van Andrew Murray se donkies, die sendelinge wat onder hom opgelei is,” vertel dr Tom Smith, moderator van die Hoëveld Sinode. Hy was deel van die eerste groep diensleraars wat gelegitimeer is in 2020. Die donkies voel geroep om te dien. Om die evangelie in te dra in die wêreld en hulle onderskeie kontekste, soos die donkie ook vir Jesus in Jerusalem ingedra het.
In die geval van Smith, wat ’n wye draai geneem het met sy teologiese studies, beskik hy oor menige nagraadse kwalifikasies in Teologie, en deur die diensleraarroete te volg, kan hy nou dien op verskeie vlakke binne die NG Kerksisteem. Hy, en vele ander diensleraars, beliggaam die dienende donkies op ’n besondere wyse. Ds Schalk van Heerden, verbonde aan Fontainebleau Gemeenskapskerk en stigterslid van die NWO Betereinders, is ook in 2020 as diensleraar gelegitimeer. Hy dra met trots die bynaam. Maar sy pad kom nie sonder uitdagings nie. “Teologie is iets wat verklap word deur taal. Teenoor diensleraar hoor ek sommige ooms praat van vol-leraars; wat my dan seker half-leraar maak. Dalk 80%, hopelik nie 30% leraar nie. Die moeite om in spraak, webtuistes, agendas, ensovoorts daardie ‘diens-’ te onthou is baie goed vir my. ’n Dienaar wat wil onthou, ek’s ’n donkie. Ek wonder wel of dit goed is vir die ‘vol’, ‘regte’, loopbaan-dominees.” Hierdie wrywing kan gevoel word wanneer aan benaming gedink word. Beide leraars en diensleraars word ‘dominee’ genoem. Vir die sinode van Kwazulu-Natal het dit gelei daartoe dat diensleraars as ‘hulpleraars’ bekend sal wees. Hierdie benaming kan verdere verwarring veroorsaak.

‘Bekostigbaarheid’ se rol
Die verskille tussen leraar en diensleraar is in die kerkorde duidelik. Diensleraars wat nie bevestig is in ’n gemeente nie, kan nie die sakramente bedien nie, terwyl proponente wel kan. Diensleraars staan onder die toesig van die betrokke ring (so ook predikante), maar ook onder die toesig van ’n kollega in die gemeente. En hoewel die kerkorde dit so vereis, weet ons ook uit ervaring en gemeentestories uit die verskillende sinodes, dat die praktyk lankal anders werk omdat heelwat gemeentes nie meer voltydse predikante kan bekostig nie. Bekostigbaarheid speel ’n rol in die beroepingsproses. Volgens die diensleraar-navorsingopname en die predikantepaneel van 2025, soos uitgestuur deur die Algemene Sinode se Taakspan Navorsing, beoefen byna 52% van diensleraars werksaam in gemeentes ’n ander beroep, en slegs 25% van diensleraars staan in ’n voltydse permanente pos. Daarteenoor staan amper 70% van predikante in ’n voltydse permanente pos, hetsy onbepaald of vaste termyn. Is daar dus ’n finansiële element betrokke by die wrywing tussen predikante en diensleraars? Dat gemeentes eerder die goedkoper opsie sal kies, want dit is die finansiële situasie waarbinne die NG Kerk tans funskioneer? Ek, wat self in die bevoorregte posisie is om nog in ’n voltydse permanente pos te staan, kan myself indink dat dit ’n belangrike kwessie is vir predikante wat opgelei is as teoloë, en slegs as teoloë. Daar is nie juis ander werksvooruitsigte vir iemand wat vir ses of sewe jaar teologie geswot het, en nie opgelei is om ’n ander beroep te beoefen nie.
Groeipyne en samebinding
Maar, hoewel daar verskille en groeipyne is tussen die twee ampte, is daar ook baie wat ons saambind. Volgens dieselfde opnames is dit duidelik dat sowel leraars as diensleraars sterk voel oor hulle eie roeping, maar ook die roeping wat lidmate in gemeentes beleef en om hulle te bemagtig om dissipels te word in die koninkryk. 100% van respondente in beide kategorieë het gesê dat hulle glo hulle is verteenwoordigers van Christus in die wêreld en die gemeenskap, en ten spyte van die wrywing wat ervaar word op breër kerkvlak, het 86% van diensleraars gesê hulle het ’n besonderse goeie verhouding met hulle kollegas in die gemeente, en 70% het gesê hulle het goeie verhoudings met kollegas in die breër kerkverband.
Is dit nie maar die situasie waarin die NG Kerk haarself deesdae al meer bevind nie? Dat verskille en wrywing uitgelig word, maar dit wat ons saambind ’n bysakie word. Die kerk het genoeg ruimte vir lidmate en gelegitimeerdes om hulle roeping uit te leef, en ons sien dit in die manier hoe hierdie roeping ernstig opgeneem word deur al die ampte, ook die amp van die lidmaat. Lidmate wat lankal werksaam is in gemeentes, en nou die geleentheid het om ’n roeping ook uit te leef. Om te dien. Soos die donkie.
Ds Hendrien van Vliet is ’n leraar by NG Kerk Kempton-Hoogland.

Diensleraars is geen kortpad na die bediening nie
Data oor diensleraars weerlê aannames rondom dié nuwe baan van teologiese opleiding in ’n NG Kerk met ’n groot predikanttekort: Dit is geen kortpad nie … en nie beperk tot klein plattelandse gemeentes nie. Diensleraars, waarvan sowat 52% steeds ’n ander beroep saam met hulle bedieningsverantwoordelikhede beoefen, bring verskeie ontwikkelde gawes en diverse bevoegdhede na die bediening, berig Erick Zulch.
Met die toenemende opleiding, legitimasie en bediening van diensleraars in die NG Kerk, werp die Algemene Sinode se Taakspan Navorsing (ATN) lig op die huidige en moontlik toekomstige landskap van leierskap in die NG Kerk.
Vir baie is die saak rondom diensleraars ’n vae en spanningsvolle vraagstuk met min amptelike en begeleidende riglyne. Saam met die Algemene Kuratorium se uiteensetting van teologiese opleiding in die verband, Geroep, gevorm, gestuur (2022), asook die nuwe data ingesamel deur die ATN, kan die vervaagde beeld moontlik duideliker word.
Die reaksie op ’n onlangse ATN-vraelys, wat deur byna negentig diensleraars ingevul is (dit wil sê 75% van alle huidige diensleraars), word daar lig gewerp op hierdie nuwe terrein. Hierdie navorsing bied die geleentheid vir enkele gewaarwordinge.
Ontwikkelde gawes
Diensleraars is tipies persone wat reeds in verskeie loopbane ervaring opgedoen het. Terwyl die meeste diensleraars wat die bediening voltyds betree dit as tweede of derde loopbaan aanpak, blyk dit uit die data dat sowat 52% tans steeds ’n ander beroep saam met hulle bedieningsverantwoordelikhede beoefen. Die omvang van hierdie beroepe, ook vasgevang in die vraelyste van die taakspan, sluit in dié van onderwys, polisie, boekhouding, sending, vakmanskap en vele ander. Bykomend blyk dit dat die grootste gros tans tussen die ouderdom van een-en-veertig en sestig is. Diensleraars bring dus nie net ryk roepingsverhale na die tafel toe nie, maar ook verskeie ontwikkelde gawes en insig aangaande ’n diverse reeks bevoegdhede en loopbane.
Volgens dr Yolande Steenkamp, dekaan van die Skool van Teologie en Bediening by Hugenote Kollege op Wellington, is die lewenservaring van ouer voltydse en deeltydse studente wat beoog om diensleraars te word, ’n onmeetbare geskenk aan die kerk. “Nie net word ander vrae aan die teologie gevra nie, maar word dit ook anders geïntegreer,” vermeld Steenkamp wat vertroud is met die pad wat diensleraars moet stap om gelegitimeer te word en sodoende die impak van lewenservaring op die studie van teologie eerstehands beleef.
Impak ook in stede
Hoewel daar tans steeds verskeie vraagstukke rondom die strukturele ondersteuning aan diensleraars en gemeentes bestaan, stel die data uit die 2025-vraelyste die kerk in staat om enkele gewaarwordinge oor moontlike toekomstige tendense te bepaal. Opvallend uit die data versamel deur die Algemene Bevoegdheidsraad, is daar in 2025 meer diensleraars as predikante gelegitimeer. Alhoewel daar nie tans ’n konkrete toekomstige tendens hieruit geïdentifiseer kan word nie, is dit duidelik dat diensleraars in die NG Kerk nie ’n kleinskaalse verwikkeling is nie, maar wel ’n sentrale en moontlik toenemende impak mag hê in die uitvoering van die amp. Hierdie moontlike impak is ook nie soos sommige mag dink net gebonde aan plattelandse kontekste nie, soos duidelik gemaak deur die 50% van diensleraars wat reeds in stedelike gebiede bedien.
Hiermee saam is dit duidelik uit die navorsing dat diensleraars verskeie vooroordele as verwronge persepsies uitmaak. Vir dié wat graag sou wou verklaar dat dit ’n kortpad is na die bediening, dui die navorsing aan dat die meeste diensleraars nie klaar gestudeer is nie. ’n Derde van die hele steekproef wil nie net verder studeer nie, maar graag uiteindelik alle nodige kwalifikasies en teologiese opleiding ontvang om as leraar met volle bevoegdheid gelegitimeer te word. Ook in stryd met vooroordele, dui die meeste diensleraars aan dat hulle “baie gereeld”, “gereeld” of “ten minste soms” die Skifgedeelte waaruit hulle preek in die grondtaal (soos Grieks en Hebreeus) bestudeer. Dit staan parallel met die 65% van predikante wat dieselfde in 2021 se Predikantepaneel aangedui het.
Alhoewel daar tans ’n wesenlike gaping is tussen die werklikheid van gemeentes se behoefte aan leraars en dié van ’n kerklike struktuur wat nog vele ondersteunende en begeleidende riglyne moet formuleer, bied die ATN se navorsing oor diensleraars verfrissende en noodsaaklike insig op die saak. Hierdeur mag die kerk die onbekende landskap van leierskap in die toekoms begin karteer.
Ds Erick Zulch is leraar in Kaapstad by NG Kerk Drieankerbaai en die Groote Kerk.

