Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Ongeveer 50% van persone wat gelegitimeer word in die NG Kerk is diensleraars.” So lei prof Cobus van Wyngaard, voorsitter van die Algemene Sinode Taakspan Navorsing, ’n onlangse gesprek oor tendense binne die NG Kerk in. Perspektief: In 2023 het 26 tradisionele dominees afgestudeer. Die ander groep van 29, was almal diensleraars. Hierdie vars statistiek wys dat die NG Kerk dit binne ’n tydperk van vyf jaar reggekry het om die getal beroepbare afgestudeerdes te verdubbel, berig Chris de Vries in die verslag hieronder. Foto: Le Roux Schoeman

Deel 1: Diepte-artikel: Hoe lyk die impak wat diensleraars op gemeentes en gemeenskappe het?

Gesonde gemeentes word deur spanne gelei en diensleraars en opgeleide lidmate (Bedienaars) het ’n groot bydrae om te lewer om meer gawes aan die kerk te ontsluit, soos ook onlangs in ’n verslag oor die daling in predikanteposte uitgewys word.

Die verskynsel van “ampsverbreding” in die NG Kerk verwys na die opleiding van “predikante (wat steeds ‘n sleutelrol in die kerk sal speel), maar ook diensleraars (net soos predikante gelegitimeer) en bedienaars (vrywillige bediening) wat gemeentes in staat stel om met sinvolle bediening voort te gaan,” luidens die verslag. Diensleraars, dominees en bedienaars ding nie teoreties met mekaar mee nie, maar tog is daar vrae oor hoe dinge in praktyk die afgelope vyf jaar uitspeel. Hierdie diepte-artikel kyk na diensleraars: Die data en die mense. (Die opvolg-artikel kyk na Diensleraars oor hulle ander beroepe, die waarde van mentors en ’n kultuur van begeleiding)

Deelnemers aan die jaarlikse Slypskool vir Skrywers, wat Kerkbode vroeg in September in samewerking met die Taakspan Navorsing in Gauteng aangebied het, kon hulle beriggewing fokus op presies dié aktuele onderwerp: Diensleraars en die impak wat hierdie nuwe baan van teologiese opleiding op gemeentes en die NG Kerk in geheel het. Ons publiseer hiermee die eerste aflewering van die skryfwerk deur deelnemers van regoor die land. 

  • Shaun Darker skryf: Diensleraars bring vars energie in sisteme wat gestagneer het
  • Guillaume Smit vra: Wat word diensleraars alles geleer?
  • Chris de Vries berig: In 2023 het 26 tradisionele dominees afgestudeer. Die ander groep van 29, was almal diensleraars
  • Anje Zeeman verken: Grys areas in terme van kerkreg

 

Wanneer getalle nie genoeg is nie – ’n balans tussen ‘hoeveel’ en ‘hoe goed?’

 

Diensleraars herinner ons dat God se roeping nie meetbaar is in statistiek nie, maar sigbaar word in mense wat met vars energie en toewyding dien, skryf Shaun Darker. 

 

Die 2025-predikantpaneel skets ’n ontnugterende prentjie van die NG Kerk se leraarskorps. Meer as 55% van predikante is ouer as 50. Voltydse onbepaaldetermynposte het binne twee jaar met 16% gedaal, terwyl emeritusposte in dieselfde tydperk verdubbel het. Met net enkele kandidate vir legitimasie in 2025 is dit duidelik: die tekort is nie net ’n verre dreigement nie, maar ’n groeiende werklikheid.

Maar die krisis gaan nie net oor getalle nie. Dit gaan ook oor vaardighede. Predikante word toenemend gekonfronteer met ’n wêreld wat vra vir meer as tradisionele bediening. Hulle moet vaardig wees in konflikhantering, digitale media, multikulturele bediening en die kuns om Bybelwaarhede relevant te maak vir mense wat al hoe minder kerk toe kom.

Die kerk staan dus in ’n dialektiek: om opleiding te verkort, dra die risiko van oppervlakkigheid; om dit te behou, dra die risiko van skaarsheid. Albei kante verteenwoordig egte bekommernisse – die volhoubaarheid van gemeentelike bediening hang af van ’n balans tussen hoeveel en hoe goed.

’n Lewensaar vir gemeentes

In hierdie landskap staan diensleraars as ’n verrassende teenwig. Hulle is nog besig met opleiding, maar reeds aktief in bediening. Vir gemeentes wat nie ’n voltydse leraar kan bekostig of bekom nie, word ’n diensleraar dikwels ’n lewensaar.

Hierdie lewensaar vul die onmiddellike tekort aan mense. Met elke hartklop is daar predikers op kansels, jeugwerkers in skole en versorging in hospitale. Gelowiges wat hulle roeping en passie uitleef in kerk en gemeenskap. Hierdie manier van kerkwees is aansteeklik – só wys die 60% groei in diensleraargetalle oor die afgelope vyf jaar.

Gemeentes as leeromgewings

Die teenwoordigheid van diensleraars wek gemeentes tot nuwe lewe en bring vars energie in sisteme wat gestagneer het. Een van die waardevolle effekte is dat hulle gemeentes dwing om leeromgewings te word.

’n Diensleraar is nie ’n klaargemaakte produk nie. Die gemeente self word deel van die opleidingsproses – en dit vra geduld, maar bring ook groei. Hierdie proses is niks anders as dissipelskap in murg en been nie. Só verander die rol van die gemeente: van ’n ontvanger wat ’n voltydse predikant of dan “verbruiker”, na ’n medeskepper van toekomstige diensleraars of dan “missionale instansie”.

Teologiese suurstof

Die lewensaar van diensleraars is ook ryk aan teologiese suurstof, daar is geen tekort of anemie nie. Diensleraars ontvang opleiding tot op BTh-vlak, met fokus op een van vier rigtings: prediking, jeugwerk, barmhartigheid of pastoraat. Die diensleraarvraelys van 2025 beklemtoon verder ’n honger vir akademiese verdieping. Meer as 62% van diensleraars wil ná legitimasie voortgaan met nagraadse studies. Hulle leergierigheid is opvallend – ten spyte van die voortdurende spanning tussen studie, bediening en tyd.

Hoop tussen die tekorte

Diensleraars wys vir ons dat ’n tekort nie net ’n bedreiging is nie, maar ook ’n geleentheid. Hulle bring hoop deur die gaping tussen hoeveel en hoe goed te oorbrug. Hulle herinner ons dat die Here se roeping nie vasgevang kan word in statistiek of afnemende poste nie, maar dat Hy sy kerk bou deur mense wat bereid is om te dien. Soos die teoloog David Bosch dit stel: “The church is the church only when it exists for others … she is the instrument of God’s mission, not an end in herself.”

Hierdie perspektief plaas selfs die leraarstekort in ’n ander lig. Die vraag is nie net hoeveel predikante ons het nie, maar of ons bereid is om ons as instrumente in God se hand te laat gebruik.

Wanneer diensleraars kansel toe klim, jeuggroepe lei of gemeentes begelei, sien ons ’n klein maar kragtige teken van God se groter verhaal. Hulle word herinneringe dat die toekoms van die kerk nie deur getalle bepaal word nie, maar deur die getrouheid van God en die gehoorsaamheid van sy mense.

Ja, die kwantitatiewe werklikheid is ontnugterend: minder predikante, minder poste, meer druk op kleiner gemeentes. En ja, die kwalitatiewe uitdaging is groot: ons het leraars nodig wat met wysheid, vaardigheid en diepte kan lei in ’n komplekse tyd. Maar tussen hierdie twee spanninge ontdek ons dat God steeds sorg – soms deur onwaarskynlike instrumente.

Die uitdaging aan ons almal is om die tekort nie net as ’n gevaar te sien nie, maar as ’n uitnodiging. ’n Uitnodiging om anders te dink oor bediening, om meer aktief deel te neem in vorming, en om met geloofsmoed te sê: “Ons het dalk nie alles wat ons gehad het nie, maar ons het steeds genoeg om die Here se roeping uit te leef.”

Diensleraars is die gesig van daardie hoop – stemme wat fluister (en soms skree): “Die kerk leef, God roep! en “die toekoms is steeds helder.”

Ds Shaun Darker is leraar by NG Gemeente Welkom-Suid.


Wat word diensleraars alles geleer?

 

Die Sistematiese Teologie fokus op die verkenning van die Drie-eenheid – Vader, Seun en Gees, die verlossingsleer, eskatologie en etiek. Studente kry ’n oorsig oor die kerkgeskiedenis en hoe die gereformeerde tradisie by die groter geheel inpas, verduidelik Guillaume Smit.

 

“Ons moes die Bybelse grondtale bemeester om as leraars gelegitimeer word. Nou kan diensleraars sonder hierdie vereiste as dominees in gemeentes werk. Hoe is dit moontlik?”

Ds Shaun Darker van Welkom-Suid se vraag by die vraag-en-antwoord-sessie tydens die onlangse Skrywerslypskool wat deur Kerkbode aangebied, het by al die deelnemers geresoneer.

Opvallend in kontras, egter, was statistiek wat ook by die skryfskool deur prof Cobus van Wyngaard gedeel is. Uit die Algemene Taakspan Navorsing se gereelde opname onder diensleraars blyk dit dat ongeveer 80% van gelegitimeerde diensleraars gereeld die grondtale raadpleeg. Hoe is dit dus moontlik dat diensleraars sonder die formele verwagting aan grondtale, hulleself tog ingrawe in Hebreeus en Grieks wanneer hulle preek maak? Wat word diensleraars alles geleer?!

In-persoon klasse by Hugenote Kollege vir die maatskaplikewerkstudente. Teologieklasse is volledig aanlyn.

Geakkrediteerde opleidingsinstansies

In die NG Kerk kan ’n mens ’n diensleraar word na die verkryging van ’n BTh-graad by een van die kerk se geakkrediteerde opleidingsinstansies – Universiteit Stellenbosch (US), Universiteit van Pretoria (UP), Universiteit van die Vrystaat (UV) en Hugenote Kollege (HK). In die geval van reeds-gegradueerdes moet voornemende diensleraars ’n Nagraadse Diploma in Teologie (NDT) verwerf. In alle gevalle moet voornemende diensleraars ook aanmeld by hulle naaste kuratorium om ’n kerklike vormingsprogram te deurloop. Die huidige tendens is dat sowat 60% van diensleraarstudente by Hugenote Kollege inskryf om hierdie aanlyn BTh-graad te voltooi. Dit maak dus sin om te vertel wat Hugenote Kollege aan voornemende diensleraars leer, wetende dat die kollege maar een van verskeie rolspelers is.

Tweedeloopbaanstudente

HK se BTh-program is ontwikkel om tweedeloopbaanstudente in staat te stel om te studeer terwyl hulle steeds voltyds werk. Tegelyk kry studente direkte praktiese opleiding in hulle tuisgemeentes, onder andere deur werkstukke en praktiese take wat in die gemeente voltooi moet word. Elkeen van die drie studiejare het vyf vakke wat elkeen 24 akademiese krediete werd is. Dit beteken prakties dat studente 240 studie-ure aan elkeen van hierdie 15 vakke moet spandeer om dit suksesvol te voltooi. HK-studente kan hulle studies beplan om dit voltyds (in drie jaar) of deeltyds (drie tot sewe jaar) af te handel.

Deelnemers aan die jaarlikse Slypskool vir Skrywers wat Kerkbode vroeg in September in samewerking met die Taakspan Navorsing in Gauteng aangebied het, kon hul beriggewing fokus op presies dié aktuele onderwerp: Diensleraars en die impak wat hierdie nuwe baan van teologiese opleding op gemeentes en die NG Kerk in geheel het.

Vyf vakke oor drie jaar

Die vyf jaarlikse vakke word gelyklopend bestudeer – die Bybelwetenskappe word as ’n jaarmodule regdeur die akademiese jaar bestudeer. In die eerste semester van elke jaar word studente blootgestel aan Sistematiese Teologie en Praktiese Teologie en Missiologie, terwyl die tweede semester aandag gee aan Kerkgeskiedenis en Spiritualiteit en weer Praktiese Teologie en Missiologie. “Ons oogmerk met ons afgestudeerde studente is geïntegreerde vorming, waar die verskillende teologiese vakke mekaar aanvul om die studente se vermoë om geloofsonderskeidend met die teologie om te gaan, uit te bou,” het dr Yolande Steenkamp, dekaan van die Skool vir Teologie en Bediening by Hugenote Kollege, verduidelik.

Die skrywer (middel) is programkoördineerder van die BTh-graadprogram by Hugenote Kollege op Wellington.

Bybelwetenskappe

Die fokus van die Bybelwetenskappe is die aanleer van eksegetiese vaardigheid. Alle diensleraars verkry preekbevoegdheid, dus is dit noodsaaklik dat hulle leer hoe om die Bybel te bestudeer. Hulle word verplig om met die tekste self te werk, en die argumentlyne van die teksgedeelte te identifiseer. Dit is hier waar hulle blootstelling gegee word aan die grondtale en sagteware soos Logos wat hulle tot die grondtale toegang gee. Hulle moet ook die wêreld waarin die tekste ontstaan het, leer ken, en word uiteindelik begelei om die brug te bou na ons moderne konteks. Hierbenewens bestudeer studente die Pentateug sowel as die Sinoptiese Evangelies, die profetiese geskrifte en die briewe van Paulus, en in die derde jaar die Wysheidstekste en Psalms asook die Johannese geskrifte en Hebreërs.

Sistematiese Teologie, Kerkgeskiedenis en Spiritualiteit

Die Sistematiese Teologie fokus op die verkenning van die Drie-eenheid – Vader, Seun en Gees, die verlossingsleer, eskatologie en etiek. Studente kry ’n oorsig oor die kerkgeskiedenis en hoe die gereformeerde tradisie by die groter geheel inpas. Hulle word blootgestel aan ’n onderskeidende spiritualiteit wat hulle vermoë ontwikkel om te reflekteer oor hulle geestelike reis en hoe dit oorgedra kan word in die gemeente.

Praktiese Teologie en Missiologie

In die modules vir Praktiese Teologie word aandag gegee aan Prediking en Liturgie, Jeugbediening, Pastoraat en Gemeentebediening. In die Gemeentebedieningsmodule kry studente ook ’n oorsig oor die kerkreg en hoe hulle eie kerklike tradisies se kerkreëls opgestel is. (Ongeveer 50% van HK-studente kom uit ander kerklike tradisies as die NG Kerk.) Hulle bestudeer in Missiologie Gemeenskapsdiakonaat en verkry laastens ’n oorsig oor ander godsdienstige tradisies. In hulle finalejaar moet die studente ’n proefpreek in hulle gemeente lewer. Op hierdie manier word sowel hulle eksegetiese vaardigheid en preekvaardigheid as liturgiese aanvoeling geëvalueer.

Artikulasie vir verdere studie

HK beplan om binne die volgende paar jaar die BTh-aanbod uit te bou. Ons is tans in die pylvak met die akkreditasie van ’n BTh-Honneursgraad. Hierdie graad gaan studente in staat stel om te artikuleer na meestersgraadstudie by die ander kerklike opleidingsingstansies, en indien hulle die grondtale voltooi, ook legitimasie as gemeenteleraars. Sowat 50% van studente wat die BTh-graad behaal het of die NDT voltooi het, oefen die keuse uit om hulle studies voort te sit om uiteindelik aan die vereistes vir ’n gemeenteleraar te voldoen.

Dr Guillaume Smit is programkoördineerder van die BTh-graadprogram by Hugenote Kollege op Wellington.


Gehoor op RSG | Podsending: Le Roux Schoeman vertel meer oor die 5de Slypskool vir Skrywers


Die klokke lui: bruilof of begrafnis: ’n Berig oor diensleraars in die NG Kerk

 

Chris de Vries

“Ongeveer 50% van persone wat gelegitimeer word in die NG Kerk is diensleraars.” So lei prof Cobus van Wyngaard, voorsitter van die Algemene Sinode Taakspan Navorsing, ’n gesprek in. Perspektief: In 2023 het 26 tradisionele dominees afgestudeer. Die ander groep van 29, was almal diensleraars. VYF-TIG-PER-SENT +. Hierdie vars statistiek wys dat die NG Kerk dit binne ’n tydperk van vyf jaar reggekry het om die getal beroepbare afgestudeerdes te verdubbel.

Dit lyk na ’n moontlike groeiende tendens. In 2024 is daar 47 individue gelegitimeer vir bediening in die NG Kerk. Sowat 30 van daardie gelegitimeerdes was diensleraars. Daar is verskeie redes vir hierdie skerp groeikurwe. Die oploop van verdere ontwikkeling en uitbreiding van die ampte in die NG Kerk, kom al ’n lang pad.

Die kerk het drie ander bedieningsbane daargestel en nou is daar predikant / gemeenteleraar, diensleraar, bedienaar, standplaasleraar. 

 

Ontmoet Hanneke Meyer (83)

“Hallo! Askies, ek het jou oproep gemis!” gesels tannie Hanneke Meyer toe sy my 22:37 Woensdagaand terugbel. Hierdie gesprek gebeur tydens Kerkbode se jaarlikse Slypskool vir Skrywers, vanjaar op 02-04 September 2025 te eMseni, Benoni.

Tannie Hanneke is ’n merkwaardige vrou. Sy het vir 35 jaar skool gegee, en het tussendeur dit ook vyf jaar vir die CSV gewerk, omdat geestelike begeleiding van kinders vir haar ’n roeping is. Sy trou later in haar lewe. Sy en haar man ontvang twee pragtige kinders. Na slegs sewe jaar van getroude lewe, sterf haar lewensmaat. Skielik. Tragies. Die lewe gebeur.

Na aftrede, op 68, skryf sy by die UV in vir ’n paar teologiese klasse.

“Toe ek by die eerste klas instap, het ek geweet ek wil die hele kursus doen. Ek het ’n verlange gehad …”

Na ses jaar, net soos die ander voltydse studente, maak tannie Hanneke klaar met haar volledige leraarskursus. Cum Laude. Langenhovenpark-gemeente bied haar ’n deeltydse nie-amptelike kontrak aan met opdrag Senior bediening: Pastorale Begeleiding en Ondersteuning. Sy kan as gevolg van kerkordereëls ongelukkig nie bevestig word nie (spesifiek aftree-ouderdom). Daarna trek sy Westerbloem toe, en is die helder klok van die evangelie daar vir vyf jaar.

“Ek het alles gedoen wat ’n dominee kon doen: Visitasies, prediking, Bybelstudies, alles!”

Oor die ongemaklikheid dat sy nie bevestig kan word nie, merk sy op: “Ek het dit nie vir die kerk gedoen nie; Ek het dit vir die Here gedoen.”

Tannie Hanneke lewe haar volste lewe. Sy ervaar hoe God haar gebruik. Sy is nou 83, en bedien steeds. Bedienaar. Haar storie en passie is mooi.

Hier is die groep in ’n neutedop:

  • Die gemiddelde ouderdom van diensleraars is tussen 40 en 60 jaar.
  • 48% van hierdie groep van 110 diensleraars, staan in een of ander formele gemeentelike pos.
  • Hulle is meestal jare al diensbaar in die kerk – betaald of onbetaald.
  • Die gemiddelde aantal jare wat hierdie groep lidmate van die NG Kerk is, is 20 tot 27 jaar.

Tannie Hanneke & Kie is ongelooflik lojaal, wys en gehoorsaam. Hulle het meestal almal al die harde klippe van die lewe gekou. Hulle is kundig op ’n klomp ander lewensgebiede ook. ’n Videogreep van ’n diensleraar word vir ons gespeel. ’n Boer-dominee. Hy getuig oor sy pad tot diensleraar. Riata Nel van Communitas, wat ook die slypskool meemaak, merk na die tyd op: “Hy het lewenservaring. Ek sal eerder by hom gaan sit as by iemand wat nou net afgestudeer het.”

Iemand se selfoon lui – die deuntjie is helder luiende kerkklokke. Laat ’n mens nogal dink. Deur die eeue lui kerke hulle klokke tydens groot gebeurtenisse. Troue. Tragedie. Geboorte. Begrafnis. Paasfees. Jubelende klokke op Opstandingsondag. Nuwe dopelinge. Selfs in die 2de Wêreldoorlog as waarskuwing vir Duitse invalle in Brittanje. Deur die eeue lui die klokke by die aankondiging van nuwe leiers. Nuwe era’s. Die klokke lui, en dit beteken iets groots is aan die gebeur. Iets is aan die verander.

Chris de Vries (links) berig: Die gemiddelde ouderdom van diensleraars is tussen 40 en 60 jaar. En 48% van hierdie groep van 110 diensleraars, staan in een of ander formele gemeentelike pos.

Die statistieke is ’n kerkklok. En dit lui.

57% van hierdie 120 persone, dui aan dat hulle ook nog betrokke is in bedieninge buite hulle eie gemeentes.

Dít lui vir my soos evangelie.

40% van hierdie groep mense, sê dat hulle in hulle gemeente se diens wil bly. Boonop, dui nog 37% aan dat hulle daarvan sal hou om selfs in ander gemeentes beroep en gebruik te word. 78 van 92 mense dui aan dat hulle tot en met aftrede graag sal wil aanhou dien.

Ek hoor weer klokke. Dit lui en lui en lui.

Hoe sal jy jou roeping beskryf? So lei een van die vrae aan die diensleraars.

Die antwoorde kom klokhelder:

“Ek beleef my roeping as diensleraar as ’n diep innerlike dryfkrag om God te dien deur mense te dien – prakties, pastoraal en met liefde.”

“Ek is geroep om ’n brugbouer te wees wat mense oor grense saambring om hulle perspektief op die koninkryk te kan verdiep en verbreed.”

“Ek sien dit as ’n manier om in te skuif langs die gebrokene wat onvoorwaardelike liefde en aanvaarding nodig het.”

Roeping

“We need to speak to the churches that have been doing this for ages,” sê een van die kursusgangers. Ek besef: Dit is waar. Dit is die storie van die liggaam. In die kerk se geskiedenis, is daar nog altyd mense wat die harde myle insit. Diegene wat die bedieninge dryf. Die bidders. Doeners. Dromers. Fighters. Verpleërs. Bouers. Sondagskooltannies. Kosterooms. Hulle is die voorlopers van die diensleraars. Hulle dien.

God bou sy kerk nog altyd op en uit deur gewone mense. Mense wat die klokke van die evangelie laat luier. Dit is dalk hoekom 50% van gelegitimeerdes nou diensleraars is – Dit bevestig bloot ’n klomp geroepenes (wat jare lank al die klokke lui) se diens in en as die bruid van Jesus.

Ons as groep wonder – Hoekom die teenstand binne in die sisteem wat gedien word deur hierdie groep mense?

Hoekom is ons bang vir hierdie verandering?

Dalk is die beier van die klokke vir ons te vinnig en te hard. Dit ruk ’n mens wakker uit ’n dowwe slaap.

Een ding is seker.

Die klokke lui.

Bruilof?

Of begrafnis?

Ds Chris de Vries is tentmaker by NG Gemeente Heuwelsig, Bloemfontein.


26 September 2025

5 vrae aan ’n kerkregkenner oor diensleraars se reis op soms ongekaarte landskap

 

Hoe pas diensleraars by die NG Kerk in? Anje Zeeman ontdek ’n paar antwoorde oor opleiding, sakramente en die kerkorde in ’n gesprek met die aktuarius (kerkregkenner en raadgewer) van die Algemene Sinode, dr Dewyk Ungerer.

 

Die landskap waarbinne die NG Kerk funksioneer asook die kerk se bedieningsterreine het oor die laaste klompie jaar merkbaar verander. Deel van hierdie verandering is die toevoeging van diensleraars. Hierdie bediening- en ampsuitbreiding is ’n gawe aan die kerk. Diensleraars soos Carel van der Merwe (van Worcester-Moedergemeente) het dit al in ’n vroeëre onderhoud met Kerkbode beskryf as ’n wonderwerk dat die geleentheid vir diensleraars binne die NG Kerk oopgegaan het. En Van der Merwe se verhaal is slegs een van die vele diensleraars se roepingsverhale wat hoop gee aan die toekoms van bediening binne die NG Kerk.

Hierdie nuwe landskap bly egter tot ’n groot mate nog ongekraart en ’n kernvraag wat gevra word, is: Is die kerk as sisteem gereed en ingerig vir hierdie nuwe amp? Om verdere duidelikheid te kry, het Kerkbode vir Ungerer gevra …

Anje Zeeman (AZ): Vanuit die regskommissie en die Algemene Taakspan Predikante, wat sal jy sê is die grootste grys areas wat rondom diensleraars bestaan?

 

Dewyk Ungerer (DU): Die saak waarmee ons die meeste vashaak in die kerkreg is die posisie van die diensleraar en die predikant. Diensleraars is ’n uitbreiding van ons ampsbeskouing. Daar bly onsekerheid rondom die beroeping en bevestiging van diensleraars.

Diensleraars is opgelei in ’n toegespitste bediening, en kan nie vir predikantsposte aansoek doen nie. Ons sien egter in die praktyk dat sodra die persoon preek, word hy of sy gesien as “die dominee” en dit veroorsaak verwarring by lidmate en hulle verwagtinge van die diensleraar. Binne die beroeping van predikante en diensleraars gaan dit ook oor die onderskeid rondom ’n persoon se vlak van opleiding. Diensleraars ontvang kwaliteit opleiding. Dit is egter nie dieselfde as die ses jaar wat predikante studeer nie. Dit plaas diensleraars nie ondergeskik aan die predikant nie en dit moet verstaan word as ’n goeie innoverende bedieningsuitbreiding binne die NG Kerk.

 

AZ: Mag diensleraars die sakramente bedien?

DU: Geordende diensleraars mag wel sakramente bedien in die konteks van hulle bediening – dit wat in Reglement 11:2.3.6 bepaal word. Die onderskeid tussen proponent en kandidaat diensleraars help reeds om verwarring by lidmate en kerkrade aan te spreek. ’n Proponent was reeds vir ’n volle jaar onder die mentorskap en toesig van ’n predikant. ’n Kandidaat diensleraar het nog nie daardie ondersteuning ontvang nie en mag daarom nie voordat hulle georden is, die sakramente bedien nie.

Dr Dewyk Ungerer

AZ: Hoe voorkom ons verwarring oor die rol en titel van diensleraars?

DU: Hoewel dit sensitief is, word daar gewerk aan maniere om die onderskeid duideliker te maak. Gemeentes sien diensleraars dikwels net as “nog ’n dominee”, wat verwagtinge skep wat nie ooreenstem met die bediening se bedoeling nie. Die kerk wil glad nie die idee skep dat daar op diensleraars neergesien word nie, hulle speel ’n kernrol binne ’n toegespitste bediening. Daarom kyk ons na opsies rondom die titel of aanspreekvorm van ’n diensleraar wat nie verkleinerend is nie maar ook meer duidelik en verklarend is.

Ds Anje Zeeman is leraar by NG Kerk Parke

AZ: Aanvanklik kon diensleraars slegs bedien onder die toesig van ’n gemeentepredikant. Wanneer en waarom is dit verander na die toesig van ’n ringspredikant?

DU: Dit is steeds die bepaling van die kerkorde dat ’n diensleraar onder die mentorskap van ’n predikant binne die gemeente kan bedien. Daar is wel ruimte dat waar daar buitengewone omstandighede is, die mentorskap deur ’n predikant in die ring kan gebeur. Elke saak word op meriete beoordeel. Kerkrade en ringe moet elke saak se meriete oorweeg en daaroor besluit, hierdie is nie ’n toegewing wat misbruik moet word nie.

 

AZ: Waar pas diensleraars in die kerkorde in met betrekking tot kerkraad en konsulentskappe:

DU: ’n Diensleraar kan nie by die samestelling van die kerkraad die rol van ’n predikant vervul nie. ’n Diensleraar moet onder die mentorskap van ’n predikant werk en kan dus nie nou die mentorrol vervul nie. Dit is ook die rede waarom diensleraars nie as kapelane georden kan word nie. Indien daar buitengewone omstandighede is wat noodsaak dat ’n diensleraar binne ’n gemeente bedien sonder dat die predikantspos gevul is, sal die konsulent van die gemeente steeds op die betrokke kerkraad moet dien.

Ds Anje Zeeman is leraar by NG Kerk Parke


  • Hou Kerkbode dop vir die volgende aflewering van hierdie ondersoek.
  • Ondersteun ons werk deur ‘n donasie via Vriende van Kerkbode
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Deel 1: Diepte-artikel: Hoe lyk die impak wat diensleraars op gemeentes en gemeenskappe het?”

  1. Hoe word na die vergoeding van hierdie diensleraas gekyk?
    Die moet asseblief nie as “Goedkooparbeid ” beskou word nie!

  2. Ivan Oosthuizen

    Baie insiggewend en leersame artikel met baie interessanthede so tussen deur. Dankie vir elkeen bydraes en insigte. Ek is verheug om te sien dat ons soekend en oppad is om ruimte te skep vir nuwe geleenthede en opsies vir gemeentes.

  3. CHRISSTOFFEL JOHANNES BRITS

    Goeie dag
    Het die artikel geweldig geniet.
    My ondervinding as n diensleeraar oor vyftig naby sestig, is daar geen plek vir bediening nie want die relaas is dat “jy is te oud”. Tweeedens, die kerk se spoor is besig om te verkelin, nou moet die diensleeraar wat voltyds n sekulêre werk onderhou, n “bedienings posisie ” gaan skep met geen betaling, en elke bietjie tyd beskikbaar gebruik wat sy/haar gesinslewe raak. Ek self leef met n geweldige roepingsbewustheid, maar beleef met by Bth voltooi, besig met honeurs, ek erens anders maar n “grondgebied” moet gaan soek waar ek glo ek wel sal tuis, welkom en bruikbaar sal wees.
    Hierdie maar net my opninie en belewenis van die artikel en “pos” as diensleeraar.
    Groete
    Christo Brits – Nigel Gauteng

Comments are closed.

Scroll to Top