Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerkbode het Monte Rosa in November besoek om uit te vind watter impak die omvattende opknapping sal hê en watter rol die verskillende betrokkenes speel.

Kan nuwe byderwetse vleuel van historiese tehuis in Kaapstad waarde ontgin en susterinstellings help finansier?

“Wys vir my nog ’n gebou met hierdie potensiaal,” sê-vra Attie Nieuwoudt en beduie na die statige dubbel-volume gebou geleë in die skoot van Tafelberg, so neffens Kloofstraat en stapafstand van Kaapstad se wonderlikste koffiewinkels, eetplekke en bedrywighede.

 

Monte Rosa mag ’n tehuis wees, maar, met vensters wat uitkyk op ’n pragtige tuin, ’n symuur wat grens aan die Labia-rolprentteater in dieselfde straat as die Mount Nelson Hotel, en ’n ryke ontstaansgeskiedenis gekoppel aan die NG Kerk se omgeedienste kan ’n mens goed verstaan waar Nieuwoudt, ingenieur van opleiding en as konsultant hier betrokke, se opwinding vandaan kom: Sonderlinge ligging en vaste fondamente.

En nou is Nieuwoudt deel van ’n hele span belanghebbendes wat daardie potensiaal ontgin met ’n groot ombouingsprojek wat veel meer as ’n vars lagie verf behels.

Toeka
Een van die vleuels by Monte Rosa soos dit vandag lyk.

Loodsprojek tesame met Badisa

“Ons leer lesse hier,” sê Nieuwoudt, wat ook aan Hugenote Kollege se Sentrum vir Sosiale Innovasie verbonde is. Hy verwys na Monte Rosa se opknappingsprojek as ’n loodsprojek waaruit die betrokke partye asook die breër NG Kerk kan leer oor volhoubare innovasie. Tans word hier 11 kamers (Fase 1 van opgraderings) uit die totaal van 95 kamers (110 beddens) en enkele openbare areas oorgedoen.

Daar word soms na Badisa verwys as ’n “cradle to grave”-organisasie danksy die omvattende sorg wat hulle voorsien.

Tydens fase twee word nog 11 kamers aangepak. Die projek se doel is om inkomstepotensiaal te verhoog en inderwaarheid ’n nuwe besigheidsplan vir Monte Rosa te implementeer ten einde die bestaande dienste te verbeter en volhoubaar te kry.

Kerkbode het Monte Rosa in November besoek om uit te vind watter impak die opknapping sal hê en watter rol die verskillende betrokkenes speel. Ons ontmoet vir Nieuwoudt (konsultant), tesame met Pieter Smit (bestuurder, Monte Rosa), Koos van Tonder (voorsitter van die beheerraad, Monte Rosa). Nog twee rolspelers sluit by ons aan om die storie te help vertel van een tehuis wat boonop beloof om ’n verskil aan die volhoubaarheid van ander soortgelyke instellings te maak. Hulle is Basie van Wyk, hoofuitvoerende beampte van Badisa en sy kollega verantwoordelik vir bemarking, Adrie Jurgensen.

Indien dit op jou hart sou lê om ’n bydrae te maak om die bevoegde span te bemagtig om ’n tasbare verskil in die gemeenskap te maak, kontak ds Barnard Steyn van die Hoop- en Versoeningstrust by barnard@kaapkerk.co.za om ’n skenking te maak.

Ons sit eers die legkaart van rolspelers aanmekaar: Monte Rosa se gebou word besit deur die Goeie Hoop Behuisingsmaatskappy (GHBM) en Monte Rosa is verantwoordelik vir die instandhouding. Badisa is een van die grootste maatskaplike ontwikkelingsorganisasies in Afrika met sowat 130 projekte waarvan Monte Rosa een is.

En dan vertrek ons op die kern van ons besoek … Smit vat voor en lei ons deur die gange. Hy was eers ’n predikant en na ’n draai in die privaatsektor het hy twee jaar gelede hier begin en iets gevind wat hy glo al sy talente inspan. Sy entoesiasme is aansteeklik en die mense wat tans in Monte Rosa bly is vriendelik en laat ’n warm gevoel by ’n mens. Smit neem ons op ’n toer na die vleuel waar die bouwerk plaasvind. Nuwe kamers word baie stylvol ingerig. Kerkbode het die skoukamer besoek. Die dubbel-volume plafon laat die kamer luuks en ruim voel. Die venster kyk uit op die tuin en die en suite badkamer is ruim en prakties. Die kamer het ’n huis-gevoel. Hierdie nuwe kamers gaan vir R22 500 per maand verhuur word. Daar is ook van die huidige kamers teen R14 500 per maand beskikbaar. 

Pieter Smit: bestuurder, Monte Rosa.
Koos van Tonder is voorsitter van die beheerraad.

Geld raak op, nou moet daar plan gemaak word

Ook Smit is opgewonde oor die potensiaal wat die opknapping het om waarde te ontsluit in hierdie meer gegoede deel van die stad. Voorheen was hy en die beheerraad erg bekommerd oor die volhoubaarheid van Monte Rosa se besigheidsplan. Die beheerraadvoorsitter Koos van Tonder verduidelik dat hulle ’n paar jaar gelede besef het daar is eenvoudig nie meer finansies vir instandhouding nie en dat daar elke jaar eintlik ’n verlies was. “In die verlede was dit nie nodig om van denke te verander nie.” Maar dit word al vir ’n geruimte tyd vir belanghebbers al duideliker dat die konteks en die omgewing om die tehuis aan ’t verander is, verduidelik Van Tonder. Smit beaam dit. Voornemende kliënte sou kom kyk en dan voldoen Monte Rosa nie aan hulle behoeftes nie. Een van die groot kwessies? Mense wil graag hulle eie badkamer hê. Volgens Smit is daar goeie redes hoekom tehuise soos Monte Rosa wel moet aanhou bestaan: Die staat bied nie meer die nodige ondersteuning om die behoefte in die land aan te spreek nie. En luukse tehuise bied dikwels nie meer versorging nie omdat dit baie duur is. Monte Rosa bied selfs drie etes per dag. “Ons vul ’n gaping in die mark.”

Attie Nieuwoudt, konsultant betrokke by die projek.

Monte Rosa: Die beginjare

Die tehuis het uit die gemeenskap se behoeftes ontstaan. In die 1890’s is die gebou oorspronklik ontwerp vir ou mans, leer die geskiedenisboeke ons. In die 1930’s is vroue ook toegelaat. Die gebou was, volgens Nieuwoudt: “fit for purpose vir die tyd waarin dit gebou is.” Intussen het Kaapstad al ryker geword. Selfs meer verryk relatief tot die res van Suid-Afrika. Oorspronklik is Monte Rosa gebou met enkelkamers en gedeelde badkamers. Met hierdie projek word daar kamers opgegradeer en elke nuwe kamer het sy eie badkamer.

Jacky van der Horst is deel van die span diensverskaffers in die waskamer.

Die balans wat die span wel steeds probeer bestuur, is die volgende: Monte Rosa moet vernuwe en innoveer, maar ook mense so goedkoop moontlik versorg en hulleself nie onnodig eksklusief posisioneer nie. Smit vertel dat hy dikwels hoor: “My ouma moet verblyf kry, maar sy het net SASSA (staatstoelaag).” Die toekoms blyk kruissubsidiëring te wees. Van Wyk verwoord dit so: “Ons is eintlik almal een.” So kan Monte Rosa (en Badisa) ’n bekostigbare, volhoubare diens verskaf wat ook sorg vir diegene in ons gemeenskap wat nie self kan betaal nie.

 

Die projekleiers se droom

Nieuwoudt praat gemaklik oor die sake-kant van die projek. “Ons word geseën om ander te seën.” Hy verduidelik die span se doelwit is om die volgende vrae te beantwoord: “Hoe kan ons dit wat ons het, volhoubaar maak? Die behoefte aan behoorlike behuising en versorging vir bejaardes in ons land raak al groter. “Hoe gaan ons werk met dit wat ons het?”

Van Wyk verduidelik weer hoe Badisa oor volhoubaarheid dink: “Ons winste gaan ten bate van die gemeenskap, maar dit bly ’n besigheid.” En besighede het geld nodig om bedryf te word.

Basie van Wyk, hoofuitvoerende beampte van Badisa
Adrie Jurgensen behartig bemarking vir Badisa

Jurgensen verduidelik dat daar soms na Badisa verwys word as ’n “cradle to grave”-organisasie danksy die omvattende sorg wat hulle voorsien. Maar, dit is eerder ’n “pre-cradle to post-grave”-organisasie, skerts sy. “Ons help mamma’s tydens swangerskap en soms hou ons mense jou geliefdes se hande vas in hulle laaste oomblikke.” Monte Rosa vorm deel van hierdie uitgebreide dienste en met die nuwe loodsprojek en besigheidsplan is daar potensiaal om selfs breër as net hierdie tehuis self ’n verskil te maak.

 

Raak betrokke

Indien dit op jou hart sou lê om ’n bydrae te maak om die bevoegde span te bemagtig om ’n tasbare verskil in die gemeenskap te maak, kontak ds Barnard Steyn van die Hoop- en Versoeningstrust by barnard@kaapkerk.co.za om ’n skenking te maak.


Artikels in hierdie afdeling vorm deel van ’n storievennootskap met Die Hoop en Versoening Trust en Diaconia. Die Hoop en Versoening Trust wil in die eerste plek ’n verskil maak in sosiale uitdagings soos vroeëkinderontwikkeling (veral in plattelandse gebiede) en die verligting van armoede. Inisiatiewe soos opvoedkundige programme, gemeenskapsontwikkeling, kapasiteitsbou, vaardigheidsontwikkeling en ’n verskeidenheid van opleidingsgeleenthede is wyses waarop die hoofdoel bereik word. Die trust lewer intensioneel bydraes tot dialoog in ’n samelewing met ’n behoefte aan eenheid, versoening en geregtigheid. Diaconia is die gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Kerk Wes-Kaap en die VG Kerk Kaapland en neem verantwoordelikheid vir Die Hoop en Versoening Trust. Vir meer inligting, kontak Barnard@kaapkerk.co.za

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Scroll to Top