Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Oor die betroubaarheid van Kunsmatige Intelligensie: Moenie goedgelowig wees

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Imker Hoogenhout van Vereeniging: Daar was ’n interessante berig oor die radio waar ’n onderhoud gevoer is met ’n persoon wat Kunsmatige Intelligensie (KI) gebruik het om vir hom sekere dinge uit die Bybel op te som, ’n saak te verduidelik, ens.

KI is op die oomblik op almal se lippe. Daar word gesê dat elkeen hulleself moet bekwaam om KI te kan gebruik, en leerkragte moet opgelei word om leerlinge in KI te onderrig. Kortom, KI word in sommige kringe gesien as onontbeerlik om toekomstige probleme van die wêreld op te los. 

LEES OOK: Kan en móét kunsmatige intelligensie (KI) ons preke maak?

Maar dan moet ons onthou: KI-programme, waarvan ChatGPT seker die bekendste is, het hulle eie “moraliteit” wat ingeprogrammeer is.

Enkele voorbeelde: Een van die oorspronklike aantreklikhede van ChatGPT was dat ’n mens vir hom sekere insette kan gee, en vra hy moet, byvoorbeeld, ’n doktorale verhandeling voorberei. ’n Paar sekondes later is die proefskrif dan daar, volledig met foto’s, sketse, grafieke, en verwysings aan die einde. Maar om verwysings te kry, kan moeilik raak.

Daar is toe ’n “verfyning” aangebring: Die teks word geskryf en verwysings word gesoek. As ’n verwysing egter níé gekry kan word nie, skep ChatGPT sy eie, fiktiewe / vals, verwysing. 

Daar was sopas die geval van ’n prokureur: Hy het KI gebruik om vir hom slotargumente vir ’n hofsaak te skryf, wat hy voorgelê het.
Maar iemand het na die verwysings gaan kyk, en gesien dat minstens een van die hofsake wat na verwys word, fiktief is, en nooit plaasgevind het nie.
Hierdie prokureur is nou gedaag om voor die prokureursorde te verskyn, want wat hy gedoen het, en die voorhou van ’n vals hofsaak, is bedrog.

Daar is reeds vir ’n aantal jare programme beskikbaar wat kontroleer met betrekking tot plagiaat in, byvoorbeeld, ’n meestersgraad-tesis. ChatGPT het egter ’n program ingebou wat kyk of daar vir plagiaat gekontroleer word, en ChatGPT negeer dan daardie program. M.a.w. paragrawe in ChatGPT wat oorgeskryf is en sonder verwysings geplaas word, gaan net so deur, en kan nie opgespoor word nie.

Wanneer ons dus KI gebruik om intelligensie te skep, en veral waar die Bybel in die breë sin van die word betrek word, moet ons onthou, soos wat ons in elk geval met enigiets in die lewe moet doen, om nie wat die program voorberei het, vir soetkoek op te eet nie.

’n Leraar wat dus KI sou gebruik om vir hom ’n preek voor te berei, moet dus daardie “preek”  fynkam en alles wat gesê, beweer en verklaar word met ’n “papier” Bybel kontroleer.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top