Dr Gerdrie van der Merwe bring hulde aan van die leraars wat ons in 2025 gegroet het.
DS CHRISTO ALBERTYN (BA) 29 November 1929 – 11 Julie 2025
Christo Albertyn is op 29 November 1929 gebore op Wellington aan die Groenberg. Sy vader was Carel Aaron Albertyn, ’n leeftyd lank onderwyser aan die Hoërskool Goudini op Rawsonville. Sy moeder is Johanna Magdalena Bronkhorst, ’n huisvrou. Christo begin sy skoolloopbaan in 1936 aan die Hoërskool Goudini, waar hy in 1947 matrikuleer en die Victor Ludorum ontvang. Hy presteer in atletiek en speel vir die eerstespan rugby. Van 1948 tot 1951 werk hy as ouditeursklerk en van 1952 tot 1956 werk hy as gekwalifiseerde rekenmeester. Intussen het sy roeping so sterk geword dat hy BA (Admissie) studeer en ook verskeie jare tesourier is van die Admissiebond op die Akker. In 1959, die eeufeesjaar van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, skryf hy in as student aan die Kweekskool. Hy trou op 30 November 1960 met mej Anna Hugo en uit die huwelik is ’n seun, Carel Aaron, op 10 Oktober 1960 gebore.
Hy is in 1963 klasprimarius op Stellenbosch en word einde 1963 gelegitimeer as proponent, dieselfde jaar waarin die Kweekskool ’n volwaardige Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch word. Hy word beroep as sendeling in die NG Sendingkerk Daniëlskuil, waar hy op 4 Februarie 1964 met handoplegging ontvang en bevestig word. Vroeg in 1965 word hy leraar van die NG Gemeente Bothasrus-Despatch en drie jaar later word hy in 1968 leraar van die NG Gemeente Newcastle-Suid in die noorde van Natal. In die lente van 1972 word hy kapelaan in die Krygskool in Kimberley, waar sy ankers diep geplant word. Op 20 Januarie 1977 word hy leraar van die NG Gemeente Kimberley-Vooruitsig, waar hy werk tot met die stigting in 1979 van die Noord-Kaapse sinodale streek. Hierdie mooi geleentheid vind plaas tydens die sitting van die Kaapse Kerk in 1979 in die bekende Sinodesaal in die hart van Kaapstad.
Hier word ds Christo Albertyn word op 17 November 1979 benoem as saakgelastigde van die nuwe Noord-Kaapse Sinode in Kimberley en beklee ook die pos as sendingsekretaris en sekretaris vir Diens van Barmhartigheid. Met sy opleiding as rekenmeester en ingebore deeglikheid en dissipline, is hy die man van God wat die nuwe sinodale streek se kerklike perd met oorgawe ry. Met twee PSD-poste en saakgelastigde, rus daar ’n groot verantwoordelikheid op die skouers van ds Christo, wat verlig word toe ’n PSD vir sending in 1981 aangestel word. Die kerklike masjienkamer loop mooi in die jong sinode en die sittings vind in rustigheid plaas in die NG Gemeente Kimberley-Vooruitsig.
Daar word baie hard gewerk op die terrein van Barmhartigheidsdiens, ’n gebied waarin ds Christo baanbrekerswerk verrig oor die hele sinodale gebied. Hy aanvaar op 1 April 1991 sy emeritaat, maar help die sinode finansieel toe hy in ’n 5/8 pos aanbly tot met 1 April 1983 toe ds Hansie Roelofse as nuwe saakgelastigde oorneem.
Hierna vestig ds Christo Albertyn hom op Somerset-Wes, waar hy deel is van die liefdesgemeenskap in die NG Gemeente Helderberg. Hier bly hy steeds besig en help predikante met die invul van hulle SARS-aanslag en ander werk. Hy en sy vrou Annie is geliefde inwoners en elkeen se talente in naastediens word gebruik en raakgesien. Hy sterf op 11 Julie 2025 in die rype ouderdom van 95 jaar in Somerset-Wes. ’n Gedenkdiens word op 24 Julie 2025 in die NG Kerk Helderberg gehou waarin die lewe van hierdie geliefde kerkman gevier word. Daar word verwys na sy deeglikheid en die groot lewenstaak om die nuutgestigte Noord-Kaapse Sinode te vestig en as saakgelastigde die gemeentes in die wyduitgestrekte gebied met raad en daad by te staan op gemeentevlak.
DS JAN BASSON (BA, BTh, MTh) 15 Augustus 1945 – 4 Augustus 2025
Jan Hendrik Basson is op 15 Augustus 1945 gebore. Hy matrikuleer in 1963 aan die Paul Roos Gimnasium op die walle van die Eersterivier op Stellenbosch. Hierna studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA (Admissie) graad verwerf en in 1967 word hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch, wat pas deel geword het van die Universiteit en toe ’n volwaardige Fakulteit Teologie op Maties se kampus word. In 1969 ontvang hy die BTh-graad en word einde 1970 as proponent gelegitimeer. Hy spesialiseer oor die Psalmboek en skryf oor Psalm 119 vers 105. “U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig op my pad.”
Prop JH Basson word op 20 Februarie 1971 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Hanover, ’n plattelandse dorp langs die grootpad van suid na noord. Intussen studeer hy ook verder en behaal die Meestersgraad in Teologie. Op 1 Januarie 1974 loop sy pad terug na die Kaapse vlakte toe hy dosent in Bybelkunde word aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Kort daarna op 23 Januarie 1976 word hy bevestig as medeleraar van die NG Gemeente Bellville-Oos in De La Hay in Bellville, met ds JJ Smit as medeleraar. Later sou ds Bennie du Plessis ook ’n kollega wees, iemand wat tydens ds Jan se siekte hom baie gehelp het.
In 1980 beleef hy as 35-jarige predikant die donker kant van die lewe toe hy tydens ’n Pinksterdiens vassteek en nie verder kon praat nie. Toetse het aangedui dat die jong dominee ’n gewas op die brein het en die linkerkant van sy liggaam was verlam en sy spraak aangetas. Mediese dokters het gemeen dat ds Jan Basson nie sou kon leef nie, maar die kwaadaardige gewas, so groot soos ’n gholfbal, is verwyder en die Here het hom genees. Dit was groot nuus in die Kaap en selfs die rubriekskrywer van “Van alle Kante”, Gideon Joubert, het hieroor geskryf en na die wonderwerk verwys wat die Here gedoen het in ds Jan se lewe.
In die gemeente het ds Jan Basson gebly en voortgewerk tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 2006. Toe het hy brugleraar geword van die NG Gemeente Bellville-Noord, tot hy in 2012 ook brugleraar word van die NG Gemeente St Helenabaai. Hy sterf op 4 Augustus 2025, waar dokters 43 jaar gelede na ’n breingewas en kanker, in 1982 gedink het hy gaan sterf. Saam met die skrywer van Psalm 16 kan ds Jan Basson ook getuig dat die tye van sy lewe in die hand van die Here was.
DS SAMIE BLOM (BA, BD, MDiv) 3 Maart 1938 – 18 Oktober 2025
Samuel Jacobus Blom is op 6 Maart 1938 gebore te Klerksdorp. Sy vader is Christiaan Hermanus Bernardus Blom, ’n verwer van beroep. Sy moeder is Elizabeth Maria Magdalena de Beer, ’n huisvrou wat haar gesin met vreugde versorg. Samuel begin sy skoolloopbaan in 1945 aan die Laerskool Burgershoop in Krugersdorp en word in 1952 leerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp. Hy matrikuleer in 1956 met ’n onderskeiding in Wiskunde en Wetenskap.
Samuel voel geroepe om predikant te word en begin in 1957 met sy BA (Admissie) aan die PU vir CHO te Potchefstroom. In 1960 staak hy ’n jaar lank sy studie en werk ’n jaar lank ondergronds in die goudmyne te Randfontein. Wanneer die skofte dit toelaat, werk hy bedags by die Departement Volkswelsyn en Pensioene om genoeg geld te bekom om te studeer. Dit stel hom in staat om in 1961 student te word aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria. Hier behaal hy in 1963 die BA-graad en word aan die einde van 1964 as proponent gelegitimeer. Sy BD-verhandeling het gehandel oor: “Ware en valse eenheid”. In die tyd verwerf hy sy privaat vlieënierslisensie. Samuel is op 9 Desember 1961 getroud met mej Mary Swart. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: Sampie, Loutjie (medikus in Kanada), Maryke, Madelein en Irma.
Na ds SJ Blom se bediening op Zeerust word hy op 6 Oktober 1968 bevestig as leraar in die NG Gemeente Durban, in die bekende kerkgebou te Smithstraat. Hier werk hy baie hard en wys ’n aanbod van die hand om Inspekteur vir Bybelkunde in Natal te word. Hy moet tussen vier beroepe besluit en neem ’n beroep aan na die NG Gemeente Krugersdorp-Noord, waar hy op 20 Januarie 1973 die herder en leraar word. Hier werk hy tot hy op 24 Oktober 1981 beroep word as kapelaan van die Suid-Afrikaanse Polisie met die NG Kerk Durban as standplaas waar hy medeleraar word en sedert 1988 ’n pastorale hulp in die Smithstraat NG Kerk.
Tydens sy bediening help hy met harde werk drie gemeentes uit finansiële tekorte, bou twee pastorieë en help met die afstigting van twee gemeentes. Sedert 1994 het die NG Gemeente Durban in die hart van Durban begin kwyn en teen 2004 was daar net 100 lidmate in die gemeente oor. In 2009 het slegs 20 lidmate nog aktief die eredienste bygewoon. Die nood van die stad het ds Samuel Blom aan die hart gegryp en hy begin in samewerking met die NG Kerk se Metropoolbediening in Durban, ’n besondere bediening. Dit word ’n geestelike “sprokiesverhaal in Durban”, ’n getuienis van wat die Here God kan doen. Die kerkgebou word in eiendomstrust geplaas en huisves vier bedieninge: NG Gemeente Durban, Moriah Christian Church, His Hands Ministries (HHM) en die Missionary Congregation Centre (MCC).
Hier doen ds Samuel Blom besondere werk en aanvaar op 31 Desember 2009 na ’n dienstyd van 33 jaar in Durban sy emeritaat en was 45 jaar voltyds in die kerk se diens. Aan die einde van 2010 tree die NG Gemeente Durban in kombinasie met die gemeente Berea, ’n verbintenis tot eer van die Here en welwese van die kerk. Hy het sy laaste jare van sy lewe in Gauteng gewoon.
Hy sterf op 18 Oktober 2025 en met sy afsterwe groet die NG Kerk in Natal ’n besondere man van God, iemand wie se hart warm geklop het vir die evangelie van Jesus Christus.
DS RYK BRINK (BA, BTh, NOS Med) 22 April 1968 – 28 Januarie 2025
Marthinus Ryk Brink is op 22 April 1968 gebore te Garies in die hart van Namakwaland. In ’n goeie seisoen word die hele streek ook God se veldblomtuin genoem. Sy vader is ds Daniel Brink en sy moeder Rita Louw, ’n onderwyses. Ryk is gebore kort na sy vader se aankoms in 1968 te Garies waar hy die gemeente en boeregemeenskap bedien. Hy het voorheen die NG Gemeentes Keetmanshoop, Murraysburg, Ysterplaat-Suid en Uitenhage bedien. Na slegs twee jaar op Garies word hy in 1970 sekretaris van die SKDB in die Oos- en Noordkaap tot hy in 1973 PSD van die NG Kerk se Diens van Barmhartigheid in Oos-Kaapland word. Hy keer terug na Namakwaland toe hy in 1976 leraar word van die NG Gemeente Simon van der Stel in Okiep naby Springbok. Hier werk hy tot hy op 16 Junie 1984 sy emeritaat aanvaar. Hy vestig hom op Malmesbury waar hy in 1992 in die ouderdom van 73 jaar sterf. Uit ds Daniel en Rita Brink se huwelik is vyf seuns gebore. Casper Brink word onderwyser, Danie Brink ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch, terwyl Francois Brink en Ryk Brink in hulle vader se voetspore volg en predikante word.
Ryk begin sy skoolloopbaan in 1974 aan die Laerskool Despatch en is vanaf 1976 tot 1980 leerling aan die Laerskool Okiep. In 1981 word hy leerling aan die Hoërskool Hugenote op Wellington, waar hy in 1984 matrikuleer en Bolandkleure verwerf in atletiek en swem. In 1985 word hy student aan die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf en in 1988 word hy student aan die Fakulteit Teologie, waar hy die BTh-graad verwerf en in 1991 gelegitimeer word. Hy presteer in atletiek op Stellenbosch en sing ook in die Universiteitskoor. Sy skripsie in sy proponentsjaar se tema is: “Andrew Murray – predikant en sendeling”. Hierna doen Ryk diensplig as kapelaan by die SA Vloot in Saldanhabaai.
Prop Ryk Brink word op 11 Junie 1993 bevestig met handoplegging in die NG Gemeente Riebeek-Wes. Hy was ’n intelligente jongman, geseënd met wonderlike talente en skakel gou in by die gemeenskappe van die twee klein plattelandse dorpe. Hy trou nooit en bewoon alleen die groot pastorie, maar bou ’n groot vriendekring op wat hom nie kans gegee het om eensaam te wees nie. By die plaaslike skool het hy namiddae atletiek help afrig en onder sy bekwame afrigting, kon die leerders vinnig die “Fosbury Flop” oor die dwarslat bemeester. As skeidsregter tydens die skool se rugbywedstryde het hy vinnig naam gemaak. Ryk kon pragtig skilder en die pastorie se mure was versier met sy eie skilderye. Die mooiste gedigte en stories het uit sy pen gevloei. Met sy besondere taalvaardigheid het die bediening aan Engelssprekendes in die Riebeekvallei tot stand gekom, toe twee eredienste Sondagoggende gehou is, een in Engels en daarna in Afrikaans.
Die Engelssprekendes in die gemeente was gaslidmate en het ’n geestelike tuiste in die gemeente Riebeek-Wes gevind. Later het die Ring van Swartland die stigting van die Engelse gemeente goedgekeur, so ontstaan die “Riebeek Valley Community Church” op Riebeek-Kasteel. Hy was leraar van hierdie gemeente vanaf 2006 tot en met sy afsterwe in 2025.
Ryk begin om onderwys te gee aan die St John’s Christian Brothers’ College, 17 jaar lank tot met sy afsterwe. Hy het uitstekend ingepas by die skool, het Afrikaans gegee en was verantwoordelik vir menslike hulpbronne en dissipline. Hy word onthou as ’n geroepe dienskneg van die Here, ook by die skool waar sy lang en passievolle gebede tydens saalopeninge onthou word. Ryk word met kanker gediagnoseer en sy getuienis en moedige stryd tydens sy siekte, het baie mense aangeraak en was ’n wekroep vir almal in die vallei. Hy sterf op 28 Januarie 2025 en ’n herinneringsdiens word op 8 Februarie 2025 gelei deur ds Anton Roux in die NG Kerk Riebeek-Kasteel. Op ’n besonderse manier word die herinneringe aan kosbare tye saam tydens die roudiens gevier, met die wete dat die afskeid van korte duur is, want daar is vir gelowiges eendag ’n Ewigheid saam in die hemelstad.
Sarena Mostert, raakvatter in die kerkkantoor op Riebeek-Wes en iemand wat lank met ds Ryk saamgewerk het, skryf: “Ryk was ’n goeie prediker en baie mense vertel vandag nog hoe ’n preek of begrafnisdiens hulle getref het. Sy Woordverkondiging het niemand onaangeraak gelaat nie. Hy was ’n natuurliefhebber en het vele wandelroetes gaan stap. Hy het ’n passie ervaar vir sending en was ’n kenner oor Afrikatoere. Sy kitaar en sy mooi sangstem het menige maal kerkgeleenthede opgehelder. Hy was wyd belese en die ewige student. Ons sal Ryk onthou vir sy mooi persoonlikheid en die mooi manier waarop hy met mense omgegaan het. Ons sal hom mis as ons skemeraand iewers ry, sy bekende draffie op ons omgewing se paaie met sy kortbroek en tekkies. Ryk het in sy kort lewe ’n hele leeftyd ingepas.”
PROF GERHARD BUYS (BA, BTh, MTh, DTh) 10 Mei 1947 – 13 Maart 2025
Gerhardus Lubbe Buys is op 10 Mei 1947 gebore in Rondebosch by Kaapstad. Sy vader was ds Barend Rudolf Buys wat aan die einde van 1949 as proponent gelegitimeer is en op 18 Februarie 1950 bevestig is as leraar van die NG Gemeente Usakos in die destydse Suidwes-Afrika. Sy bediening het gestrek verby Swakopmund en Walvisbaai. Voor hy skool toe kan gaan word Gerhard se vader in 1952 beroep na Vergelegen en in 1954 word hy leraar van die NG Gemeente Olifantsfontein, ’n gemeente tussen Pretoria en Johannesburg. Later ook Selectionpark, Bedelia (Welkom), spoorwegleraar in die Vrystaat en later in Ooshoek, ’n landbouhoewe naby die JBM Hertzog-lughawe net buite Bloemfontein. Hier gaan Gerhard Buys skool en word hy gereed gemaak vir die lewe.
Die jong Gerhard word in 1966 student aan die UOVS in Bloemfontein, waar hy in 1966 sy BA-graad verwerf en geroepe voel om sendeling te word. Sy pad loop na Stellenbosch. In 1969 word hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch, behaal die BTh-graad en word aan die einde van 1972 as proponent gelegitimeer. Hy spesialiseer in Sendingwetenskap onder leiding van die geliefde prof Willie van der Merwe, iemand met ’n sagte gees. Op 3 Maart 1970 word hy beroep na die NG Sendingkerk (NGKA) op Ladybrand, waar hy met handoplegging ontvang en bevestig word. Hy trou ook in 1970 met Claude Ferreira, ’n goed opgeleide onderwyseres. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore, twee dogters en ’n seun, die bekende dr Rudi Buys wat destyds saam met prof Jonathan Jansen aan die Universiteit van die Vrystaat bedrywig was. Hy word ook later as tentmaker in die NG Gemeente Luckhoff ontvang en bevestig, waar sy skoonouers bly.
In die Sothosprekende gemeente op Ladybrand in die Vrystaatse grensgordel, beleef hy eerstehands die situasie op voetsoolvlak, waar die Here hom voorberei vir ’n besondere pad op sendinggebied. Dr Gerdrie het as student hom dikwels by prof Nico Smith se huis ontmoet, want ek het by prof FJM Potgieter gebly en ons bure was prof Tobie Hanekom en prof Nico Smith.
In Maart 1975 word hy aangestel as professor aan die Orumana Teologiese Seminarium waar hy tot einde 1979 werksaam is. Hierna is dr Gerhard en Claudette ’n jaar lank op Gobabis die leraarspaar in die Uniting Reformed Church. Hulle pad loop in 1982 na die Gobabis-sendingwerkkring asook die NGSK Gobabis (EGKA). Hy keer terug na die Moederkerk, toe hy op 23 Januarie 1982 leraar word van die NG Gemeente op Keetmanshoop. Hier werk hy baie geseënd tot ’n akademiese roepstem kom om teologiese dosent te word van die Windhoek Theological Seminary in Windhoek. Toe die inrigting in 1991 sluit, word prof Gerhard Buys aangestel as eerste prinsipaal van die Namibia Evangelical Theological Seminary (NETS). Hier doen hy wonderlike werk en met sy gereformeerde evangeliese agtergrond, is hy ’n persoon met ’n wêreldwye invloed op sendingsake. Dr Gerhard Buys skryf ook ’n boek: The history of the Church in Namibia (1805-1990), ’n standaardwerk vir akademiese gebruik. Hy aanvaar in 2007 sy emeritaat en trap in ’n tydperk van 27 jaar diep spore in die sending in Namibië.
Dr Gerhard en Claudette tree af in Somerset-Wes, waar hulle wonderlike vriende maak. Dr Gerhard Buys sterf op 13 Maart 2025 en ’n gedenkdiens word op Stellenbosch gehou.
Reverend Willem-Henri den Hartog van Hardinxveld-Giessendam in Nederland, het ’n treffende huldeblyk gelewer, waaruit ons enkele dele aanhaal: “’n Groot, groot reus in die koninkryk het heengegaan. Hy was ’n brugbouer tussen mense en sy mentor, prof Nico Smith, het vir hom baie beteken. Hulle twee het ’n gemeenskaplike antipatie teen die Broederbond gedeel. Dr Gerhard het ’n leidende rol gespeel om die NG Kerk ’n deel van die versoeningsproses in Namibië te maak. Sy vermoë om in tye van teenstand sterk te staan, het vrug gedra om soveel verskillende en uiteenlopende denominasies te kry om saam te werk. Sy arbeid was ’n hoeksteen wat ontwikkeling daarna geanker en begelei het.
“Ons het by hom geleer wat dit is om jou christenskap prakties uit te leef. Dr Gerhard het ons ook geleer dat die filosofiese uitgangspunte van die teologie baie belangrik is. Jy kan nie ’n goeie dominee in Afrika wees, as jy nie hulle wêreldbeeld verstaan en in ag neem, met die verkondiging van die Blye Evangelie van Jesus Christus en in verbinding bring met Jesus Christus nie. Soli Deo Gloria, dat ons so ’n groot dienskneg van Jesus Christus se diep spore in Namibië in herinnering kan roep.”
DS BEN DE WET (BA, BTh) 4 Maart 1942 – 17 Jan 2025
Barend Petrus de Wet is op 4 Maart 1942 op Christiana gebore, ’n delwersdorp op die walle van die Vaalrivier. Sy vader na wie hy vernoem is, Barend Petrus de Wet, is boer in die Vaalharts, met sy besondere besproeiingsplase tussen die Harts- en die Vaalrivier. Sy moeder is Erentia van Zyl, wat as boervrou haar man ondersteun en haar huisgesin met liefde versorg.
Ben begin in 1948 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Vaalharts en matrikuleer in 1959 aan die Hoërskool Vaalharts. Die Here roep hom om predikant te word en hy vertrek in 1961 na Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf en toegang verkry tot die destydse Teologiese Seminarium, wat in 1963 ’n volwaardige fakulteit van die universiteit word. Hier behaal Ben in 1966 die BTh-graad, die jaar waarin die US se eeufeesviering plaasvind. Hy dien op die bestuur van die ACSV-tak van die universiteit en is ook ’n redaksielid van Polumnia en kweekskoolprimarius van die finalejaarsklas. Hy spesialiseer in Kerkreg en word aan die einde van 1967 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Hy tree op 23 Junie 1967 in die huwelik met Cecilia Saunders, ’n boorling van Vryburg en onderwyseres van Vaalharts. Uit die huwelik is drie dogters gebore, Esta, Anita en Erna.
Prop BP de Wet word op 9 Februarie 1967 met handoplegging in die NG Gemeente Harmonie te Sunnyside in Pretoria ontvang en bevestig, ’n gemeente wat hoofsaaklik uit studente bestaan. Die bevestigingsrede word gelewer deur ds Pierre Jordaan van Burgerspark. Op 15 September 1972 word hy leraar van die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid, ’n gemeente wat in 1973 ’n medeleraar moet beroep weens die groot getal lidmate. Intussen is daar ’n behoefte aan ’n studenteleraar in die NG Gemeente Parowvallei-Oos, waar ds Ben de Wet op 3 April 1976 bevestig word. Hier was hy verantwoordelik vir die bearbeiding van die studente en personeel van die Tygerberg Hospitaal.
Na byna vyf jaar word hy beroep na die NG Gemeente Lynnwood in Pretoria, waar hy op 9 Januarie 1981 bevestig word. Reeds as ’n jong predikant het ds Ben de Wet sy kreatiwiteit en handvaardigheid op sy afdae gebruik deur meubelstukke te maak. Hy was baie lief vir houtwerk. Na vier jaar in Lynnwood, bedank hy in 1985 as predikant en bestuur saam met sy swaer, ds Wiets Roets, ’n meubelfabriek en boer ook met sampioene. Nadat hy sewe jaar lank die “regte wêreld” ervaar het, doen hy colloquium doctum en word weer in 1992 tot die amptelike bediening toegelaat en word die leraar van die NG Gemeente Kimberley-Suid en in 1994 van die NG Gemeente Kimberley-Harmonie. Hier werk ds Ben met groot vrug tot hy op 31 Maart 2002 sy emeritaat aanvaar. Die Here se bedieningsirkel vir hom word voltooi, van Harmonie in Pretoria tot by Harmonie in Kimberley.
Na ds Ben en Cecilia de Wet se aftrede vestig die egpaar hulle op Pringlebaai, waar hulle twee dekades lank saam die lewe geniet het. Hy het gereeld gepreek en daar word met dankbaarheid verwys na sy werk in die breë gemeenskap rondom Pringlebaai. Na sy aftrede volg ’n bedrywige lewe as bouer wat aan verskeie woonhuise, ’n winkelkompleks en die NG Hangklipkerk op Bettysbaai gestalte gee.
Hy het ook bekendheid verwerf as ’n talentvolle mesmaker, wat op bestelling gemaak en verkoop is. Sy handvaardigheid is ook verinnig toe hy sy eie kleinkinders geleer het van hout en die maak van messe. Ds Ben het later maagkanker gekry en hy sterf skielik op 17 Januarie 2025. ’n Herinneringdiens word op 25 Januarie 2025 in die NG Hangklipkerk te Bettysbaai vir hom gehou.
DS JANNIE ENGELBRECHT (BA, BTh) 11 Augustus 1964 – 11 Januarie 2025
Johannes Stephanus Engelbrecht is op 11 Augustus 1964 gebore in Pretoria. Sy vader was ds PJB (Pieter) Engelbrecht, destyds predikant van die NG Gemeente Luipaardsvlei in Krugersdorp. Sy moeder was Mariana Marais, ’n onderwyseres wat op Stellenbosch opgroei. Ds Pieter Engelbrecht is ’n boorling van Smithfield, waar hy en sy broer ds Johan Engelbrecht, geroep is om predikante te word onder die geseënde bediening van ds Piet de Witt van Smithfield.
Ds Pieter is later leraar van Radiokansel, waar dr Gerdrie ’n tyd lank saam met hom gewerk het. Jannie se voorsate aan vaderskant was almal boere in die distrik Smithfield, terwyl oupa Hansie Engelbrecht ook ’n kontantwinkel op Smithfield bedryf het en ouma ’n boetiek op die dorp gehad het. Sy oupa aan moederskant was Jannie Marais wat by Bosbou in Stellenbosch klasgegee het.
Jannie begin in 1971 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Kemptonpark-Suid tot sy vader in 1973 ’n beroep aanvaar na die NG Gemeente Kerkenberg op Harrismith. In 1978 word hy leerling aan die Hoërskool Harrismith en moet weer van skool verander toe sy vader in 1979 leraar word van die NG Gemeente Hospitaalpark in Bloemfontein. Jannie is toe leerling aan die Hoërskool Sand du Plessis, waar hy in 1982 matrikuleer. Jannie voel geroepe om predikant te word en begin in 1983 met sy studie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy die BA (Admissie) graad verwerf. Hy dien op die Jool- en huiskomitee van sy koshuis. Hy het ook uitgeblink in tennis.
In 1986 loop Jannie se pad na die Eikestad, waar hy studeer aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Hy verwerf die BTh-graad en is ook leier op die kampus en dien in 1987-1988 op die studenteraad van die Universiteit. Jannie trou op 16 Desember 1989 met Liezel van der Westhuizen. Uit ’n gelukkige huwelik van 35 jaar is twee kinders gebore: Janu het musiek studeer en gee musiek aan by Westerford High School. Anita het rekeningkunde studeer en is ’n rekeningkundige by Santam.
Jannie doen in 1990 sy diensplig as kapelaan, terwyl Liezel onderwys gegee het aan The Settlers High School in Bellville. In 1991 help hy as proponent in die NG Gemeente Vredelust in Bellville en op 6 Oktober 1996 word hy bevestig as leraar in die NG Gemeente Boston in Bellville. Toe die gemeente in 2004 saamsmelt met Vredelust, word hy leraar en help ook vanaf 2007 in die NG Gemeente Zwaanswyk se aandbediening by die New Life Ministries. In die laat winter van 2014 tree hy uit die amptelike bediening waarna hy en ’n vriend ’n houtwerkbesigheid begin. Hierna help hy oral uit met prediking en gemeentekampe en help ook ses jaar lank uit met die aandbediening in die NG Gemeente Tamboerskloof in die hart van Kaapstad.
Op 1 Februarie 2018 keer hy terug na die vaste bediening as leraar van die NG Gemeente Ottery, ’n gemeente waar hy weer sy voete in die kerk vind. Daar is groot waardering vir sy werk in Koninkryksdiens. Die Here loop ’n besondere pad met ds Jannie en gesin, ’n pad waarin hulle die hand en vinger van God intens beleef. Twintig jaar lank het hy moedig en met geloofsmoed geworstel met verskeie soort kankers, maar Jannie was moedig en het met oorgawe geleef en die stryd met geloofsoorgawe gestry.
Hy word beroep na die NG Gemeente Riebeek-Wes waar hy op 11 April 2021 sy intreepreek lewer en waar die Here hom vergun om sy laaste kragte in die gemeentebediening te gee. Jannie was baie lief vir gesinsbediening en pastoraat. Hy het verskeie gesinsuitreike na Zambië, ook evangeliesasie-uitreike gelei na Mosambiek.
Sarena Mostert, raakvatter in die kerkkantoor op Riebeek-Wes skryf: “Ons het ds Jannie leer ken as ’n opgewekte persoon, wat altyd geglimlag het en lief was vir avontuur. Sy siekte het hom erg geraak, maar hy was altyd positief en het nooit moed verloor nie. Nadat sy milt weens kanker vroeg in 2024 verwyder is, het hy baie terugslae beleef. Op 3 Junie 2024 is hy in Kuilsrivier se Netcare opgeneem vir ’n stamseloorplanting, maar dit was nie geslaagd nie en sy gesondheid het baie vinnig agteruit gegaan.
“Ds Jannie was so positief en het altyd gesê dat hy nog baie graag in die Vallei die Woord wil bedien. Hy was ’n dinamiese prediker en tydens sy bediening het die gemeente weer kalmte begin ervaar, want voorheen het hulle deur ’n baie slegte tydperk gegaan. Hy het daarin geslaag om die gemeentelede weer bymekaar te bring. Die mense in die Vallei was lief vir hom en dit is jammer dat sy bediening so gou tot ’n einde gekom het.”
Sy vrou Liezel skryf: “Jannie was die laaste tyd weens die non-Hodgkins en Hodgkins limfoom baie siek en swak. Hy was baie dapper en het niks hom laat onderkry nie. Hy het bly voortveg en altyd gesê mense moet tog nie sê hy het sy stryd teen kanker verloor nie, want geen mens wat teen kanker veg, verloor die stryd nie. Jy wen die Lewe. Hy het sy wedloop met vlieënde vaandels voltooi en leef verder in die teenwoordigheid van God.” Jannie sterf op 11 Januarie 2025 en ’n gedenkdiens word op 18 Januarie 2025 in die NG Kerk Riebeek-Wes gehou.
DR LEON FOUCHÉ (BA Hons, MA, BTh, DTh) 20 Mei 1952 – 15 Julie 2025
Henry Leon Fouché is op 20 Mei 1925 gebore in Port-Elizabeth. Hy word groot in Oos-Londen en Roodepoort waar hy sy skoolopleiding begin. Leon matrikuleer aan die Hoërskool Roodepoort en voel geroepe om predikant te word. Sy pad loop na die Universiteit Stellenbosch waar hy in 1973 die BA (Admissie)-graad verwerf. Een van sy hoofvakke is Filosofie, waarin hy aan Maties ’n honneurs- en meestersgraad verwerf. In 1974 word hy student aan die Kweekskool waar hy in Dogmatiek spesialiseer en die BTh-graad verwerf, waar hy op 17 November 1977 as proponent gelegitimeer word. Hy is getroud met Saartjie Coetzee van Rouxville in die Suid-Oos-Vrystaat. Uit die huwelik is drie dogters gebore: Cara, Tanya en Nadia, wat almal tans in die buiteland woon.
Op 12 Januarie 1979 word prop HL Fouché met handoplegging in die NG Gemeente Knysna ontvang en bevestig, waar hy nege jaar lank die gemeente as herder en leraar bedien. In dié tyd beteken hy baie vir die CMR in Knysna en dien op die sinodale kommissie vir Leer en Aktuele sake in Wes-Kaapland.
Op 28 Februarie 1988 word hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen, waar hy 29 jaar lank predikant is tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 30 Junie 2017.
Dr Leon en Sara Fouché vestig hulle aanvanklik in Jeffreysbaai, maar trek nadat hy siek geword het na die Strand. As dominee was hy hartlik en het goed met almal oor die weg gekom. Dr Leon het goed na sy gesondheid omgesien en was fiks, ’n ywerige drawwer, roeier en swemmer. Hy het tien jaar lank gehelp as hulpdosent in die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en was ’n kenner van die wysgerige hermeneutiek. Hy word onthou as ’n vriendelike en aangename mens, iemand wat nie geskroom het om sterk standpunt in te neem nie. Hy het hom sterk uitgespreek teen apartheid en het sy lewe lank voorbrand gemaak vir die aanvaarding van die Belydenis van Belhar in die NG Kerk. Hy sterf op 15 Julie 2025 en ’n gedenkdiens word op 29 Julie 2025 vir hom gehou in die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen. Die Woord word bedien deur prof Anton van Niekerk, wat kort daarna sy eie seun op so ’n tragiese wyse aan die dood sou afstaan.
Dr Coenie Burger getuig in ’n huldeblyk: “Leon was absoluut ernstig oor die waarheid. En ek het baie waardering daarvoor gehad. Sulke mense is raar. Maar by Leon (nog raarder) was daar nog iets by. Hy het nie net eerlikheid en regverdigheid verstaan nie, maar hy het ook ’n hart gehad wat die liefde en die genade van ons Here Jesus Christus en van sy evangelie verstaan het. Dit is baie raar dat iemand diep regverdig is en ook genade verstaan!”
DR LOUIS HERMAN (BA, MA, DPhil, DTh) 29 Desember 1936 – 19 Augustus 2025
Louis Thomas Ignatius Herman is op 29 Desember 1936 gebore in die hawestad Oos-Londen. Sy vader was ook Louis Thomas Ignatius Herman, wat werksaam was by die SA Spoorweë en Hawens. Sy moeder was Johanna Catharina Els, ’n huisvrou wat haar gesin met liefde versorg het. Louis begin sy skoolopleiding in 1945 aan die Laerskool Grens in Oos-Londen en sit dit in 1951 aan die Hoërskool Grens voort. In sy tienerjare stel hy belang in boks, rugby, krieket en hengel. In standerd 7 verlaat hy die skool en begin in 1953 werk as telefonis by die poskantoor. Na enkele jare begin hy verder studeer en behaal in 1959 sy matriek deur die Volkskorrespondensiekursus, want hy voel geroepe om predikant te word.
In 1960 begin hy met die BA-graad aan die UOVS in Bloemfontein, waar hy die BA-graad verwerf en ook betrokke is by Onderwys, ’n saak wat hom na aan die hart lê. In 1966, die eeufeesjaar van die Universiteit Stellenbosch, word hy student aan die Kweekskool in die Eikestad en word aan die einde van 1969 as proponent gelegitimeer. Hy trou in 1964 met Alta Potgieter en uit die huwelik is drie kinders gebore: Marianne, Okkie en Louis.
Op 31 Januarie 1970 word prop Louis Herman met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Paarl-Vallei, waar hy drie jaar lank die bediening beleef as ’n wonderlike voorreg in diens van die Here. Hierna loop sy pad na die Vrystaatse hoofstad waar hy op 11 Maart 1973 in die NG Gemeente Fichardtpark in Bloemfontein ontvang en bevestig word. Dit is ’n besondere gemeente wat vinnig gegroei het met vele uitdagings. Sy hart lê ook in die onderwys en na sy demissie word hy in 1974 dosent en later departementshoof in Bybelkunde aan die destydse Onderwyskollege in Bloemfontein. In dié tyd verwerf hy ook sy MA-graad in Bybelkunde. Hy verwerf ook twee doktorsgrade, in Bybelkunde by prof JC Lombard met ’n DPhil-graad: “’n Skriftuurlik-prinsipiële besinning oor visuele voorstellings van God in die aanbieding van Godsdiensonderrig en Bybelkunde”. In 2010 na sy aftrede by die see, verwerf hy onder leiding van prof DF Tolmie ’n DTh- graad in Nuwe Testament aan die Universiteit van die Vrystaat. Die titel van die proefskrif was: “’n Narratologiese analise van Nikodemus in die Johannesevangelie”.
Op 1 April 1989 word hy herder en leraar van die NG Gemeente Bloemspruit in Bloemfontein en ook terselfdertyd kapelaan van die Lugmagbasis Bloemspruit. Hier doen hy uitstekende werk tot hy op 31 Desember 1996 aftree as kapelaan en hy en Alta vestig hulle op Jeffreysbaai. Hier is hy betrokke in die pêrelbedryf en organiseer ook die Bybelskool in die NG Gemeente Jeffreysbaai. Dr Louis was altyd kerklik meelewend en het dikwels gepreek. Ds Charlie Bond, ’n geliefde oudleraar van Jeffreysbaai, vertel dat dr Louis Herman ’n besondere gawe gehad het om te preek en deur die Heilige Gees se werking baie mense aangeraak het.
Mettertyd het sy gesondheid so verswak dat hy in Jeffreysrus, ’n tehuis vir bejaardes opgeneem is waar hy met liefde versorg is tot die einde toe. Hy sterf op 19 Augustus 2025 en sy lewe word op ’n treffende wyse tydens ’n herinneringsdiens op Jeffreysbaai gevier.
DS ROCHÉ HEYNS (BA Hons, BTh, MTh) 11 Julie 1940 – 11 Mei 2025
Michiel Roché Heyns is op 11 Julie 1940 gebore as pastorieseun op Graaff-Reinet. Sy oupa was ds Michiel Heyns, ’n boerseun van Senekal, wat van 1893 tot 1906 leraar was van die NG Gemeente Fouriesburg in die Oos-Vrystaat. Tydens die Anglo-Boereoorlog moes die gesin vlug en gaan woon op ’n sendingstasie in die destydse Basoetoland. Roche se vader is Irénée Emile Heyns, gebore op 28 Junie 1902 kort na die Vrede van Vereeniging. Daarom beteken sy naam “vrede” in Frans. Terug in Fouriesburg word nog ’n seun gebore, Louis Jacobus Heyns. Albei volg in hulle vader se voetspore en word predikante in die NG Kerk. Roche se moeder is Rene Malan van Worcester. Haar man beskryf haar “aan my sy soos ’n engel”.
Die pastorie is Roche se tuiste en hy word groot op Graaff-Reinet, Kroonstad, Heilbron en Bothaville in die Vrystaat. Hy begin in 1946 met sy skoolopleiding op Kroonstad en is ook leerling aan die laerskole op Heilbron en Bothaville. Hy matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Bothaville. Hierna vertrek hy na Stellenbosch om hom as prokureur te bekwaam en woon in Dagbreek. Hy is ook voorsitter van die CSV-tak op Stellenbosch en is aktief in die Berg-en-Toerklub. Hy voltooi sy kursus, maar tydens die Sendingweek op Stellenbosch voel hy geroepe om predikant te word, ’n groot stap om oor te slaan van wet na genade as student aan die Profeteskool in die Eikestad. Hy behaal die BTh-graad en beleef die oorgang van ’n Teologiese Seminarium na ʼn Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy behaal ook ’n honneursgraad in Bantoereg- en administrasie en later ’n meestersgraad in Teologie.
Roché trou op 20 Februarie 1970 op dertigjarige ouderdom met mej Annelize Holzapfel, ’n onderwyseres wie se voorouers en welbekende vader prof Ernst Holzapfel sierade op sendinggebied is. Uit Roche en Annelize se huwelik is vier kinders gebore: Elize, Rene-Louise, Karin en ’n seun Irénée Emile Heyns. Hy sit die kerklike tradisie voort, die vierde Heyns in ’n ry wat predikant word. Ds Irenee Heyns is tans leraar van die NG Moedergemeente Stellenbosch.
Na sy legitimasie aan die einde van 1964 is Roché beskikbaar vir die sending en word op 2 Januarie 1965 in die Studentekerk op Stellenbosch georden en bevestig as gestuurde sendeling na Madwaleni in die Transkei. Roché is dus die “derde geslag Heyns” wat VDM-status verkry. Hier werk hy tot in die lente van 1968 toe hy na die Moederkerk terugkeer as leraar van die NG Gemeente Bellville-Noord, waar hy sy liefde vir jeugwerk kan uitleef. Op 19 Februarie 1972 word hy leraar van die NG Gemeente Darling, waar hy in ’n kort tydjie ’n merkwaardige bediening beleef. In sy tyd op Darling word ’n nuwe Sendingkerk, Huis Groeneweide en die skool en koshuis op die Bult gebou, groot projekte wat met sukses afgehandel is.
Op 25 Julie 1975 word ds MR Heyns bevestig as leraar van die NG Gemeente Durbanville, ’n omgewing waar hy tot met sy aftrede sou woon en werk. Die gemeente het ’n jaar na sy aantrede hulle 150-jarige fees gevier en het as bakengemeente ’n besondere plek beklee in die Tygerberg. Die gebied het geweldig uitgebrei en vroeg in 1982 word hy die eerste leraar van die nuutgestigte NG Gemeente Durbanville-Bergsig, waar hy betrokke is met die bou van ’n nuwe kerkgebou en die grondslag van ’n nuwe gemeente te fasiliteer. Ds Roché Heyns was ’n peetseun van John en Tini Vorster, voormalige eerste minister en staatspresident van Suid-Afrika. Hy was intens betrokke in 1983 by oom John se sterfbed en praat tydens die begrafnisdiens op Kareedouw oor hierdie aangrypende en intieme oomblik.
’n Roepstem kom aan die einde van 1986 in die vorm van die jeugorganiseerder in die Jeugkantoor van die Sinode van Wes-Kaapland. Ds Roché Heyns was sedert 1971 intens betrokke by jeugwerk in die breë NG Kerk. Sy skitterende ervaring met sy innemende persoonlikheid, opreg luisterende oor en goeie humorsin, maak hom die regte persoon vir die pos. In 1995 keer hy as PSD vir jeug weer terug as medeleraar van die NG Gemeente Durbanville-Bergsig, waar hy woon tot met die aanvaarding in 2004 van sy emeritaat.
Ds Roché was lief vir die buitelewe en Kleinmond-omgewing, met ’n besondere liefde vir bergklim en wandelpaaie. Hy was ’n ywerige drawwer en sy liefde vir motorkarre en daarmee te vroetel, is oorbekend. Daarvoor het sy ou “Prefect” en “Peugeot” uit sy studentejare gesorg, ’n vreugde wat hy nooit kon ontgroei nie. Hy sterf op 11 Mei 2025 na ’n lang siekbed en ’n gedenkdiens word op 24 Mei 2025 in die NG Kerk Hermanus waargeneem deur ds Marinus Theron van Stellenbosch-Wes. Die dogters lewer huldeblyke en die seun ds Irénée Heyns doen die bedankings. So sak die kerklike gordyn oor die lewe van ’n geliefde leraar.
DS BEN JANSE VAN RENSBURG (BA) 23 April 1942 – 8 Augustus 2025
Barend Johannes Janse van Rensburg is op 23 April 1942 gebore te Omaruru in die destydse Suidwes-Afrika. Ben word groot op die plaas Arbeidsgenot in die distrik Omaruru. Sy vader was Daan Janse van Rensburg, ’n melkboer, wat in Ben se matriekjaar oorlede is. Sy moeder is Cornelia Louisa von Maltitz, ’n boervrou en sorgsame moeder. Lulu het op die plaas Epako naby Omaruru grootgeword. Na hulle troue het hulle gaan boer op die plaas Arbeidsgenot, waar die drie broers, Ben, Johan en Daan, besondere kinderjare beleef.
Ben het van kleins af gely aan asma, daarom begin hy in 1948 aan die kus by Swakopmund met sy skoolopleiding. In 1957 word hy leerling aan die Hoër Jongenskool op Worcester, waar hy op die leerlingraad dien en in 1960 matrikuleer. Hy dien op die debatsbestuur en was lief vir rugby, tennis en gholf. Op skool was hy baie lief vir rugby en het heelagter gespeel. In 1961 loop sy pad na Stellenbosch waar hy opgelei word as onderwyser en hy later terugkeer na Windhoek in Namibië.
Ben is ’n lidmaat van die NG Gemeente in Windhoek, waar hy as diaken inskakel by die gemeente en intens betrokke is by die lief en leed van die kerklike lewe. Hy speel gholf en tennis en in 1965 speel hy vir die Wanderers, destydse SWA se eerste span. Hy ontvang die roeping om predikant te word en in 1966 verhuis die jongman na Bloemfontein om met sy teologiese studies te begin. Intussen ontmoet hy sy aanstaande lewensmaat Rika Pheiffer in Bloemfontein, waar hulle aktiewe lede is van die KJA by die Tweetoringkerk in die Rosestad. Hulle verhuis na Pretoria, waar hy die BA-graad verwerf aan die Universiteit van Pretoria.
In 1973 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies, terwyl hy in sy studiejare help in die NG Gemeente Kwaggasrand in Pretoria. Aan die einde van 1976 word hy as proponent gelegitimeer en is beskikbaar vir die bediening. ’n Roepstem kom na die NG Gemeente Windhoek-Noord, waar hy op 29 Januarie 1977 met handoplegging ontvang en bevestig word. Die bevestigingsrede word gelewer deur ds JG de Kock en op 30 Januarie 1977 lewer hy sy intreepreek. Hier volg drie goeie jare in Windhoek, waar hy die gemeentebediening intens leer ken en die hartlike mense van Suidwes-Afrika finaal groet en verhuis na die Republiek van Suid-Afrika.
Ds Ben Janse van Rensburg aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Kareedouw, waar hy die naweek van 15-16 November 1980 bevestig word deur ds JS Anker. In sy dienstyd word die Eersterivier-kampterrein ingerig en hy is as predikant van Kareedouw baie nou betrokke by die kampterrein by Eersterivierstrand. Ds Ben van Rensburg het die houtwerk in die geboue self gedoen. As leraar het hy baie beteken vir die onderwys, sending, barmhartigheidsdiens, terwyl hy ook kapelaan was van die Voortrekkers. Op ringsgebied dien hy op die CMR-raad en bestuur van Ons Tuiste, ’n aftree-oord op Humansdorp. Hy kon nie net die jeug bedien nie, maar het ook baie aandag aan bejaardesorg gegee. Hy het die gawe besit om met baie empatie mense te hanteer en was altyd bereid om lidmate in liefde te lei en ondersteun. Tydens hulle verblyf in Kareedouw het Rika jare lank in die bank gewerk en ook gehelp met die CMR op Kareedouw en in die Tsitsikamma-area.
Op 13 September 1988 is staatspresident John Vorster vanuit die NG Kerk op Kareedouw begrawe, in die helde-akker langs die kerkgebou van klip. Die verrigtinge is op nasionale TV uitgesaai en dit was ’n blomryke afskeid aan ’n geliefde leier, advokaat Balthazar Johannes Vorster. Die Voortrekkers van Kareedouw het ’n erewag gevorm, terwyl vyf studente van die koshuis Dagbreek op Stellenbosch die graf toegegooi het. Ds DT du T Moolman, moderator van die NG Sinode in die Oos-Kaap het die erediens gelei, terwyl ds Roché Heyns en ds Ben van Rensburg hom bygestaan het.
Na sy aftrede was ds Ben oom John en tannie Tini Vorster se herder en leraar op Oubos en het hy geestelik baie vir die egpaar beteken en kon hy hulle herderlik ondersteun. Rika skryf: “Ons was baie goeie vriende en Ben was by hom toe die helikopter hom by hulle huis in Oubosstrand kom oplaai het na die hospitaal in Kaapstad. Oom John se groot wens was om onder die boom begrawe te word langs die kerkgebou op Kareedouw, waar hy elke Sondag vir kerk sy motor parkeer het. Ben het ook Tant Tini Vorster se begrafnis waargeneem. Dit was ʼn intieme familiediens”.
Na 27 jaar op Kareedouw aanvaar ds Ben Janse van Rensburg sy emeritaat op 10 Februarie 2008 en die egpaar vestig hulle op Jeffreysbaai, waar hy help met preek en hulpdiens in die NG Kerk Jeffreysbaai tot 2022. Hulle was inwoners van Huis Edenglen. Ds Ben sterf op 8 Augustus 2025 in Cyler Netcare, Uitenhage en sy begrafnisdiens word op Vrydag 15 Augustus 2025 deur ds Joe Janse van Rensburg vanuit NG Jeffreysbaai gehou. Die volgende verskyn op die begrafnispamflet: “Vandag vier ons die lewe van Pa Ben. Tussen al ons trane deur, kan ons nie anders as om ons liefdevolle Hemelse Vader te eer vir hierdie kind van Hom nie.”
DS BENNIE JANSE VAN RENSBURG (BA, BTh, MTh) 17 Januarie 1961 – 19 Oktober 2025
Barend Daniël Janse van Rensburg is op 17 Januarie 1961 gebore in Bloemfontein. Sy vader was Hermanus Izak Johannes Janse van Rensburg, ’n boorling van Hennenman wat hom as onderwyser bekwaam het. Sy moeder is Magdalene Elizabeth Janse van Rensburg, ’n boorling van Wepener naby die grens van Lesotho. Sy word ook ’n onderwyseres. Bennie word in ’n huis groot waar sy ouers se werk as onderwysers uitstekende waardes in hom as mens kweek. Chappy en Maggie skep ’n lieflike ouerhuis vir hulle gesin, waar harde werk ’n werkwoord is en nie eindig nie.
Bennie begin sy skoolopleiding in 1967 aan die Sentrale Volkskool in Kroonstad en is later van 1969 tot 1973 leerling aan die Laerskool Suidrand Volkskool. Hy is van 1974 tot 1978 leerling aan die Hoërskool Kroonstad, in die volksmond bekend as die blouskool. Bennie is hoofseun van die skool en hy handhaaf ’n besondere verhouding met almal. Hy voel van kleins af geroepe om predikant te word en begin in 1979 aan die UOVS in Bloemfontein met sy BA (Admissie), waarna hy in 1982 student word aan die nuutgestigte Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy is ’n inwoner van Huis Olienhout op die Kovsiekampus, waar hy primarius is en die studentelewe terdeë geniet. Aan die einde van 1985 word hy as proponent gelegitimeer in die Studentekerk op Kovsiekampus. Hy is getroud met Susanna Maria de Beer van Virginia, ’n gekwalifiseerde onderwyseres. Hy studeer ook verder en verwerf in 1987 die MTh-graad in Nuwe Testament. In 1986 tot 1987 doen hy militêre diensplig.
Prop BD Janse van Rensburg is op 17 Januarie 1988, op sy 27ste verjaarsdag, met handoplegging in die NG Gemeente Brandwag in Bloemfontein ontvang en bevestig. Die rede word gelewer deur sy oom, ds Jan Berry van Edenburg. Aan die handoplegging neem die volgende leraars deel: Ds D Olifant, ds SJL Marais, ds SJ Fouche, ds GJ Jonker, ds GPV le Roux, prof JJ de Klerk, prof MHO Kloppers, prof JA du Rand en prof EPJ Kleynhans. Op Sondag 24 Januarie 1988 hou ds Bennie Janse van Rensburg sy intreepreek oor Openbaring 21 vers 1 tot 5. Die Openbaringboek sou vir Bennie tot aan die einde fassineer. Hier in Bloemfontein beleef hy wonderlike tye in die nege jaar van sy bediening, met baie studente en jongmense by die poort van die Vrystaatse Universiteit.
Op 2 November 1997 word ds Bennie Janse van Rensburg bevestig in die NG Gemeente Wellington aan die voet van die Groenberg. In hierdie onderwysdorp sou hy en sy vrou Susan met hulle twee kinders Marnus (9) en Mareli (5), ’n lieflike tuiste vind in die harte van die mense van dr Andrew Murray se geliefde droomgemeente op Wellington. Hy onderskei hom as ’n toegewyde en intellegente leraar, wat deur harde werk die besondere NG Moedergemeente op Wellington se mense saamgesnoer het tot ’n liefdeseenheid.
Reeds in die Rosestad het hy begin met ’n stokperdjie en liefhebbery, die koop en verkoop van antieke meubels en versamelstukke. Hy het hiermee volgehou ook in sy verblyf op Wellington, wat hom met duisende versamelaars oor die land heen in aanraking gebring het. Die naam wat hy gebruik het was “De Vreede”, ’n liefde in sy lewe wat ook vrede in sy gemoed gebring het. Dr Gerdrie en ds Bennie het hiermee ’n wonderlike vriendskap beklink en ek het gereeld by hom stukke aangekoop. Hierdie wyse man het ’n legende in sy leeftyd geword, want sy mensekennis en onderskeidingsvermoë het hom nooit in die steek gelaat nie. Dit was vir my ’n groot vreugde toe my niggie, ds Lettie Büchner, in 2005 beroep word as medeleraar saam met my vriend ds Bennie, een van die dierbaarste mense wat ek ken.
Wellington was werklik vir ds Bennie en Susan van Rensburg ’n oase op die lewenspad, maar elke paradys het sy slang. In 2007 word ds Bennie gediagnoseer met FSHD-spierdistrofie, ’n oorerflike spierkwynende siekte waarvoor daar nie genesing is nie. Gevorderde kolonkanker is ook in 2014 by hom gediagnoseer, maar na ’n intensiewe behandeling met chemoterapie was dit in remissie. Dit het geweldige uitdagings gebring, maar hy het aangegaan soos iemand wat die Onsienlike sien en ds Bennie het voortgegaan met sy bediening. Op 17 Januarie 2021, op sy sestigste verjaarsdag, het hy vervroegde emeritaat aanvaar weens mediese redes. Al was hy grootliks huisgebonde, het ds Bennie steeds by sy gemeente betrokke gebly onder meer deur weekliks aanlynboodskappe na gemeentelede vanaf sy tablet uit te stuur. Op Sondag 19 Oktober 2025 sterf ds Bennie en daar word getuig: “Ons gemeente het vandag ’n familielid, ’n leier en ’n wyse man verloor”.
In ’n huldeblyk deur Hugenote Kollege, waar ds Bennie twee dekades lank as direksielid gedien het, word hy as man van geloof, wysheid en onwrikbare toewyding beskryf. As predikant van NG Moedergemeente Wellington, was sy invloed onlosmaaklik verweef met dié van die kollege: “Hy het nie net die Woord bedien nie, maar ook die waardes van liefde, nederigheid en diensbaarheid beliggaam”.
Sy kollega ds Lettie Büchner, het hom vroeër vanjaar gevra om op video vir die gemeente te vertel van sy eie geloofsvrae rondom donker tye. Haar versoek het hom laat nadink oor die stories wat ons in die kerk vertel, dat hy meen die stories wat ons moet deel, nie net suksesstories moet wees nie, maar ook “stories waar die Here jou nie uit die put haal nie, maar die put uit jou haal”.
’n Gedenkdiens word op Vrydag 24 Oktober 2025 in die NG Moederkerk op Wellington gehou. Die diens is gelei deur ds Lettie Büchner, met Van Dyk Cilliers (vriend), Adriaan Janse van Rensburg (broer) en Marnus Janse van Rensburg (seun) wat huldeblyke gelewer het. Ons onthou dat ds Bennie by geleentheid die wyse woorde beklemtoon het. “Ons is nie hier om te bly nie, ons is hier om te gaan. Almal is terminale pasiënte. Koop die tyd uit. Carpe Diem”.
DR GIDEON KOK (BA, BD, MDiv, PhD, Diploma Polisie-admin) 13 Maart 1955 – 2 April 2025
Gideon Jacobus Kok is op 13 Maart 1955 gebore in Bloemfontein. Sy voorouers emigreer omstreeks 1733 uit Waldeck in Duitsland na Suid-Afrika. Hulle is in diens van die VOC in Suid-Afrika en vestig hulle by Swellendam. Die nuwe aankomelinge se van was eers Koch, wat deur die VOC vernederlands is na Kok. Die uitgebreide Kok-familie trap diep spore in die Afrikaner se geskiedenis, dink maar aan prof Benedictus Kok, rektor en vise-kanselier van die UOVS in Bloemfontein en prof Ordino Kok wat diep spore in die mediese veld trap. Hulle is neefs van Gideon se vader, woonagtig in Frankfort en Bloemfontein. Gideon se vader is Jacobus Kok, ’n kolonel in die SAP en hoof van logistiek aan die Polisiekollege in Pretoria. Gideon se moeder is Johanna (Babe) Opperman, ’n boekhouer van beroep wat haar man lank oorleef.
Gideon begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Dagbreek in Welkom waar hy die hoofseun is en provinsiale kleure in verskeie sportsoorte verwerf. Hy is later leerling aan die Gimnasium in Welkom, tot die gesin verhuis na Pretoria en is die laaste twee jaar leerling aan die Hoërskool Pretoria-Wes. Na skool het hy by die SAP aangesluit en die BA-graad aan Unisa verwerf. Hierdie jongman was iemand met besondere talente, sterk leierskap, besondere integriteit en iemand met ’n noemenswaardige kapasiteit vir harde werk en dissipline.
Prof Nelus Niemandt, voormalige moderator van die Algemene Sinode, getuig: “Gideon was ’n persoon met ’n ‘commanding presence’. Hy is as superster beskou en word op ’n jong ouderdom ’n majoor en ’n toppresteerder in die land se offisierskursusse. Hy was een van die uitsonderlikes wat moontlik eendag generaal in die topbestuur van die polisiediens kon word.”
Tydens ’n erediens in 1984 wat destyds deur dr Malan Nel gelei is, kom Gideon kragdadig tot bekering en die roeping om voltyds vir die Here te werk oorweldig hom. Hy is gehoorsaam en verruil in 1985 die polisie-uniform vir die predikantstoga. Dit vra baie offers, maar Gideon druk deur en wy sy lewe toe aan die Here God. Aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies dien hy op die Deo Gloria-bestuur en tydens sy BD-studie is hy wenner van die “Mergon Trust Stigtingprys” vir die beste prestasie in Ou Testament en die “AM Meiringprys” vir die beste prestasie in Sendingwetenskap. Aan die einde van 1990 word Gideon Kok as proponent gelegitimeer.
Proponent Gideon Kok word die naweek van 27 Januarie 1991 met handoplegging in die NG Kerk Randburg ontvang en bevestig, met opdrag kapelaansdiens in die SAP. Die bevestigingsrede word deur prof Jurie le Roux gehou en die verwelkoming en gelukwensing deur generaal-majoor Gerrit Erasmus. Na drie jaar in 1994 kom ’n roepstem na die voltydse gemeentebediening, as leraar van die NG Gemeente Mondeor in Johannesburg.
Dit was sy eerste en enigste gemeente, waar hy bedien tot in 2019 met die aanvaarding van sy emeritaat. Drie dekades lank is die gemeente bevoorreg om hom as man van God te beleef, iemand wie se geestelike arbeid van toewyding en diep pastorale sorg getuig. Sy bediening het ’n diep en blywende impak op die gemeente gemaak, ’n geliefde leraar, ’n sterk en wyse herder en ’n voorbeeld van deernis en geloof. Hy dien lank op die moderamen as skriba van die Suid-Transvaalse sinode en het ’n belangrike rol gespeel om die sinode se missionale roeping tot kerkwees te versterk. Missionale kerkwees en die toerusting van gelowiges was sy passie en hy besit ’n gawe vir opleiding en toerusting. Hy verwerf sy doktorsgraad met die hoogste lof onder die promotorskap van professor Jan van der Watt. Hy spesialiseer in die “Charismata by Paulus en Petrus” en gee deeltyds klas aan Tukkies.
Gideon Kok trou in 1976 met mej Dominica van Eeden, iemand wat met haar hele hart haar man ondersteun het in sy roeping en werk vir die Here. Haar oupa was ds Pieter Biewenga, ’n Nederlandse predikant wat saam met die Dorslandtrekkers getrek het. Uit die huwelik van bykans ’n halfeeu is drie kinders gebore: Twee seuns, Kobus en Barry, ook ’n dogter Done.
Kobus Kok volg in die voetspore van sy vader en word predikant in die gemeentes Kempton-Hoogland en Universiteitsoord (2003-2009), tot hy professor word in Nuwe-Testamentiese Studies aan die Universiteit van Pretoria (2009-2015). In 2015 aanvaar hy ’n aanstelling as professor en hoof van die departement Nuwe Testament aan die Evangelische Theologische Faculteit Leuven in België. Hy bly buitengewone hoogleraar aan Tuks, waar hy twee doktorsgrade in die teologie behaal en ’n NRF B3-gradering ontvang.
Dr Gideon Kok sterf op 2 April 2025 aan lewerkanker. Prof Kobus skryf oor sy vader se dood: “Op die dag van sy dood kom ek uit België in Suid-Afrika aan en is betyds vir sy sterfuur in die hospies. Gideon sterf in vrede, omring met sy drie kinders en sy vrou. Die teksvers wat hyself uitgesoek het, kom uit Numeri 6:24-26 en die diens vind op 9 April 2025 plaas in die NG Gemeente Overkruin.”
Prof Nelus Niemandt getuig: “Gideon was lojaal, deurdag en intens toegewyd. Sy geloofsoortuiging, sy sterk roepingsbesef en sy respek vir die Bybel, veral die antieke tekste, het hom ’n gesaghebbende stem in die kerk gemaak. Hy was ’n groot persoon, ’n mens van karakter en integriteit. Sy kinders dra sy merk en die uitstekende teologiese loopbaan van prof Kobus Kok getuig van ’n vader wat voorgeloop het in wysheid en insig. Rus sag, ou vriend. Jy het jou roeping vervul, met eer, liefde en geloof.”
DS COENIE KOTZE (BA, BTh) 16 Februarie 1945 – 2 November 2024
Cornelis Goosen Kotze is op 16 Februarie 1945 gebore op Grootmist in die distrik Springbok. Sy vader is Hendrik Johannes Kotze, winkelier en verwer. Sy moeder is Hendrika Anna Johanna Goosen, ’n huisvrou. Hy skryf oor sy grootwordjare: “Ek is trots daarop om te sê: ‘Ek is ’n Namakwalander uit die Sandveld’. My grootouers en ouers het uit ’n geslag van eerlike, opregte, eenvoudige, plat op die aarde, interessante, Godvresende mense, gekom. Hulle was nie ryk in aardse besittings nie, maar ryk in hulle besondere kultuur en lewenswyse. ’n Groot stuk vrugvorming het in my lewe plaasgevind deur my ouers, onderwysers, predikante en die krag van die Heilige Gees. Ek het vanaf my kinderjare ’n besondere liefde vir die Here, sy kerk en die uitdra van die evangelie ervaar”.
Toe Coenie vyf jaar oud was, verhuis sy ouers na Karasburg in die suide van Suidwes (Namibië). Hy ontvang sy eerste skoolopleiding te Karasburg en later aan die Hoërskool Keetmanshoop, waar hy aan die einde van 1963 matrikuleer. Hy skryf: “My ywer vir die Here en alles wat die evangelie inhou, het my aangevuur om vir die Here en vir die uitdra van die evangelie te gaan werk. Van kleins af het ek hierdie ywer en intense begeerte ervaar”. Om universiteit toe te gaan! Nee, nooit nie! (het ek geredeneer). Dit lê nie in my vermoë nie, ek sal maar liewer kollege toe gaan en onderwyser word. My idee van universiteit was dat dit net vir uiters briljante mense bedoel is.”
Na matriek word Coenie Kotze in 1964 student aan die Onderwyskollege in die Paarl, waar hy in 1966 kwalifiseer as laerskoolonderwyser. Hy keer as onderwyser terug na Suidwes-Afrika en word in 1967 aangestel aan die Laerskool Keetmanshoop en later aan Hoërskool PK de Villiers te Keetmanshoop, met die pos as houtwerk- en metaalwerkonderwyser. Hier trou hy op 13 Desember 1969 met mej. Helena Beatrix de Vaal de Waal, ’n boerdogter van Aus. Uit die huwelik is twee kinders gebore, Ronel en Johan. Hulle is saam op die onderwyspersoneel op Keetmanshoop. In 1971 verskuif die egpaar na Lüderitz, waar hy onderwys gee aan die Laerskool Helén van Rijn.
Coenie skryf: “In die tydperk op Lüderitz was ek op die plaaslike kerkraad en moes dikwels as diaken leesdienste behartig. Hier het ek die roeping van die Here weer duidelik gehoor, ’n dringendheid na aanleiding van die Here se woorde aan Gideon (Rigters 6:14) “Gaan met die krag wat jy het … toe. Ek stuur jou”.
In 1974 begin Coenie en Helen die geloofspad en verhuis in diepe afhanklikheid na Stellenbosch om met sy studie te begin. Hy behaal die BA (Admissie) en later die BTh- graad aan die Universiteit Stellenbosch. Hulle het eers op Stellenbosch en later in Kuilsrivier gebly, waar sy skoolgehou en hy soggens en smiddae skoolbus gery het om die pot aan die kook te hou.
Prop Coenie Kotze word aan die einde van 1980 gelegitimeer, waarna hulle en hulle twee kinders Johan en Ronel, gewag het op ’n beroep. Daar is groot vreugde toe ’n beroep kon na die NG Gemeente Merweville in die Groot-Karoo. Prop Coenie word die naweek van 24 Januarie 1981 ontvang en met handoplegging bevestig op Merweville. Hy skryf: “Ons bediening het rampspoedig begin. Dit het die naweek baie gereën, boere het groot skade gely en die rivier wat deur die middel van die dorp vloei was in vloed. Ons het eers later verneem van die gemeentelede se penarie om kos aan die pastoriepaar en gaste te voorsien. Van die kos was aan die anderkant van die rivier! Merwevillers laat hulle nie onderkry nie, en ons was nie eens bewus daarvan nie. Dit was dieselfde naweek met Laingsburg se vloed, ons buurdorp wat verwoes is. Ons bediening in Merweville was baie geseënd. Ons het goed by die gemeente ingeskakel en na al die jare het ons nog steeds kontak met van die gemeentelede”.
Hierna loop ds Coenie en Leentjie Kotze se pad na Herbertsdale, waar die egpaar werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 2001. Hierna help hulle ’n tyd lank in die NG Gemeente Lüderitz, wat ook Aus en Rosch Pinah insluit. Die gemeente was vakant en het as gevolg van hulle finansies besluit om eers met ’n beroeping te wag. Ons het daarna op ’n plaas van ’n vriend gaan bly en die boerdery vir hom behartig. Later gaan woon hulle by hulle dogter te Lyttelton in Gauteng, waar hulle help om drie gaste-eenhede aan die woning te bedryf.
Ds Coenie Kotze sterf op 2 November 2024 en sy geliefdes dank die Here vir die besondere lewe van Coenie en dat hulle deel kon wees van die pelgrimstog.
DS JOHAN LAMPRECHT (BA Honneurs) 1 November 1931 – 17 Februarie 2019
Johan Christiaan Lamprecht is op 11 November 1931 gebore op Worcester. Sy penwortels is diep geanker in die Suid-Afrikaanse bodem. Die stamvader, Johann Christian Lamprecht, kom vroeg in 1726 as 19-jarige soldaat in diens van die VOC by die kasteel in Kaapstad aan. Sewe geslagte later word Johan Christiaan Lamprecht gebore, die oudste seun van Christiaan de Wet Lamprecht wat in die SA Polisiediens werk en sy vrou Johanna de Villiers. Hulle seun Johan Christiaan Lamprecht word op 7 Februarie 1932 gedoop op Worcester.
Johan begin in 1938 met sy skoolopleiding op Worcester, waar die Gedenktrek (1838-1938) in die hart van die jong Afrikanerseun ’n trotse volksgevoel laat groei. As seun van ’n polisieman, trek Johan en sy ouers baie rond en hy gaan skool op Robertson, Prins Albert, Oudtshoorn en Kensington. Hulle keer weer na Oudtshoorn terug waar hy matrikuleer en in 1948 belydenis van geloof afgelê het onder leiding van dr AP Treurnicht, destyds leraar van die NG Moederkerk op Oudtshoorn. Hy voel geroepe om predikant te word en studeer van 1950 tot 1952 BA Admissie aan die UOVS in Bloemfontein. Johan is ’n skrander jongman en hou ook ’n jaar lank skool op Reivilo. Hy behaal ook in 1957 die BD-graad in Teologie. Sy skripsie handel oor die eskatologiese gedagtes by Calvijn. Na vier besondere jare in die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier op Stellenbosch, word Johan aan die einde van 1957 as predikant gelegitimeer.
Proponent Johan Lamprecht word op 14 Desember 1957 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Sendingkerk te Nababeep naby Springbok in Namakwaland. Die ordening is waargeneem deur ds JL van Rooyen en ds H Kuyler en ds D de Jager was ook teenwoordig. In 1961 is hy ook ’n tydjie werksaam op Swellendam. Op 11 Maart 1961 keer hy terug na die NG Moederkerk toe hy leraar word van die NG Gemeente Brandwacht naby Mosselbaai. Hy word op 14 Februarie 1964 leraar van die NG Gemeente Noupoort, ’n bedrywige spoorwegdorp tussen Colesberg en Middelburg. In 1965 word hy leraar van die NG Gemeente Derby in die omgewing van Koster in die destydse Wes-Transvaal.
Na ’n geseënde dienstyd word hy op 9 Januarie 1974 leraar van die NG Gemeente Grimbeekpark op Potchefstroom. Hier werk hy met oorgawe en verwerf in 1975 ’n honneursgraad in Grieks aan die PU vir CHO op Potchefstroom aan die Mooirivier. Onder sy leiding word geld ingesamel vir die bou van die kerkgebou van die NG Gemeente Grimbeekpark, asook ’n nuwe atletiekbaan te Potchefstroom, as Springbokafrigter in atletiek.
Op 20 Januarie 1979 word hy leraar van die NG Gemeente Hertzogville op die Vrystaatse platteland, waar hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1991. Na sy emeritaat help hy ses jaar lank in die Afrikaanse Protestantse Kerk as leraar van die gemeentes Ellisras en Nylstroom.
Johan trou op 14 Desember 1957 in die NG Moederkerk te Oudtshoorn. met mej Ianthe Zeelie, ’n onderwyseres. Uit die huwelik is 11 kinders gebore, ses seuns en vyf dogters. Johanna Christiaan de Wet, Anneliese, Johan Christiaan, Ilse, Gerrit, De Villiers, Gideon, Adriaan, Ianthe en Christiena. Twee volg in die voetspore van hulle vader. Ds Annatjie Marais is leraar van die NG Gemeente Fraserburg in die Karoo en ds Gideon Lamprecht, leraar van die NG Gemeente Bethlehem-Panorama.
Ds Gideon skryf: “Ds Johan trap diep spore in die Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis: hy rig sy broer De Villiers af, wat op 13 November 1964 die eerste Suid-Afrikaner word wat die myl onder 4 minute (3 min 59,7 sek.), kaalvoet op ’n grondbaan te Coetzenburg, Stellenbosch gehardloop het. In 1968 vergesel Johan as Springbokafrigter, die Suid-Afrikaanse atletiekspan op ’n Europese toer, en in September 1972 as Springbokafrigter na die Olimpiese spele te München, Duitsland”. Hy en sy vrou woon die laaste jare in die ooste van Pretoria en op Potchefstroom. Ds Johan Lamprecht sterf op Sondag 17 Februarie 2019 in Potchefstroom en word op 25 Februarie 2019 vanuit die NG Moedergemeente op Oudtshoorn begrawe, in sy geliefde Klein-Karoo.
Ds Gideon sê oor sy vader: “Die wysheid om te kan onderskei tussen Goddelike en menslike geregtigheid, het Johan passievol uitgeleef en rigtinggewend aangedui. Hy is vir ons wat nog in die tydelike aardse bestaan vertoef, ’n wekroep tot ’n verantwoordelike lewenswyse. Johan het ’n vol lewe, soos ’n Job van ouds, gehad. Die wêreld en die kerk van Christus is vandag armer aan ’n regverdige mens, maar veel meer ryker aan wysheid. Mag ons daardie onsigbare geheimenis koester”.
DS MULLER OOSTHUIZEN (BA, BTh) 8 Julie 1960 – 2 Julie 2025
George Frederick Muller Oosthuizen is op 8 Julie 1960 gebore te Bedford in die Oos-Kaap. Muller is een van ’n tweeling, sy jonger broer is Thinus en hulle het drie susters. Muller se vader is ds Willem Johannes Jacobus Oosthuizen, ’n boorling van Riversdal waar hy ook in 1948 matrikuleer. Hy voel geroepe vir die sending en word einde 1957 gelegitimeer aan die Sendinginstituut op Wellington. Hy is getroud met Issie wat saam met hom in die sendingbediening arbei.
Muller matrikuleer in 1978 aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port-Elizabeth. Muller vertrek in 1979 na Stellenbosch waar hy BA (Admissie) verwerf met Sielkunde en Sosiologie as hoofvakke. Hy sit sy studie aan die Kweekskool op Stellenbosch voort waar hy die BTh-graad verwerf. Hy spesialiseer in Pastorale sorg met ’n ondersoek na die pastorale sorg aan die pastoriegesin. Hy is getroud met Eureka Johnson.
Muller word aan die einde van 1985 as proponent gelegitimeer en doen in 1986-1987 nasionale diensplig en is kapelaan van die SAW en SWA met basis Windhoek. Hy aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Welkom-Suid, waar hy op 24 Maart 1988 met handoplegging as jeugleraar ontvang en bevestig word. Hier is hy betrokke by die beplanning en bestuur van jeugbedieningsprogramme. In 1995 loop ds Muller Oosthuizen se pad na die Noord-Vrystaat, waar hy as medeleraar bevestig word in die NG Gemeente Heilbron-Suid, met opdrag sending- en evangelisasiewerk by Amos, met hoofkantoor op Memel. Nadat sy pos in die gemeente verval, doen hy in 2002 en 2003 sendingwerk onder plaasarbeiders op Wellington. In die winter van 2003 word hy bevestig as leraar in die NG Gemeente Thaba Nchu / Tweespruit, waar hy tot 2007 werksaam is en kleingroepe in die gemeente inisieer.
In 2008 loop sy pad na die NG Gemeente Roodekrans in Roodepoort, met opdrag omgee- en uitreikbediening. In 2014 aanvaar hy ’n vrywillige skeidingspakket, weens die finansiële toestand in die gemeente. In 2015 neem hy demissie vir ’n sabbatstyd, om ’n jaar later in 2016 leraar van die NG Gemeente Williston in die Groot-Karoo te word. Die grootste deel van sy bediening was droogtetyd in die natuur, waar hy help met “RSG se Red ’n Plaas-camino van 2023”. Sy wit kerkbakkie was ’n bekende gesig soos hy die stofpaaie op en af gery het om moeë stappers op te tel of iets wat nodig is te gaan haal”.
Hierdie kaalvoet-dominee van Williston wat die meeste tyd met ’n kortbroek geloop het, was lief vir die Here en ’n gemeenskapsmens wat altyd besorg was oor die randfigure in die gemeenskap. Met sy tatoeëermerk op sy kuit, was hy vir gemeentelede “die ondomineeste dominee wat hulle nog gesien het”. Hy het altyd gesê dat hy eers ’n mens en dán ’n dominee was. In die droogte se nadraai het die gemeente se geldelike nood hom genoop om ’n verminderde salaris te vat en hy het op die laaste sinodesitting hard baklei dat die gemeente se sinodale skuld afgeskryf moes word. Met sy dood verloor die mense van Williston ’n geliefde dominee. Hier werk hy tot hy op 2 Julie 2025 sterf, nadat breinkanker in Mei 2025 by hom gediagnoseer is. Hy word oorleef deur sy vrou Eureka, drie dogters Li-La, Karla en An-Mari en vyf kleinkinders.
In sy CV wat hy aan Williston gestuur het, word Muller Oosthuizen se lewensmissie vasgepen. “Elke mens is ’n effektiewe verteenwoordiger vir God. Daarom is dit my passie om gelowiges te begelei om met hulle lewe die beeld van God uit te straal en Hom ten toon te stel – dat ander mense God kan sien”.
DS WILLIE OOSTHUIZEN (Dipl Teol) 2 Desember 1930 – 3 Julie 2019
Willem Johannes Jacobus Oosthuizen is op 2 Desember 1930 gebore op die plaas Jongensfontein naby Stilbaai in die distrik Riversdal. Sy grootouers aan vaderskant is Wessel Oosthuizen en Jacoba Elizabeth Christina de Jager en aan moederskant Wynand Hendrik Geldenhuys en Johanna Maria Bosman, almal woonagtig in die distrik Riversdal. Willie se vader was George Frederik Muller Oosthuizen, ’n boer van Blombos by Stilbaai en Anna Regina Susara Geldenhuys van Riversdal.
Willie ontvang sy eerste skoolopleiding aan die Laerskool Riethuiskraal in die distrik Riversdal, waar mnr JW Rabie (vader van die skrywer Jan Rabie) as onderwyser, ’n groot invloed op die jong seun uitoefen. Hy matrikuleer in 1948 aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal en begin in 1949 werk as joernalis by Die Burger in Kaapstad. Hy voel egter geroepe om sendeling te word en begin in 1952 met sy voorstudie aan Unisa by die Hugenote Kollege op Wellington. Hy is ook van 1954-1957 student aan die bekende Sendinginstituut op Wellington, ’n inwoner van Huis Samuel, ’n plek van toewyding aan die Here. Hierdie groep studente aan die voet van Groenberg word genoem die “Donkies”, ’n erenaam vir sendelinge wat die evangelie uitdra. Die naam “eerwaarde” is verander na die titel “dominee”. Die besluit is geneem tydens die eerste Algemene Sinode in 1962 te Kaapstad na die sluiting van die Sendinginstituut op Wellington. Willie word aan die einde van 1957 as sendeling gelegitimeer. Later behaal Willie die MA-graad in Publieke Administrasie aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Hier ontmoet hy vir Issie Lotz, ’n student in Maatskaplike werk, met wie hy op 29 September 1956 in die huwelik tree. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Isabelle, tweelingseuns Muller en Thinus en Reana. Uit sy tweede huwelik met Hettie Wolmarans, is ’n dogter Wilna gebore. Een van die tweelingseuns Muller, volg in sy vader se voetspore en is later NG leraar op Williston, waar hy op 2 Julie 2025 aan breinkanker sterf.
In 1958 begin eerwaarde Willie en Issie Oosthuizen as sendelinge op ’n sendingwerkkring te Bizana in die Transkei. Vroeg in 1960 word hy sendeling in die NGKA-gemeente Visrivier op Bedford. Na vyf mooi jare loop sy pad in 1965 na die NG Kerk in Afrika te Cradock, waar hy ’n goeie tyd in diens van die sendinggemeente beleef. Op 27 November 1970 word hy beroep na die Moederkerk en hy word vroeg in 1971 bevestig as leraar van die NG Gemeente Glen Lynden op Bedford. As ou bekende op die dorp word die gesin terug verwelkom en ’n geseënde dienstyd volg en hy is by uitstek ’n kindervriend wat baie vir die jeug beteken.
Op 15 April 1977 word hy leraar van die NG Gemeente Kensington in Port-Elizabeth. Hy verlaat egter in 1978 die bediening en begin werk by die destydse Oos-Kaap Bantoeadministrasieraad in Port Elizabeth waar hy later die hoof word van opleiding van munisipale owerheid in die Baai. In 1994 tree hy af weens swak gesondheid en vestig hom op Riversdal. Hy is van 2015 tot 2018 in die Tehuis Ou Meule en verhuis na Amandelhof, ’n tehuis vir bejaardes op Williston waar sy seun Muller die NG Kerk se herder en leraar is. Hy sterf op 3 Julie 2019 en ’n week later vind sy begrafnisdiens vanuit die NG Moedergemeente in Riversdal plaas.
DR JOHAN PIENAAR (BA, BD, MDiv, PhD) 8 Augustus 1950 – 20 Mei 2025
Johannes Frederick Pienaar is op 8 Augustus 1950 gebore in Johannesburg. Hy word gedoop in die NG Gemeente Langlaagte. Sy vader was Willem Petrus Pienaar, ’n boorling van Nylstroom wat as passer en draaier gewerk het aan die Oos-Rand. Sy moeder is Miemie Elizabeth Soekoe, ’n boorling van Johannesburg. Johan begin in 1956 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Baanbreker in Johannesburg en is ook leerling in Nylstroom, Malvern, Roodepoort, JG Havenga in Witpoortjie en van 1963 tot 1967 aan die Hoërskool Voortrekker in Boksburg. Hy is ook hoofseun van sy skool. Hy was ook ’n ywerige Voortrekker. Sy wiskunde-onderwyser, mnr APS van der Merwe, het ’n blywende stempel op hom afgedruk. Hy lê belydenis van geloof af in die NG Gemeente Boksburg-Suid.
Johan voel geroepe om predikant te word en begin in 1968 met sy studie aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA (Admissie)-graad verwerf en later die BD-graad in 1973. Hy is huisvoorsitter van Huis Olienhout en dien in 1973 op die studenteraad van Tukkies. Hy trou op 14 Junie 1975 op Potchefstroom met mej Anna Margaretha Pieterse en uit die huwelik is drie kinders gebore: Wimpie, Rika en Derek. Die Here het hom en sy vrou geseën met agt kleinkinders. Hy word in 1971 student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies en word einde 1974 gelegitimeer as proponent van die NG Kerk. Hy studeer ook verder en verwerf in 1995 die MDiv met lof en in 1997 die PhD aan die Universiteit van Pretoria. Laasgenoemde het gehandel oor “Die begeleiding van ’n predikant in sy midjare”. Hy het ook 15 populêre geestelike boeke geskryf.
Op 18 Januarie 1975 word hy met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Boksburg-Oos, waar hy drie jaar lank werk en sy eerste voetspore in die gemeentebediening laat. Hy word op 19 November 1978 leraar van die NG Gemeente Witrivier, waar die gemeente in sy dienstyd ’n besondere bloeitydperk beleef. Sy prediking was dinamies en hy het ’n baie persoonlike kontak met sy gemeentelede opgebou en het in een jaar 1 200 besoeke gebring aan mense. Die afbrand van die kerkgebou op Witrivier op 14 Desember 1979 was vir hom en die gemeente ’n traumatiese ervaring. Onder sy leiding is ’n nuwe kerkgebou opgerig wat in 1983 ingewy word.
Op 5 Februarie 1983 word hy leraar van die NG Gemeente Potchefstroom-Noord, waar hy in sy kortstondige bediening baie vir studente aan die Pukke beteken. Hy word op 17 Februarie 1985 leraar van die NG Gemeente Arcadia in die hart van die Jakarandastad. Hier werk hy drie jaar lank tot hy in 1988 leraar word van die NG Gemeente Riviera, later bekend as Riviera-Jakaranda, waar hy in 2010 vervroegde emeritaat aanvaar.
Dr Johan skryf: “Ek het op 59 besluit om na 36 vervullende jare as leraar uit my gemeente te bedank en ’n lewensafrigter te word. Daarna het ek ook my opleiding as lewensafrigter voltooi en die tafel was gedek vir die volgende hoofstuk in ons lewe, wat hopelik baie rustiger sou word. Maar ’n paar dinge het gebeur wat ons storielyn van lewe heeltemal verander het”. Alhoewel hy gesond geleef en gereeld geoefen het, het hy ’n hartaanval gehad en was twee keer in ’n hartwaakeenheid. Hy vertel: “Ek glo nie daar is ’n plek of tyd waarin ’n mens so diep bewus raak van jou eie sterflikheid as juis daar nie: ’n sekonde voel soos ’n ewigheid”. ’n Ander saak was die pynlike egskeiding van hulle dogter, maar die ergste was die rooftog in hulle huis in Pretoria-Oos, wat helder oordag plaasgevind het. Hy vertel: “Twee het buite gewag. Die twee wat binnegekom het, het albei vuurwapens gehad. Hulle het my in die sitkamer betrap en my en die huiswerker vasgebind en toe vir Rita kom soek. Sy was in ons slaapkamer op die boonste verdieping. Ek het hulle gevra om Rita ook slaapkamer toe te bring en hulle het haar langs my en die huiswerker laat sit en haar ook vasgebind”. Uit hierdie krisisse en veral die rooftog, is ’n boek gebore wat handel oor hoe om trauma te hanteer. Die trefferboek met lewenslesse is Die dag na die rowers gekom het.
Dr Johan en Rita Pienaar het later in Rietondale gaan woon, wat hulle noem ’n stukkie paradys teen die hange van die Uniegebou in Riviera. Hy sterf skielik op 20 Mei 2025 in sy huis en sy begrafnisdiens word in die Jakarandastad gehou. Hy is die enigste predikant waarvan ek weet, wie se reeds opgeneemde preek enkele dae na sy dood op Sondag 25 Maart 2025, op RSG uitgesaai is. Ds Paul Grobler, direkteur van die Noordelike Sinode, skryf: “Dr Johan Pienaar se afsterwe is nie alleen vir die NG Kerk nie, maar vir die breër gemeenskap van Pretoria ’n groot verlies. Hy het altyd wyer gekyk as die dogma en die grense van denominasies. Hy het graag hande gevat oor kerk-, kultuur-, geografiese en taalgrense heen”. Dr Nioma Venter skryf: “Hy was ’n besonderse mens, storieverteller, bemiddelaar, diplomaat, liefhebber van mense en herder vir die kuddes wat God aan hom toevertrou het.”
Lizelle de Bruin van die program “Binnekamer” op RSG skryf: “Ek glo sy stem sal nooit werklik stil wees nie. Ek neem afskeid van ’n man wie se lewe my herinner het aan ’n stuk houtwerk – sorgvuldig geskaaf, met fyn detail en ’n kern van karakter en betekenis. Hy was nie net ’n gerekende teoloog nie, maar ook ’n stem van kalmte, balans en wysheid. Hulle twee het gereeld hout as voorbeeld gebruik in hulle gesprekke, aangesien hy ook ’n kranige meubelmaker was en bekend was vir veral sy keurige penne van hout. Hy het mense benader soos ’n meesterhoutwerker ’n ruwe stuk hout hanteer: met respek, met insig en met geduld. Sy insigte het diep spore gelos – elkeen ’n merker van geloof. Vir my sal sy stem altyd die pad aanwys, soos voetspore in die hout van die lewe.”
Enkele ure voor ds Johan Pienaar se dood, het hy die volgende inskrywing op Facebook gemaak: “Ek het vannag lank wakker gelê en gedink aan ons land en haar mense, die diep onsekerheid by ons almal en sommer dié neergeskryf: Hoe groot behoefte is daar in ons land aan Christene wat uitbundig wys dat dit wel moontlik is om in hierdie land en in hierdie tyd in ons land se geskiedenis te lewe. Is daar ’n beter manier om Jesus te verkondig as om te lewe? Is daar ’n sterker demonstrasie van die opstanding van Jesus as wanneer sy kinders lewe.”
DR ST POTGIETER (BA, BD, MTh, DD) 30 Junie 1955 – 30 April 2025
Salomon Theodorus Potgieter is op 30 Junie 1955 gebore in Pretoria. ST, soos hy genoem word, se grootouers aan vaderskant is oupa Salomon Theodorus Potgieter en ouma Johanna Margaretha Toerien van Porterville. Aan moederskant is dit oupa Roelof van der Merwe, ’n skaapboer op Kleinpotfontein naby De Aar, en ouma Martinet Maria Magdalena Smit, ’n boorling van Malmesbury in die Swartland. ST se ouers was ds Jacobus Ernst (Kobus) Potgieter [1921-2020] en Mercia Marthinet (Mercia) van der Merwe [1925-2017].
ST se vader is ds JE Potgieter, self ’n predikantseun van Delareyville. Ds Kobus bedien die NG Gemeentes Dalunie (naby Brits), Pretoria-Oos, Suidoos-Pretoria en Krokodilrivier (Brits). Hy is ook in sy dienstyd moderator van die Algemene Sinode. ST se suster Marthinet is getroud met prof Nelus Niemandt, afgetrede predikant, moderator van die Algemene Sinode, dosent by Tukkies en tot met sy aftrede rektor van die Hugenote Kollege op Wellington. Hier het ons nou ’n gedugte span predikante bymekaar. ST met geslagte se kerklike blou bloed in sy are en gene, kon heerlik met sy vader oom Kobus en swaer kuier en van een ding kan ’n mens seker wees, kerksake was altyd een van die gesprekspunte tussen hulle en die liefdesbande was sterk genoeg om die ergste te oorleef.
ST begin in 1962 met sy skoolloopbaan aan die Laerskool Pretoria-Oos tot in 1967, toe hy leerling word aan die Laerskool Menlopark waar hy in 1973 matrikuleer aan die Hoërskool Menlopark. Hy was prefek in die skool en het ook in redenaars uitgeblink. ST was ’n ywerige sportman, het deelgeneem aan krieket, rugby, tennis en atletiek, waarin hy ’n rekordtyd in die 100 m naelloop gehou het. Toe was hy reeds ’n Bloubul in murg en been. Hy was ’n ywerige Voortrekker en tot voor sy dood het sy Voortrekker- en rugbyvriende nog gereeld kontak gemaak om oor sy welstand te verneem.
Sy vrou Eljo skryf: “ST se roeping tot die bediening het amper vanselfsprekend, natuurlik gebeur, met oupa ST en pa Kobus wat die weg gebaan het. Hy het altyd grappenderwys vertel hoedat sy pa die Griekse Bybel in standerd nege, baie terloops, op sy bed gesit het. Asof die aanname was dat hy dit gaan nodig hê vir sy studies”. Na matriek studeer hy BA (Admissie) aan Tukkies en is vanaf sy tweede jaar ’n inwoner van die gesogte Sonop-manskosbuis. Hier het hy op ’n stil en beskeie manier sy liefde en lojaliteit teenoor Sonop uitgeleef op die rugby- en krieketveld. Hy studeer ook aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BD-graad verwerf en aan die einde van 1980 as proponent gelegitimeer word. Hierna doen hy sy twee jaar militêre diensplig as kapelaan in die Vloot op Simonstad. In die tyd is hy een van die oorlewendes op die SAS President Kruger wat op 18 Februarie 1982 teen die SAS Tafelberg naby Kaappunt in ’n botsing was waarin 16 bemanningslede sterf.
Prop ST Potgieter word op 21 Januarie 1983 met handoplegging in die NG Gemeente Louisvale naby Upington ontvang en bevestig. Hier trap die jong leraar diep spore en hy word onthou vir sy kosbare insette wat jeugbediening betref. Voor sy vertrek na vyf jaar in hierdie boerderygemeenskap, ontmoet hy in Maart 1987 vir Eljo van Heerden, ’n onderwyseres met wie hy op 13 Desember 1987 in die huwelik tree op Worcester. Uit die huwelik word twee kinders gebore: Lize, ’n geoktrooieerde rekenmeester op Wellington en Kobus, ’n vryskutfilmmaker in Somerset-Wes.
Op 17 Januarie 1988 word hy bevestig in die NG Gemeente Bellville-Uitsig, waar hy sestien jaar lank met oorgawe werk. Hier kon hy sy gawe van prediking uitleef en kursusse by die Tafelbergse Bybelskool aanbied. In 1988 voltooi hy sy MTh-graad by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Hy studeer steeds verder en behaal in 2000 die DD-graad aan die Universiteit van Pretoria. Tydens sy bediening in Bellville-Uitsig het hy met ’n bediening onder plaaswerkers in die Durbanville-omgewing begin, ’n geestelike braakland wat hy ontgin.
In die winter van 2004 word hy leraar van die NG Gemeente Alberton-Oos, waar hy bly tot met sy aftrede in die middel van 2020. In al drie gemeentes is ds ST Potgieter bevestig deur sy vader en sy kom na Alberton was wonderlik omdat hy graag sy bediening in sy geliefde “ou Transvaal” kon afsluit. In 2019 word dr ST gediagnoseer met frontale temporêre demensie, wat sy mobiliteit bemoeilik het. In die Covid-pandemietyd op 30 Junie 2020, aanvaar die 65-jarige ds ST sy emeritaat en die gesin verhuis vier maande later na Wellington in die Boland. So is hy naby sy suster Marthinet en swaer prof Nelus Niemandt, toe rektor van die Hugenote Kollege aan die voet van die Groenberg. Ds ST se toestand het vinnig verswak en hy word in die winter van 2022 na Huis Silwerkruin op Wellington verskuif.
Op 30 April 2025 sterf dr ST Potgieter en op 7 Mei 2025 word ’n troosdiens in Huis Silwerkruin deur prof Nelus Niemandt waargeneem. Die Woord is bedien uit die Johannesevangelie, ’n Bybelboek waarvoor ST baie lief was. Die Here het ST op ’n besondere manier gebruik in diens van die Meester, hy was ’n getroue werker in die Here se wingerd. Sy innemende persoonlikheid en nederige beskeidenheid het hom ’n geliefde pastor en predikant gemaak.
DS WILLIE STADLER (BA, BTh) 17 Mei 1947 – 5 Desember 2024
Willem Daniël Stadler is op 17 Mei 1947 gebore op Morgenster, een van die bekendste sendingstasies van die NG Kerk in die destydse Suid-Rhodesië. Sy vader Koos Stadler was toe aangestel as inspekteur van sendingskole. Sy moeder Riegie Smit is ’n boorling van Groblershoop wat hy in 1944 tydens ’n kerkbasaar te Opwag by Groblershoop ontmoet en met wie hy trou. Koos gee ook onderwys op Blaauputs, Koes, Boegoeberg en Opwag langs die Grootrivier. In 1945 vertrek die onderwyspaar na Masjonaland, waar hulle eers op Alheit en toe in Tsetitsa bly en besoekwerk aan skole doen met ’n fiets. Die gesin keer in 1949 terug na die Republiek, want Koos het ernstig siek geword aan malaria en hy gee toe onderwys op Weglopersheuwel by Velddrif en by Elim.
Die egpaar keer in 1951 terug na Opwag by Groblershoop waar hy tot 1963 woon en ook skoolhoof word. Hier ontvang Koos op 43-jarige leeftyd na 20 jaar in die onderwys, die roeping om predikant te word. In 1963 verhuis Koos en Regina met ses kinders na Stellenbosch waar hy aan die einde van 1969 op vyftigjarige ouderdom as proponent gelegitimeer word. Ds Koos bedien verskeie gemeentes en sterf in 2004. Twee van sy seuns, ds Koos en ds Willie, word albei predikante van die NG Kerk.
In 1953 begin Willie met sy skoolopleiding te Opwag by Groblershoop, waar die gesin goeie tye onder die boeremense beleef. In 1958 neem Koos ses maande langverlof en gaan werk te Otavi in Suidwes-Afrika. Willie is daar in ’n Duitse skool en tydens die moeilike aanpassing maak die jong seun ’n belofte aan die Here, dat as hy daardie jaar slaag hy eendag voltyds vir die Here gaan werk. So begin Koos se sendingpad met die Here reeds as skoolseun.
Willie is ook leerling aan die Hoërskool Groblershoop, waar daar ’n skerp draai op sy pad kom toe die gesin Stellenbosch toe verhuis vir sy vader se studie. Hy matrikuleer aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch. Willie werk hierna ’n jaar lank in die goudmyne by Venterspos aan die Witwatersrand, waar hy soveel ure moontlik ondergronds werk om sy ouers finansieel op Stellenbosch te help.
Einde 1968 pak Willie al sy besittings op sy Vespa en ry Stellenbosch toe om predikant te word. Hy behaal die BA- en BTh-grade en word aan die Fakulteit Teologie as proponent gelegitimeer. Hy en sy vader Koos het drie jaar lank saam studeer op Stellenbosch. Hy trou op 1 Januarie 1974 met die liefde van sy lewe, Marlene Carstens. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Jaco, Wimpie, Johan en Marieke.
Prop WD Stadler voel geroepe om nie ’n gemeentedominee te word nie, maar ’n sendeling. Hy word op 2 Februarie 1975 met handoplegging in die NGKA-gemeente Cala in die Transkei ontvang en bevestig. Dit was ’n baie groot gebied met 21 buiteposte, terwyl die sendeling ook moes toesig hou oor die sendingboerdery, opleidingskollege vir onderwysers en die groot TB-hospitaal. Op 6 November 1977 word hy bevestig as leraar van die NGKA-gemeente Lusikisiki naby Port St Johns. Hier bedien ds Willie die mense wat op die Magwa-teeplantasie werk.
Op 31 Oktober 1981 word hy leraar van die NGKA-Canzibe in die Transkei. Hier was 13 buiteposte en ds Willie het met behulp van ’n paar gemeentes kerke gebou vir die buiteposte. In hierdie gemeente sou ds Willie en Marlene Stadler byna drie dekades lank werk.
Aan die einde van 2009 het hy emeritaat aanvaar en hulle het op Jeffreysbaai gaan woon. In 2023 is asbestose by Willie gediagnoseer en hy is op 5 Desember 2024 oorlede. ’n Herinneringsdiens word op 14 Desember 2024 vir hom op Jeffreysbaai gehou. Daar word getuig van sy vol lewe in koninkryksdiens.
Sy vrou Marlene skryf: “Willie se diepe verlange was dat mense Jesus as Verlosser moes aanneem, dit was sy grootste hartsbegeerte. Dit was sy hoogste prioriteit in die bediening. Willie se nederige afhanklikheid van die Here was ’n besieling vir soveel mense en sy familie. Hy was bekend onder die Xhosamense as die ‘tata wat help’. By sy gedenkdiens het Xhosa, bruin en wit mense saam getuig oor sy liefde vir Jesus en vir die mense om hom.”
DS JAN VAN DEN BERG (BA Hons, MDiv) 19 Maart 1939 – 11 November 2023
Jan Albert van den Berg is op 19 Maart 1939 gebore in die ou Moedersbond in Pretoria. Hy word gedoop in die historiese NG Bosmanstraatkerk in die hart van die Jakarandastad. Die familienaam Jan Albert van den Berg kom van Jan se oupa wat op Potchefstroom gewoon het, en die tradisie word vandag nog voortgesit. Sy vader, Jan Albert is in die Gevangenisdiens en sy moeder, Hermina Johanna Gesina Schutte (Minnie), ’n huisvrou. Prof Jan-Albert skryf: “My pa word in ’n diep gelowige huis groot waar gereelde huisgodsdiens en erediensbywoning met betrokkenheid by die plaaslike gemeentes op Voortrekkerhoogte en Valhalla (Pretoria) ’n gegewe was.”
Jannie, soos hy op skool bekend gestaan het, begin in 1945 met sy skoolloopbaan aan die Laerskool Generaal Beters Brink in Voortrekkerhoogte en is van 1952 af leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, waar hy einde 1956 matrikuleer. Op hoërskool was hy CSV-kringleier, prefek van sy skool, speel rugby en verwerf provinsiale kleure in atletiek. Hy bly sy lewe lank ’n aktiewe Affie en reël die 40ste, 50ste en 60ste matriekreünies.
Hierdie belowende jong seun kry in 1955 tydens sy standerd 9 jaar die roeping om predikant te word en begin in 1957 met sy buitemuurse studie aan die Universiteit van Pretoria. Jan werk hard in sy studiejare, by verskeie staatsdepartemente werk hy bedags en loop in die aande klas. Hy is op ’n stadium die hoofbewaarder van die Departement Gevangenisdiens en is onder meer werksaam by die afdeling vir terdoodveroordeeldes. Dit was nie maklik om nog klas te loop en te studeer nie, maar hy hou vas aan sy roeping en behaal sukses. Hy behaal ook ’n Honneursgraad in Kriminologie. Intussen is hy nog diaken in die NG Gemeente Burgerspark, in die tyd toe dr Dawid de Villiers een van die predikante was. Hy werk ook ’n tyd lank by die Jeugkantoor in Pretoria, waar hy by dr Andries Gouws ’n besondere liefde vir jeugwerk ontwikkel.
In 1965 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies en is ook sekretaris van Deo Gloria, die studenteraad van die Tokkelokke. Sy proponentsverhandeling handel oor: “Bidure in die Ned Geref Kerk”. Hy is ’n inwoner van die Sonop Christelike manskoshuis op Tukkies. In 1968 help hy as pastorale hulp en op 31 Maart 1968 lewer hy sy proefpreek in die NG Gemeente Rietfontein-Noord. Sy teks is Lukas 22:31 en 32 en professore HDA du Toit, EP Groenewald, BJ Marais en CWH Boshoff is teenwoordig.
Hy trou op 2 Desember 1967 met Minda Louw, ’n nooi van Warrentonn wie se vader boer. Hulle kon hulle 50ste huweliksherdenking in 2017 vier. Uit die huwelik is twee seuns gebore: Jan-Albert, die oudste, volg in die voetspore van sy vader en word predikant in die NG Gemeentes Derdepoort en Humansdorp. In 2003 loop sy pad na die Teologiese Fakulteit in Bloemfontein, waar hy tans professor in praktiese teologie aan die Fakulteit Teologie en Religie in Bloemfontein is. Die jongste is Johan, wat in die regsberoep studeer en tans as senior advokaat praktiseer in onderskeidelik Pretoria en Kaapstad.
Jan word op 18 November 1968 as proponent gelegitimeer, ’n besondere geleentheid in die NG Gemeente Pretoria-Oos. Op 25 Januarie 1969 word hy met handoplegging in die NG Gemeente Tzaneen ontvang en bevestig. Ds Jan is ’n raakvatter by jeugwerk, nie net in die gemeente nie, maar in die hele streek met skoolverlaters- en ander kampe. In sy tyd word ook ’n kerksaal gebou en hy doen ook baie moeite met bejaardesorg.
Hier werk hy met oorgawe tot hy op 14 Augustus 1976 bevestig word as leraar van die NG Gemeente Queenswood, tans Hartbeesspruit-Queenswood in Pretoria. Hierdie is sy hartsgemeente, waar hy 38 jaar lank werk, terwyl hy nou betrokke is by die Sinodale Jeugkantoor saam met mentors soos dr Andries Gouws, dr Dirk Viljoen en dr Louis Dressel. Die naam ds Jan van den Berg was sinoniem met skoolverlaterskampe te Badseloop, wat die verhaal vertel van besondere seën op sy werk. In 1988 met die 25-jarige bestaan van die NG Gemeente Queenswood, is hy betrokke by ’n gedenkboek: Ned Geref Gemeente Queenswood, 1964-1988.
Tydens ds Jan van den Berg se bediening in Queenswood ontwikkel hy ’n besondere belangstelling in die bediening aan senior lidmate. Hy en sy vrou Minda bly instrumenteel in die ontwikkeling van Huis Herfsblaar, een van die grootste tuistes vir bejaardes in Pretoria en Suid-Afrika, met ’n eiesoortige bestuursmodel wat die breinkind van ds Jan is en bestuur word onder die voogdyskap van die NG Gemeente Queenswood. Daar is ongeveer 500 inwoners met 300 werknemers, waar baanbrekerswerk in die versorging van senior burgers op alle vlakke gedoen word. Die skrywer het dikwels by dr Willie Marais en dr Dirk Viljoen gaan kuier en kan getuig van Huis Herfsblaar as buitengewoon besonders. Na ds Jan se aftrede in 2004 tot in 2022 gaan hy voort met hierdie liefdesroeping en werk by Huis Herfsblaar as bestuurder en met pastorale versorging van inwoners, hulle kinders en familie.
Ds Jan van den Berg sterf op 11 November 2023 na ’n siekbed van twee weke en ’n gedenkdiens word op 26 November 2023 deur sy seun prof Jan-Albert van den Berg in die NG Gemeente Queenswood gehou, met Jesaja 43 en Romeine 8 as fokus. Adv Johan van den Berg lewer ’n treffende huldeblyk en dankwoord.
Prof Jan-Albert skryf: “In alles wat my liefste pa gedoen het was daar ’n deurleefdheid en vasberadenheid te bespeur, wat vanuit sy diepe verhouding met die Here ontspruit het. Van sy lojale ondersteuning van sy Affies tot en met sy diep persoonlike betrokkenheid by elkeen wat sy pad gekruis het, het Hy ’n beliggaming van die Here se liefde in elke verhouding getoon. Hiervan kan ek baie persoonlik getuig in hoe my pa my as 12-jarige seuntjie na die Here gelei het toe ek knielend saam met hom in sy studeerkamer my hart vir die Here gegee het. Die diep en innige verhouding tussen my en my pa is deur al die jare voortgesit toe ek ook bevoorreg was om saam met hom in die bediening te wees. Al is my pa se sterwe ’n groot verlies, is ons diep dankbaar vir die 84 jaar van aardse lewe waarin sy lewe vir ons, en soveel ander, as wonderlike seën gegee is.”
DR LOUIS VAN DER WATT (BA, BTh, MMus, DTh, PhD) 3 Mei 1958 – 30 September 2025
Louis van der Watt is op 3 Mei 1958 gebore in Odendaalsrus waar hy ook opgroei. Sy vader was Jakobus van der Watt, dekades lank ’n bekende prokureur op Odendaalsrus. Sy moeder is Elsa van der Watt, sy leef nog en is 94 jaar oud. Die gesin bestaan uit vier broers: Louis, Danellus, Jacobus en Gideon, ook ’n suster Elsa. Hy stam uit ’n bekende familie, sy twee ooms is prof Flip van der Watt (kerkhistorikus en studentedekaan aan UP) en dr Louis van der Watt (administrateur van die Vrystaat). Sy tannie is dr Elsie de Beer, vroeër skoolhoof van Oranje Meisieskool in Bloemfontein.
Almal het altyd baie van hom verwag, want Louis van der Watt was ’n man van vele talente. As teoloog, pastor, violis, strykerspedagoog, orrelis, eksaminator en koordirigent sou hy ongekende hoogtes bereik, om met sy heengaan ’n buitengewone nalatenskap agter te laat in die musiekwêreld en kerkgemeenskap.
Die jong Louis blink reeds aan die Laerskool Odendaalrus uit in musiek, daarom stuur sy ouers hom na die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth, waar hy vioollesse kry by die wêreldbekende prof Jack de Wet. Met sy talente was ’n besondere musiekloopbaan vir Louis verseker. Hy was ’n briljante skolier en hy behaal in matriek die tweede plek in Kaapland en die destydse SWA. Louis voel egter geroepe om predikant te word en studeer aan die UOVS in Bloemfontein waar hy die BA (Admissie) met Grieks en Filosofie as hoofvakke verwerf. Hy kry ook die Dux-trofee en dien op die studenteraad van die Kovsies. Hy was ook voorsitter van die universiteitskoor en violis in die SUKOVS-simfonie-orkes.
Louis word student aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch, waar hy Teologie geniet en ook musiek studeer. Hy gradueer in teologie en musiek, met viool en orrel as instrumente. Louis was in Matieland primarius van Majuba-manskoshuis en is die hart en siel van kulturele aktiwiteite op die kampus. Hy was ook konsertmeester van die US simfonie-orkes, betrokke by die SA Nasionale Jeugsimfonieorkes, die Kaapstadse Kamerorkes, die Libertaskoor en die Canticum Novum-koor.
Nadat hy in 1983 gelegitimeer word as proponent van die NG Kerk, werk hy lank in die kinderhuis op Durbanville, om aan hierdie uiters talentvolle jongmens tyd te koop om te weet wat om te doen. Toe word musiek weer die belangrikste en is hy kerklik meelewend as orrelis in Brackenfell en oral waar hy kon speel. Hy was voltydse violis in die KRUIK Simfonieorkes en hoof van strykinstrumente aan die Hugo Lambrechts Musiekskool in Parow. In 2000 is hy aangestel as senior lektor vir strykinstrumente aan die Universiteit Stellenbosch. Intussen verdien hy ook bekendheid as dirigent. Verskeie van sy oud-studente het eersterangse violiste geword, wat wêreldwye erkenning geniet. Hy het ’n MMus in kerkmusiek verwerf en was orrelis en geordende predikant. In 2020 is ’n PhD in Teologie aan hom toegeken. Hy was ook jarelank ’n hoogs gerespekteerde eksaminator vir Unisa, speel in die Stellenbosse Strykorkes en is konsertmeester van die US Simfonieorkes. Hy tree verskeie kere as solis op met hierdie orkeste.
Hy was oor ’n periode van 13 jaar ’n lid van die SA Nasionale Jeugorkes en ’n voltydse lid van die destydse KRUIK-orkes, ekstra speler in die Kaapstadse en NARUK Simfonieorkeste, en konsertmeester van die Cape Town Chamber Orchestra. Hy is ook ’n voormalige instrumentalis in die Camerata Tinta Barocca/Cape Town Baroque Ensemble.
Hy is ’n oud-lid van die Vrystaatse en Stellenbosse Universiteitskore asook die Libertaskoor. Hy is ’n voormalige dirigent van die Stadskoor Tygerberg en het opgetree as aflosdirigent van Schola Cantorum, die akademiese koor van die Universiteit Stellenbosch. Hy tree ook op as gasdirigent, soos met die Kaapse Filharmoniese Orkes met wie die koor Handel se Dixit Dominus en Dettingen Te Deum uitgevoer het, asook in uitvoerings van Peter Louis van Dijk se Youth Requiem en San Gloria. In 2017 het hy die cantando@bloem-koor dirigeer in ’n uitvoering van die Mozart Requiem tydens die jaarlikse Kunstefees. Louis het ook ’n aktiewe loopbaan as uitvoerende kunstenaar en dirigent gevoer. Hy was betrokke by verskeie musiekinstellings en groepe, onder meer die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugsimfonieorkes, Capab, die Kaapstad Kamerorkes, die Libertaskoor en die Canticum Novum-koor. Hy was ook vir jare ’n hoogs gerespekteerde eksaminator vir Unisa en die Royal Schools of Music.
Na sy aftrede as dosent aan die Universiteit van Stellenbosch, verhuis hy in 2022 na Bloemfontein en sy geliefde Vrystaat. Hy het onmiddellik aktief en entoesiasties betrokke geraak by die musieklewe van die stad, as violis in orkesuitvoerings, vioolonderwyser, koorleier en inspirerende orrelis. Sy liefde vir die kerk van Jesus Christus het steeds helder geskyn en hy is ook georden as pastor by die Lutherse St Paulus-gemeente in Bloemfontein.
Vroeg in 2025 het hy ’n chemo-pasiënt geword, wat sy bestaan verontrief het, totdat hy begin September 2025 ingelig is dat sy kankertelling nul is. Toe het hy weer die lewe met vreugde tegemoet gegaan. Op 30 September 2025 is hy egter heel onverwags oorlede aan ’n hartaanval. In ’n kort tydjie het hy diep spore getrap in die Bloemfonteinse musiek- en Lutherse gemeenskappe. Hy was welbekend as viool- en altvioolleermeester, maar was ook ’n prominente koordirigent, musiekeksaminator, akademikus, taalkenner, orrelis, teoloog en Lutherse pastor.
Louis het laat in sy lewe eers getrou en word oorleef deur sy vrou en drie kinders, Elsa-Marié, Jani en Steyn, asook sy 94-jarige moeder. Sy begrafnisdiens op 11 Oktober 2025 was eiesoortig en is gelei deur sy vriend en kollega, dr Gideon van der Watt. Sy strykersvriende en oud-vioolstudente het spontaan byeengekom en het Louis se geliefde musiek uit Bach-kantates voorgespeel. Die Cathedral Singers waarin hy gesing het, het ook opgetree. Sy nalatenskap leef oral voort.
DS NICO VAN WYK (BA, BD) 15 November 1956 – 26 April 2025
Nicolaas Christoffel van Wyk is op 15 November 1956 gebore op Brits. Sy ouers was Fred en Issie van Wyk, wat op die plaas Kareepoort in die Sonop-omgewing geboer het. Toe Nico ses jaar oud was beleef hy die roeping van die Here om predikant te word. Hy begin sy skoolopleiding en matrikuleer aan die Hoërskool Brits, waar hy in standerd agt Latyn as skoolvak neem om hom te help met sy studie. In dié tyd het hy as skoolseun dienste op rotasiebasis op omliggende plase gehou vir plaaswerkers, want die evangelieverkondiging het in die jong seun se hart gebrand. In sy matriekjaar beleef hy die Jeug-tot-Aksie van 1974, wat tot soveel jongmense se roeping vir die bediening gelei het.
In 1975 word hy student aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA (Admissie) voltooi met Grieks, Hebreeus en Filosofie as hoofvakke. Daarna sit hy sy studies voort aan Tukkies se Fakulteit Teologie (Afd B) waar hy sy BD-graad met lof verwerf. Hier dien hy op die HK van Boekenhout. Sy hart is in die sending en hy is lid en later voorsitter van UKJA se Sendingaksie. Sondag word sendingwerk gedoen in Mamelodi en Mooiplaas, ook tydens universiteitsvakansies met sendinguitreike na Tshilidzini en ander sendinggemeentes. Hierdie hart vir sending en evangelisasie sou later Nico se lewe definieer. In 1980 trou hy met Linda Vorster en uit die huwelik is drie kinders gebore: Ismalandi, Nico en Marisel. In 1982 doen Nico sy diensplig as kapelaan.
Op 13 Augustus 1983 word proponent NC van Zyl met handoplegging in die NG Gemeente Dutoitspan in Kimberley as medeleraar met handoplegging ontvang en bevestig. Hy is ’n uitstekende rugbyspeler vir Griekwaland-Wes en word in die pers as ’n krag- en ysterman beskryf.
Hy aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Port-Elizabeth-Hoogland, waar hy op 14 Julie 1987 in die gemeente ontvang en bevestig word. Dit is tydens sy bediening in hierdie gemeente waar hy sy hart verloor op die EE-bediening (Evangelism Explosion). Dit het sy lewe op ’n nuwe baan stuur. Hy begin om gemeentelede op te lei om hulle geloof op ’n nie-konfronterende manier met ander te deel. Hierdie bediening het uitgekring na ander gemeentes en denominasies in Port-Elizabeth, waar duisende mense in hierdie hawestad die goeie nuus oor Jesus Christus gehoor het. Sy gemeente het selfs na Swaziland (Eswatini) gereis om die EE-bediening daar te vestig. In die Baai speel hy ook rugby vir die Park-rugbyklub in die Oostelike Provinsie, waar hy tydens ’n wedstryd die herpes-virus opdoen, waarna hy volkome herstel.
In 1996 ontvang ds Nico die uitnodiging om voltyds in diens te tree by Evangelism Explosion SA (EE SA) as direkteur van opleiding. Dr Arnau van Wyngaardt skryf: “Aangesien daar geen salaris aan hierdie pos gekoppel sou wees nie, was dit ’n geloofstap wat hy moes neem wat met baie gebed gepaardgegaan het. Die Here het hom egter oortuig dat dit die regte plek vir hom was. Hy is deur die gemeente Monumentpark beroep as tentmaker, terwyl hy voltyds by EE werksaam was. In hierdie tyd lei hy duisende kerkleiers oor alle kerkgrense heen op om ’n EE-bediening in hulle eie gemeentes te vestig. Van oral word daar getuienisse gedeel van mense wat, soms vir die eerste maal en soms by hernuwing, hulle lewe aan die Here toegewy het”. Ds Nico word later direkteur van opleiding in Afrika en vestig die bediening in verskeie lande dwarsoor die vasteland. In die ses-en-twintig jaar wat hy by EE Suid-Afrika die Here gedien het, was hy direk of indirek betrokke by die opleiding van byna 800 000 kerklidmate in evangelisasie.
Op 1 Junie 2014 aanvaar ds Nico van Wyk sy emeritaat, maar help nog deeltyds en lei meer as 80 oorsese toere om gelowiges te help om die Bybel beter te verstaan deur die Bybelverhale te koppel aan groter geskiedkundige en geografiese kennis van Israel en Egipte.
Op Saterdag 26 April 2025 het hy en sy vrou Linda soos gewoonlik gaan stap en met hulle terugkeer by die woonkompleks in Moreletapark, het hy kort daarna neergesak en ten spyte van die vinnige en bekwame optrede van paramedici, gesterf. Niemand was egter daarop voorbereid dat sy lewenslint daardie oggend geknip sou word nie.
Sy boesemvriend, dr Arnau van Wyngaard van Piet Retief, skryf: “Nico was bekend vir sy nommer 13-skoene waarmee hy diep spore getrap het. Dwarsoor Suid-Afrika en ook in baie ander lande in die wêreld lê Nico se spore. Vanweë sy gehoorsaamheid aan die Here se roeping is daar vandag derduisende mense wat kan getuig van hulle verhouding met die lewende Here. Nico sal onthou word as uitmuntende prediker, skerp teoloog, rugbyspeler, reisiger, gesinsman en gebedsmens, maar boweal sal hy onthou word as evangelis.”
DS APIES VAN ZYL (BA) 6 Desember 1931 – 18 Januarie 2025
Abraham van Zyl is op 6 Desember 1931 gebore te Grootdrink in die distrik Kenhardt. Sy vader was Nicolaas van Zyl, ’n masjinis, en sy moeder Elizabeth Johanna (Bella) Prollius, ’n huisvrou. Apies begin in 1937 met sy skoolopleiding in Vryheid, Natal, waar hy in 1949 matrikuleer. Hy blink uit in rugby as die agtsteman van die Natalse skolespan. Hy voel geroepe om sendeling te word en vertrek in 1950 na die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA-graad verwerf en in 1953 aan die Sentrale Joolkomitee behoort. Hy bly in Sonop. Hy is ook redaksievoorsitter van Trek, ’n kultuurblad en in 1956 is hy ondervoorsitter van die Deo Gloriabestuur, die studenteraad van die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies. Hy behaal die Diploma in Teologie en sy proponentsverhandeling handel oor “Billy Graham as evangelisasieprediker”. Hy trou op 11 Desember 1956 met Isabel van Heerden en uit die huwelik is drie kinders gebore, Nico, Stefan en Marieta.
Na Apies se legitimasie aan die einde van 1956 word hy beroep na die NG Gemeente Potchefstroom-Suid, waar hy op 9 Februarie 1957 met handoplegging bevestig word. In hierdie nuwe gemeente bou hy ’n kerksaal en kerkkompleks en ’n nuwe pastorie. Op 16 Januarie 1960 word hy leraar van die NG Kerk Meyerton in die Vaaldriehoek, waar ’n ontspanningsaal vir die jongmense gebou word. Hy word op 15 Februarie 1963 leraar van die NG Gemeente Napierville in KwaZulu-Natal. Hier word die eredienste goed bygewoon en is daar groot geestelike seën op sy gemeentearbeid.
Op 7 Oktober 1967 word hy leraar van die NG Gemeente Môregloed, ’n voorstad in die ooste van Pretoria se Moot. Hierna vertrek hy in 1971 na die gemeente Voortrekkerhoogte, waar hy as kapelaan groot werk doen onder dienspligtiges en ook by twee geleenthede grensdiens doen. Op 17 Januarie 1975 word hy leraar van die NG Gemeente Pinetown, ’n gemeente naby Durban waar in sy dienstyd ’n konsistorie en saal gebou word.
Vroeg in 1979 word hy leraar van die NG Gemeente Lyttleton-Oos, waar hy goeie werk doen en die gemeente hom geleentheid gee om agt weke lank die lidmate in Zambië te besoek. Die naweek van 9 Mei 1982 word hy as leraar van die NG Gemeente Capitalpark in Pretoria ontvang en bevestig, amptelik sy laaste gemeente voor sy aftrede. Tydens sy dienstyd oor jare heen is verskeie van sy eredienste oor RSG uitgesaai.
Op 28 Mei 1989 aanvaar hy sy emeritaat en die egpaar gaan vestig hulle in Skeerpoort. In 1991 verhuis hulle na die middestad van Pretoria en is hy ’n paar jaar betrokke by die NG Gemeente Ebenhaeser in Pretoria-Noord, waar hy gratis preek en mense besoek. In 1997 verhuis die egpaar na Kleinmond in die Wes-Kaap. Ds Apies van Zyl sterf op 18 Januarie 2025 en ’n begrafnisdiens word op 28 Januarie 2025 vir hom gehou, die einde van ’n vrugbare dienstyd vir sy Meester.
DS JAPIE VAN ZYL (BA Hons, MA, DPhil) 30 November 1935 – 19 Maart 1925
Jacob Marthinus Venter van Zyl is op 30 November 1935 gebore in Prieska. Sy vader was Johannes Jacob van Zyl wat in die distrik boer. Sy moeder is Susanna Magdalena Venter. Japie begin sy skoolopleiding in 1943 aan die Laerskool Prieska en hy matrikuleer in 1954 aan die Hoërskool Prieska. Hy speel rugby vir die skool se eerste span en is ook hoofseun in die koshuis. Die jong Japie voel geroepe om predikant te word en begin in 1955 met die BA (Admissie) aan die Universiteit Stellenbosch, waarna hy in 1958 student word aan die Kweekskool op Stellenbosch. Hier is hy kaptein van die Gewigoptelklub en primarius van die groep studente wat in die CSV se hoofgebou woon. Op 30 November 1961 word hy op sy verjaarsdag as proponent gelegitimeer. Hy stel toe reeds belang in die versorging en behandeling van alkoholisme, waarin hy later verder studeer en vir die NG Kerk baie beteken.
Ds Japie van Zyl word in Maart 1962 bevestig met handoplegging in die NG Gemeente Sydenham in Port Elizabeth. Na twee jaar ontvang hy demissie om verder te studeer, waarna hy sy honneursgraad en meestersgraad en doktorsgraad behaal, wat handel oor alle aspekte wat in verband staan met alkoholisme. Die proefskrif handel oor: “Die selfkonsep van die alkoholis”. In die vriendelike hawestad loop sy vriendskap uit op ’n huwelik, want hy trou op sy verjaarsdag 30 November 1962, met mej Annette M van Aswegen. Uit die huwelik is een seun gebore, Karel Johannes van Zyl.
Op 16 Maart 1962 word prop JMV van Zyl bevestig met handoplegging in die NG Gemeente Sydenham in Port Elizabeth. Die rede word gevoer deur ds AZA van Jaarsveld en ’n groot aantal leraars van die Baai neem daaraan deel. Hy lewer sy intreepreek op 17 Maart 1962 by twee preekpunte, op Sydenham en by Swartkops. Na ’n kort bediening van twee jaar in Port Elizabeth, word demissie in 1964 vir verdere studie aan hom verleen. Hy begin in 1965 werk by Ramot, ’n sentrum vir alkoholisme in Parow. In 1968 keer hy terug na die amptelike bediening as leraar van die NG Gemeente Kimberley-Noord, om weer in 1971 demissie te neem vir verdere studie.
Ds JMV van Zyl voltooi sy studies en word ’n kliniese sielkundige en doktoreer in die rigting, waarna hy in 1972 terugkeer en in 1974 direkteur word van Ramot in Parow. In die twee dekades wat hy daardie pos beklee, skryf hy meer as 50 artikels in die maandblad van die CAD.
Dr Japie van Zyl doen uitstekende werk en aanvaar op 31 Maart 1994 sy emeritaat en emigreer na Alberta in Kanada. Hier doen hy deeltyds sielkundige werk en neem preekbeurte waar vir die Christian Reformed Church in Canada. Hy sterf op 19 Maart 2025.
DS GEORGE WHITEHEAD (BA, BTh) 20 September 1956 – 30 April 2025
George Alexander Whitehead is op 20 September 1956 in Johannesburg gebore. Sy vader is George Alexander Whitehead, ’n sakeman, en sy moeder Magrietha Johanna van der Walt. Dr Gerdrie van der Merwe was 17 jaar lank hulle leraar in die Moedergemeente Kuruman. George begin in 1963 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Louwna en is ook in die laerskool op Vryburg en op Kuruman. In 1970 word hy leerling van Hoërskool Kalahari op Kuruman, waar hy in 1974 matrikuleer. Hy studeer aanvanklik Ekonomie aan die UOVS, maar in sy derde jaar van sy BComm-kursus, staak hy sy studie. In 1978 en 1979 doen hy sy diensplig en keer in 1980 terug na die Vrystaatse hoofstad om hom voor te berei om predikant te word. Die roeping om voltyds vir die Here te werk het George aangespoor en alle struikelblokke is uit die weg geruim.
Nadat hy die BA-graad verwerf het, word George in 1983 student aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy ontvang in 1985 die BTh-graad en hy spesialiseer in Diakoniologie met die skripsie: “Die aanwending van die assosiatiewe leermetode in die kategese”. Hy is getroud met Maria Amanda Smith. Ria is ’n onderwyseres. Uit die huwelik is twee kinders gebore, Zandri en George. Proponent George word aan die einde van 1986 as predikant gelegitimeer, ’n besondere geleentheid vir sy ouers van Kuruman wat die geleentheid bywoon.
’n Roepstem kom na die NG Gemeente Hospitaalpark in Bloemfontein, waar hy op 30 Augustus 1987 met handoplegging in die gemeente ontvang en bevestig word. Die rede word gelewer deur ds Jurie Swart en aan die handoplegging het ds BF Joubert, ds SD de Kock, ds JF le Roux en ds JJH le Roux deelgeneem. Ds George Whitehead lewer sy intreepreek in ’n stampvol kerkgebou na aanleiding van Psalm 62:8. Ds George sou sy hele bediening in die een gemeente in die hart van Bloemfontein werk. Hy het goed met sy kollegas klaargekom en toe hy in 2020 emeriteer bly hy nog verder aan in ’n kontrakpos tot met sy siekte en dood.
Vroeg in 2025 word ds George ernstig siek en hy word nooit gesond nie en sterf op 30 April 2025 in die ouderdom van 69 jaar. ’n Troosdiens word op 7 Mei 2025 in die NG Kerk Hospitaalpark gehou, die kerkgebou waar hy sy hele bediening die blye evangelie verkondig. ’n Vriend uit Bloemfontein se studentejare, ds Danie Pretorius, lei die diens en daar word met dankbaarheid hulde gebring aan die Kalahari-seun wat ’n leeftyd lank in Bloemfontein die Woord bedien het.
’n Mooi en trotse oomblik was toe George Whitehead jr, losskakel en kaptein van die Griekwas, na afloop van 2025 se eindstryd die wen van die Curriebeker aan sy pa opgedra het.
DS CHRISTO WOITE (BA, BD) 5 Februarie 1954 – 19 Desember 2024
Christiaan Woite is op 5 Februarie 1954 gebore te Ventersdorp in die ou Wes-Transvaal. Hy is vernoem na sy oupa Christiaan Woite, die eienaar van ’n besigheid op Ventersdorp en ’n diep gelowige mens wat diep spore getrap het in die plaaslike NG Kerk op Ventersdorp. Sy ander oupa was Josias Stiglingh, wat in die distrik Coligny geboer het en as ouderling plaasbegrafnisse waargeneem het. Hy was getroud met Neeltje Elizabeth Stiglingh en hulle woon later ook op Ventersdorp. Met die afstigting van die NG Gemeente Ventersdorp-Oos en die nuwe kerkgebou se inwyding, het hy die deur oopgesluit. Christo word in ’n huis groot waar nie net sy grootouers nie, maar ook sy ouers diep gelowig was en in die kerklike gemeenskap ’n groot rol gespeel het.
Christo begin sy skoolopleiding in 1960 aan die Laerskool Ventersdorp en word in 1967 leerling aan die Hoërskool Ventersdorp waar hy in 1971 matrikuleer. Hy was onderhoofseun en intens betrokke as leier by die ACSV. Hy presteer in atletiek en is ook ’n goeie redenaar. Toe Christo drie jaar oud was, het hy baie siek geword en het sy ouers ’n belofte aan die Here gemaak dat as hy sou leef, hulle hom sou afsonder vir die Here se werk. Sy suster Lizzie skryf: “Alhoewel hy te klein was om te verstaan wat dit beteken, het hy van toe af gesê dat hy ’n predikant gaan word. As hy beeste moes aanjaag, het hy gehuil en gesê ’n predikant jaag nie beeste aan nie.” Op 6 April 1968 tydens ’n CSV kamp op Winkelspruit kom Christo tot geloofsekerheid en is die roeping op predikant te word bevestig in sy hart. Daarna het hy en ’n vriend Sondagmiddae met hulle fietse na die swart woonbuurt by Ventersdorp gery om mense van die Here te vertel.
In 1972 begin Christo met sy studie op Potchefstroom aan die PU vir CHO en behaal in 1974 die BA-graad, ’n besondere tydperk op die walle van die Mooirivier. In 1975 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria. Sy woonplek is regoor Burgerspark, waar hy probeer om bedelaars op te hef. Hy verwerf die BD-graad en sy skripsie handel oor: “Bekering tydens kategese – ’n godsdienspsigologiese benadering”. Hy was baie talentvol en het graag in sy vrye tyd geskryf en geskilder. Hy trou op 17 Desember 1977 met Sara Elizabeth Meyer. Uit die huwelik van ds Christo en Elsabe Woite is vier kinders gebore.
Na sy legitimasie aan die einde van 1978 is hy beroepbaar en word op 10 Maart 1979 leraar van die NG Gemeente Edenville in die hart van die Vrystaatse platteland. Dit was ’n besondere ordening toe sy moeder die toga om Christo hang. Hy lewer sy intreepreek uit Romeine 8. Christo was die eerste jong predikant in baie jare wat Edenville bedien het. Hy het besondere aandag aan die jeug gegee en het oulike idees en temas vir kinderpreke uitgedink. Dit was vir hom ’n passie om as instrument in die hand van die Here jonger kinders na Hom te lei, waarin hy op Edenville geslaag het.
Op 11 Junie 1982 word hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Graskop in die pragtige natuurskool van Oos-Transvaal, waar hy diep spore trap. Dit was ’n groot gebied en hy het ook preekbeurte op Bourkes Luck, Pelgrimsrus en Bosbokrand waargeneem. Ook in die gemeente gee hy besondere aandag aan die jeug. Daar word vir ’n feit vertel dat die apteker vir ds Christo kwaad was omdat hy sy kind na die Here gelei het, want hy het gesê dit is die voorreg van ’n ouer om dit self te doen.
Op 17 Januarie 1987 word ds Christo leraar van die jong NG Gemeente Norkempark, ’n gemeente wat van Kempton-Hoogland afgestig het. Met sy beroeping word die lot gewerp, waarna sy pad na die nuwe gemeente loop. Ook hier het sy preke mense aangeraak en sy praktiese voorbeeld in preke het mense die hele week na ’n Sondag bygebly.
Ds Christo Woite word op 26 April 1991 leraar van die NG Gemeente Verwoerdburgstad, wat later die kerksondermure word. In dié tyd boer hy ook deeltyds met beeste in die Bosveld. Hier het die leraar met sy humorsin en deurleefde preke jonk en oud aangeraak en het hy met passie pastorale werk verrig. Hy het ook verskeie kursusse geskryf en aangebied oor lewensafsluiting, huweliksafsluiting, alleenlopendes, enkelouers en emosionële higiëne. Aan die einde van 2018 aanvaar hy sy emeritaat en verander net van werk omdat hy toe meer kon skilder, beeldhouwerk doen en ’n digbundel kon saamstel vir familie en vriende. Hy het dikwels gepreek in die gemeente Midstream.
Sy suster Lizzie Kotze skryf: “Hy was verlief op die lewe! Hy het alles gedoen waarin hy sy lewe lank belanggestel het.”
Op 9 Mei 2024 word hy met aggressiewe prostaatkanker gediagnoseer, wat nie sy vreugde steel nie hy gaan steeds aan met die lewe. Hy sterf op 19 Desember 2024 en ’n herinneringsdiens word in die NG Kerk Ventersdorp gehou. Johan Freysen skryf: “Hy het die lewe geniet – letterkunde, musiek, kunswerke, geure, kleure, smake, om met sy hande te werk, te skep en reg te maak. Hy was ’n veelsydige, wonderlike, begaafde, meelewende, humoristiese en omgeemens. Soos ’n geslypte diamant, het Christo se lewe verskillende fasette getoon, wat op ’n besondere wyse weerkaats het in hulle met wie sy lewenspad gekruis het.”
