Making values real: Focus on the yeast effect (A practical guide to living, leading and building relationships through values) deur Arnold Smit
Uitgewer: KR Publishing, 2025
Resensent: Frederick Marais
Making values real beveel ek sterk aan vir almal wat geïnteresseerd is in die bou van volhoubare verhoudings in ons samelewing. Smit gebruik met reg die Bybelse metafoor van die “yeast”/ gis-effek in sy benadering tot die vestiging van waardes in verhoudings en gemeenskappe. Wanneer waardes diep gevestig is in gemeenskappe, het dit nie alleen ’n diep transformerende effek op die gemeenskappe nie, maar maak dit ook die gemeenskap (lees: verhoudings) volhoubaar.
Baie sal saamstem oor die “waarde van waardes”, maar min verstaan so goed soos Smit “hoe-om-waardes-te-leef” in verhoudings. Die waarde van die boek is dat hy nie alleen die teorie oor waardes verstaan nie, maar ook ’n deurleefde aanpak in die boek beskryf oor hoe om waardes ’n geleefde werklikheid te maak. Ek het met die lees van die boek beleef dat, soos wat ek lees en vrae by my opkom, die volgende afdeling die vrae beantwoord. Smit leef dit self en weet hoe om mense hierin te begelei.
In die eerste hoofstuk is daar ’n bondige en uiters toeganklike inleiding tot die teorie van waardes. Die leser moet nie bondigheid verwar met “vinnig” en “oppervlakkig” nie. Die temas is keurig gekies en netjies tot ’n werksdefinisie verwerk. Neem byvoorbeeld die volgende: “While values make meaningful relationships possible, they also inspire us to collaborate well and achieve great things together.” Daar is ook ’n uitgebreide bibliografie vir die leser wat graag verdere navorsing oor die onderwerp wil doen.
Hierna volg ’n aantal hoofstukke wat stap vir stap die praktyk van geleefde waardes uitpak. Dit is veral in hoofstuk 3: “Values confronted”, waar die deurleefde karakter van die boek na vore kom. Soos min ander hanteer Smit die werklikheid van konflik in verhoudings en ontknoop dit deur middel van praktiese voorstelle en werkbare stappe om, selfs in uitdagende situasies, met behulp van waardes konflik deur te werk tot konstruktiewe verhoudinge. Met die lees van die hoofstuk kry jy telkens die ervaring van herkenbaarheid – “ek-het-dit-ook-al-beleef”. Dan volg daar verdere voorstelle wat jou hoop gee dat vasgeloopte verhoudings oopgeknoop kan word deur middel van geleefde waardes.
In ’n handige bylaag, “A values playbook”, maak Smit voorstelle oor oefeninge wat groepe kan doen om die insigte van die boek te realiseer.
Making values real is ’n boek vol praktiese wysheid (phroneo), in die sin wat Paulus en Aristoteles dit bedoel het. Die boek kan ewe gemaklik ’n selflees-ervaring wees, as wat dit ook gebruik kan word deur groepe.
Beskikbaar by kr.co.za.
Prof Smit bied ook werkswinkels aan oor die onderwerp. Hy kan gekontak word by arnold@wisepraxis.com
Dr Frederick Marais is dekaan van die Skool vir Sosiale Innovasie by Hugenote Kollege.
