Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

2025: Jaaroorsig by monde van uiteenlopende onderhoude

In gesprek met prof Marius Nel (MN), ’n dosent in Nuwe Testament aan Universiteit Stellenbosch en assessor van die Wes-Kaapse Sinode.

 

‘Is ons vlugtelinge, betereinders, of stiefburgers?’

 

Kerkbode (KB): Het vanjaar se gebeure (goed en sleg) ’n bepaalde insig by jou ontwikkel?

MN: Ons vergeet hoe geseënd die NG Kerk is wat die gehalte van ons leraars en lidmate betref. Ons moet met ’n hoopvolle eerlikheid leef. Dinge is nie 100% reg nie, maar ons kerk en land is nie in vryval nie.

 

(KB): Watter geloofsvraag dink jy is tans veral aktueel in Suid-Afrika en waar sien jy iemand daarmee in gesprek tree?

MN: Hoe leef ons as ’n ietwat vaag omskryfde groep blanke Afrikaners saam met mekaar en ander? Is ons vlugtelinge (omtrent niemand dink dit nie), betereinders (dis nader aan ons kultuur se DNS) of stiefburgers (gaan “onreg” teenoor ons kinders nodig wees om ons onreg teenoor ander in die verlede ongedaan te maak)? Kan ons nie maar net Suid-Afrikaners wees in die regering se beleid en ons kop nie? Dit is interessant dat op ’n stadium was dit mans 50+ wat moes vrede maak dat hulle toenemend uitgesluit gaan word van die land se ekonomie. Nou is die vraag oor hulle kinders.

KB: Wat was vir jou die mees nuuswaardige teologiese of kerklike verwikkeling spesifiek in die NG Kerk die afgelope jaar? Dit wil sê: Iets wat ’n mens moet verstaan om die kerk beter te verstaan.

MN: Daar is ’n nuwe geslag van kerkleiers wat lief is vir die kerk soos dit is in terme van grootte en invloed. Hulle hunker nie terug na die “ons moes stoele indra”-tye nie. Hulle is betrokke by geloofsgemeenskappe wat ’n verskil maak wat veel groter is as wat ’n mens van hulle getalle sou verwag.

  • Dit is duidelik dat gemeentes wat gekrimp het tot pastor-grootte (sien Alice Mann), waar almal die leraar ken, ’n “Goldilocks-ruimte” beklee in die huidige tydsgees (nie te groot, nie te klein, net “reg”).
  • Familiegrootte gemeentes (waar almal vir almal ken) is te intiem.
  • Programgrootte (waar jy een van die leraars ken) en korporatiewe gemeentes (jy ken iemand wat die leraar ken) is te onpersoonlik. Hulle fokus op wat hulle kan bied aan mense (hulle kan jou besig hou). Dit is tans min mense se behoefte. Mense soek betekenisvolle verhoudings, nie om besig te wees nie.

Dus, as ons bekostigbare bedienings in stand kan hou (dink die vier bedieningsbane) is gemeentes meer veerkragtig as wat ons dink. Die fokus moet egter op verhoudings (na binne en buite) wees.

​​Marius Nel is professor in Nuwe Testament aan Unversiteit Stellenbosch. Foto: Le Roux Schoeman

Daar is ’n interessante gesprek in die Weste aan die gang oor geloof. Wat beteken dit om te glo? Waar baie prominente en invloedryke mense in die verlede hulleself as agnosties of ateïsties beskryf het, het daar ’n nuwe tendens na vore gekom. In kort, ek glo nie soos die fundamentaliste wat geloof in God verstaan as alles weet van God en 100% seker wees van sy bestaan nie. Geloof is eerder om nie te weet dat God bestaan nie (in die empiriese sin) maar om te leef asof God bestaan. Geloof is dus minder weet en seker wees en meer om onseker te wees. Dié onsekerheid (anders as om agnosties te wees of ateïsties) ontlok egter bepaalde gedrag. Hulle probeer leef asof God bestaan. As God bestaan en byvoorbeeld oordeel, sal jy anders leef. Ek tel iets hiervan op by JK Rowling, Jordan Peterson en in ’n mindere mate by Tom Holland. Die geskiedskrywer Niall Ferguson, wat ’n ateïs was, het homself byvoorbeeld laat doop en is nou ’n Anglikaan.

Die gesprek kan interessant raak – en ’n mens sal moet sien of dit kan wegbly van nasionalisme af.

KB: Is daar ’n tendens in die NG Kerk wat jou vanjaar verras? Hoe verskil dit van jou verwagting?

MN: Die aantal mense wat aanmeld vir tweedeloopbaanbediening is ’n tendens wat my ietwat verras. Ek het geweet dat in die Westerse kerk die meeste teologiese studente al ’n tyd lank nader aan 50 jaar oud is, maar die omvang van die behoefte om te bedien in die NG Kerk is vir my ’n aangename verrassing. Ons moet hulle stories meer vertel asook wat die verskillende bane presies behels (die positiewe en die negatiewe aspekte).

Ons moet let op hoe veral kleiner gemeentes toenemend multikultureel raak. Daar is vir my meer positiewe tekens hiervan as in die verlede. (Sien die skrywer se voetnotas tot hierdie gesprek onderaan hierdie blad – Red.) 


In gesprek met dr Nina Müller van Velden (NMvV), dosent Nuwe Testamentstudies by die Fakulteit van Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat

 

Wie presies is ‘ons mense’?

 

Kerkbode (KB): Watter geloofsvraag dink jy is tans veral aktueel in Suid-Afrika en waar sien jy iemand daarmee in gesprek tree?

NMvV: Die sosio-politieke vraag na identiteit aan die een kant, en die geloofsvraag na identiteit aan die ander kant, speel steeds konstant in Suid-Afrika uit.

Sosiale media en die invloed van nasionalistiese tendense, verpak in Christelike godsdiens, skep die indruk dat die twee vrae op gelyke vlak gevra kan word. Dit bring geweldige spanning en konflik mee, want as ons die Nuwe Testament ernstig opneem, behoort die identiteit van volgelinge van Jesus altyd eerstens in die genade en liefde van God se versoening gewortel te wees. Dit is die vertrekpunt, die anker, en die fondament vir enige verdere soeke na identiteit. Enige ander identiteitsmerker moet daaraan ondergeskik staan – en uit die aard van die evangelie, laat dit ons dikwels stoei met ons ander identiteitsmerkers (op ’n goeie manier!). Natuurlik is ons identiteit nie netjiese boksies met verskillende waterdigte kategorieë nie. Maar my indruk is dat ons nie genoeg besig is met die vraag: wie is ek, en veral ons, in Christus, nie. Ons praat en debateer veel meer robuust oor wat dit beteken om byvoorbeeld ’n Afrikaner te wees.

 

KB: Wat was vir jou die mees nuuswaardige teologiese of kerklike verwikkeling spesifiek in die NG Kerk die afgelope jaar? Dit wil sê: Iets wat ’n mens moet verstaan om die kerk beter te verstaan.

NMvV: Die uiteenlopende reaksies oor waar die kerk hoort betrokke te wees met hulpverlening, en ook die persepsies oor waar die kerk wel betrokke is (al dan nie) vang dikwels my oog. Veral diegene wat meen die NG Kerk moet primêr met “ons mense” (wie is dit presies?) en in “ons konteks” (waar is dit presies?) hulpbronne inploeg. Party wil graag meer hoor oor waar die kerk oral betrokke is; ander meen dit moet juis nie aan die groot klok gehang word nie. Ten spyte van gereelde en deeglike beriggewing oor betekenisvolle betrokkenheid op vele vlakke, is daar dan ook steeds hulle wat reken die NG Kerk “doen niks nie”. Dit dui vir my op die geweldige invloed van selektiewe nuus-inname, maar ook op ’n verwronge verstaan van barmhartigheid (in die wydste sin van die woord). Wie is waardig om gehelp te word, wanneer? En hoe oefen ons daardie keuse uit? Hoe word ons nie oorweldig deur nood tot op die punt van passiwiteit nie? En hoe kan ons deur gemeentes, ringe en sinodes dit vir lidmate so eenvoudig moontlik maak om ’n verskil te maak en betekenisvol betrokke te wees by hulle gemeenskappe?

 

KB: Is daar ’n “storie” / tema wat jy dink onderspeel word in die mediadekking en wat jy dink meer aandag moet geniet?

NMvV: Ek wonder hoe teologiese toerusting in die NG Kerk nog sterker deur ons eie mediakanale kan plaasvind. My indruk is dat mense nuuskierig is en dat daar tog ’n behoefte onder sommige is aan teologiese diepte, veral ten opsigte van Bybelinterpretasie en -agtergrond. Die tipe inhoud wat wel geredelik beskikbaar is, herinner dikwels aan goedkoop kitskos – jy weet presies wat jy gaan kry, en die kwaliteit is maar bra bedenklik … Hoe kan teologiese toerusting met diepte, en binne ’n gereformeerde raamwerk, in die Suid-Afrikaanse konteks, meer toeganklik wees?

 

Dr Nina Müller van Velden is ‘n dosent in Ou en Nuwe Testamentstudies by die Fakulteit van Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat.

In conversation with Rothney Tshaka (RT), professor of Ethics and Systematic Theology and Director of the School of Humanities, in the College of Human Sciences at the University of South Africa

 

‘Forgiveness is simply the hardest thing to do’

 

Kerkbode (KB): Watter geloofsvraag dink jy is tans veral aktueel in Suid-Afrika en waar sien jy iemand daarmee in gesprek tree?

RT: Let me set the stage, indicating that there is a strong likelihood that it would be responded to differently depending on where one is located. I therefore do not claim to be speaking for everyone, given the vast differences among individuals and communities. A question related to faith in these times that I’m mulling over stems from ministering to a local Christian community and seeing the daily struggles of raising kids and providing for them in an economy that isn’t creating jobs. I know of individual members who have become hopeless. In my pastoral work with them, I realise that the gospel sounds like a good idea, but sadly, the urgency of their needs makes this moot, as the struggle is for survival at this moment. Anxiety and fear take over their total concentration, and the essence of the gospel sadly goes missing in the process. I realise that people carry wounds from childhood, and in most cases, these remain unattended to. For instance, I once preached on forgiveness. I soon realised that, even as I encouraged them to look inward, the scars caused by disappointments with family and friends are still impossible to overcome, especially when asked to embody the ideals of the gospel. Forgiveness is simply the hardest thing to do, especially for people who have been hurt. I am reminded of the words of CS Lewis, who once said, “We all agree that forgiveness is a beautiful idea until we have to practice it.” So I am under no illusion that forgiveness is one of the hardest things to do. People are hurt and hurting others. We must be careful, sometimes even as leaders who are also human, that as we bleed, we do not bleed on others. In a way, there is a harder expectation of leaders in the church. It was Martin Luther who reminded us that the church is ultimately a hospital for seeking people. Even so, the inability to risk forgiving one another so that we can move forward sometimes discourages leaders. This sometimes makes me feel like Jeremiah, who once threatened to stop preaching.

I am under no illusion that forgiveness is one of the hardest things to do. People are hurt and hurting others. We must be careful, sometimes even as leaders who are also human, that as we bleed, we do not bleed on others. – Prof Rothney Tshaka

KB: Wat was vir jou die mees nuuswaardige teologiese of kerklike verwikkeling spesifiek die afgelope jaar? Dit wil sê: Iets wat ’n mens moet verstaan om die kerk beter te verstaan.

RT: One wise teacher of mine once remarked that the church has been in existence long enough, and that means whenever one gets a feeling that the church as we understand it is losing its vitality, we do well remembering that the church has been in existence for a very long time and what we perceive to be threats to its survival are in fact only an illusion. Numerous challenges over the recent years have plagued our church, and these challenges have spilt over into local congregations, with them feeling a need to side with one faction or another. What has been most humbling to me is the realisation that the church really belongs to the individuals who collectively make it up. I was encouraged to see how some of my congregants insisted that they will remain in the church and be faithful to the gospel, which inspired the Belhar Confession. This year, I realised that it is okay not to be too anxious about the future, because those who remain faithful do so because they are convinced of the faithfulness of the head of the church, Jesus Christ. We sometimes think of ourselves as ministers of the word and professors, believing it is our business to save the church. Still, I have come to learn that the head of this church, who is faithful, remains in charge of the church whether we judge the situation to be dire or otherwise. Never should we be anxious.

 

KB: Is daar ’n tendens in die geloofsgemeenskap waarin jy beweeg, wat jou vanjaar verras? Hoe verskil dit van jou verwagting?

RT: Maybe linked to the above, I would say, is the resilience I have seen from ordinary members of the congregation. I must admit, as indicated earlier, that sometimes even as ministers, we feel like giving up. I am grateful to the many women and men who let it be known that they keep my family and me in their prayers and thoughts all the time. It is indeed a constant relearning and unlearning of the many things one learned at university. The church, to me, remains a vital force in society and, for this reason, remains relevant, particularly in a time of so many conflicting truths. I think over the past few years, I have been surprised by the tangibility of faith, and I have learned to appreciate the small things that happen in spaces that never make the headlines.

 

KB: Is daar ’n “storie” / tema wat jy dink onderspeel word in die mediadekking en wat jy dink meer aandag moet geniet?

RT: This is an incredible question, and it touches my previous response. I think there are so many great things that are happening in the church. I am grateful for the fact that I kept a foot in the church. As indicated, I have had to unlearn several so-called truths by just learning from members of my congregation. Also, I must state that this learning is not to be confined to one congregation; I have served several congregations, and some of the lessons stem from my time in those congregations. I have come to learn that people are just people. That when we are hurting; we cannot help but hurt others. I have come to realise that, even as adults, sometimes we must remember that, if we have not dealt with our childhood traumas, they spill over. For this reason, the gospel is an invaluable resource that seeks to comfort us as we acknowledge our past bad experiences. I have come to learn that sometimes, when people neglect to return a greeting, it is not personal but perhaps a result of the thoughts or ideas that are competing for their attention at that moment. For this very reason, we need to be more patient with one another. I have learned that while forgiveness and specifically the lack of it in many communities and relationships, we are forced, nonetheless, as Christians, to work towards its realisation. I have seen how people come together when faced with tragedy; these and many more are not things one necessarily studies, but only things one can understand when in an active relationship with another. I wish the media could focus on the supposedly trivial things because they are indeed the sobering things that draw us closer to one another.


In gesprek met ds Mias Nortier, leraar by NG Gemeente Jacobsdal

 

‘Die onderspeelde storie van kerk se steun aan gemeentes en gemeenskappe regoor Suid-Afrika’

 

Kerkbode (KB): Watter geloofsvraag dink jy is tans veral aktueel in Suid-Afrika en waar sien jy iemand daarmee in gesprek tree?

MN: Sonder om soos ’n doemprofeet te klink, is die regeringstruktuur met al sy fasette, toksies. Die mees aktuele geloofsvraag in Suid-Afrika tans, volgens my dan, is die profetiese stem wat die kerk het teenoor die grootskaalse korrupsie en magsmisbruik deur persone in posisies van invloed. Hierdie gesprekke vind plaas op sinodale, rings- en gemeentevlak. In April 2025 het ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) tydens ’n gespreksgeleentheid met president Ramaphosa uitgelig hoe noodsaaklik dit is vir inklusiewe gesprekke met mense op grondvlak oor die land se maatskaplike uitdagings en morele verval. Ek is egter baie pessimisties oor enige veranderings wat plaasvind na sulke gesprekke. Wat my wel meer positief maak is verhale waar ringe en gemeentes op plaaslike vlak begin om verhoudings te bou met die plaaslike regering in hulle gemeenskappe, soos met die Dorpe Floreer -werkswinkel in die Ring van Fauresmith.

 

KB: Wat was vir jou die mees nuuswaardige teologiese of kerklike verwikkeling spesifiek in die NG Kerk die afgelope jaar? Dit wil sê: Iets wat ’n mens moet verstaan om die kerk beter te verstaan?

MN: Die stigting van die eerste teologies-kategoriale ring van die NG Kerk, hier in die Vrystaat. Hierdie gebeurtenis sien ek as nuuswaardig, omdat ek nie gedink het dit sou werklik gebeur nie, weens baie teenkanting. Dit is vir my ’n positiewe gebeurtenis binne die NG Kerk, deurdat dit gemeentes help wat moedeloos voel in bestaande strukture om wel uitdrukking te kan gee aan hulle Skrifverstaan.

Op Saterdag 11 Oktober 2025, het daar sewe vanuit die nege ringsgemeentes, asook verteenwoordigers vanuit die NG Kerk in Afrika (NGKA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA), byeengekom op Jacobsdal vir die werkswinkel van Dorpe Floreer, vertel die skrywer (regs onder). Foto: Verskaf

KB: Is daar ’n tendens in die NG Kerk wat jou vanjaar verras? Hoe verskil dit van jou verwagting?

MN: Die moeite wat gemaak word met jeugbetrokkenheid en geloofsvorming. Ek het nie verwag dat dit so spoedig en op ’n moderne wyse aangepak sou word nie. Die ‘Kategese wat werk’ reeks op Kerkbode kan gemeentes help om op kreatiewe en kontekstuele wyse die uitdagings van kategese aan te pak. Saam met die #Imagine en ander geleenthede, wat gedurig groei en aanpas, is daar weer hoop vir die jeug in die NG Kerk. Dit raak al hoe meer uitdagend in ’n samelewing waar pinkste-kerke jongmense lok (goed of sleg). Hierdeur maak ons nie kompromieë ten opsigte van ons gereformeerde identiteit nie, maar pas aan by die wyse van aanbieding.

 

KB: Is daar ’n “storie” / tema wat jy dink onderspeel word in die mediadekking en wat jy dink meer aandag moet geniet?

 

MN: Die onderspeelde storie is die NG Kerk se stil maar kragtige ondersteuning aan gemeentes en gemeenskappe regoor Suid-Afrika. Dit gaan nie hieroor dat daar gespog moet word nie, maar dat gewone mense op straat sal besef dat die NG Kerk baie betrokke is, op die grondvlak by gemeenskappe. Kerkleiers uit die NG Kerk se barmhartigheidsnetwerke en ander vennootskappe, in samewerking met gemeentes, boereverenigings, ens. Verskaffing van allimentasie, pastorale sorg, kundigheid aan mense in nood. Byvoorbeeld, die Diens van Barmhartigheid in die Vrystaat wat dorpe in die Vrystaat bystaan. Op ’n konstante basis soos die nood opduik en met geloofsonderskeiding word dit gedoen. Die nood is baie groot, hoe kan ons as NG Kerk volhoubare impak maak?

 

KB: Het vanjaar se gebeure (goed en sleg) ’n bepaalde insig by jou ontwikkel?

MN: Ja, 2025 se gebeure: van die Palestynse-geleentheid in die Groote Kerk en hulp aan Gasa tot innerlike debatte oor eenheid, het my die insig gegee dat die kerk se krag lê in nederige afhanklikheid van God, eerder as menslike strukture. Die slegte (soos dalende lidmaatskappe en identiteitpolitiek) het my herinner aan Psalm 127:1 “As die Here die huis nie bou nie, arbei die bouers tevergeefs”, terwyl die goeie (soos barmhartigheid) wys dat God se Gees nog waai oor die plat vlaktes van die Vrystaat. Dit het my geleer om minder op sinodale besluite te vertrou en meer op daaglikse getuienisse, met ’n dieper toewyding aan gebed en Skrif. Uiteindelik: In chaos vind die kerk haar doel: om lig te wees in duisternis. Mag ons almal so lewe.

 


In gesprek met dr Anton Knoetze (AK) van Koinonia Sinode en NG Gemeente Secunda-Goedehoop

 

‘Gereformeerde verstaan van verlossing alleen deur Jesus Christus word verdring deur sosiale evangelie gedra deur universalisme’

 

Kerkbode (KB): Watter geloofsvraag dink jy is tans veral aktueel in Suid-Afrika en waar sien jy iemand daarmee in gesprek tree?

AK: Die aktuele geloofsvraag wat die NG Kerk – lidmate, ampsdraers en alle kerkvergaderings –  moet vra, is of ons nog ’n gereformeerde kerk is wat getrou is aan die wese van die gereformeerde geloof?

Ons moet antwoord op die vraag of ons nog vashou aan ons belydenis dat ons glo in die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof en of ons nog vashou aan ons belofte om in die belydenis van die leer tot die einde van ons lewe te volhard en alle leringe wat daarvan afwyk, te verwerp?

Dr Anton Knoetze. Foto via iclrs.org

Ons leef in ’n land wat sy morele kompas verloor het en die tragedie is dat gemeentes wat volgens 1 Timoteus 3:15 veronderstel is om die vermaning ernstig op te neem oor hoe lidmate hulle moet gedra as die huisgesin van God, nie meer verstaan dat die gemeente die draer en beskermer van die waarheid is nie. Die drie sake wat die ware kerk kenmerk, naamlik die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die handhawing van die kerklike tug word al meer afgewater. Die vraag is waar vind hierdie gesprekke plaas? Dit is duidelik dat hierdie gesprek baie nodig is maar dit gebeur selde in gemeentes.

 

KB: Wat was vir jou die mees nuuswaardige teologiese of kerklike verwikkeling spesifiek in die NG Kerk die afgelope jaar? Dit wil sê: Iets wat ’n mens moet verstaan om die kerk beter te verstaan?

AK: Ongelukkig sal die negatiewe hieroor beklemtoon moet word. Al drie ons teologiese fakulteite het die nuus gehaal vir die verkeerde redes eerder as oor hulle gereformeerde teologie en Skrifvertolking. Kerkvergaderings het besluite geneem wat verwydering in gemeentes bring en wat getuig van onbevoegdheid en magsmisbruik. Daar was berekende kerkordelike veranderinge om verskille te smoor en veral om Skrifgetroue ampsdraers en kerkvergaderings te muilband. Verder was daar verdraagsaamheid oor leerdwalings. Die hewige debatte binne en buite die kerk wat gevolg het op die Sinode van Namibië se uittrede uit die Algemene Sinode, die geleenthede wat plaasgevind het in die Groote Kerk Kaapstad en Hermanus asook die omstrede tughandelinge teen behoudende ampsdraers was vir baie lidmate en ampsdraers waterskeidende gebeure wat menigeen laat vra of hulle nog ’n toekoms in die NG Kerk het.

 

KB: Is daar ’n tendens in die NG Kerk wat jou vanjaar verras? Hoe verskil dit van jou verwagting?

AK: Dit is duidelik dat die Gereformeerde verstaan van die unieke evangelie van verlossing alleen deur Jesus Christus, verdring word deur ’n sosiale evangelie gedra deur universalisme. Dit was byvoorbeeld vreemd dat ’n predikant regstreeks op die hoofnuus verskyn om aktivisme oor Gasa te beklemtoon en dat daar dan onmiddellik R250 000 beskikbaar gestel word. Die verwagting is dat die ASM met groter omsigtigheid sou optree. Daar is ’n duidelike verskuiwing oor die “identiteit van wie en wat die kerk is”. Die plaaslike gemeente is die gemeenskap van die heiliges wat deur God geroep word, om die goeie nuus van Jesus Christus tot die eer van die Vader te verkondig, en sodoende sal die verlorenes vir die ewigheid gered word. Al is die kerk bekommerd oor mense in nood is die fokus anders as ander organisasies wat hulp verleen.

 

KB: Het enige van vanjaar se groot nuusgebeure (goed of sleg) ’n bepaalde insig by jou ontwikkel wat jy wil deel?

AK: Die belofte van Matteus 16:18 – En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Christus se kerk sal ewig seëvierend wees en alle teenstand oorwin, insluitend die dood self. Die frase “die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” beteken dat die magte van die duisternis nie die kerk, wat Jesus bou op die fondament van die belydenis, permanent kan verslaan nie. Hierdie belofte waarborg die kerk se blywende krag en uiteindelike triomf.

Die mediadebat wat waarskynlik die meeste aandag geniet het, was die saak rondom die wederkoms. As Gereformeerdes sien ons uit na die dag omdat dit vir ons die nuwe hemel en die nuwe aarde bring. Daardie wonderlike dag wanneer God alles in almal sal wees. In 2 Petrus 3:11 word genoem dat hierdie aardse bedeling en dit wat vir mense so belangrik is, vernietig gaan word. Hoe moet jou manier van lewe dan lyk? Hierdie is nie ’n vraag nie, dit is eerder ’n aanmoediging, want sekere eienskappe moet ons lewe kenmerk. Hy noem dat ons “vroom en aan God toegewy” moet lewe. Vroom het te make met ons optrede en toegewy met ons gesindheid. Dit is dus duidelik dat die kerk in gesindheid en optrede moet wys waarheen ons op pad is.

 


 

In gesprek met prof Charlene van der Walt, teoloog verbonde aan die Universiteit van KwaZuluNatal.

Hoe ondersteun ons dié wat op die voorpunte werk?

 

Kerkbode (KB): Watter geloofsvraag dink jy is tans veral aktueel in Suid-Afrika en waar sien jy iemand daarmee in gesprek tree?

CvdW: Tydens die onlangse G20-vergadering in Suid-Afrika word geslagsgebaseerde geweld (GBV) verklaar tot ’n  nasionale noodtoestand. Die werklikheid van geslagsgebaseerde geweld en homofobiese haat en geweld is ’n oorweldigende realiteit in Suid-Afrika en geen gemeenskap word daardeur onaangeraak gelaat nie. ’n Groot hoeveelheid navorsingswerk is al gedoen om na te dink oor die onderliggende faktore wat bydra tot die GBV-pandemie in Suid-Afrika. Kenners verwys veral na die ideologie van geweld, wat op ’n besondere manier geinformeer word deur ons koloniale en Apartheidsgeskiedenis, en die ideologie van manlike superioriteit. Hoe geloof en religie hierdie ideologieë ondersteun bly egter ’n landskap wat nie genoeg navorsings- en toelogiese aandag geniet nie. Hoewel daar toonaangewende werk in die landskap gedoen word deur queer en feministiese teoloë, is dit belangrik om die hoofstroomstilte in teologiese en kerklike kringe uit te wys. GBV en homofobiese haat en geweld is nie ’n vroueprobleem of iets wat net queer mense affekteer nie, dit is ’n realiteit wat ons samelewing beïnvloed en ons kollektiewe menswaardigheid aantas. Dit vra aandag, werk en toewyding van ons almal.

KB: Wat was vir jou die mees nuuswaardige teologiese of kerklike verwikkeling die afgelope jaar? Dit wil sê: Iets wat ’n mens moet verstaan om die kerk beter te verstaan.

CvdW: Dit is moeilik om oor 2025 te dink sonder om aan die Trump-administrasie in die VSA te dink en die manier waarop “Christelike geloof” gebruik word om ’n “Christelike” nasionalistiese bestel te bevorder en uitsluiting en diskriminasie te informeer. Die uitkringeffek van Trump se administrasie en veral die anti-gender agenda wat gepropageer word het ’n verreikende effek wat in veral in die meerderheidswêreld gevoel word. Dienste en beskerming wat verleen word aan dié wat die kwesbaarste is het hierdie jaar ’n geweldige terugslag beleef. Die Trump-administrasie, Projek 2025 en die anti-gender agenda het ook verreikende gevolge ingehou vir die internasionale befondsingslandskap. Noodverleningsfondse vanuit Europa en die VSA wat geoormerk is vir gender- en seksuele gesondheid en regte het geweldig afgeneem en ons sien ’n toename in verdedigings- en anti-imigrasiebeleid en -befondsing.

KB: Is daar ’n teologiese tendens sigbaar wat jou vanjaar verras? Hoe verskil dit van jou verwagting?

CvdW: Miskien nie soveel van ’n verrassing nie, maar tog is die beduidende toename in teologiese refleksie wat gedoen word deur vroue en LGBTIQA+ gelowiges iets wat my hoop gee. Oor die laaste jaar was daar ’n paar belangrike aanstellings by Teologiese fakulteite en religiedepartemente in Suid-Afrika wat teologiese refleksie moontlik maak deur dié wat geraak word deur geslagsgebaseerde geweld, rassisme en homofobiese haat. Die jaar het ook belangike PhD- en MTh-studies opgelewer wat getuig van doelgerigte onderrig en leer en navorsingsbefondsing en ondersteuning wat werk in die landskap van gender, seksualiteit en geloof moontlik maak. Hierdie verwikkeling hou besondere potensiaal in vir die teologiese en kerklike landskap in Suid-Afrika en mag weerstand inhou vir kerklike gesprekke wat so maklik oor mense gaan eerder as om mense die geleentheid te gee om vir hulleself te dink, praat en teologies te reflekteer.

 

KB: Is daar ’n “storie” / tema wat jy dink onderspeel word in die mediadekking en wat jy dink meer aandag moet geniet? Wat is die Wie? Wat? Waar? en Wanneer? van daardie storie – met ander woorde nie ’n generiese stelling soos “daar is ook baie mooi stories …” nie, maar gee asb die kernfeite van die spesifieke verwikkeling of gebeurtenis met die nuuswaardige implikasies soos jy dit verstaan.

CvdW: Op 15 Februarie 2025 in Bethelsdorp, Suid-Afrika, is Imam Muhsin Hendriks brutaal vermoor in ’n homofobiese haataanval. Imam Muhsin Hendriks was die eerste openlike queer Imam in Suid-Afrika en het ’n oop moskee bedryf vir ander queer Moslemgelowiges in Kaapstad. Hierdie homofobiese haataanval het weinig reaksie ontlok by hoofstroomgelowiges en godsdienskenners en tog is dit moeilik om die geloofsbasering van die geweld te ontken. Haatspraak, geweld en moord wat deur geloof gemotiveer word is hoogs problematies en tog is daar ’n oorverdowende stilte oor hierdie realiteite in kerklike en geloofskringe. Daar is nog geen beweging in die ondersoek en vervolging van verdagtes in die Imam Muhsin Hendriks -moord nie. Die dood van hierdie geloofsleier wat liefde, insluiting en verdraagsaamheid verkondig het, is ’n geweldige verlies. Ten einde eer te betoon aan Imam Muhsin Hendriks en sy impak op die Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskap is ’n gedenklesing vroeër die jaar gehou. Lesers kan die lesing, deur dr Nadeem Mahomed, hier vind: Imam Muhsin Hendricks Memorial Lecture

 

KB: Het vanjaar se nuusgebeure (goed en sleg) ’n bepaalde insig by jou ontwikkel?

CvdW: Ek dink die jaar en die besondere eise en gevaar wat dit ingehou het vir gender- en religiekenners, aktiviste en gemeenskapsleiers, het my opnuut laat dink oor hoe ons hulle versorg en ondersteun wat op die voorpunt is van hierdie werk. Ek kry die indruk en sien die tekens by kollegas, studente, aktiviste, kerk- en gemeenskapsleiers wat werk doen by die interseksie van ras, gender en seksualiteit dat daar ’n uitputting en gevoel van uitbranding is. Hierdie soort werk is nie juis dinge wat mens slegs op intellektuele vlak kan doen nie, dit verg ’n persoonlike en beliggaamde prys. Hierdie werk impliseer ook dikwels die lang pad en dit word beter aangedurf as ons met geliefdes, vriende en bondgenote kan saamstap. Hoe ons vir mekaar opdaag in sorg en ondersteuning bly ’n belangrike saak om aan aandag te gee.


 

In gesprek met dr Louis van der Riet (LvdR), ’n beroepbare predikant wat tans werk vir ’n nie-regeringsorganisasie. Hy is ’n kerkraadslid by Groote Kerk in Kaapstad, en dien op taakspanne van die Wes-Kaapse en Algemene Sinode.

 

‘Pogings om ’n profetiese rol te speel binne die NG Kerk word veroordeel as aktivisme of ideologie’

 

Kerkbode (KB): Watter geloofsvraag dink jy is tans veral aktueel in Suid-Afrika en waar sien jy iemand daarmee in gesprek tree?

LvdR: Identiteit en die vraagstuk oor hoe ons, as ’n hoofsaaklik wit, Afrikaanse kerk, tuis kom in ’n multikulturele land en vasteland, laat ons weer ’n klomp geloofsvrae vra. Dit sluit in vrae soos, waar vind ons hoop? Waar vind ons verlossing/goedheid/florering? Hoe word ons bediening hierdeur beïnvloed? Hoe/waarheen word ons gestuur? Die Miga 6:8-taakspan tree direk hiermee in gesprek deur hulle fokus op ras en ’n bediening van versoening en geregtigheid. Ek dink dit vind ook uiting op verskeie maniere op voetsoolvlak binne plaaslike gemeenskappe.

Dr Louis van der Riet

KB: Wat was vir jou die mees nuuswaardige teologiese of kerklike verwikkeling die afgelope jaar? Dit wil sê: Iets wat ’n mens moet verstaan om die kerk beter te verstaan.

LvdR: Internasionale gebeure soos die uitsprake en uitvoerende bevele van die president van die VSA oor ’n beweerde wit volksmoord in SA, sowel as die voortdurende apartheid en geweld in Israel / Palestina, ontbloot die teologie wat leef onder NG lidmate. Steun vir hierdie bewegings, sowel as die ontkenning van apartheid en gepaardgaande Christelike Sionisme en nasionalisme, ontbloot juis dat ons nog nie ons verlede verreken het, of genoeg doen om die ongeregtighede van ons koloniale en apartheidsverlede reg te stel nie – en dit sluit ons teologie in.

KB: Is daar enige plaaslike teologiese of kerklike tendens sigbaar wat jou vanjaar verras? Hoe verskil dit van jou verwagting?

LvdR: Enige poging om ’n profetiese rol te speel binne die NG Kerk word veroordeel as aktivisme of ideologiese oortuiging. My verwagting is dat ons ons belydenis beter sou verstaan.

KB: Het enige van vanjaar se groot nuusgebeure (goed of sleg) ’n bepaalde insig by jou ontwikkel?

LvdR: Die onlangse intergodsdienstige byeenkoms by Groote Kerk in Kaapstad het vir my laat besef watter geskenk en voorbeeld die NG Kerk vir Suid-Afrika, en die wêreld, kan wees van geloofsdade wat die evangelie se oproep tot geregtigheid, vrede en versoening beliggaam. Ons het nog ’n ver pad om te stap, met mekaar, en met ander.

 


Voetnotas tot Marius Nel se onderhoud

 1 Rowling identifies as a Christian.[157] Although she grew up next door to her church,[158] accounts of the family’s church attendance differ.[n] She began attending a Church of Scotland congregation, where Jessica was christened, around the time she was writing Harry Potter.[160] In a 2012 interview, she said she belonged to the Scottish Episcopal Church.[161] Rowling has stated that she believes in God,[162] but has experienced doubt. Wiki 

 In a 2017 interview, Peterson was asked if he was a Christian; he responded, “I suppose the most straight-forward answer to that is yes.”[166] When asked if he believes in God, Peterson responded: “I think the proper response to that is no, but I’m afraid he might exist.”[19] In a podcast with Douglas Murray and Jonathan Pageau, Peterson stated that God is the “ultimate fictional character” which is “at the top of the hierarchy of attention and action”.Wiki

 On 2 July 2024 The Times published a letter to the editor, co-signed by Holland and numerous other Catholic and non-Catholic public figures, calling upon the Holy See to preserve what they describe as the “magnificent” cultural artefact of the Catholic Church’s Traditional Latin Mass. In a 2025 public discussion with the musician Nick Cave, Holland disclosed that he is a regular attender at traditional worship in a 900-year-old Anglican church in Central London. However, he affirmed to Palatinate later that year that he still “lack[s] belief in the supernatural”, which he called an “ache”, but added that if the prospect was realistic then his belief “would have to be as a Christian … I’m not going to start offering sacrifices to Athena”. Wiki

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top