Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lesersbydrae: Hoe jou geloofsidentiteit gevorm en uitgedaag word

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

In hierdie besinnende oorsig ondersoek Kerkbode-leser Philip Coetzee die begrip identiteit binne ’n Christelike geloofsraamwerk en plaas dit in gesprek met hedendaagse denkstrominge soos postmodernisme, humanisme en liberale teologie. Die fokus val op hoe hierdie strominge geloofsidentiteit kan beïnvloed, versterk of ondermyn. Sonder polemiek poog die artikel om ’n bydrae te lewer tot die breër gesprek oor geloof, Skrifverstaan en persoonlike integriteit binne ’n veranderende samelewing.

 

Inleiding

Wanneer ’n persoon gevra word waarin hy of sy glo, en hoe die Heilige Skrif verstaan word, word daar indirek na identiteit gevra. Identiteit funksioneer hier as ’n samebindende begrip wat oortuigings, waardes en lewenspraktyk integreer. In ’n geloofskonteks dui identiteit nie slegs op selfverstaan nie, maar ook op die raamwerk waarbinne betekenis, waarheid en morele oriëntasie gesoek word.

Hierdie artikel verken hoe geloofsidentiteit gevorm en uitgedaag word, veral in ’n konteks waar uiteenlopende idees en interpretasies langs mekaar bestaan.

 

Identiteit binne ’n geloofsraamwerk

Binne die Christelike tradisie word identiteit dikwels verbind aan ’n lewende verhouding met God soos dit in die Skrif getuig word (vgl. 2 Tim. 1:6–14). Geloofsidentiteit sluit morele waardes, oortuigings en karaktervorming in, en word verstaan as ’n proses wat oor tyd verdiep en verfyn word.

In Johannes 3:3–6 word wedergeboorte beskryf as ’n ingrypende verandering van menswees. Hierdie beeld dui op ’n nuwe oriëntasie van lewe en karakter. Soos dit in kontemporêre teologiese kommentare gestel word, impliseer dit ’n verskuiwing vanaf ’n uitsluitlik aardse perspektief na ’n breër, transendente verstaan van menslike bestaan.

 

Identiteitskrisis: ’n Beskrywende raamwerk

’n Identiteitskrisis kan beskryf word as ’n toestand van onsekerheid waarin gevestigde oortuigings bevraagteken of versplinter word. In ’n geloofskonteks gebeur dit dikwels wanneer uiteenlopende interpretasies van Skrif en tradisie meeding om gesag (vgl. 2 Tim. 3:13).

Twee beskrywende kategorieë wat dikwels gebruik word, is identiteitsverhindering en identiteitsverstrooiing. Hierdie begrippe verwys nie na formele diagnoses nie, maar dien as analitiese hulpmiddels om geloofservarings te beskryf.

 

Identiteitsverhindering

Identiteitsverhindering kan voorkom wanneer individue nalaat om nuwe idees of interpretasies krities te ondersoek. In sulke gevalle word geloofsverstaan passief oorgeneem sonder persoonlike verdieping of onderskeiding (vgl. 1 Tim. 4:3–5).

Teologies gesproke word die belang van onderskeiding en voortdurende refleksie beklemtoon, veral waar gesagsfigure ’n bepalende invloed uitoefen. Wanneer geloof hoofsaaklik gevorm word deur eksterne druk of ongeëvalueerde ideologieë, kan dit lei tot ’n fragmentariese geloofsidentiteit.

 

Identiteitsverstrooiing

Identiteitsverstrooiing verwys na ’n toestand waar ’n persoon blootgestel word aan soveel uiteenlopende en teenstrydige perspektiewe dat samehang verlore raak. Die gevolg is dikwels ’n onvermoë om oortuigings konsekwent te integreer in geloof en lewenspraktyk (vgl. 1 Tim. 4:14–16).

In die pastorale en teologiese literatuur word gewaarsku dat voortdurende relativering van kernbegrippe uiteindelik kan lei tot vervreemding van eie geloofstradisies.

 

Strominge van verwarring en geloofsidentiteit

Benewens individuele geloofservarings speel breër ideologiese en kulturele strominge ’n bepalende rol in hoe geloof verstaan en beoefen word. Hierdie strominge funksioneer dikwels implisiet en word nie altyd onmiddellik as teologiese invloede herken nie. Tog het hulle ’n diepgaande invloed op geloofsidentiteit en Skrifverstaan.

Kyle Idleman beskryf hierdie dinamiek beeldend wanneer hy skryf:

“The gods are at war, and their strength is not to be underestimated. These gods clash for the throne of your heart, and much is at stake. What if they take identities that are so ordinary that we don’t recognize them as gods at all?” (Idleman, Gods at War, 2013).

Hierdie waarneming dui daarop dat verwarring nie noodwendig ontstaan deur openlike afvalligheid nie, maar dikwels deur subtiele verskuiwings in lojaliteit, betekenis en gesag. In kerk- en geloofskontekste kan dit lei tot ’n vermenging van oortuigings wat aanvanklik onskuldig of selfs pastorale sensitiwiteit weerspieël, maar uiteindelik bydra tot konseptuele en teologiese onsekerheid.

Postmodernisme

Postmodernisme word algemeen verstaan as ’n kritiese ingesteldheid teenoor vaste waarheidsaansprake, universele verklarings en oorgelewerde gesagstrukture. In geloofsverband lei dit dikwels tot ’n voorkeur vir subjektiewe ervaring en individuele interpretasie bo normatiewe Skrifgesag.

Van Zyl (2010) waarsku dat die grootste gevaar van postmodernisme nie noodwendig lê in openlike ontkenning nie, maar in gedeeltelike waarhede:

“Die grootste gevaar is nie die duidelike valsheid nie, maar eerder die halwe waarheid. Die duidelike valsheid kan raakgesien en direk beveg word, maar die halwe waarheid lyk en voel dikwels instinktief reg. Die kern van die gevaar lê in die invloed wat postmodernisme op die denke van die alledaagse mens het.”

Hierdie benadering kan daartoe lei dat geloofsidentiteit vloeibaar raak en voortdurend herskryf word volgens persoonlike voorkeur en kulturele tendense, eerder as deur ’n samehangende teologiese raamwerk.

Humanisme

Humanisme beklemtoon menslike outonomie, rede en selfbeskikking. In gesprek met geloofstradisies ontstaan die vraag of die mens of openbaring as finale gesagsbron funksioneer. Teologiese skrywers waarsku dat ’n onkritiese aanvaarding van humanistiese uitgangspunte kan lei tot sinkretisme, waar geloofsinhoude geïntegreer word sonder duidelike normatiewe ankers.

Met ander woorde: ’n onkritiese samevloeiing van humanistiese en geloofsoortuigings kan veroorsaak dat die kernwaarhede van die geloof verwater of vermeng word met sekulêre idees, wat die besondere openbaringskarakter en gesag van God se Woord ondermyn. Dit lei tot ’n situasie waar die mens se eie verstand en begeertes die laaste woord kry, eerder as die Goddelike openbaring wat die fondament van die geloof behoort te wees.

Liberalisme of liberale teologie

Liberale teologie beklemtoon historiese konteks, voortgaande openbaring, menslike ervaring en etiese ontwikkeling as sleutels tot Skrifverstaan. Die Bybel word dikwels benader as ’n versameling geloofsgetuienisse wat binne spesifieke historiese situasies ontstaan het, eerder as ’n normatiewe en transhistoriese gesagsbron.

Kritici wys daarop dat hierdie benadering die risiko inhou om die Skrif se normatiewe funksie te relativeer, aangesien hedendaagse ervaring, wetenskap en kultuur dan as primêre interpretasieraamwerke dien. Vern Poythress beskryf liberalisme as ’n neiging wat die Bybel fundamenteel gelykstel aan ander menslike tekste en gebeure, en sodoende die unieke karakter van openbaring verswak.

Voorstanders van liberale teologie beklemtoon weer dat hierdie benadering ’n eerlike poging is om die geloof relevant en verstaanbaar binne ’n veranderende wêreld te hou. Die spanning tussen relevansie en normatiwiteit bly egter ’n kernvraag in hierdie debat.

In ’n staat van beskuldiging

’n Verdere, dikwels onderskatte gevolg van hierdie strominge is dat gelowiges hulleself in ’n voortdurende staat van beskuldiging bevind. Wanneer geloofsgrense vervaag en normatiewe maatstawwe onduidelik raak, ontstaan ’n klimaat van innerlike onsekerheid en skuld.

Openbaring 12:10 verwys na Satan as “die aanklaer van die broeders”, wat dag en nag beskuldig. Teologiese skrywers wys daarop dat ’n verswakte geloofsidentiteit gelowiges besonder vatbaar maak vir hierdie vorm van geestelike aanklag. Brennan Manning beskryf hierdie toestand as ’n innerlike hofsaal waarin die gelowige voortdurend sy of haar legitimiteit voor God bevraagteken.

Henri Nouwen sluit hierby aan wanneer hy skryf dat moderne gelowiges dikwels leef onder die las van prestasie, goedkeuring en selfregverdiging—’n las wat nie uit die evangelie spruit nie, maar uit verwronge identiteitsbronne. In hierdie konteks word die Christelike boodskap van genade en versoening ’n kritiese korrektief: identiteit word nie verdien of voortdurend verdedig nie, maar ontvang. Hierdie perspektief bied ’n teologiese teenwig teen beskuldiging, verwarring en geestelike uitputting.

Geloof, grense en verantwoordelikheid

Verskeie skrywers wys daarop dat geloofstradisies funksioneer binne bepaalde grense wat betekenis en samehang moontlik maak. Hierdie grense is nie noodwendig beperkend nie, maar kan dien as oriënteringspunte vir geloofsgroei en etiese integriteit (vgl. Ef. 6:11–18).

Die uitdaging vir gelowiges is om ’n balans te vind tussen openheid vir gesprek en getrouheid aan kern-oortuigings. Dus nie “People Pleasers” nie.
“Want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God” (Johannes 12:42-43). Dit is ’n keuse om eerder deur mense geëer te word as om jou sosiale status te verloor – ’n te groot prys om te betaal (Jan van der Watt 2009; Eenvolume Kommentaar). ’n Tweede punt wat ons hieruit kan leer, is die kenmerk van ’n draadsitter: om altyd albei kante te probeer dien en almal tevrede te stel. Maar ons kan tog nie vir God ’n rat voor die oë draai nie!

Daarom word ons geroep om nie aanhangers te wees van mense met verwarde, verwronge en verderflike identiteite nie, want só ’n pad kan ’n diep identiteitskrisis in jou lewe veroorsaak wat jou sal verwoes. As ons so voortgaan, sal ons nie die EINDPUNT – die glorieryke NUWE JERUSALEM – bereik nie (1 Johannes 2:24-26; Openbaring 21:2-4). Jim Daly herinner ons in Aanhangers of Volgelinge daaraan dat ons eerder volgelinge van God deur Jesus moet wees. Ons identiteit en geloof, gevorm deur die Here, moet Hom tevrede stel en nie die goedkeuring van mense soek nie. Ons moet leer om nie “people pleasers” te wees nie.

Slotbeskouing

In ’n pluralistiese samelewing word geloofsidentiteit voortdurend uitgedaag. Hierdie artikel het probeer aantoon dat kritiese nadenke, Skrifverstaan en selfrefleksie noodsaaklik is vir ’n geïntegreerde geloofsidentiteit. Sonder om finale antwoorde te bied, word lesers uitgenooi om bewustelik en verantwoordelik met hul geloofstradisies om te gaan. Dus jou geloofsritmes (gewoontes) in lyn met Christus en die Woord te stel. Mag die Heilige Gees jou beskerm en lei in jou geloofsreis, en mag Hy jou help om jou unieke Christus-Identiteit, ritmies, met vreugde te omhels.

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top