Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Cas Wepener: Hoe lyk handelinge wat ’n teologie van die kruis beliggaam?

Missionale teologie het oor die laaste kwarteeu deel geraak van die DNS van die NG Kerk. Dit het ons gehelp om grense oor te steek en waar ons geplant is betrokke te raak. Van “sturend” na “gestuur” is een van die motto’s, skryf Cas Wepener. 

In die NG Kerk het missionale teologie behels dat gemeentes wat by uitstek in die verlede omgesien het na eie behoud met ’n laertrekmentaliteit, begin het om te ontlaer en nie meer net op hulleself te fokus nie.

Verder is die idee dat daar slegs enkele geroepenes in elke gemeente is wat deur die gemeente gestuur word na Judea, Samaria en die uithoeke van die aarde, vervang met die oortuiging dat die hele gemeente as sodanig ’n gestuurde gemeente is. En waar sending eens gesien is as iets wat net in die uithoeke van die aarde moet gebeur, is die Judea en Samaria op die voorstoep nou ook raakgesien. Die teologie wat hierdie denke by uitstek onderlê hou verband met die konsep missio Dei – dat God ’n sturende God is en dat die kerk ingesluit word in hierdie missie. Volgens die bekende Suid-Afrikaanse missioloog wyle David Bosch beteken deelname hierin deelname aan die beweging van God se liefde vir mense.

‘n Teologiese taak 

Om ’n missionale kerk te wees met al die implikasies wat daarmee saamgaan behels ’n versameling handelinge wat uitgevoer word. Missionale kerkwees is dus iets wat mense doen. Hierdie praktyke is egter nie handelinge waarin net mense iets doen nie. Daar is veel meer op die spel. God self is teenwoordig en aktief in en deur hierdie handelinge. Die praktiese teoloog Don Browning het op ’n keer teenoor studente wat die praktyk in hulle studies moet beskryf opgemerk: “Indien ons glo dat God aktief in die wêreld is en nie net ’n nagedagte om te verduidelik wat in die wêreld gebeur nie, dan is om te beskryf wat aangaan in die wêreld ’n teologiese taak.”

Jare gelede het wyle Russel Botman oor dissipelskap gesê dat daar geen wedywering tussen God se teenwoordigheid en aktiwiteit in handelinge en dié van mense in dieselfde handelinge is nie. Vir hom is daar ’n gelyktydige deelname van God en mens. Hierdie manier om oor handelinge te dink word soms Christopraxis genoem. God Drie-enig is handelend teenwoordig in praktyke en besig met sy bediening, en hoe dit gebeur is kenbaar in wie Christus is – daarom Christopraxis. Dit is van groot belang om ’n teologiese verstaan van praktyke te hê, naamlik dat God in en deur praktyke handelend teenwoordig is en ons daarby insluit.

Om grense oor te steek

Dit is nie net nodig om te dink of en hoe God teenwoordig is in handelinge nie, maar ook wie die God en Christus is wat in die praktyke handelend teenwoordig is. Hoekom? Want daardie God, wie daardie God en Christus is, die godsbeelde wat ons huldig vir daardie handelende God, die aarde van die Christopraxis, beïnvloed diepgaande hoe ons aansluit by daardie handelende God. Dus, wie God volgens my is, gaan bepaal wat ek doen en hoe ek dit doen wat ek doen. Indien missionale handelinge te make het met grense oorsteek en betrokke raak in dade van sorg en diens, gaan my verstaan van die God van die handelinge van die missionale kerk bepalend wees vir die houding waarmee ek missionale handelinge uitvoer.

Die teoloog Andrew Root werk in sy boek Christopraxis met ’n teologie van die kruis. Só ’n verstaan van die Christus by wie se bediening ons betrokke raak, is onder meer die gesindheid van die Christus van Filippense 2. Filippense praat van “leeggemaak”, van “die gestalte van ’n slaaf” en van “verneder”. Dít is eienskappe van ’n brose en gekruisigde God wat oorspoel in brose en gekruisigde handelinge. Daardie teologie van die kruis behels dat ek heelwat van dit wat bykans natuurlik in my handelinge na vore kom wanneer ek grense oorsteek en betrokke raak eerder gekruisig moet word.

‘n Dieper verstaan

Gekruisigde handelinge, leeggemaakte handelinge, behels handelinge wat nie alreeds self al die wysheid in pag het nie, maar besef dat die plek waarheen die missionale kerk uitreik alreeds boordensvol wysheid is; dat daardie plek en sy mense dalk beter weet wat nou nodig is en hoe dinge gedoen moet word as ek en ons; dat al jeuk ek hoe erg om dadelik ’n antwoord te gee, ek moet stilbly totdat ek regtig die vrae verstaan; dat ek by uitstek moet verstaan wat die mense sê wat hulle benodig, eerder as dat ek besluit wat hulle benodig; dat ek niks maar niks moet gee, indien ek nie self ook besef dat ek ook iemand is wat moet ontvang nie; dat ek tydens die handelinge my skoene uittrek omdat die grond heilig is en ek bereid moet wees om voete te was en ook my voete te laat was.

Root vertel in sy boek van Rachel, ’n vrou in haar dertigs wie se man tydens ’n besigheidsreis oorlede is. Sy moes na ’n vreemde stad gaan om sy lyk te gaan uitken. Toe die taxibestuurder voor die lykshuis stilhou en besef waarheen hy haar gebring het, het hy woordeloos saam met haar ingegaan. Hy het vir haar ’n bottel water gaan haal en toe hulle die laken oor haar man se lyk wegtrek, het hy net sy arm om haar skouers geplaas. Rachel merk op: “At that point I was so thankful and knew that God was involved.”

Dít is Christopraxis. Dit is handelinge wat ’n teologie van die kruis beliggaam. Soms is dit net die stilte en ’n brose dáár-wees van ’n taxibestuurder wat ingesluit word in hoe Christus sy bediening nou voortsit.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top