Daar is min dinge wat ’n gemeenskap so kan laat saamstaan soos ’n ramp. Veldbrand. Vloed. Droogte. Maak nie saak nie. Dán skuif goed waaroor mense, ook kerke, van mekaar verskil opsy en kan hulle hande vat. Só hoor Heléne Meissenheimer by Pierrié Kies, gemeenteleraar van Mosselbaai Moedergemeente.
Hy vertel toe die nuus breek dat 17 gesinne van hierdie Suid-Kaapse kusdorp vroeg in Januarie oornag dakloos gelaat is weens ’n brand, het hy en ander plaaslike kerkleiers dadelik gevoel die kerke moet kan help. Hulle het op WhatsApp-groepe hulp gevra met verblyf, kos, klere en meer. Die reaksie vanuit die hele gemeenskap, nie net vanuit een kerk nie, het hom verstom, sê hierdie predikant wat ook voorsitter is van die plaaslike ringskommissie waarvan agt NG gemeentes deel is. Hy vertel kerkmense was oral. Tannies het brood gebak vir brandbestryders, boere het water op hulle bakkies aangery om die brand te help bestry en ná die brande geblus is, het mense steeds in hulle massas opgedaag vir ’n interkerklike gebedsbyeenkoms om vir ander plekke te bid waar brande nog woed.

Hy sê dit het hom bly gemaak, “ek was dankbaar en dit was ’n lekker gevoel om te weet die kerk is ’n plek op wie se knoppie gedruk kan word”.
Kies vertel hierdie ervaring het ook gewys dat dit help om vinnig in ’n noodsituasie te kan ingryp as ’n paar goed in plek is soos WhatsApp-netwerke en ’n rampnoodfonds.
Interkerklike forum spring in
Hy is deel van die dorp se interkerklike forum waaraan kerkleiers vanuit die hele streek deelneem. Toe die nuus breek oor die brand het hulle almal hand opgesteek om te help. Hulle wou die gesinne help en die hele gemeenskap op die Sondagmiddag saamkry om te bid.
Kies vertel hy het gesprekke gehad met die plaaslike boerevereniging en is ook gekontak deur ds Marinus Theron, die moderator van die sinode van Wes-Kaapland asook ds Alex Clark van Diaconia, die NG Kerk se eenheidsbediening in vennootskap met die VGK.
Dit was droog en die brand was besig om vinnig buite die dorp te versprei. Die Donderdagmiddag het mense op Hartenbos saamgekom om te bid. Die lug was rooi van die digte rook.
Intussen het die ATKV-Hartenbos verblyf beskikbaar gemaak vir die gesinne. Die Dierebeskermingsdiens het veeartsdienste aangebied vir boere. Gemeentes van regoor die land het gebel om hulp aan te bied. Kies sê dit het dadelik gehelp dat hulle as Ring van Mosselbaai reeds ’n rampfonds in plek gehad het waar mense donasies kon inbetaal. “Die kerk se nommer een rol is om te bid en die evangelie te verkondig. Die evangelie gee hoop en dit is nodig. So ’n fonds skep nog ’n manier hoe ons as kerk in die samelewing ’n verskil kan maak,” voeg hy by.
Skenkings van klere en kos het ingestroom. Die munisipaliteit het Eden Protocol, ’n NRO wat fokus op hulpverlening met rampe, gebruik om die hulp aan die gesinne te koördineer. Plaaslike mense het ingespring om hulle by te staan. Kies sê dit het hom so bly gemaak dat baie van hulle kerkmense was.
Duisende kom bid want dit brand nog elders
Teen die naweek was die brande in hulle onmiddellike omgewing geblus. Hulle het gewonder hoeveel mense nog vir Sondagmiddag se interkerklike gebedsaamtrek by die amfiteater van ATKV-Hartenbos sou kom. Tot almal se verbasing het mense in hulle massas opgedaag. Kies sê hulle skat daar was meer as 2 000. “Mense het in nederigheid gekom om die Here te loof en ook om saam te bid, nie net vir ons streek nie, maar die hele Kaap waar dit brand,” vertel hy.
Hulle is besig om te kyk hoe hulle die gesinne verder kan help wat hulle huise verloor het. Kies vertel hy is ook in gesprek met boere in die omgewing wat nie meer drinkwater of voer op hulle plase het nie as gevolg van die droogte. Hulle wil kyk om veevoer aan te ry.
Hy sê hierdie ervaring het hom moed gegee. “Die kerk in Suid-Afrika is nie dood nie … in sulke krisistye word kantlyngoedjies eenkant toe geskuif en kan mense hande vat.”
- Luister ook op 18 Januarie na ds Pierrié Kies se gesprek met joernalis Lizelle de Bruin op haar gewilde Sondagleefstylprogram op RSG, Binnekamer.
