“Goeie môre K A M P E R !”, het dit kliphard van vroeg af Maandagoggend 19 Januarie gedreun oor die luidsprekers met die aankoms van elke student by die verwelkomingsdiens voor die Eerstejaarskamp van NG Universiteitsoord in Pretoria.
Die gemeente bedien die studente van TUKS en omliggende akademiese instellings soos Eduvos, Akademia, Aros en TUT. Sowat 500 studente en 150 kamppersoneel het vir vanjaar se 51ste eerstejaarskamp ingeskryf.
LEES OOK: ’n Kerk waar studente kan behoort en beweeg

Die reuk van koffie, pannekoek en boerewors het gou die ergste onsekerheid verdryf en spontane uitbarstings van karaoke- en sokkiedanspassies op lekker musiek het dadelik die ys gebreek en eerstejaars laat besef hulle is inderdaad op pad na “die kamp van jou lewe” soos geadverteer.
Eerstejaars en ouers kon uitstallings van uitreike besoek, heerlik saamkuier en is vermaak met diep filosofiese vraagstukke, oor tamatiesmoothies, olifante en die slym vs “glitter”-teorie. Daar kon geen twyfel wees dat hierdie ’n heerlike studentegemeente is nie – vir studente, deur studente.
LEES OOK | Marileen Steyn: Kerkherinneringe van nét ’n vrou

Prop Alicia Bosman het die erediens afgeskop met nog humor en het ouers verseker dat dit die gemeente se grootste droom is om hulle kinders te ondersteun en geestelik te versorg vir die volgende paar jaar.
Volgende het dr Arno Meiring meer oor die gemeente vertel. Hy wys daarop dat die kerk se binnekant met halwe bakstene gebou is, wat ook ’n simbool is van mense wat in hulle gebrokenheid welkom is. Die vorm van die gebou herinner aan die vorm van ’n bruid: die beeld van die gemeente as God se bruid wat ook vir studente sê God is opgewonde oor jou!
Op julle merke, gereed …!
Dit was die woorde op die skerm tydens ds Christian Oberholzer se boodskap. Die wedloop waarmee eerstejaars nou begin is een wat nie sonder steiltes en geestelike uitdagings kom nie. Hebreërs 12:1-3 moedig eerstejaars aan om op die Here te fokus en ouers en grootouers word herinner dat hulle nou die geloofskare is wat vir die studente moet bid en bemoedig langs die pad.
Ds Anuscka Smit het meer vertel oor die gemeente se projekte en groepe waarby studente betrokke kan raak en ds Charlotte Sibanyoni het afgesluit met ’n gebed vir die kampleiers wat bestaan uit seniorstudente van die gemeente. Die slotlied was die heilige oomblik van die Seënlied wat baie trane vrylik laat loop het voor die busse na die kamp vertrek het vir die week. As ouer van ’n eerste kind op universiteit, het ek weggery met ’n groot vrede en dankbaarheid vir die kosbare roetemerker op ons kinders se geloofspad en die ongelooflike manier waarop die studentewedloop kon afskop.
