Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Marileen Steyn werk as teoloog by die Protestantse Theologische Universiteit in Nederland.

Marileen Steyn: Kerkherinneringe van nét ’n vrou

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

My kinderdae se kerkherinneringe is van my helderste herinneringe. Hoe ek op my ma se skoot lê en wonder waarom die dominee op my ouers skree. Hoe ek my verbeel het dat die kerk op sy kop gekeer word en hoe ek oor elke dakbalk moet klim om by die deur uit te kom. Hoe ek gewonder het of dit ’n reël was dat ons een sitplek tussen ons gesin en die vreemdelinge wat elke week in dieselfde ry as ons gesit het, moes oophou vir die vrouens se handsakke.

Ek onthou ook die keer toe mense vir my gelag het in die kerk. Ek was klein. Ek onthou dat ek saam met my ouers opgestaan het in die kerk sodat ons kan bid. Maar toe begin almal te lag. Ek het nie verstaan hoekom nie. Toe kyk ek om my en my klein-kind-brein kom toe agter dat ek die enigste vrou is wat staan. So toe gaan ek maar sit.

LEES OOK | GKSA: Lidmate besin saam oor ’n besluit wat hulle voor moeilike keuse stel

Wat het daardie mense gesien? ’n Klein meisie wat uit haar plek uit opgestaan het om te kan deelneem aan die aanbidding van God. Hoe vreeslik snaaks. Hoe vreeslik snaaks dat ek as klein kind al gedink het: “Eendag wil ek ook in die kerk dien soos my pa” wanneer hy uit die konsistorie met ’n kollektebord in die hand uitgestap het. Ek het hom dan noukeurig dopgehou om te sien hoe die diakendans werk sodat ek dit ook eendag kan dans as ek groot genoeg is. Snaaks.

Toe ek op 13 agtergekom het dat ek altyd klein “preke” in die Bybel raaksien, het my vriendin van ’n susterskerk my baie ontsteld vertel dat vrouens nie mag preek nie. Ek is dankbaar vir my Mev Dominee Ouma Mietie wat in dieselfde tyd vir my ’n notaboek gegee het om my preke in op te skryf. Soms het ek van my preke met haar bespreek. Dan het sy my help dink hoe ons my preek ’n meer pastorale aanslag kan gee, want sy weet wat ek wil sê, maar ek moet ook onthou dit is mense met gevoelens voor my.

LEES OOK: GKSA hou sinode op Potch: Eie gemeentes móét nou konformeer of uit verband tree + Verhouding met NGK afgeskaal

Wat my oortuig het om teologie te gaan studeer, was ’n interaksie met ’n vroulike predikant op ’n kamp. Sy het presies dieselfde vir my gesê as wat die manlike dominees al vir my gesê het, maar vir die eerste keer het ek haar regtig kon hoor. Sy weet van veranderende lywe en seuns en selfbeeld op ’n ander manier – ’n manier wat ek kon glo. So teen die tyd wat ’n random ou in ’n manskoshuis in oriënteringsweek genoem het dat hy nie dink dat vrouens mans iets kan leer nie, het ek gelukkig geweet dat sy verhaal net helfte van die waarheid is. Want gestel dit is waar (en kom ons vra nie nou vrae oor wie hom alles geleer het wat hy nodig gehad het vir universiteitsvrystelling nie). Gestel dat ek geen man enigiets kan leer nie, dan is daar darem nog die helfte van ’n populasie of meer wat dalk tog aanklank sal kan vind by my as dit dan net oor geslag gaan. Dalk selfs ’n helfte wat weet hoe die kerk goed op hulle liggaam skree sonder dat hulle eers met my ouma gepraat het oor of dit ook mense is wat voor hulle sit.

Selfs nou, as dosent, is al die studente nie ewe opgewonde oor my keuse om voor in die klas te staan of dat ek soms op die kansel staan nie. Dit is altyd ’n gesprekspunt waar ookal my vroulyf kom. Dan word daar van ons as vroue gevra om asseblief baie rasioneel te praat oor hierdie sake. Die grootste fout wat ek dan in so ’n gesprek kan maak, is om te laat lyk of dit op ’n manier my persoonlik raak as jy sê dat hierdie Godgegewe liggaam daar is om ander mense te dien op alle maniere maar nie God nie. Sjoe. Ek hoor. Ek weet ek mag dit nie persoonlik maak nie. Want jy bedoel dit natuurlik nie persoonlik nie. Dit word nie persoonlik bedoel nie, paai ek dan die meisie wat skaam weer in die kerkbanke gaan sit en dan sit en wonder wat sy verkeerd gedoen het, terwyl die ander bid.

 

Dr Marileen Steyn werk as teoloog by die Protestantse Theologische Universiteit in Nederland. Sy bid nog steeds egter in Afrikaans. Soms sittende. Gereeld staande.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top