’n Sterk wind stook brande in Franschhoek en buite Ceres onlangs só dat selfs ’n laatmiddag bo Wellington ’n oranjeskynsel vertoon en ’n roetreuk kry. Maar op ’n ruim erf in Bergstraat dek Elma Fleischmann rustig ’n buitetafel. “My vrou se super power is gasvryheid,” sê Johan Fleischmann. Elma het ’n doktorsgraad in wiskundige-geletterdheid en leesbegrip en werk as dosent by die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT) se kampus op Wellington. “Ek lei onderwysers op,” sê sy as ’n mens uitvra.

Elma het ’n lasagna in die oond en hier daag twee gaste op. Gerhard en Susaar is getroud. “(Susaar) het haar nooiensvan behou … dis hoe sterk die vrou staan hier by ons,” skerts die lakoniese Gerhard, wat in Informasietegnologie werk en die enigste van die vier vriende om die tafel is wat nié in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) grootgeword het nie.

LEES OOK: Oor manlike en vroulike rolle en leierskap in die Nuwe Testament
Hierdie vier vriende het ’n gebruik om af en toe so bymekaar te kom en te gesels oor die vraag: “Wat dink ek doen die Here in my lewe?” Die baie spesifieke wolk wat oor vandag se ontmoeting hang, word met ’n mengsel van erns, humor en ook weerloosheid benader. Die wolk is naamlik een verreikende besluit deur afgevaardigdes op Potchefstroom by die GKSA se jongste sinodesitting. ’n Woordvoerder van die kerkverband het die implikasie van die besluit vroeër só aan Kerkbode opgesom: “(Die sinodebesluit) het geweldige implikasies vir sekere gemeentes in die GKSA wat van oortuiging is dat vroue wel in die diens van ouderling gebruik mag word … Hierdie gemeentes is voor ’n finale keuse geplaas deur óf hulle besluit te herroep óf dan die kerkverband te verlaat óf deur die GKSA buite kerkverband gestel te word.”

LEES OOK: Brief: ‘Dié standpunt oor vroue breek af en maak seer’
Die vriende herkou vanaand aan als wat die laaste paar weke gesê en beleef is. “Ek probeer voor die Here uitfigure hoe ek moet vorentoe gaan,” sê Johan. ’n Dag tevore, Sondag, het hy ’n groter gesprek oor die einste onderwerp gelei by die Gereformeerde gemeente waar hy predikant is. Dit is sowat 70 km hiervandaan, die Moerdyk-kerkgebou met die opvallende balletskoolbanier in Oranjestraat, langs die Mount Nelson-hotel in die Kaapse voorstad Tuine. Johan, ’n dominee wat sê hy hou nie van titels nie, is diep gevestig by die Gereformeerde Kerk Kaapstad, waar wyle dr Pieter Bingle ook vir ’n aantal jaar predikant was. “(Bingle) was ’n wegbereider in die GKSA – bv oor die vrou in die kerklike ampte – maar het in dié verband ook teleurstellings beleef,” lui ’n inskrywing in die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) oor Bingle wat in 2020 oorlede is. Jare later is die teleurstelling steeds hier.
LEES OOK: Vroue in leierskaprolle by die kerk – die gesprek bly relevant
Susaar se beurt. Sy dink die sinodebesluit verhef ’n “non-issue” tot iets wat na konflik lei. “Ek was hartseer gister”. Sy het ’n video op YouTube gesien waar ’n dominee teen vroue in die amp praat. Dit het haar ontstel. Toe kyk sy liefs weer na ’n uitsending van Sondag se erediens en sang en voel beter, vertel sy.
“Die hele vrou-ding word as ’n stok gebruik,” meen Gerhard. “Ons het nog altyd gesê ons verdra mekaar in liefde en ek laat jou toe om jou ding te doen, maar nou is daar ’n lyn in die sand getrek.”
LEES OOK | Brief: ‘Liefde en deernis kan nooit die maatstawwe van die Woord vervang nie’
Dié gemeente in die hart van Kaapstad is histories danksy prominente leiers soos Bingle vervleg met hierdie debat, wat al jare in die GKSA gevoer word. Maar dit is ook meer persoonlik. “As jy my wil verstaan, ek is ’n laterale denker. Ek sink liewer ’n nuwe boorgat as om ’n bestaande boorgat dieper te boor,” verduidelik Johan met verwysing na sy talle nagraadse studies in uiteenlopende velde buite die teologie.
Elma sluit weer by die gesprek aan: “Ok, maar kan ek iets sê? Ek kan nie anders as om te sê ons moes ons kind begrawe in Bloemfontein en dit het gemaak dat ons heel verskillend oor die lewe gedink het. Dit was ’n lewensveranderende ding. Sy was ses jaar oud en baie siek vandat sy gebore is. En dit het ons lewe verander, né,” sê Elma en kyk na Johan. “Dit het hoe ek jou bediening sien (verander), my langs jou sien … my lewe sien. Dit het ons lewe verander … Wat is belangrik?” verduidelik sy. Johan sluit by haar aan. “Dit het gevra wat is belangrik? En as standaarddogmatiek nie jou vrae oor die Here kan beantwoord nie, dan begin jy antwoorde soek buite die gestandaardiseerde dogma van die dag. Dan kom jy by antwoorde wat maak dat jou prentjie wat jy teken nie meer ’n ‘paint by numbers’ prentjie is nie,” sê hy. “Jy gaan meer dinamies om met jou verhouding met die Here.”
