Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: ‘Dié standpunt oor vroue breek af en maak seer’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Roelf Opperman skryf via Facebook: Ek het nog nooit voorheen deelgeneem aan teologiese debatte op sosiale media nie. Ek het my ook nog nooit in die openbaar uitgespreek oor kerke buite my eie tradisie nie. Ek glo steeds dat gesprek binne en tussen kerke met groot nederigheid en respek gevoer behoort te word.

Maar daar kom oomblikke waar stilbly self ’n vorm van instemming word. Vir my is hierdie so ’n oomblik.

Die onlangse besluit en standpunte van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika rakende vroue in die amp – soos verwoord in ’n artikel op Kerkbode – het my diep ontstel. Nie bloot omdat ek daarmee verskil nie, maar omdat dit aan vroue in die liggaam van Christus ’n boodskap stuur wat pynlik en vernederend is: jy mag dien, maar nie volledig nie; jy mag praat, maar nie verkondig nie; jy mag teenwoordig wees, maar nie werklik deelneem nie.

LEES OOK | GKSA hou sinode op Potch: Eie gemeentes móét nou konformeer of uit verband tree + Verhouding met NGK afgeskaal

Ek vind dit onbegryplik dat daar in 2026 nog kerklike besluite geneem word wat die ongelooflike rol wat vroue deur die eeue in die kerk gespeel het, misken. Die Bybel self getuig anders. Miriam het as profetes die Woord verkondig. Debora het Israel gelei. Priscilla het saam met Aquila geleer en teologies gevorm. Die vroeë kerk sou nie gewees het wat dit was sonder die bediening, getuienis en moed van vroue nie.

Dat ’n vroue-kollega uitgenooi word om in ’n Gereformeerde gemeente te praat, maar dan simbolies en letterlik van die preekstoel weggehou word, tref my diep. Sy mag voor die kansel staan, maar nie daarop nie. Sy mag haar stem gebruik, maar nie haar roeping nie. Dit is nie net ’n teologiese standpunt nie – dit is ’n handeling wat seermaak. Dit dra nie by tot opbou nie; dit breek af.

LEES OOK: Kerk wat werk-artikelreeks: As dit brand skuif die kantlyngoed opsy …

Die skade wat sulke besluite aanrig, strek verder as een denominasie. Dit beskadig verhoudinge tussen gemeentes, tussen kerke, en tussen broers en susters in Christus. Dit versterk wantroue en vervreemding op ’n tydstip waar die kerk eerder profeties, nederig en verenigend behoort op te tree.

Ek skryf ook vanuit persoonlike ervaring. As predikant in die NG Kerk het ek die voorreg gehad om saam met drie vroulike kollegas in die bediening te staan. Ek het eerstehands gesien hoe hulle met integriteit, diepte, wysheid en pastorale deernis die Woord bedien en gemeentes dien. Ek het niks anders as diepe waardering vir hulle roeping en hulle werk nie.

In die verlede is die NG Kerk deur die Gereformeerde Kerke aangespreek en selfs beskuldig van dwaling en valse leer. Tog moet ek eerlik sê: Ek ervaar dit as ’n vorm van geestelike blindheid wanneer die gawes en roeping van vroue so konsekwent ontken of beperk word – en dit dan as Bybels geregverdig aangebied word.

Hierdie brief word nie geskryf uit haat nie, maar uit pyn. En ja, ook uit woede – woede oor die onreg wat aan vroue in die kerk aangedoen word; woede oor hoe maklik hulle roeping as tweederangs behandel word; en woede oor die wond wat dit aan die liggaam van Christus slaan.

My hoop bly dat ons mekaar weer ernstig sal hoor, nie net ons eie stemme nie. Dat ons weer sal vra: Wat doen die Gees in ons tyd? En dat ons die moed sal hê om te erken wanneer tradisie begin verdring wat die evangelie wil bevry.

Ek kon nie langer stilbly nie. Met erns en hoop.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief: ‘Dié standpunt oor vroue breek af en maak seer’”

  1. Volgens die GKSA se Kerkorde kan slegs lidmate van GKSA onder tug geplaas kan word deur hulle kerkrade. Die 2026 GKSA Sinode besluit dat GKSA kerke wat voortgaan met die praktyk van Ouderlinge in hulle kerkraad, hulle self losmaak van die GKSA is dus onwettig. GKSA se beswaar en appel proses is uitgedien, word onnodig uitgerek en lidmate word nie billik en regverdig behandel nie.

Comments are closed.

Scroll to Top